Daar is seker frases en versies in die Bybel wat maar net al te bekend raak en met familiariteit kom oppervlakkigheid. Dis net te maklik om die Onse Vader uit ons kop uit op te sê en Psalm 23 se swaargewig woorde en lyne, af te rammel. Sonder intense intensionaliteit sal ons soveel mis. Ons kan nie bekostig om vlak en vinnig te lees soos ons sosiale media of ‘n oggendkoerant sal afhandel nie. Die waarheid wat vrymaak en genees is te kosbaar om ongeërg in die verbygaan te hanteer.
Lees ons die woorde oor beproewing en geloof-toetse met genoeg erns om te verstaan? As die teëspoed tref, die telefoonoproep ons lewe omvergooi, die ernstige gesprek met ‘n lewensmaat, ouers, vriende of kinders ons hele denk-balans uitdaag om God op ‘n nuwe manier te vertrou, kan ons dan die Woord se woorde laat insink vir nuwe openbaringskennis?
Ons het verlede keer gepraat oor die vrou wat aan bloedvloeiing gely het. (Lukas 8, Matteus 9 en Markus 5) Sy sou nie met desperaatheid deur ‘n skare mense gedruk het en die Koning van die Eeue, die onverderflike, onsienlike God op die stofstrate van Jerusalem ontmoet het, met ‘n een-op-een gesprek waarvan ons twintig eeue later nog lees, as dit nie vir haar twaalf jaar lange stryd en vernedering was nie. Is dit dan nog so vreemd om God te prys vir wat ook al my op my knieë aan die voet van die Kruis bring?
Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;
maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel. (1 Petrus 4:12,13, OAB)
Beloved, do not think it strange concerning the fiery trial which is to try you, as though some strange thing happened to you; but rejoice to the extent that you partake of Christ’s sufferings, that when His glory is revealed, you may also be glad with exceeding joy.
Friends, when life gets really difficult, don’t jump to the conclusion that God isn’t on the job. Instead, be glad that you are in the very thick of what Christ experienced. This is a spiritual refining process, with glory just around the corner. (The Message)
Die letterlike betekenis van die woord wat ons met vuurproef vertaal is om verlore te voel in ‘n vreemde land. Dit is nie vreemd, in die simboliek van die Bybel, om moeilikheid, persoonlike krisis en stryd met oorlog te assosieer en dan in die stryd te tree met geveg-strategie en soldaat-toerusting om te oorwin nie. Dit is nie ietsie om vinnig af te maak en in gebed ‘n rebelse ongeduld te openbaar omdat die kitsoplossing wat ek van God verwag het, sloer. Ons lewe moet tog glad verloop – is ons dan nie die begunstigde uitverkorenes van ‘n Almagtige God wat als in ‘n oogwenk tot my voordeel kan skuif nie? Ek sal heel moontlik steier van teleurstelling oor kwansuise “onbeantwoorde” gebed oor my “bad luck”, wat siekte, verhouding-spanning en ander struikelblokke oor my pad bring. Hoe dikwels het ons nie al gesels oor die onmoontlikheid van die adjektief onbeantwoord voor die woord gebed nie?
Daar bestaan nie so iets soos onbeantwoorde gebed nie.
Die Here sorg vir die regverdiges
en luister na hulle hulpgeroep. (Psalms 34:16)
Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.” (1 Petrus 3:12)
Dit is die waarheid van die Woord – glo dit!
Jesus “kom” in elke krisis, elke tragedie, elke teëspoed om jou lamp te vul, soos die Bruidegom van die Tien Maagde in Matteus 25. Ons olie (vervulling met die Heilige Gees en insig in die woorde van Gees en lewe van Jesus) is nie vir eendag na die Wederkoms nie – dis vir NOU waar ons stryd nie teen vlees en bloed is nie, maar teen die bose magte in die lug.
Ons het nie “wapens” van Waarheid nodig in die heerlike teenwoordigheid van Jesus nie. Ons het ons “wapens” nou nodig. Ons bewapen onsself met die Woord van Waarheid waarin ons vasstaan in vryheid sodat ons weerstand bied teen die boosheid van die tyd. Die “wapens” van Waarheid kan slegs “aangetrek” word as ons ore gesalf is sodat ons kan hoor wat die Gees aan die gemeente sê. Vra God om jou ore te genees sodat jy sy Stem (rhema) in die Woord kan hoor.
Die tweede deel van die Skrif is super-belangrik.
.. sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.
Wat ’n heerlike belofte! God sal sy glorie openbaar. Glorie is die volle impak van wie God werklik is. In die vreugdevolle soeke na die volle openbaring van God, my pappa, sit ons saam met Hom aan die feestafel wat Hy self dek in die vallei van doodskaduwee waar my beker oorloop en my vyande in verstomming moet toekyk. (Psalms 23)
Is dit dan nie die moeite werd om in siekte en stryd in die eerste plek vir die volle genesing van ons geestelike sintuie te bid nie? Dit is hoekom die genesing van die blinde man so ‘n kragtige les is. (Markus 8:22-26) Jesus het op sy oë gespoeg en vir hom hande opgelê. Jesus vra toe wat hy sien en hy sê: Ek sien die mense, want ek sien hulle soos bome rondloop. Bome is simbolies van mense in die Bybel. Die blinde man se geestelike sig is genees voordat sy fisiese sig genees is. Jesus het weer vir hom hande opgelê totdat hy volkome genees is.
Dit is die wonder van die proses van genesing. In die tyd van bid en wag word ons insig en openbaringskennis verryk sodat ons transformeer. Ons wil verander om meer soos Jesus te wees. Hoe sal ons ooit deur die “skare” van vooroordeel, verdeelde aandag, selfgesentreerdheid en arrogansie druk om in gesprek met die Allerhoogste God te tree, as ons lyding ons nie bring op die plek waar ons “ore” genees word nie, sodat ons eers geestelik “hoor” voordat ons fisiese probleme oplossing vind in die aanraking van ons Meester. Sy teenwoordigheid genees, maar ons moet by Hom kom.
Die gevolg van openbaringskennis is goddelike vreugde, wat nie van omstandighede afhanklik is nie. Die vreugde van Psalm 30, Habakuk 3:18, Jesaja 65:19 en Sefanja 3:17. Hoe sal jy ooit weet God dans oor jou? God dans oor Jerusalem (die Kerk, sy Bruid – dis ons). Die woord vir vreugde in Sefanja beteken eintlik om op te spring en tiekie te draai. “Sien” jy God dans? Vra Hom om jou verbeelding te genees en “kyk” weer.
Die verwysing uit hierdie Skrif is na Jesaja 28:16.
So sê die Here my God:
Ek gaan in Sion ‘n klip neersit,
‘n uitgesoekte klip, ‘n hoekklip
wat fondament aan fondament sal sluit.
Wie op My vertrou, hoef nie te vlug nie.
Enigiemand wat God glo sal nie beskaamd staan nie. Wie in die uitgesoekte hoekklip van God in Sion glo, sal nooit teleurgestel word nie.
Kyk, Ek lê in Sion ‘n hoekklip, uitverkies vir die ereplek.
Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” (1 Petrus 2:6)
En my beantwoording in die proses van genesing? Liefde.
Ons bly in Petrus.
Bo alles moet julle mekaar hartlik liefhê, want die liefde bedek baie sondes.
(1 Petrus 4:8)
Liefde wat oor al die irritasie-grense strek.
Ek word uitgedaag Here. Ek wil liefhê soos Jesus. Ek weet dis onmoontlik vir my. Kom my swakheid te hulp, want ek wil graag.