375. Kyk in die onsienlike

In hierdie kort reeksie oor die plofbaarheid van wêreldpolitiek en die volgehoue polarisering van politieke en sosiale kwessies in ons gemeenskap, is dit noodsaaklik en lewensbehoudend om ons perspektief gesond te kry en te hou.  Dit is net te maklik om in woede en frustrasie te reageer en dan uiting daaraan in ons woorde en gedagtes te gee.  

‘n Mens sou dalk nog slaag om nie jou ware reaksie te kommunikeer nie, maar innerlike grimmigheid is ‘n konstante metgesel in ons daaglikse bestaan.  Soveel dinge “besoedel jou siel” om die argaïese, maar pertinente uitdrukking te gebruik. Hulle praat in die sosiale media kringe van “rage baiting”.  Dit is daardie sensasionele rooi letters wat jou aandag trek en kry om te kliek en te kyk met die relatiewe nuwe vryheid om op elke platform moontlik jou opinie uit te basuin in die lang lys van duisende ander.  As ek ‘n prentjie moet maak is dit mense wat bloed spoeg op die skerms van die nuusmedia uit die wonde van woede waartoe hulle uitgelok word.

Natuurlik moet mens daardie tree terug gee en nie die giftigheid in jou binneste toelaat nie. Ons het toegang tot “vrede wat alle verstand te bowe gaan”, maar in die normale gang van slegte nuus en negatiwiteit, is dit juis wat ons so jammerlik ontbreek. Enige vredeliewende mens is versteur deur wat in die wêreld aangaan en vir ons Christene is die gebrek aan wysheid en geregtigheid ‘n konstante bron van kwaad.

Dit was nog nooit anders nie.

Net ‘n oppervlakkige oorsig oor die geskiedenis is genoeg om jou insig in die hedendaagse so te verbreed dat jy onmiddellik besef dat dit al dikwels baie erger was. 

Wat staan ons te doen?

Die hele situasie is honderd persent binne ons beheer.  Daar is geen rede om in magtelose toorn uit te vaar nie.  Ons woorde in politieke gesprekke word soos dolke in ander mense se siele, veral diegene met wie ons nie saamstem nie.  Demokrasie, wat ons al vir eeue die sogenaamde vryheid gee om ons eie politieke bestemming te bepaal, voel nie meer effektief nie en is soveel maal die instrument wat deur tirannie gebruik word om mag te misbruik.

Hoe onderwerp jy aan ‘n goddelose, heidense, immorele en oneerlike regering?

Daar is net een manier en dit is om ‘n hemelse perspektief te behou.  Dit is glad nie ‘n ontduiking van die realiteit of ‘n droomwêreld wat ons uit die werklikheid laat ontsnap nie.  Dit is ‘n rasionele uitkyk op die situasie waarin jy funksioneer en die omstandighede waarin elke individu verkeer. 

God is intens en intensioneel by die wêreld betrokke.  Ons behoort aan Hom en daarom is Sy Woord die grondslag waarop elke opinie gevorm word.  Hy het die nasies onder Sy beheer soos belowe is Psalm 2 (1-5). Dit is altyd ‘n heerlike verligting om die woorde te lees.

Waarom is die volke rusteloos en maak die nasies nuttelose planne? 

Die konings van die aarde neem stelling in en die heersers span saam teen die Here en sy gesalfde:  “Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af!” 

Hy wat in die hemel sit, lag; my Heer dryf die spot met hulle. Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan, met sy woede verskrik Hy hulle:

Lees dit gerus in The Message om dit meer hedendaags te laat klink.

Why the big noise, nations?
Why the mean plots, peoples?
Earth-leaders push for position,
Demagogues and delegates meet for summit talks,
The God-deniers, the Messiah-defiers:
“Let’s get free of God!
Cast loose from Messiah!”
Heaven-throned God breaks out laughing.
At first he’s amused at their presumption;
Then he gets good and angry.
Furiously, he shuts them up:
“Don’t you know there’s a King in Zion? A coronation banquet
Is spread for him on the holy summit.

Volgens Efesiërs (2:6) sit ons saam met Jesus in die hemel op ‘n plek vir ons gegee deur Sy dood en opstanding.  Daarom kan ons “neerkyk” (letterlik) op die nasies van die wêreld en hulle goddelose gesanik.

God se perspektief in die almag van Sy heerskappy vind ons in die poësie van die ou profeet Jesaja (40:15).

Kyk, nasies is soos ‘n druppel uit ‘n leersak;  hulle word beskou as net ‘n lagie stof op ‘n weegskaal. Kyk, eilande weeg Hy asof dit fyn stof is.

Hoe is ‘n hemelse perspektief, ‘n Troon-uitsig, moontlik?  

Ons het laaskeer gepraat oor die krag van gebed en ons opdrag om vir die mag en gesag in ons ganse bestaan te bid, dit wil sê van die kerk en stadsraad tot heel bo by die wêreldleiers, wat almal by die dag meer arrogant en onuitstaanbaar word.

Kan ons God kan sien lag vir die nasies?

Dit is net moontlik as ons soos Johannes in Openbaring 4 deur die “deur” van openbaringskennis tree om die groter werklikheid as wat ons om ons sien, te aanskou.

Kom ons lees uit 2 Konings 6 (8-23) hoe God ‘n heerser om die bos lei.  Die koning van Aram (Sirië) maak oorlog teen Israel en Elisa, die profeet berig aan die koning van Israel elke skuif van Aram se weermag.  Die Siriese koning is woedend en soek ‘n verraaier in sy eie geledere.  Heel interessant is die verslag van sy eie offisier oor Elisa se vermoëns: 

Een van sy offisiere het geantwoord: “Nie een van ons nie, U Majesteit, maar die profeet Elisa daar in Israel kan vir die koning van Israel vertel selfs wat u in u slaapkamer sê.”

[Liewe leser, ek hoop daar is klaar ‘n glimlag op jou gesig.]

Natuurlik dink die Siriese koning dat hy gou met Elisa sal afreken en dan voortgaan met sy oorlog. Sy offisiere weet presies waar om Elisa te vind – in Dotan.  Hy stuur perde, strydwaens en ‘n groot mag daarheen.   Hulle omsingel die stad in die nag – ‘n hele weermag vir een profeet.

Die profeet se slaaf kry ‘n angsaanval toe hy die vyandige weermag sien en spreek woorde van nederlaag en desperaatheid uit.  Elisa is bedaard en ten volle in beheer.

Hy [Elisa] het geantwoord: “Moenie bang wees nie, dié wat by ons is, is meer as wat hulle is.”

Hoe kon hy so kalm wees?  Hy het insig in die onsienlike gehad.  Hy het gesien wat die Here doen om hom te beskerm.  Daarom bid hy vir sy slaaf.  Nie net ‘n gebed teen vrees nie – ‘n gebed vir insig.  Hy het geweet insig, geïnspireerde kennis wat kom met profetiese visie, is die volle antwoord op vrees.

Elisa het gebid: “Here, maak tog sy oë oop dat hy kan sien.”

Die Here het die oë van die slaaf oopgemaak, en hy het gesien: die berge rondom Elisa was vol perde en strydwaens van vuur.

Sien jy God se weermag?  Sy naam is die Here van die Leërskare.

Elisa bly in gesprek met God.  Hy bid dat die Siriese weermag met blindheid geslaan word. Jakobus (5:16) belowe dat die vurige gebed van die gelowige groot krag het.  God doen wat Elisa vra en gee die hele weermag in sy hand.  In hulle blindheid weet hulle nie dat dit waarvoor hulle gekom het, hulle nou weglei in doodsgevaar in.  Elisa lei die weermag na die koning van Israel, wat net soos die heiden-koning met geweld wil reageer.  

Toe die Aramitiese (Siriese) weermag hulle sig terugkry was hulle binne-in Samaria. 

Elisa  keer die geweld en vervang die verwagte bloedbad met gasvryheid en welwillendheid.

Die koning van Israel het vir hulle ‘n groot feesmaal gegee. Nadat hulle geëet het, het hy hulle laat gaan, terug na hulle koning toe. Die bendes van die Arameërs het toe nie weer in die land Israel gekom nie.

Dit is die profetiese insig van gebed in die sake van die dag wat ons “siel verkwik” en ‘n hemelse perspektief wat ons in die “spore van geregtigheid” lei. (Psalm 23 – OAB)

True to your word,
    you let me catch my breath
    and send me in the right direction
. (The Message)


Lewer kommentaar