279. Drie vroue sonder naam

Ek glimlag in my mou as ek die straat-stemme en plakkate van vandag  se vrouens  aanskou.  As ‘n ou Bybel-student wonder ek wat sou die duidelik oningeligtes oor die vroue in die Bybel gesê het.  Meeste sou nie van Eva wou praat nie, want is die storie dan nie die naïewe alternatief vir hulle evolusie-teorieë nie? (Indien enigeen verby die oppervlakkige interpretasies van die Skepping storie sou kom en een graad dieper dink, sou mens dalk die wonder van gebeure ontdek wat die Christendom in sy eie unieke kategorie van aanbidding plaas – die enigste wêreldbeskouing wat al die groot vrae oor oorsprong, betekenis, moraliteit en eindbestemming antwoord.)

Sou hulle hoegenaamd weet van Sarah, laat Steentydperk en vroeë Brons, wat in gelykheid met haar man ‘n naamsverandering ondergaan het toe die Skeppergod met hulle ‘n Verbond sluit wat vandag nog geld en kragtiglik werk?  Deborah, wat regter en profetes, leier en inspireerder van ‘n nasie in die vroeë Ystertydperk opgetree het, is veels te diep in die Bybel vir die meeste mense.  Wie op aarde lees die eienaardige stories van Rigters nou eintlik?  

Ons kan lank gesels oor die vroue van die Ou Testament, wat meestal geen beheer oor hulle eie lotsbestemming kon uitoefen nie, en wie se heldedade, profesieë en uitsonderlike karakters oor eeue opgeteken is, in tye wat die mans in hulle lewens meer deur die heidense praktyke om hulle beïnvloed is, as die waardige gelykheid wat God bedoel het – soos Genesis dit stel: God het die mens geskape, man en vrou het hy hom geskape. (Genesis 1:27)

Vier van hulle word genoem in die geslagsregister van Jesus – Tamar, die mishandelde, Ragab die prostituut, Rut, die vreemdeling en Batseba, sonder naam in die genealogie – sy word genoem die vrou van Uria.

Die enigste vrou in die Nuwe Testament in die geslagsregister van Jesus, is sy ma, Maria, die vrou wat op ongekende wyse haar aan God se Plan onderwerp het met al die gebrokenheid en hartseer wat haar lewe gemerk het.  Ons vind haar by die Kruis, by die graf en in die bokamer by die geboorte van die Kerk. (Handelinge 1:14)

Maria moes soveel meer geweet het, as wat die Bybel van skryf.  Sy het in ‘n groot krisis en potensiële skande, by Jesus die uitkoms gesoek.  Hoekom het sy in die wyn-krisis van Kana na Hom gekom vir hulp?  Sy moes geweet het, wat die res van die wêreld nog nie gesien het nie.  Hy was anders, besonders, wonderbaar.  Jesus het homself aan die wêreld bekend gestel om ‘n eenvoudige kleindorpse Vader van die Bruid van groot verleentheid te red.  

Maria was een van baie vroue in Jesus se lewe.  Vroue is genoem as dissipels en het Jesus versorg uit hulle eie bronne.  (Lukas 8:1-3)

In die strate van Jerusalem het Hy een-op-een gesprekke met twee vroue en by die put van Samaria ook.  Nie een van hulle se naam word genoem nie.  Ons weet min van hulle agtergrond, bietjie meer oor hulle situasie, veral as ons bietjie dieper delf.  Hulle word geken aan hulle siekte, sonde en die derde se ras en reputasie.

In die tyd van Jesus het vroue onder die gesag van die priesters en rabbi’s hulleself in ‘n posisie van onderdrukking, verdrukking en totale onwaardigheid bevind.  ‘n Rabbi het gewoonlik God gedank dat hy ‘n Jood is en ook dat hy nie ‘n vrou is nie.  Vroue is nie onderrig nie en kon nie as getuie in ‘n hof geroep word nie.  Dink maar daaraan dat God dit so beskik het dat die heel belangrikste nuus in die ganse geskiedenis van die mensdom – die Opstanding van Jesus – deur vroue aan die dissipels gebring is.  Eeue later lees ons steeds van Maria se verslag oor die leë graf.  Die Fariseërs het hulle oë toegemaak om by vroue verby te kom en het dikwels in pale en mure vasgeloop.  

Siek en alleen met geen hoop

Die vrou wat aan bloedvloeiing gely het (Matteus 9, Markus 5 en Lukas 8) was heel moontlik van haar familie en vriende afgesny in ‘n lewe van afsondering, omdat so ‘n probleem die mense om haar seremonieel onrein sou maak.  Haar desperate toestand word in drie Evangelies bespreek.  Die tydperk – 12 jaar – en die vele konsultasies met sekerlik ‘n wye verskeidenheid dokters en medisyne wat van oral geraadpleeg is, het haar in ‘n staat van roekelose dryfkrag geplaas, waarin sy met ‘n determinasie oor die moontlikheid van ‘n aanraking aan die kleed van Jesus deur die skare gebeur het.  Enigeen wat haar sou herken, of dalk agterkom wat haar probleem is, sou haar onmiddellik geïsoleer het en die aandag van die skare op haar skande vestig.  Geen wonder sy wou anoniem bly.  

Haar plan het gewerk, maar sy was nie voorbereid op die gevolge nie.  Sy het genesingskrag in haar liggaam ervaar – op die plek en dadelik.  Sy kon egter nie wegsluip met haar geheim nie.  Alles en almal het tot stilstand gekom en die grootse oomblik gemerk, die oomblik waar sy bewend voor sy voete neerval.  Haar siekte het haar in hierdie unieke posisie geplaas. Sy was alleen voor die aangesig van die Prins van die Hemel.  Hy het stilgestaan en haar genooi om haarself te ontbloot.  Jesus vra nie vrae om inligting te kry nie.  Hy weet.  Sy vraag is gewoonlik ‘n uitnodiging tot gesprek.  Adam, waar is jy? Wie het aan My geraak?

Hy spreek haar aan as Dogter, wetende dat sy hunker na familie.  Hy herstel haar kindskap en beklemtoon dat sy ‘n dogter van die Allerhoogste God is. 

Is die nood in jou lewe van so ‘n aard dat jy deur die “skare” van vooroordeel, trots, arrogansie, misleiding en twyfel sal beur om in gesprek met Jesus te tree?  Dit is die plek waar enige krisis, enige gebeure in ons lewe ons moet bring.  Een-op-een met Jesus in jou binnekamer waar sy “soom die tempel” vul. (Jesaja 6:1)

Hulle het Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak. En almal wat dit gedoen het, het gesond geword.  (Matteus 14:36)

Die doodsvonnis is uitgereik

Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. (Psalm 3:4)

Die storie van die vrou wat in owerspel betrap is, is een van my gunsteling hoofstukke in Johannes (8).  

Dit is ‘n dramatiese straattoneel in ou Jerusalem wat die genade, liefde en oordeel van God op so ‘n manier bymekaar bring, dat elke mens wat dit lees sal besef hoe Jesus se teenwoordigheid lewe en dood bepaal. Wanneer die wêreld en die kerk in alle wreedheid en genadeloosheid toeslaan, is Jesus in die middel van die teologiese, politiese en morele argument. Sy optrede en die twee sinne wat Hy praat bring uitkoms en herstel.

Dit is sekerlik die mees gesaghebbende uitspraak waar ‘n doodsvonnis ter sprake was, in die geskiedenis van die mensdom ooit.

Die kwessie wat in hierdie gedeelte aangespreek word, is ‘n dilemma na albei kante toe. Die kerkleiers skep ‘n situasie wat hulle uitbuit om Jesus in ‘n lokval van argument vas te trek. Owerspel was ‘n ernstige misdaad met die doodstraf daaraan gekoppel.

Volgens Levitikus 20:10 moet die man en die vrou tot die dood veroordeel word. Die metode van doodmaak word nie bepaal nie. Deuteronomium 22:13-24 praat oor ‘n verloofde meisie. Sy en die man wat haar verlei het, moet buite die stadsmure gestenig word. Die Mishna (kommentaar op die Talmud) praat van verwurging – iets wat nooit ooit in die Ou Testament ter sprake was.

Die wet het voorgeskryf dat die man en die vrou doodgemaak moet word. Die afwesigheid van die man in hierdie geval is, ‘n skreiende diskriminasie teen die vrou en ‘n teken van die tyd waarin die toneel hom afspeel. Die vrou moes die blaam dra en met haar lewe betaal.

Vir Jesus is die lokval gestel:

Indien Hy sou sê dat die vrou gestenig moes word soos die Wet van Moses voorskryf, dan het Sy boodskap aan sondaars oor genade en liefde grootliks skade gely en Hy sou nie weer die vriend van die sondaar genoem kon word nie. Hy sou ook direk in botsing met die Romeinse owerhede gekom het, aangesien hulle publieke teregstelling deur die Jode verbied het.

Indien Hy haar sou vryspreek, sou Hy die Wet van Moses verbreek en owerspel goedkeur.

Hy het afgebuk en met Sy vinger in die grond geskryf. Die moontlikhede van wat Hy daar geskryf het, is soveel as die mense wat daaroor kommentaar lewer. Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Hy kon dalk die aanklaers toelaat om hulle woorde te herhaal sodat hulle self tot die besef van hulle wreedheid en arrogansie sou kom.
  • Een kommentaar meen dat die desperate vrees van die vrou, die bloedlus in die gesigte van die omstanders, die onsimpatieke hantering van ‘n weerlose vrou in ‘n skare wat toekyk, Jesus so met weersin vervul het, dat Hy sy gesig van hulle verberg het. Na alles, was die aanklaers die mense wat hulleself kinders van God genoem het.
  • Daar is ‘n nog ‘n interessante punt wat uitgelig kan word. Dit kan wees dat Jesus met ‘n goddelike vinger die sonde van die aanklaers in die sand of op die stene wat hulle vasgehou het, geskryf het, terwyl hulle oor Sy skouer loer. Die Griekse woord wat hier gebruik word is nie graphein, wat skryf beteken nie, maar katagraphein, wat opskryf, soos vir die hou van ‘n rekord teen iemand, beteken.

Nieteenstaande het hulle op ‘n antwoord aangedring. Hy het dit gegee:

Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Johannes 7:7)

Die woord, sonder sonde van die OAB, is wyd in betekenis om in te sluit sonder sondige begeertes. Die vertaling “skoon gewete” is ‘n goeie aanduiding van die inhoud van Jesus se bedoeling.

Skielik is Jesus alleen by die vrou en Hy praat met haar. Mans het nie in die openbaar met ‘n vrou gepraat nie. Hy vra haar waar haar aanklaers is.

Haar enigste woorde in die straathof wat haar lewe sou neem, is haar antwoord op Sy vraag.

Jesus stuur haar weg met woorde van hoop en lewe op ‘n vars begin. Hy stuur haar nie na die sinagoge vir beter lering oor die Wet van Moses sodat sy nie weer sondig nie. Hy stuur haar in ‘n wêreld vol chaos en morele verval. Hoe kon Hy dit doen?

Jesus het geweet Hy is oppad kruis toe vir haar sonde!

Hy het ook ten volle Sy Vader met haar lewe vertrou en geweet dat die Vaderhand deur die werking van die Heilige Gees die enigste veilige plek op hierdie aarde is. 

Dit is presies wat ons ook met doen met nuwe bekeerlinge en die mense vir wie ons bid. Net sodra die kerk mure bou en dink dat hulle mense moet “help” om nie te sondig nie, is daar korrupsie en wettisisme.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was oortuig dat hulle as die teoloë regsgeleerdes van die tyd, die hoogste gesag was om haar te straf uit ‘n posisie van oordeel, kritiek en sensuur. Hulle was heeltemal gemaklik in die rol. Simpatie en liefde om ‘n sondaar terug te wen, was lankal verlore. Hulle wou nie sonde aanspreek nie, net oordeel en straf. Hulle het nooit besef dat hulle ook geoordeel gaan word nie.

Die wêreld sukkel om mense te red. Rehabilitasie vir verslawing en misdaad het twyfelagtige sukses. Dikwels het straf bitterheid, woede en meer ernstige dade tot gevolg.

Die vrou, as ‘n mens en skepsel van God, het geen plek in die toepassing van die Wet deur die kerkleiers nie. Sy is bloot ‘n instrument om Jesus te by te kom.

Sy is ‘n niks sonder ‘n naam.

As mense niks word, is die Christendom dood.

God gebruik name. Daar is bladsye en bladsye name in die Bybel. Die Bybel fokus op mense by naam. God sê vir Moses: Ek ken jou op jou naam.” (Exodus 33:17). Hy sê aan Kores: sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel. (Isaiah 45:3).

Dink jy die Fariseërs wat haar aangekla het, het haar naam geken? Indien wel, het hulle haar nie by naam aan Jesus voorgestel nie.

Sy het heel moontlik verlangs van Jesus gehoor. Mens weet so min van haar af. Sy het Hom dalk as deel van die kerk beskou en is sonder hoop, gevul met vrees in Sy teenwoordigheid ingesleep. Hoe het sy die hele geding waarvan sy die middelpunt is, sonder dat iemand in haar rigting kyk, ervaar?  Sy het dalk nie eers geweet dat die kerkleiers volgens die Romeinse gesag nie toegelaat is om haar dood te maak nie.  Vroue is nie geleer nie.  

Net ‘n volmaakte mens kan oordeel. Daarom het die Fariseërs na volmaaktheid gestreef. 

Jesus waarsku om nie te oordeel nie (Matteus 7:1). Wanneer ons oordeel sien ons die splinter in ander se oog en nie die balk in ons eie nie (7:3-5). Ons is blind vir ons eie foute, terwyl ander se sonde en tekortkominge so duidelik is.

Ons eerste reaksie op ‘n fout moet simpatie en bejammering wees. Ons moet verligting bring met ‘n boodskap van hoop en saligheid. Weersin verdwyn in liefde en die begeerte om te help.

Jesus het nie haar sonde goedgekeur nie. Hy het oordeel uitgestel tot na die geleentheid vir saligheid. Hy het haar ‘n tweede kans gegee sodat sy beter besluite kan neem. Hy was jammer vir haar. Sy liefde het simpatie vir haar voortgebring.

Hy het haar laat gaan met ‘n uitdaging. Dit was nie maklik nie. Sy moes haar lewe omkeer en nuwe besluite maak op grond van haar tweede kans. Sonde was oral.

Jesus het haar vertrou om haar kans te gebruik. Hy het haar in Sy Vader se hand “losgelaat” en geweet sy sal veilig wees.

By die Put van Jakob

In Johannes 4 lees ons van die vrou wie Jesus by die put van Jakob  ontmoet.  Uit die gesprek sover moet ons in gedagte hou dat:

  • die Jode die Samaritane verafsku het (4:9)
  • die Jode niks van ‘n vrou gedink het nie
  • die vrou ‘n reputasie gehad het (4:18)
  • baie sterk kulturele beperkings aan ‘n vrou gestel is (4:27)

Die storie is ‘n sleutel-toneel in die vestiging van Jesus se liefde en aanvaarding van alle mense.  Jesus inisieer vergifnis, herstel en die bemagtiging van ‘n vrou wat ander mense, selfs sekerlik diegene wat op  haar neergekyk het, van die realiteit van die Messias oortuig het.  Dit wys dat kulturele vooroordeel nooit sterker as die Evangelie kan wees nie.

Van Noord na Suid is Palestina maar amper 200 kilometer lank. Binne hierdie afstand was daar in die tyd van Jesus drie verdelings van oppervlakte. In die noorde was Galilea, in die suide Judea en in die middel Samaria.

Daar was ‘n eeu-oue vyandskap tussen die Jode en die Samaritane.. Die vinnigste roete na Galilea was deur Samaria. Met hierdie roete was die reis drie dae te voet. Die alternatief was om die Jordaan te kruis en aan die oostekant van die rivier op te loop en dan noord van Samaria weer die rivier oor te steek. Jesus en sy dissipels neem die kortpad deur Samaria.

Dit is ‘n wonderwerk dat Jesus se dissipels gewillig was om Hom te volg. Oppad het hulle by die dorp Sigar gekom. Daar by ‘n vurk in die pad was Jakob se put.

Hier area was vol herinneringe vir die Jode. Die grond is deur Jakob gekoop (Genesis 33:18-19), wat hy op sy sterfbed aan Josef bemaak het (Genesis 48:22). Toe die Israeliete Egipte verlaat, het hulle Josef se beendere saamgeneem en hier by die put van Jakob begrawe (Joshua 24:32).

Daar was absoluut geen kontak tussen die Jode en die Samaritane nie.

Die agtergrond vir hierdie vyandskap is te vinde in die tyd van Nehemia en Ezra toe die ballinge van Juda (die suidelike koninkryk) na Jerusalem teruggekeer het en die muur herbou het. Die noordelike koninkryk, Israel met hulle hoofstad Samaria, is deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer (2 Konings 17:6). Hulle het nooit uit ballingskap teruggekeer nie. Gewoonlik het die swakkes en siekes wat nie in slawerny weggevoer is nie, in die land agtergebly. Oor baie jare het meer van die ballinge ook begin terugkeer, maar hulle kon nie weer ‘n nasie bou nie, met die gevolg dat hulle met heiden nasies ondertrou het. Volgens die wet van Moses was dit nie toegelaat nie (2 Konings 17:24) en daarmee het hulle hulle reg om Jode genoem te word, verloor.

Toe Nehemia die muur begin bou, het hulle gevra om te help en te deel aan die opbou van die land. Nehemia het geweier as gevolg van hulle onsuiwerheid. In Nehemia 13:28 is die voorbeeld van ‘n Jood, wat die dogter van Sanballat, ‘n Goroniet, getrou het. Nehemia het hulle weggejaag. 

In 129vC het ‘n Joodse generaal die Tempel in Samaria vernietig. Die Samaritane het bitter geword en die haat aangevuur vir die volgende 450 jaar. Die Rabbi’s het gesorg dat die bitterheid verskerp en die stories oor die wetsoortreding oor en oor vertel.

Terug by die vrou by die put.

Middag in die Joodse dag wat van 6vm tot 6nm geduur het, was 12nm. Die dissipels het in die stad ingegaan om kos te koop – ‘n wonderwerk opsigself, want gewoonlik sou geen Jood in Samaria kos koop of vra nie. Dit was duidelik dat hulle denke onder Jesus se invloed verander het.

Die put was meer as 30 meter diep. Dit was nie ‘n vloeiende fontein nie. Dit was sand waarin die water stadig gesyfer het. Die put was so diep dat dit nie moontlik was om sonder ‘n beker of houer water te kry nie.

Die put was ongeveer ‘n kilometer buite die dorp. 

Dit was nie die hoof waterbron van die dorp nie. Die vrou het alleen gekom. Sy was duidelik ‘n uitgeworpene. Gewoonlik het vroue saam na die waterbron toe geloop om bietjie te gesels. Dit was die enigste tyd vir sosialisering in ‘n lang dag van verpligtinge. Die feit dat hierdie vrou alleen na die ver put gekom het, was ‘n teken van die mate van verwerping wat sy van haar bure ervaar het. Sy het heel moontlik vermy om saam met die ander vroue water toe te loop.

Jesus vra haar vir water. Hy moes nie eers met haar gepraat het nie. Joodse mans het nooit ooit met ‘n vrou in die publiek gepraat nie, nie eers hulle eie familie nie en verseker nie ‘n Samaritaanse vrou nie. 

Die storie soos vertel in Johannes is net ‘n kort gesprek. Miskien was daar meer? Hoekom het die vrou Jesus vertrou? Dit kon wees as gevolg van Sy woorde of net die vriendelikheid en aanvaarding in Sy houding teenoor haar wat vir haar heeltemal ongewoon was.

Jesus het bedien uit die realiteit van sy menslikheid. Hy was moeg. Johannes beklemtoon Sy godheid, maar hier ook Sy menslikheid. Die lewe is vir Hom ook ‘n inspanning, net soos vir ons.

Die warmte van Sy simpatie was in sterk kontras met die gewone godsdiensleiers. Sy sou heel moontlik gevlug het as sy een van hulle raakgeloop het. Jesus het haar nie veroordeel nie en nogtans haar lewe oopgevlek. Sy het hom vertrou en ‘n vriend in Hom gevind.

Jesus breek deur al die hindernisse. Sy was ‘n Samaritaan en ‘n vrou. Boonop was sy ‘n vrou van twyfelagtige sedes. Geen ordentlike man sou eers naby haar gekom het nie.

Dit is ‘n wonder-verhaal van die Seun van God wat moeg en dors is. Die God van die hemel luister na haar storie van hartseer terwyl Hy deur al die struikelblokke van ras en haat breek. Die goeie nuus van vrede bereik die res van die wêreld.

God se liefde is prakties, nie net teoreties nie.

Die gesprek volg dieselfde patroon as die gesprek met Nikodemus. ‘n Stelling van Jesus word misverstaan. Dit word herhaal, maar bietjie anders om meer te omskryf. Dit word weer misverstaan. Dan lei Hy die persoon om tot sy eie gevolgtrekking te kom en die waarheid te erken. Dit is Jesus se onderrig-styl sodat jy self insig in die saak het.

Hy stel die letterlike teenoor die geestelike. Water was meestal lopende water. ‘n Vloeiende stroom was beter. Hierdie put was nie naby dit nie. Sy vra waar Hy die lewende water gaan kry om vir haar te gee. Gewoonlik het elke mens in daardie tyd ‘n skepding gedra. Die vrou het geweet Hy kan nie water uit die put kry nie en tog sê hy Hy kan vir haar water gee.

Water het deurgaans ‘n simbolies betekenis in die Skrif. Die sieledors na God en lewende water wat dit les is ‘n tema in die Ou en Nuwe Testamente (Openbaring 21:6 en 7:17).

Die fonteine van redding word in Jesaja 12:3 genoem. Psalm 42:1 praat van dors na die lewende God. Jesaja 44:3 belowe water op die droë grond. Kom en neem die water van die lewe verniet is die uitnodiging in Jesaja 55:1. Jeremia kla oor die gebarste waterbakke wat nie water kan hou nie (2:13). Esegiël skryf oor die rivier van lewe (47:1-12). Sagaria skryf oor die fontein van reiniging (13:1) en die vars stroom water van Jerusalem in 14:8. Alles van water gaan oor lewe en die onderhoud van lewe, die essensie, die basiese behoefte om geestelik te oorleef. Water in al sy vorme word aan die mens belowe.

Wysheid is beskou as die lewende water van die Wet. Die rabbi’s het lewende water gesien as ‘n simbool van die Heilige Gees. Die sieledors kan deur die Heilige Gees geles word. Die vrou klou aan die letterlike betekenis van Jesus se woorde omdat sy nie kan glo dat sy die antwoord op ‘n diep sielsverlange gevind het nie.

Heilige Gees-water wat die mense se dors les is ‘n Messiaanse belofte (Jesaja 49:10).

Elke mens het ‘n diep verlange na die water van die lewe en net God kan daardie verlange vul.  Dit is hartverskeurend hoe die vyand hierdie verlange gebruik om die mens in allerhande dinge vas te knoop in ‘n poging om die verlange na die lewende water van die Gees met iets anders as God te vul.

Skielik is die inleidende gepraat verby. Jesus dring deur tot die diepste seer in haar siel. Die gepraat oor die man in haar lewe openbaar die verwonding van haar diepste wese. Sy sien haarself in die lig van Sy woorde.

Sy besef die mislukking van haar verhoudinge in die lig van die openbaring van die Christus. Alle Christelike lewe begin met ‘n besef van sonde sodat ons die noodsaaklikheid van die Kruis kan insien. Sy besef dadelik haar gebrek aan ware aanbidding.

Jesus is die profeet hier. Hy bring die mens na God en God na die mens. Hy openbaar haar sonde, maar gee dadelik die oplossing. Ons kan nie op ons eie met sonde klaarspeel nie.

In Samaria is die berg Gersom vereer as ‘n historiese belangrike plek. Dit was die plek waar Abraham Isak geoffer het, waar Melgisedek aan Abraham verskyn het en waar die altaar van Moses was. Daar is selfs met die historiese tekste gepeuter om die berg se belang te verhef. Die Samaritane wou deel in die heiligheid van Jerusalem.

Toe die vrou haar sonde besef het sy terselfdertyd bewus geword van haar diep verlange na God. Waar kon sy aanbid? Die uitroep van haar hart was: waar is God? Waar kan ek Hom vind?

Jesus antwoord: God is oral. Mensgemaakte mededinging oor ‘n plek van aanbidding sou binnekort verdwyn.

Ontsagwekkend is die Here bo almal. Hy laat al die gode op die aarde wegteer sonder offers, en al die kuslande van die nasies buig voor Hom, elkeen op sy eie plek. (Sefanja 2:11)

Na ‘n ontmoeting met Jesus het hierdie vrou ‘n geweldige gemeenskap-impak.  Sy het geen naam in die storie nie – die punt was nie wie sy was nie, maar wat sy gedoen het. (1 Korintiërs 1:26-29)  Sy het “reggekry” wat die beste geleerdes van die tyd nie kon doen nie.  Sy het Jesus as profeet en toe as die Christus onderskei.  Sy is ‘n voorbeeld van die krag van getuienis, na ‘n openbaring van die wie Jesus is.  (4:19.29)

Sy bedien haar dorp uit die krag van haar ontmoeting met Jesus.  Sy bedien kragtiglik en oortuigend uit die openbaringskennis van wie Hy is: die Christus die Seun van die lewende God.

Gevolgtrekking

Wat kan ons dan sê van hierdie drie vroue?

In elkeen se storie is daar dalk iets wat persoonlik in ons lewe ego, maar een beginsel staan sentraal.

My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.   (Jakobus 1:2-4)

AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk.

Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie. (OAB)

Consider it a sheer gift, friends, when tests and challenges come at you from all sides. You know that under pressure, your faith-life is forced into the open and shows its true colors. So don’t try to get out of anything prematurely. Let it do its work so you become mature and well-developed, not deficient in any way. (The Message)

Elkeen van hierdie vroue se besondere gebrokenheid het hulle aan die voete van die Prins van die Hemel gebring en hulle heeltemal omgekeer.  Dit is die doel van ons Bybelstudie.  Ons wil nuut word deur anders te dink. 

Dit is die regte oog, die teenoorgestelde van die donker oog wat ons siek maak.

Gebed:  [Philippians 3:10,11, Amplified]

 [For my determined purpose is] that I may know Him [that I may progressively become more deeply and intimately acquainted with Him, perceiving and recognizing and understanding the wonders of His Person more strongly and more clearly], 

and that I may in that same way come to know the power outflowing from His resurrection [which it exerts over believers], and that I may so share His sufferings as to be continually transformed [in spirit into His likeness even] to His death, [in the hope]

That if possible I may attain to the [spiritual and moral] resurrection [that lifts me] out from among the dead [even while in the body].


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s