169. God in aksie.

[Johannes 11]

Wat is ‘n wonderwerk? Dit is ‘n gebeurtenis in die lewe van ‘n mens wat net in bonatuurlike terme beskryf kan word. Die amptelike definisie beklemtoon die misterieuse aspek van ‘n hoogs onwaarskynlike of buitengewone verskynsel.

‘n Wonderwerk is ‘n verrassende en welkome uitkoms wat nie met natuurlike of wetenskaplike wette verduidelik kan word nie en daarom  as die werk van ‘n goddellike wese beskou word.

Dit is verrassend en welkom, ‘n positiewe uitkoms. Dit is die teenoorgestelde van die krisis of omstandighede wat aanleiding gegee het tot die noodsaaklikheid van die wonderwerk. DIt is met ander woorde die onverduidelikbare uitkoms uit ‘n katestrofiese, harverskeurende situasie.

‘n Wonderwerk is God in aksie. Dit is ons liefdevolle Vader, almagtige Skepper-God, wat intree en die onmoontlike vir ons doen, tot ons voordeel. ‘n Wonderwerk is ‘n welkome verligting waar menslike verligting nie moontlik was nie.

Wonderwerke is antwoord op gebed.

God is ‘n misterie wat in die onsienlike realm bestaan. Hoe sal ons Hom vind en Hom in aksie “sien”? God is die God van sy mense. Hy is aktief in Sy gemeenskap. Dit is Sy werk in en om die mense waarin ons Hom “sien”.

William Barclay verduidelik hoe ‘n rabbi die teks van Deuternonomium 13:4 uitlê. Die Skrif stel dit so:

Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang.

Om die Here aan te hang is om te doen wat Hy doen. Hy werk onder die armes (Genesis 3:21), Hy besoek die siekes (Genesis 18:1), Hy troos die treurendes (Genesis 25:11), Hy begrawe die dooies (Deuteronomium 34:6). In al hierdie dinge vind ons ons eie rol in die gemeenskap, deur te doen wat Jesus doen.

In hierdie gedeelte van Johannes 11:17-27 ontmoet ons die huishouding van Jesus se vriende in Betanië. Marta tree volgens  haar karakter wat ons al ontmoet het, op (Lukas 10:38-42).  Sy hou van aksie. Maria sit stil. Marta hardloop Jesus tegemoet en praat haar hart oor haar lippe. Sy spreek haar verwyt teenoor Jesus uit en tog haar geloof, hoewel sy teleurgesteld is.

Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.

In haar woorde vra sy Jesus waarom Hy so laat is. As Hy gekom het toe sy die boodskap gestuur het, sou haar broer gelewe het. Tog is daar geloof in haar woorde dat God sal doen wat Jesus vra.

Marta noem die algemene opstanding in die laaste dae. Dit is heel belangrike woorde van Marta.

Een van die merkwaardige dinge in die Bybel is dat die Ou Testament se geloofshelde nie werklik in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het geglo dat almal, gelowig of nie, na die doderyk gaan wat hulle Sheol of Hades genoem het. Die doderyk word soms verkeerdelik methelvertaal, maar dit was nie ‘n plek van marteling nie, eerder ‘n skaduland van blote bestaan, vreugdeloos en kragteloos, amper spookagtig. (Psalms 6:5; 30:9)

Hiskia treur oor die profesie dat hy sal sterwe en sê:

In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie!  (Jesaja 38:18)

In die Psalms (16:9-11 en 73:23-24) wil die Psalmis glo dat nie eers die dood hom van God kan skei nie. Hierdie ewige hoop vind ons in Job. In sy smart en siekte roep Job uit:

MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.

En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; (Job 19:25,26, OAB)

In die tyd van Jesus, het die Sadduseërs nie in die lewe na die dood geglo nie, maar die Fariseërs en die meerderheid van die Jode het wel.  Die dooies het God gesien en is nie eers dooiesgenoem nie, maar die lewendesom dat hulle by God was.

Dit is na hierdie geloof wat Marta uitreik.

Jesus antwoord haar met een van die mees lewegewende EK IS-uitsprake.

Ek is die Opstanding en die Lewe.

Ons geloof in Hom gee lewe en Sy lewe maak geen voorsiening vir dood in enige vorm nie – geestelik, fisies of op sielsvlak.

Not even a lifetime’s thinking will reveal the full meaning of this; but we must try to grasp as much of it as we can.[William Barclay]

Daar is lewe na die fisiese dood op aarde. Die dood is nie die einde nie. Die dood is slegs ‘n deur na die onsienlike.

Die fisiese dood is die sonsopkoms, die dagbreek van die Ewigheid.

Dit was die gewoonte, veral vir vroue, om die graf te besoek en daar te treur op elke moontlike geleentheid vir ‘n week na die begrafnis. Maria se groet aan Jesus was presies dieselfde as Marta s’n.

‘n Mens moet in gedagte hou dat dit nie ‘n sagte ween en traan wegpik geleentheid is nie. Dit was meer ‘n histeriese weeklaag en skreeuende uitroepe van hartverskeurende rou. Vir die Jode was so ‘n onbevange gehuil ‘n teken van eer aan die dooie.

Jesus is diep geraak. Die woord wat gebruik word is: embrimasthai.

Die woord word drie maal op ander plekke in die Nuwe Testament gebruik. Dit beteken om ‘n streng opdrag te gee, of ‘n skerp vermaning uit te spreek.

Hoekom was Jesus kwaad?  Daar word bespiegel dat Jesus bewus was van die voorgee en vals, opgewerkte hartseer van die mense. In die gewone Grieks beteken embrimasthai ‘n perd wat snork. So ‘n diep emosie het in Jesus geroer dat Hy ‘n kreun laat hoor het.

Hierdie is ‘n wonder van Jesus se lewe en die wyse waarop die Evangelieskrywers dit beskryf, is merkwaardig. Jesus was so betrokke by die mense dat Sy emosie geraak is.

Johannes skryf hierdie Evangelie sodat ons die denke van God in Jesus kan sien.Vir die Grieke was een van die belangrikste kenmerke van ‘n god dat hy totaal bo emosies was en geen gevoel kon ervaar of uitleef nie.

Emosie is die gevolg van ons reaksie op mense en omstandighede. Dit beteken dat iets buite onsself beheer oor ons kry. Niemand kan beheer oor ‘n god hênie, daarom moet ‘n god of opperwese geen emosie toon of ervaar nie en heeltemal bo dit wees.

Die Grieke het in ‘n passielose, neutrale, geïsoleerde opperwese aangehang.

 Wat ‘n wonder-beeld het Jesus geleef! God is betrokke, aangeraak. God het lief. Hy gee om. Hy is diep geraak in jou hartseer omdat Sy liefde vir jou Hom na jou toe trek met ‘n onvoorwaardelike betrokkenheid om beter te maak, gesond te maak en uit te red.

Die gewone graf in Palestina was ‘n spelonk-tipe opening uit rots gekap. Die liggaam is in linne toegedraai. Die kop is apart toegedraai. Voor die opening was daar ‘n groef in die grond waarin ‘n groot klip gerol is om die graf toe te maak.

Jesus vra dat hulle die steen moet wegrol. Marta het sekerlike gedink dat Jesus sy vriend ‘n laaste maal wil sien, maar sy het nie gedink dis ‘n goeie idee nie. Lasarus was al vier dae in die graf en in daardie hitte het die liggaam heel moontlik al begin ontbind. Daar het ‘n bygeloof bestaan dat die siel van ‘n dooie mens drie dae om die graf vertoef om dalk weer in die liggaam in te gaan, maar na drie dae finaal vertrek. Na vier dae was die gesig ook sekerlik nie meer herkenbaar nie.

Jesus spreek die opdrag waarteen selfs die dood geen mag het nie.

Lasarus kom uit!Dit was sekerlik nogal ‘n gesig om die toegedraaide figuur uit die graf te sien struikel. Jesus moet vir die mense sêom hom los te maak. Almal het sekerlik versteend gestaan en staar, te bang om te beweeg.

Die oomblik wat Jesus die woorde gespreek het, het die krag van God deur Hom gevloei. Die wonderwerk was tot eer van God, net soos in Elia se gebed:

 Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”(1 Konings 18:37)

In die ander drie Evangelies is daar stories oor die mense wat uit die dood opgewek is. Jaïrus se dogtertjie (Matteus 9:18-26; Markus 5:21-43; Lukas 8:40-56) en die weduwee van Naïn (Lukas 7:11-16). In beide gevalle het Jesus hulle opgewek kort na hulle dood verklaar is. In die warm klimaat van Palestina het begrafnisse vinnig op dood gevolg en somtyds het mense in die graf uit ‘n koma wakker geword. Die mense is dalk deur Jesus van ‘n wrede dood in ‘n graf gered. Argeologiese opgrawings het bewyse van mense wat van binne af uit ‘n graf wou kom.

Daar was egter geen ander geval van ‘n persoon wat vier dae dood was en toe weer lewe nie.

Die Sanhedrin is bymekaar geroep om die geval te bespreek. Die wonderwerk van Lasarus se opwekking het hulle gedwing om drasties op te tree.

Die Sanhedrin was beide Fariseërs en Sadduseërs. Die Fariseërs was nie polities nie. Hulle het die Wet van Moses geleef as voorbeeld vir die ander mense. Die Sadduseërs was polities. Hulle was welvarend en het geleef soos die aristokrasie. Hulle lewenswyse moes natuurlik ten alle koste beskerm word en daarom het hulle met Rome saamgewerk. Die Sadduseërs het die praatwerk in die Sanhedrin gedoen.

Hulle was berug vir hulle ongeskiktheid en beledigings. Hulle houding het in sterke kontras met die optrede en woorde van Jesus gestaan.

Jesus was ‘n wesenlike bedreiging vir hulle rykdom en status. Sy volgelinge kon onrus veroorsaak en Rome was wreed ongeduldig met opstande en sou die Sadduseërs blameer. Die vraag of Jesus die waarheid praat en werklik van God gestuur is, was nie eers ter sake nie.

‘n Mens kan sy eie karakter bo die wil van God verhef.

Die geskiedenis bewys die dramatiese ironie. Die Sadduseërs wou van Jesus ontslae raak om hulle mag te behou, maar 70nC het die Romeine genoeg gehad van die onrustige, moeilik-beheerbare Palestina en Jerusalem met die grond gelyk gemaak net soos Jesus voorspel het. Sou dinge nie anders uitgedraai het as hulle Jesus aanvaar het nie?

Kajafas, die Hoë Priester, maak hierdie ironiese stelling:

… dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

Die Hoë Priester moes God namens die volk nader. Moses het die raad aan Joshua gegee (Numeri 27:18-21)

God praat soms deur mense wat onbewus is van die groter impak van hulle woorde – soos in hierdie geval.

Jesus het inderdaad vir die hele volk gesterf.

Teen hierdie tyd het mense al begin aankom vir die Paasfees in Jerusalem. Die Jode moes seremonieel rein wees vir die Fees en kon daarom nie aan ‘n lyk vat nie.

‘n Mens kan jou net die gepraat voorstel. Die mense het geweet wat aangaan. Hulle het altyd belanggestel in iemand wat die owerhede met durf teenstaan. Dit was ‘n kwessie van lewe en dood.

Die gevolgtrekking van die gepraat was dat Jesus onder geen omstandighede in Jerusalem sal wees nie. Dit was onmoontlik om die Joodse leiers en die Romeinse owerhede te konfronteer.

Maar…hulle het Jesus onderskat. Niks op aarde sou Hom stop. Hy het openlik Jerusalem binnegekom in ‘n triomfantelike prosessie met al die aandag op Hom. Hy het bewys Hy het die dood oorwin.

Die slegste scenario kon Hom nie keer nie.

 

 

 

 

 

168. Dood, wie is nou bang vir jou?

[Johannes 11]

Dit is nou maar die een sekerheid van die lewe. Dood volg op lewe op aarde. Sedert die eerste mens en dier begin asemhaal het, was die dood ‘n werklikheid en daarby nog ‘n misterie wat vrees skep en hewige filosofiese debat ontlok. Oor eeue en eeue worstel die mens met die dood. Al wat ons weet is die eensydige stories van mense met ‘n ondervinding van ‘n wasige visioen wanneer hulle in ‘n doodsgreep “oorstap” en daarna weer wakker word met ‘n wonder-vertelling van iets buite ons realiteit.

Die misterie van die dood behoort aan God. So word ons beveel in Deuteronomium 29:29 (The Message):

God, our God, will take care of the hidden things but the revealed things are our business. It’s up to us and our children to attend to all the terms in this Revelation.

Lewe op aarde het genoeg om te hanteer. Ons werk, maak kinders groot met waardes en durf om die volgende geslag te versterk, ons bekommer oor ons aarde en strek ons hande uit as die liefdeshand van God na die onmeetlike pyn en lyding van die gemeenskappe rondom ons. Dit is genoeg om ‘n verantwoordelike lewensuitkyk voluit besig te hou. Hoe kan ons nog oor die dood bekommer?

Tog is die dood deel van ons daaglikse lewe. Soms word dit in somber afwagting verwelkom wanneer ‘n ouer persoon uit lyding verlos word. Ongelukke en misdaad skok en traumatiseer die geliefdes wanneer die dood ‘n pynlike en onverwagse uitklophou is, wat ons innerlike wese verbrysel met wrede onomkeerbaarheid.

Dood is so deel van ons bestaan. Laat ons dan noukeurig let op die besonderhede van Jesus se hantering van dood, wat so ‘n vreesaanjaende wreedheid in jonk en oud se realiteit in ou Palestina gedurende die eerste eeu was.

Die woorde wat Hy gebruik om die situasie te beskryf wys op die oorwinning wat Hy gebring het. Hy het altyd van die dood gepraat as slaap…

Lazarus en sy susters het aan Jesus ‘n tuiste verskaf. Jesus het self gesê dat Hy geen huis het nie (Lukas 9:58), maar daar in Betanië het Hy ontspan. Hierdie drie mense het Hom waarlik lief gehad en Hy kon daar by hulle ‘n welkome ruskans kry, weg van die skare.

Die naam Lasarus beteken God is my hulp. Lasarus het siek geword en sy susters het ‘n boodskap aan Jesus gestuur dat hy siek is. Let wel, hulle het nie gevra dat Jesus moet kom nie. Hulle het Jesus laat weet en vertrou dat Hy sal kom. Dit was voorveronderstel, sonder om te vra. Hulle nood sou Hom laat kom.

Dit is genoeg dat Jesus weet. Jesus sou nie Sy siek vriend ignoreer nie. Jesus was nie ontsteld of haastig nie. Hy het Sy Vader geken en geweet dat Hy enigiets kan hanteer.

Die krag van gebed is dat jy weet Hy weet. Die Bybel sê God weet alles en Hy weet wat ons nodig het, nog voor ons vra. Ek weet uit jare se getuienis dat Hy beter weet wat ek nodig het as ek self. Selfs my noodlysie is onvolmaak.

Wanneer ons bid, dan verwag ons die glorie van God in aksie.

Jesus maak ‘n verklaring wanneer Hy die boodskap kry. Wat ‘n wonder-antwoord op ‘n noodroep!

Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”

Jesus praat van Sy kruisdood as Sy verheerliking (Johannes 7:39). Toe die Grieke Hom kom sien het, het Hy ook gesê dat Sy uur van glorie en verheerliking nog nie gekom het nie (Johannes 12:23).

Is hier nie die wonderbare versekering dat die dood nou verbind word met die glorie van ons Jesus nie?

Hy praat in Johannes 12:16 van die koringkorrel wat moet sterf om te lewe. Johannes noem dat die dissipels onthou het wat Jesus van die dood gesê het.

Dit is in die mate wat ons eie ek sterf, dat ons die glorie van God se saligmaking en redding in ons lewe ervaar.

Die kruis was Jesus se weg na glorie. Om Lasarus gesond te maak was die begin van die pad na die kruis. Jesus het die kruis aanvaar om Sy vriend te help. Dit was die prys en Hy was bereid om dit te betaal.

Hy het twee dae gewag voordat Hy na Lasarus gegaan het.

Daar word verskeie menings in die kommentare op hierdie gedeelte uitgespreek.

Jesus het gewag sodat daar sekerheid kon wees dat Lasarus werklik dood is. Dit sou die wonderwerk onderskryf. Daar was ‘n bygeloof dat die siel van ‘n mens vir drie dae om die lyk sweef . Daarna verlaat die siel finaal die liggaam en die persoon is waarlik dood.

Jesus het op Sy eie inisiatief gehandel en sou nooit onder die druk van die mense tot aksie oorgaan nie. In Kana het Hy vir Maria gesê dat Hy die wynkrisis op Sy eie manier hanteer (Johannes 2:1-11). In Johannes 7:1-10 het Jesus aanvanklik geweier om Jerusalem toe te gaan vir die Fees, maar later op Sy eie gegaan.

Dit is ons gebed: Here, hier is my nood. Ek laat dit oor aan die wysheid van die eeue om dit te doen op God se manier.

Jesus het geweet dat om Judea toe te gaan op daardie stadium was so riskant dat Hy doodgemaak kon word. Die dissipels het dit geweet en was geskok dat Hy dit oorweeg.

Jesus het geantwoord: “Is daar nie twaalf uur in ‘n dag nie? As iemand in die dag loop, struikel hy nie, omdat hy die lig van hierdie wêreld sien.

 Terwyl ons hier op aarde in die beperking van tyd leef, is dit noodsaaklik om die volheid van hierdie woorde van Jesus te verstaan.

‘n Dag kan nie eindig voor die son sak en die donker kom nie. Die tyd is vasgestel en niks kan dit verkort of verleng nie.

Daar is twaalf ure in ‘n dag. Daar is tyd vir alles wat mens moet doen. Daar is geen rede om te haas nie.

Daar is genoeg tyd, maar nie te veel nie. Ons moet die tyd gebruik. [Sien Bodemklippe 158: En jy? Wat sê jy?]

As ‘n mens in die lig loop sal hy nie struikel nie. As hy in die duisternis loop, sal hy val en seerkry. Die woorde kan twee betekenisse hê: oppervlakkig en dieper.

Die Joodse dag soos die Romeinse dag, was in twaalf gelyke ure verdeel – van sonsopkoms tot sonsondergang. Die lengte van die uur en gevolglik die dag, het gewissel ooreenkomstig die seisoen.

‘n Persoon sou nie struikel terwyl die son skyn nie, maar wanneer dit donker word kan hy nie sien nie. Die paaie was nie verlig nie. Reis was onmoontlik in die donker ure van die nag.

Dit het ook beteken dat ‘n mens die dag se werk in die lig ure moes afhandel.

Johannes gebruik duisternis om ‘n lewe sonder Jesus te beskryf. Duisternis word met boosheid in verband gebring. Hy skryf so in 13:30 toe hy sê dat Judas die brood by Jesus neem en toe in die nag uitgaan om die verraad te pleeg.

Die beperking van tyd lê aan die kern van die Evangelie. Ons tyd op aarde is beperk en daar is baie werk. Jesus sê die oes is groot en ryp en die arbeiders min.

Binne tyd is daar die wonder van betyds en die tragedie van te laat.

In die volgende gedeelte (11:11-16) sien ons weer die gewone patroon van Jesus se gesprekke. Jesus maak ‘n eenvoudige stelling wat verkeerde verstaan word. Hy verduidelik dan wat Hy werklik bedoel.

Jesus sê: Lasarus slaap. Die dissipels het gedink dis goeie nuus. Slaap was goed vir siekte. Slaap het egter ‘n dieper en meer ernstige betekenis. Jesus het vir Jaïrus gesê sy dogtertjie slaap (Matteus 9:24). Aan die einde van Stephan se steniging skryf Lukas hy het aan die slaap geraak (Handelinge 7:60). Paulus praat van die mense wat in Jesus slaap (1 Tessalonicense 4:13) en diegene wat die Opstanding meegemaak het, wat nou slaap (1 Korintiërs 15:6).

Jesus moes aan die dissipels reguit sê dat Lasarus dood is en dat dit boonop ‘n goeie ding is., Dit sou ‘n geleentheid bied waarin hulle geloof gebou word, soos nog nooit vantevore.

Die finale bewys van Jesus is God in aksie. Woorde kan faal, maar daar kan geen argument teen Sy wonderwerke wees nie. Die krag van Jesus maak die skeptiese hart, ‘n hart van geloof, maak die selfsugtige ‘n dienskneg, maak die hooghartige nederig, maak die sondaar met ‘n hopelose lewe, ‘n gelowige met ‘n toekoms en ‘n vol lewe.

Ons behoort die lewende bewys van Sy krag te wees. Ons taak op aarde is om Jesus in aksie te demonstreer.

Een teoloog het dit so gestel: “I do not like crises; but I like the opportunities which they supply.”

Dit sou nie snaaks gewees het as die dissipels op hierdie stadium geweier het om Jesus te volg nie. Hulle het besef om naby Jerusalem te kom, sou beteken dat Jesus in doodsgevaar is. Dit is Thomas wat dit uitspreek: Kom ons gaan dat ons saam met Hom kan sterwe.

Meeste Jode het twee name gehad – ‘n Hebreeuse naam vir sy eie kringe en die Griekse naam vir meer publieke gebruik.Thomas is Hebreeus en Didimus is Grieks wat tweeling beteken. So is Petrus Grieks en Sefas is Hebreeus vir rots. Tabitha is Hebreeus en Dorkas is Grieks vir gemsbok.

Thomas was dapper. Miskien was dit eerder ‘n desperate lojailiteit. Hy was egter gedetermineerd om nie op te gee nie.

Dit is waarlik dapper om presies te weet wat die slegste gebeure kan wees en selfs verskriklik bang daarvoor te wees, maar nogtans die regte ding te doen.

Death swallowed by triumphant Life!
Who got the last word, oh, Death?
Oh, Death, who’s afraid of you now?

(1 Corinthians 15:55, The Message)

 

167. Ek is ‘n skaap.

[Johannes 10]

Weet jy iets van ‘n skaap? Hulle is baie anders as beeste, eienaardig en eiesoortig. Sedert die vroegste tye was die Hebreërs skaapboere. Toe Jakob en sy familie Egipte toe trek, nadat Josef as onderkoning van Egipte aangestel is, is daar voorsiening gemaak vir die skape, ver van die Egiptenaars se beesboerderye.

Dan sal hy julle in Gosen laat woon, want die Egiptenaars het ‘n afkeer van kleinveeboere.” (Genesis 46:34)

…. that you may dwell in the land of Goshen; for every shepherd is an abomination to the Egyptians.

So het Jakob se familie in Gosen gewoon, ‘n vrugbare deel van Egipte aan die oostekant van die Nyldelta.

Die Egiptenaars was meestal beesboere. Hulle het neergekyk op skaapboere. Skape wei anders as beeste en kan met die gewoonte om die hele graspolletjie met hulle lippies uit te trek ‘n veld in woestyntoestande inwei. Herders het skaapweiding dikwels gewissel. ‘n Bees pluk met sy growwe tong die gras af en laat die wortel staan.

Skape is bekend daarvoor dat hulle die trop sal volg, selfs in gevaar in. Soms het die herder net een skaap geleer om hom te volg en die res sou agternakom.

Hier in Johannes 10 praat hy van die verlore skape van Israel vir wie Hy gekom het. Daarna het Sy bediening oopgegaan vir almal, maar die dissipels moes na Israel eerste gaan (Matteus 10:5-6; 15:24).

Jesus het self op ongekende wyse na die heidene uitgereik:

• Hy het die bediende van die Romeinse hoofman oor honderd genees (Matteus 8:10)

• Hy het met die vrou by die put in Samaria gepraat en Homself aan haar openbaar(Johannes 4:40)

• Hy het verduidelik dat om ‘n nasaat van Abraham te wees geen waarborg in die koninkryk van God is (Johannes 8:39)

• Hy het ‘n Samaritaanse melaatse genees. Die Samaritaan het omgedraai en dankie gesê. (Lukas 17:18-19)

• Hy het die storie vertel dat die Samaritaanse reisiger genade betoon het op die pad na Jerigo (Lukas 10:37)

• Hy het mense uit alle wêrelddele verwerlkom (Matteus 8:11; Lukas 13:29)

• Hy het Sy dissipels opdrag gegee om na alle nasies uit te gaan (Matteus 28:19)

• Hy is die Lig van die wêreld (John 8:12)

• Hy het die hele wêreld lief (John 3:16)

In Jesus is al die nasies broers. Eenheid is slegs moontlik wanneer ons weet hoe om Sy stem te volg. Ons dissipelskap is so opgestel om ander te leer om Hom te hoor, net soos ‘n skaap, en Hom te volg.

Die kerk van Jesus is die trop. Dit is die onsigbare liggaam gelowiges wat Hom waarlik volg en met hulle hele hart Sy opdragte uitvoer. Dit is nie georganiseerde godsdiens nie. Ons is een uit keuse, die toeval of gevoel nie.

Die gedeelte in Johannes 10:17-18 sê so baie oor Jesus.

Hy is ten volle gehoorsaam aan Sy vader, selfs tot die dood toe. Seunskap was vir Hom gehoorsaamheid in die hoogste moontlike graad van onderwerping. Hy sien die Kruis as die pad na glorie en verheerliking. Hy het nooit getwyfel dat Hy moet sterf nie, maar ook nooit die opstanding betwyfel nie.

Hy het met Sy hele wese Sy Vader vertrou. Sodoende het Hy Sy lewensdoel uitgeleef en die moeilike pad na grootsheid geloop. Sy dood was nie die gevolg van ‘n veroordeling van die mense nie. Hy kon die hemel se leërskare roep om Hom te red. Hy het die dood aanvaar (Johannes 19:10-11). Hy was nooit ‘n slagoffer van Sy omstandighede nie.

Hy het die Kruis gekies. Hy het nie Sy lewe verloor nie; Hy het Sy lewe gegee.

In die volgende gedeelte sien ons die dilemma van die mense, so werklik soos vandag nog. Is Jesus ‘n mal man of die Seun van God? Daar is geen omweg om hierdie vraag nie. Jesus het die hart van God geken.

Hy kan eenvoudig nie ‘n mal mens wees nie. Sy boodskap het hoop vir die wêreld gebring. Sy dade en woorde het gebrokenheid herstel en hoop gegee. Sou ‘n mal mens ‘n blinde kon laat sien? Die gevolge van ‘n ontmoeting met Jesus in miljoene der miljoene lewens getuig daarvan dat Hy die slegte goed maak, die dwase wys en die verworpene hoopvol.

Die Fees waarvan hier gepraat word is die Fees van die Lig (Hanukkah) wat vir agt dae in Desember gevier word. Die oorsprong van die Fees gaan terug na een van die uitstaande tye van Joodse durf en moed in hulle volgehoue onderdukking deur ander volke.

In die jare 175 tot 164vC was die koning van Sirië Antiochus Epiphanes. Hy wou Griekse filosofie en kultuur bevorder en afdwing. Hy was vyandig teenoor Joodse kultuur en godsdiens en ‘n wreedaard. Hy was aanvanklik vredevol, maar die weerstand van die Jode het hom te ver gedryf. In 170vC het Jerusalem aangeval. Sowat 80 000 Jode het gesterf en derduisende is in slawerny weggevoer. Hy het die Tempel skatkis geroof en dit onwettig verklaar om ‘n kopie van die Wet van Moses te besit of om jou kind te besny. Ma’s wat hulle kinders laat besny het, is gekruisig met hulle kinders om hulle nek. Die Tempelkamers is in ‘n bordeel omskep en die laaste strooi vir die Jode was die offer van ‘n vark op die groot brandofferaltaar ter ere van Zeus en ander gode.

Judas Maccabaeus en sy broer het ‘n opstand gelei en suksesvol vir vryheid geveg. In 164vC het die Jode die oorhand gekry en die Tempel is herstel en gereinig. Om die geleentheid te vier is die Fees van Toewyding ingestel.

So word vertel dat toe hulle die groot kandelaar met sy sewe takke optel, daar net een houer met olie, wat spesiaal deur die hoë priester geseël en afgesonder is, gevind is. Die olie was genoeg vir een dag. Die wonder was dat die lamp agt dae gebrand het, totdat nuwe olie voorberei kon word.

In die herinnering van die wonderwerk tydens die Fees, maak Jesus een van Sy sewe EK IS-stellings.

EK is die LIG van die wêreld.

Niemand anders in die geskiedenis het nog ooit het hierdie woorde gesê nie. Jesus is die Lig in die duisternis van politieke stryd, emosionele onsteltenis en al die onsekerheid wat ons gemeenskap op alle vlakke genereer.

Daar in die voorhowe van die Tempel, waar die rabbi’s dikwels hulle leerlinge ontmoet het, het die vraag na Jesus toe gekom.

Die Jode het daar om Hom saamgedrom en vir Hom gesê: “Hoe lank gaan u ons nog in onsekerheid hou? As u die Christus is, sê dit reguit vir ons.” (Johannes 10:24)

Was dit die uitroep van hulle harte of ‘n lokval om Hom in kettery en veroordeling in te lei? Jesus antwoord dat Hy hulle al dikwels die antwoord gegee het.

Jesus het vir hom gesê: “Jy sien Hom. Dit is Hy wat met jou praat.” (Johannes 9:37)

Jesus praat weer van Sy skape wat nie Sy stem ken nie. Daarom behoort hulle nie aan Hom nie. (Johannes 10:26,27)

Hy belowe die ewige lewe. Die fisiese dood is net die poort na ‘n nuwe dimensie saam met Hom. Niks kan ons uit Sy hand ruk nie (Johannes 10:29-30).

Jesus het Sy Vader bo alles vertrou. Hy het geweet dit maak nie saak hoe verstrooid die skape sou wees nie, Sy Vader het beheer en sou nie dat een verlore gaan nie. Dit is ons waarborg.

…for He God Himself has said, I will not in any way fail you nor give you up nor leave you without support. [I will] not, [I will] not, [I will] not in any degree leave you helpless nor forsake nor let [you] down (relax My hold on you)! [Assuredly not!] (Hebrews 13:5-7, Amplified)

Ons vertrou God. Jesus is betroubaar. Jesus is God. Hy sê dit hier en bid dit in Johannes 17:1, 20-22. In Sy liefde is ons een met die Vader. Ons liefde maak ons gehoorsaam, nie wette of dwang nie. Een met die Vader is nie ‘n filosofie of iets in die metafisika nie. Dit is ‘n verhouding.

[Johannes 13:34; 15:10; 14:21, 23-24.]

Hierdie verklaring van Jesus het die Jode baie kwaad gemaak. Hulle wou Hom sommer daar en dan stenig en het die klippe opgetel (10:31). Sulke laster teen God was strafbaar met die dood (Levitikus 24:16). Jesus praat rustig voort ten spyte van die opwelling van woede. Hy is nie bang vir warm argumente nie.

Hy doen wonderwerke wat net uit God moontlik is. Hy verklaar dat Hy ‘n spesiale opdrag van God het. Hy is heilig – afgesonder vir ‘n spesifieke doel as ‘n boodskapper uit die hemel. (Psalms 82:6. Exodus 21:1-6. Also Exodus 22:9; 22:28) Hy daag hulle uit om Sy dade, nie Sy woorde nie, te oordeel. Die vrug van Sy lewe spreek dieper as enige stories oor Hom. Dade staan ver bo argumente.

Jesus is daardie dag nie gestenig nie. Die dag van Sy dood was reeds uitgemerk in die hemel. Hy het stilte nodig gehad. In die stilte het Hy God ontmoet – voor Hy die mense in hulle wreedheid kon aandurf.

Hy het na die plek van Sy doop gegaan. Die geleentheid van Sy doop was ‘n merkwaardige manifestasie van die drie-eenheid en Hy het krag uit Sy ondervinding met God gekry. Dit het Hom toegerus vir wat kom.

Jakob het teruggegaan na Bethel (Genesis 35:1-6).

Die mense het onthou wat Johannes die Doper oor Jesus gesê het en daarom geglo. Jesus was soveel meer as was Johannes ooit gesê het Hy sou wees. Baie het gesien dat Jesus die man was waarvan Johannes getuig het. Hy het die volle waarborg van die ganse hemel na ons toe gebring.

Hy kan en sal nooit teleurstel nie. In Hom kom al die drome waar.

Ek is ‘n skaap – ek sal Hom volg.

166. Die Here beskerm jou.

[Johannes 10]

Mens ervaar soms die lewe as ‘n trapmeul. Net om kop bo water te hou en al die rekeninge te betaal, die dak oor jou kop aan die gang te hou en aan elke dag se eise te voldoen, verg ‘n konstante ritme van werk en verantwoordelikheid. Sommige mense is heeltemal oorweldig daarmee en kies om ‘n daklose, boemelaar-lewe te leef. Dit klink eenvoudiger om sonder aanspreeklikheid op die langer termyn, net vir een dag op ‘n keer se voorsiening te skarrel. Menige liefdadigheid voorsien maaltyd op maaltyd en skuiling vir sulkes.

Hier in Noord-Amerika is die stede goed georganiseer en elke daklose kan in ‘n skuiling akkommodeer word. Wanneer die kwik tot onder -15C val, laai die polisie almal op straat op en sorg dat almal in skuilings kom. Die risiko vir verkluiming is net te hoog. Daar is heelwat hulp beskikbaar om ‘n lewe om te draai en ‘n persoon op sy voete te help.

In ‘n onlangse gesprek met die besturende direkteur van een van die grootste liefdadigheidsorganisasies in die stad, het hy gesê dat slegs 40% van sulke persone met sukses terug in die samelewing rehabiliteer word. Die wêreld is ‘n hartelose, wrede plek wat hoë vereistes stel. Die lewe is ‘n stryd. Die verg groot energie uitset om in die mees basiese behoeftes te voorsien.

Hier in Johannes 10 tree Jesus in die welbekende en gekoesterde beeld van ‘n herder in die Midde-Ooste. Hy stel Homself voor as die beste versorger en beskermheer wat die gemeenskap van daardie tyd sou kon opdink.

Die grootste deel van Juda is op ‘n plato van Bethel tot Hebron vir ‘n afstand van ongeveer 55 kilometer. Die terrein was rof en klipperig, meer geskik vir weiding as vir landbou. Die mees bekende figuur in die hele land was die herder.

‘n Herder het ‘n moeilike lewe gehad. Hy kon nooit ontspan of sy kudde alleen laat nie. Met so min weiding in die klipperige grond, het die skape maklik afgedwaal. Daar was geen kampe wat hulle kon keer nie en skape kon maklik wegraak. Die terrein was vol kranse en skeure wat die herder goed geken het en die skape daarvan weggehou het. Daar was wilde diere en rowers.

Dit was die simboliese lewe van die herder. Hy het nooit gerus en was altyd gereed om die skape van alle kante en op all maniere te beskerm. Dawid het die eretitel gedra – herderkoning.

Die herder was ‘n bekende figuur in die Ou Testament ook. (Psalms 23; 77:20; 79:13; 80:1; 95:7; 100:3; Jesaja 40:11) God se leiers is as die herders van die volk uitgebeeld (Jeremia 23:1-4).

In die Nuwe Testament is Jesus die goeie Herder (Matteus 18:12; Lukas 15:4). Hy kry sy mense jammer – hulle is skape sonder ‘n herder (Matteus 9:36; Markus 6:34). Wanneer Hy, die goeie Herder, weggeneem word sal die skape verstrooid uitmekaar vlug (Markus 14:27; Matteus 26:31). Hy die herder van siele (1 Petrus 2:25) en die groot herder van Sy kudde (Hebreërs 13:20). Die leiers van die kerk word dikwels as herders van die skape uitgebeeld ( 1 Petrus 5:2-3; Handelinge 20:28). Jesus gee Petrus opdrag om Sy skape te voed en te versorg (Johannes 21:15-19).

Pastoor is Latyn vir herder (Efesiërs 4:11).

Die volle impak van die betekenis van die konsep van herder, behoort ‘n beeld van God se geduld en konstante sorg oor ons te skep. Dit herinner oor aan ons liefdesplig teenoor mekaar, veral in bediening. ‘n Herder was ‘n onopgeleide persoon met eenvoudige gereedskap. Die ouer lede van die gemeenskap het die vaardighede wat mens nodig het om die skape op te pas, oor geslagte heen vir die kinders geleer.

‘n Herder het ‘n sak van diervel gedra om sy kos by hom te hou. Hy het ‘n slingervel gedra om wolwe en jakkalse mee te skiet en nou en dan voor die neus van ‘n skaap wat afdwaal. Sy roede was ‘n kort stok met spykers om homself en die skape teen rowers en wilde diere te beskerm. Sy herderstaf met ‘n gekrulde bopunt kon ‘n skaap aan die agterbeen haak om hom te vang. Aan die einde van elke dag moes al die skape onder die staf van die herder deurloop vir inspeksie van beserings of siektes. (Esegiël 20:37; Levitikus 27:32)

As Spreuke 13:24 oor die dissipline van kinders praat is die roede wat genoem word, die herder se roede van sorg en liefde wat keer dat die skaap afdwaal. Dit is die konstante sorg om die kind met grense van dissipline te help om die regte keuses te maak. Dit is ‘n roede wat vertroos en nie verskrik nie.

Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. (Psalms 23:4, OAB)

In daardie tyd het die herder voor die skape geloop. Die skape het die herder se stem geken en sou nooit iemand anders volg nie. Skape het oor jare by die herder gebly. Skape is meestal vir wol aangehou en nie vir vleis nie.

Die woorde van Johannes 10:7-10 is goud.

Dit is die belofte van die ware Herder. In die klein dorpies was daar skaapskure waarvan net die herder ‘n sleutel gehad het. Die skape is snags veilig toegesluit sodat die herder kon rus. Buite in die veld was daar oop krale waar die skape veilig kon slaap. Die herder het sy bed oor die ingang van die kraal gemaak en daar geslaap. Niemand kon in of uit behalwe oor sy lyf nie.

In Jesus het ons toegang tot die Vader (Efesiërs 2:18). Hy is die lewende weg (Hebreërs 10:20). God word aan die mens bekendgestel deur Jesus. Onthou altyd: Jesus is God self in menslike liggaam.

Jesus gebruik ‘n Hebreeuse vorm vir veiligheid en beskerming – ingang en uitgang. ‘n Ware leier sal sy volk in en uit lei (Numeri 27:17). ‘n Kind van God is geseënd as hy in en uit gaan (Deuternomium 28:6). Die Psalmis skryf ook dat God sy in en uit gaan seën (Psalm 122:8).

Voor Jesus was daar net vals Messiasse wat die aanbreek van die goue eeu aangekondig het. Hulle het beloftes gemaak en geveg en verdwyn. Soveel van hulle het niks van ‘n lewe gedink nie en die bloedvergieting was maar deel daarvan. Jesus ag elke mens. Lewe is heilig.

Slegs in God is daar sprake van ‘n goue eeu. Die goue eeu is die ewige lewe wat elke mens ontvang wanneer hy na die onsigbare koninkryk hier op aarde by wedergeboorte “immigreer”. Jesus gee lewe in volheid. Die Grieks beteken om ‘n oorvloedige lewe te hê. Slegs in Jesus kan ons lewe oorvloedig wees. Die herder het verantwoordelikheid oor lewe en dood. Soms het die herder sover gegaan om dele van die dier wat nie deur die wilde diere opgevreet is nie, te red, net om te bewys hoe die skaap gesterf het (Amos 3:12; Exodus 22:13).

Dawid moes teen die leeu en die beer veg (1 Samuel 17:34-36). ‘n Herder het sy eie lewe gewaag om sy kudde te beskerm. Niks was te veel nie.

Daar was ook die beeld van die ontroue herder. ‘n Ware herder het ‘n roeping uitgeleef. Dit was nie sommer ‘n werk nie. Wolwe was ‘n groot bedreiging vir die kudde. Jesus waarsku Sy dissipels (Matteus 10:16) Paulus waarsku (Handelinge 20:29) Sagaria (10:7-10) merk die vals herder wanneer hy geen begeerte toon om die verskrikte skape bymekaar te maak nie.

Hoe lyk ons moderne kerke en pastore in die beeld van die goeie herder? Dit kom neer op werk vir liefde in plaas van werk vir loon.

‘n Goeie herder word deur twee Griekse woord beskryf.

  • agathos – beskryf die morele kwaliteit
  • kalos – beskryf die skoonheid van die goeie

Jesus gebruik kalos. Die volheid van God se goedheid kan in die beeld van die goeie herder gesien word – al die liefde en sorg saam met die krag en wonderwerke. Die kerk is oop vir aanval van buite, maar ook van binne. Soms is die aanvalle van binne meer gevaarlik. Binne die kerk het vals herders en wolwe wat lyk soos herders menige mense verwond en teleurgestel.

Jesus is ons goeie Herder. Hy sal sorg binne die menslike organisasies wat onvolmaak is. Eenheid is slegs moontlik as ons Sy stem hoor. Dit is by uitstek die beginsel wat alles omvat.

Ek het nog ander skape, wat nie van hierdie kraal is nie. Ek moet hulle ook lei. Hulle sal na my stem luister, en hulle sal een kudde wees met een herder. (Johannes 10:16)

Voorspoed en welvaart maak mense ongevoelig en uitsluitend. Hulle wil hulle “reg” op dit wat hulle waarde aan heg, beskerm. Dit was die jammerlike toestand van die kerk in die tyd van Jesus. Die kerk behoort die deur na God oop te maak, maar in plaas daarvan is hulle poortwagters wat met hulle eie diskresie uitsluit.

Verbeel jouself in die hande van die goeie Herder. Hy sal sorg. Hy sal voorsien en skuiling gee. Dit is die belofte.

Die Kruis is die waarborg.

Lees Psalm 121 in ‘n paar vertalings as ‘n gebedsverklaring om jou vertroue-vlak ‘n inspuiting te gee.

165. Gesond en gered – die volle pakket.

Die mens se liggaam is ‘n wonderwerk. ‘n Pasgebore babatjie is so bewus van liggaamlike behoeftes. Die voorsiening daarin is die eerste bewuswording van ‘n vriendelike of ‘n onvriendelike wêreld. Stadig ontwikkel ‘n baba en begin kommunikeer en speel. So ontdek hy sy wêreld deur aanvanklik net sy ouers. As volwassene het liggaamlike behoeftes tweede plek in die groter ontwikkeling van die intellek.

Meeste van ons ure as volwassenes word aan werk, vermaak en daarna fisiese aktiwiteite spandeer. Dit is met ons intellek dat ons in ons fisiese behoeftes voorsien en nie instinktief soos ‘n baba nie. Wanneer ons gesond en aktief is, dink ons nie in besonderhede oor die funskionering van al ons organe en onsienlike ligaamsdele nie. Wanneer ‘n siekte of besering oor ons pad kom, is ons intellek op daardie liggaamsdeel, wat nie meer goed funksioneer nie, gefokus. Siekte is dan voorop in ons gedagtes en beïnvloed ons denke met betrekking tot dieet en aktiwiteite.

Wanneer ons met ‘n gebrek saamleef, wat gesonde mense vanselfsprekend neem, moet ons kompenseer vir ‘n onvolmaakte liggaam. Stel jouself voor hoe dit moet wees om blind gebore te wees. Die basiese beelde van bome, water, huise, gesigte, lig en sonskyn – die lys is lewenslank – is slegs ‘n afskynsel van wat jy kan voel met jou hande of ervaar in jou denke. Die genesing van blindheid verander jou lewe op alle vlakke en laat jou op die wêreld reageer op ‘n heel ander manier. Genesing van blindheid laat jou nie toe om dieselfde persoon te bly nie. Die genesing, ‘n aanraking van God, verander alles. ‘n Gesonde liggaam verander die siel en gees.

Genesing van blindheid in die tyd van Jesus was omtrent onmoontlik. Die mediese wetenskap was nog nie ontwikkeld genoeg om eers die oorsake vas te stel nie en kon geen genesing bied nie. Blindheid was algemeen in die midde-Ooste.

Uit ‘n teologiese oogpunt het alle blindheid by God begin (Exodus 4:11) so-ook alle genesing daarvan (Psalms 146:8). Nêrens in die Bybel word blindheid as ‘n straf vir sonde genoem nie, hoewel dié gedagte as bygeloof algemeen was. Blindheid word dikwels metafories in die Bybel gebruik. Dit kan verwys na ‘n gebrek aan intellektuele of morele begrip (Jesaja 29:9-10,18). Regters word gewaarsku dat omkopery en geskenke die oë van onderskeiding verblind (Exodus 23:8; Deuternonomium 16:19). Jesaja word geroep om die oë van Israel te veblind sodat hulle nie kan verstaan nie (Jesaja 6:10). In Jesaja 56:10 word blindheid met nalatigheid geassosieer en in Numeri 16:14 word misleiding met die gebrek aan oë gekoppel.

Blinde mense is hulpeloos vir sekere eise van die lewe. Blindheid in antieke tye het gewoonlike ‘n mislike lewe van bedel en armoede uitgespel, met min geleenthede vir enige verbetering. Die genesing van die blinde man wat ons verlede week bespreek het, was ‘n rede vir vreugde en feesviering. Die hele gemeenskap het geweet daar is een minder bedelaar op straat. Hy was nou in staat om na homself te kyk en ‘n hele nuwe lewe te begin.

Maar… die genesing het op die Sabbat plaasgevind. Jesus het die Sabbat oortree. Hy het klei gemaak en dit is as werk beskou.

Ons het al oor die belaglike wette aangaande die Sabbat gesels. Die spyker in die sandale het veroorsaak dat loop op die Sabbat sonde is omdat die gewig van die spykers ‘n las was. Vingernaels sny, hare of baard versorg of selfs n lamp uitblaas was alles werk en daarom verbode. Genesing op die Sabbat was ook sonde. Mediese versorging kon geskied solank ‘n lewe in gevaar was en dan moes dit slegs wees om te keer dat dit erger word. Enige versorging wat die pasiënt beter maak, was verbode.

Moenie lag nie. Het jy niks wat jou dryf om belaglike dinge te doen om onsienlike dinge te laat gebeur nie? Gryp jy aan ‘n stukkie hout as jy praat oor iets goed wat gebeur (touch wood)? Vrees jy die slegte wanneer goeie dinge gebeur?

Die Fariseërs het waarlik gedink dat hulle God plesier en hulle manier die enigste regte manier was.

Die blinde man is nogal ‘n karakter. Die Fariseërs irriteer hom. Lees maar weer die dialoog soos dit opgeteken is. Hy kon nie Jesus in hulle teologiese model inpas nie, en het ook nie probeer nie. Sy wonderwerk was ‘n probleem. Jesus was in sy hart en niemand kon Hom daar uit kry nie, selfs al kon hy nie die wonderwerk met sy verstand verklaar nie.

Ons het Jesus lief, nie die teorieë oor Hom nie.

Die blinde man was braaf. Hy het direk met die kerkleiers gepraat. Miskien was hy in sy blinde toestand nie so bewus van hulle wurggreep op die gemeenskap nie en kon hy meer direk met hulle praat.

Die man se ouers is bang. Die leiers was magtig om jou lewe baie onaangenaam te maak deur verbanning uit die sinagoge. Hulle kon selfs op jou besittings beslag lê. Die Fariseërs het gedink daar is bedrog rondom die wonderwerk. Hulle moes in die eerste plek seker maak dat die man werklik blind was. Valse profete het op slinkse maniere wonderwerke nageboots, om hulle eie geloofwaardigheid aan te help (Deuteronomium 13:1).

Hulle daag hom uit soos in ‘n hof om die waarheid te praat. Hulle is woedend omdat die blinde man se argument skrifgebaseer en volgens hulle eie voorskrifte is. Die wonderwerk is ‘n wonderlike ding. Jesus kan dit nie doen as Hy nie van God is nie. God hoor nie die gebed van ‘n slegte mens, daarom moet Jesus ‘n goeie mens wees.

Die feit dat God nie die gebed van ‘n slegte mens verhoor nie, kom uit die Ou Testament (Job 27:9, Psalms 66:18, Jesaja 1:15, Esegiël 8:18, Psalms 145:19, Spreuke 15:29). Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. (Psalms 34:15)

Hulle argument was so swak dat hulle begin boelie en beledig het. Hulle het hom tot met geweld gedreig en weggejaag. Dit is ‘n teken van paniek en desperaatheid.

Jesus kry die man buite die Tempel. Die Here sal jou altyd vind as die kerk en die mense jou sleg behandel. Sy geloof het groot openbaring meegebring. Die Seun van God is aan hom openbaar – wat is daar meer in hierdie lewe? Hy het voor Jesus gekniel en die ewige lewe ontvang – sy geestelike blindheid is ook genees. Iemand wie sy eie blindheid besef, kan genesing ontvang. Die mens wat dink hy kan sien, is in werklikheid heeltemal blind en onmoontlik om te help. Om swakheid te erken, is krag. Om sonde te besef, is die eerste stap na vergifnis.

Kennis kan verdoem, as die waarheid nie herken word nie. Die Fariseërs het al die kennis gehad, maar hulle kon nie die waarheid sien nie. Oor eeue is hulle vir hierdie oomblik, wanneer hulle Messias in hulle midde sou staan, voorberei. Hulle het Hom nie geken nie.

Die blinde man, daarenteen, het in sy kennis gegroei en sy openbaring aangegryp. Hy noem Jesus ‘n man (9:11). Daarna het hy gedink Hy is ‘n besondere man en noem hom ‘n profeet (9:17). ‘n Profeet bring mense na God toe (Amos 3:7). Daarna het die blinde man geweet met wie hy te doen het. Hy noem Jesus die Seun van God – dit is die resultaat van openbaringskennis.

Dit is die genesing vir blindheid – die volle openbaring van wie Jesus is deur die inwerking van die Heilige Gees. Dit is die volle pakket.

 

“Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?”

Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.” “Gelukkig is jy, Simon Barjona,” het Jesus vir hom gesê, “want dit is nie ‘n mens wat dit aan jou geopenbaar het nie, maar my Vader wat in die hemel is.

(Matteus 16:15-17)

164. Blind gebore – ja, ek ook.

Dis waar. Regtig. As mens nie kan sien nie, is jy blind. So wat kan jy sien? Onthou jy die gruiserige stem van Louis Armstrong?

I see trees of green, red roses too
I see them bloom for me and you
And I think to myself what a wonderful world

Ja, ons pragtige wêreld hier om ons vir almal om te sien. Hy sing verder.

I see skies of blue and clouds of white
The bright blessed day, the dark sacred night
And I think to myself what a wonderful world

Sien jy dit? Sien jy die seën en die heilige? Dit is eintlik die toets.

Om werklik te sien, moet jy die onsienlike sien.

Hoe is dit moontlik? Daar is net een manier en ‘n ander ou lied verduidelik dit.

Turn your eyes upon Jesus

look full in His wonderful face

and the things of the earth will go strangely dim

in the light of His glory and grace

 Dit is perspektief; ware perspektief; die enigste perspektief vir die lewe – dowwe aardse dinge en skitterende glorie en genade.

Hier in Johannes 9 vertel Johannes van die man blind van gebore was. Daar is net twee ander gevalle waar siekte sedert geboorte genoem word, beide in Handelinge: die lam man by die Mooipoort (3:2) en die kreupele in Listra (14:8). Die blinde man in Johannes was bekend. Die dissipels het van hom geweet.

Nie almal kon sommer enige plek sit en bedel nie. Die stadsowerhede het ‘n spesiale mantel uitgereik vir die “amptelike” bedelaars, nadat hulle gebrek ondersoek is en waar verklaar is.

Die Jode het lyding en siekte met sonde gekoppel. Sy blindheid kon deur sy ouers se sonde of sy eie veroorsaak wees. Daar is vandag nog gereformeerde leerstelling wat glo dat ‘n baba in sonder gebore is en daarom gedoop met word om die hel te vermy. Ek kon nooit verstaan dat ‘n baba se sonde hom siek kan maak nie en dat alle babas nie siek is nie. Hoe kan my genadige en geliefde Here, klein bababtjies laat hel toe gaan? Hy het dan gesê laat die kindertjies na Hom toe kom.

Die Jode het ‘n verdraaide konsep van voorgeboortelike sonde gehad. Hulle het Genesis 4:7 wat praat van die “sonde wat daarbuite wag” interpreteer as buite die moederskoot. Hulle het ook saam met die Grieke die bygeloof gehad dat alle siele reeds bestaan en in ‘n hemelse ruimte wag om gebore te word. Hulle word deur sonde besmet, sodra hulle in die sondige heelal inkom.

Alternatiewelik, kon sy ouers sy blindheid veroorsaak het. God self het tog gesê dat Hy die sondes van die vaders aan die kinders sal besoek in die derde en vierde geslagte (Exodus 20:5,34:7, Numeri 14:18). Die Psalmis vervloek sy vyande met dit in gedagte in Psalm 109:14. Dit word ook in Jesaja 65:6-7 genoem, maar later in die hoofstuk (65:23) word die seën van die Here oor meerdere geslagte beklemtoon.

Wat kan ons vandag daarvan dink? Daar is DNA toetse wat die oorerflike siektes kan uitwys wat die kern van jou fisiese samestelling bepaal.

Jesus spreek nie die korrektheid van die bygelowe of dogma aan nie. Watookal die bron van siekte of lyding; dit is ‘n geleentheid vir die glorie en wonderwerke van God. Die geskiedenis is nie belangrik nie.

Die toekoms van die siekte word aangespreek en die houvas daarvan afgebreek.

Wonderwerke is altyd ‘n teken van God se krag en glorie. Ander Evangelieskrywers beklemtoon Jesus se genesingsbediening. In al die Evangelies word sy simpatie met die mense uitgebeeld. Siektes, verdrukking, pyn en teleurstelling is vir Hom geleenthede om Sy Vader se hart te toon en die wonderbare krag van Sy genade in werking te stel.

Wonderwerke is God in aksie.

By God is daar oplossings. Vir die mens wie God nie ken nie, kan die geweld en wreedheid van die gebroke wêreld, sy moed breek en sy liggaam vernietig. As dieselfde gebeur met ‘n mens wie God ken en die pad saam met Hom loop, is daar hoop binne lyding en uithouvermoeë met die bonatuurlike krag van die Here.

Verder kan ons wat help met mense in pyn, die wonderbare liefde van die Here demonstreer.

God’s highway runs straight through us. Frank Laubach.

Hierdie is een van twee wonderwerke waar Jesus spoeg gebruik om te genees. [Ook die doofstomme in Markus 7:33]. Spoeg as medisyne was algemeen in die antieke wêreld. ‘n Belangrike persoon se spoeg is as meer kragtig in die genesingsproses beskou.

Jesus is wys en wen die vertroue van sy “pasiënt”. Dink net hoeveel vertroue is daar vandag in medisyne. Voorskrif medisyne is een van die belangrikste middels op aarde om genesing te bewerkstellig.

Die Siloambad was ‘n bekende plek in Jerusalem en ‘n ingenieurswonder van die tyd. Die watervoorsiening van Jerusalem was altyd ‘n probleem. Die water het van die Fontein van Gihon in die Kidron vallei af gekom. ‘n Trapskag van 33 trappe het gehelp om waterskep makliker te maak. Die fontein was oop gegrawe en in die geval van oorlog was dit baie maklik om die water vir die stad af te sny.

Toe Hiskia in 700 vC besef Sanherib beplan om Juda binne te val, het hy ‘n tonnel deur die rots na die fontein beveel. (2 Kronieke 32:2-8; 2; 32:30; Jesaja 22:9-11; 2 Konings 20:20). Indien die ingenieurs die tonnel reguit sou grawe sou die tonnel ongeveer 335 meter lank wees, maar omdat die tonnel met kronkels gegrawe is, was dit 533 meter lank. Die rede vir die kronkels was dalk om heilige plekke te vermy of om ‘n groef in die rotsformasie te volg. Sommige plekke is die tonnel net ‘n halwe meter wyd, maar deurgaans is die tonnel amper twee meter hoog. Die ingenieurs het van twee kante gegrawe en in die middel ontmoet – werklik ‘n wonder van daardie tyd.

 Die Siloambad was die plek waar die rotstonnel in die stad uitgekom het. Dit was ‘n opelug bad en die naam beteken: gestuur. Die water uit die fontein is letterlik deur die rots na die stad gestuur.

Jesus stuur die man om in die bad te gaan was. Nadat hy gewas het, kon hy sien. Hy moes Jesus se opdrag gehoorsaam. Sy genesing kon sekerlik daar en dan by Jesus en al die skare gebeur het. Hy is egter van al die bekende plekke wat hy in sy blindheid geken het, weggestuur. Hy moes uit sy gemakzone sy weg vind na die Siloambad en letterlik blindelings die opdrag gehoorsaam.

Sodoende het hy privaatheid gehad om sy genesing te ervaar en die res van die gemeenskap op sy eie terme en in sy eie tyd te ontmoet. Hy het Jesus se manier aanvaar en geen vrae gevra nie.

Jesus se woorde moes gesaghebbend wees. Jesus het nie genesing belowe nie. Hy het net gesê om te gaan was. Hoekom sou die blinde man Hom gehoorsaam? Hy kon gaan was het en dan soos ‘n gek gelyk het as niks gebeur het nie.

Sy gehoorsaamheid het sy twyfel uitgedryf.

Jesus se woorde, God se stem wat aksie vra, was genoeg om sy hele lewe te verander. Jesus het sy volgende stap beveel, sonder om die uitkoms uit te spel.

Wat doen jy as die wonderwerk nie gebeur soos jy dit verwag of begeer nie? Gehoorsaam jy nog steeds blindelings? Is jy gewillig om die volgende stap te neem. sonder dat die uitkoms duidelik is?

Ons praat nie graag oor gehoorsaamheid nie. Gehoorsaamheid het amper ‘n slegte reputasie verkry as gevolg van soveel misbruik deur die kerk en ander instansies van gesag. Dit het die lewensveranderende krag van gehoorsaamheid aan God afgemaak.

Die Griekse woord vir gehoorsaamheid is hupakouo. Die woord beteken om met aandag te luister, om te luister en sonder huiwering te onderwerp, om te luister en te beantwoord.

Luister en reageer – die aksiepad van ‘n wonderwerk.

Is jy gewillig om die langer roete te neem? Kan jy onderwerp aan Jesus se woord sonder om te weet wat die uitkoms gaan wees?

Sjoe! Dis ‘n groot gedagte!

 

 

Antwoord my tog gou, Here, ek is heeltemal gedaan.

 Moet tog nie van my af wegkyk dat ek word soos dié wat sterwe nie.

 Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.

 Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.

(Psalm 143:7,8)

 

163. Waarheid en vryheid – net by God.

Soms as ek in my gedagtes so oor die geskiedenis sweef dan “sien” ek net oorlog. Soveel van die simboliek in die Bybel gaan oor wapens en oorlogvoering in ons stryd teen boosheid wat ons in nederlaag laat leef. Ons koninkrykswapens laat ons oorwin. In die politieke stryd van die mensdom het die Franse, Russiese en Amerikaanse rewolusies nuwe eras ingelei. Nazi Duitsland het die vryheid van die wêreld bedreig en is met groot bloedvergieting en determinasie gestuit. Daar is soveel ander voorbeelde.

Binne dit alles word vryheid en waarheid vuriglik gedebateer omdat beide konsepte wye definisie vereis. Dit is woorde wat uit die antieke bestaan van die mensdom dateer en oor eeue bespreek is. Vryheid is slegs moontlik in verhouding tot die mate van vryheid van die volgende persoon. Waarheid moet aan ‘n standaard gemeet word.

Vryheid word gedefinieer as: ongebonde, ongedwongendheid, eiemagtigheid, onafhanklik, maak-soos-jy-wil, privilegie.

Waarheid is egtheid, geldigheid en juisheid. In die filosofiese denke van die wêreld se grootste denkers het elkeen met sy eie toeligting die eenvoud van definisie bemoeilik. Waarheid word gemeet aan ‘n getroue standaard en eerlikheid in karakter en woorde. Die standaard is so ver moontlik die feitelike, verifieerbare gebeure of realiteit.

Daar is na alles net een persoon in die ganse geskiedenis van die mensdom wat gesê het: Ek is die waarheid. (Johannes 14:6)

Hier in die wel-bekende woorde van Jesus oor waarheid en vryheid neem die Jode aanstoot oor sy beskuldiging van hulle gebondenheid. (Johannes 8:31 en verder)

Hy praat van die slawerny van sonde. Vir die Jode was vryheid uiters belangrik. Hulle was onderduk deur die Romeine op dieselfde manier as in Egipte, Assirië en Babilon. Hulle het die woord van God geken wat hulle vryheid waarborg (Levitikus 25:39-42). Hulle eie pogings om hulle vryheid terug te wen het uitgeloop op ‘n menigte bloedige opstande.

Jesus praat van die slawerny van sonde. Die Grieke het gemeen dat slegs die wyse mens vry is; die onwyse is nie vry nie. Socrates het gesê: Hoe kan ‘n mens dink hy is vry as sy eie begeertes hom regeer? Paulus dank God vir die vryheid van die slawerny van sonde (Romeine 6:17-20).

Wanneer daar sonde is, bepaal sonde die lewe. Mens hoor dikwels mense sê: ek kan besluit wat ek met my lewe doen en ‘n permissiewe lewe ly as ek wil. Hulle besef nie dat hulle nie besluit nie. Hulle sonde besluit en verlei hulle om te dink dat dit hulle eie besluit is. In sonde het ‘n mens geen mag om te besluit nie. So kragtig is sonde dat mense sal aangaan daarmee al sou hulle die vernietiging daarvan in hulle lewe sien.

Elke Jood het geglo dat hy veilig in die Here was omdat hy ‘n direkte afstammeling van Abraham was. Gehoorsaamheid aan God was nie so belangrik soos die stamboom nie. Jesus is reguit hieroor. Miskien is dit moontlik om jou lewe te lei op reputasie, erfenis, welvaart, geskiedenis en tradisie, maar ware lewe is nie op die glorie van die verlede baseer nie.

‘n Ware afstammeling van Abraham is in karakter net soos Abraham, nie in vlees en bloed nie. Hulle wil Jesus doodmaak, maar toe God se boodskapper by Abraham aandoen, het Abraham hom met sy heel beste gasvryheid ontvang (Genesis 18:1-8).

Jesus sê dat hulle die werke van die duiwel doen (8:44). God se lewe in jou moet in jou woorde en werke manifesteer.

God is nie jou Vader as jy Jesus en Sy werke nie herken nie. Hulle maak staat op geboorte, maar eintlik is hulle kinders van die owerspelige verhouding met vals godsdiens.

Hulle verstaan nie dat hulle geestelik doof en blind en intelletueel gestrem is nie. Godsdiens maak blind sodat die karakter van Jesus nie duidelik is nie.

Die duiwel is ‘n moordenaar. Hy moor waarheid, kennis en insig. Dit lei tot die dood, selfs al lewe mens nog fisies. Die duiwel is ‘n leuenaar en hy inspireer elke leuen op aarde. Die valsheid in godsdiens is die werk van die duiwel.

Jesus daag hulle uit om die boosheid in Sy lewe uit te wys (8:46,47). As hulle dit nie kan doen nie, waarom glo hulle nie?

Die Heilige Gees openbaar waarheid en stel die mens in staat om dit te verstaan. Sonder die Heilige Gees is dit onmoontlik om enigiets van waarde te herken. Godsdiens sluit die Gees uit en veroorsaak geestelike dood. As jy jou hart sluit vir die Heilige Gees, is jy ‘n vreemdling vir God selfs al is jy godsdienstig. Godsdiens is menslik en kom neer op menslike idees oor God. Dit is nie ware kennis nie.

Dit was ‘n geweldige belediging om aan hulle te sê dat hulle vreemdelinge vir God is.

Die Hebreeuse woord vir Samaritaan is Shomeroni (8:48). Dit sou ook kon beteken prins van die duiwels. Hulle het Jesus beskuldig dat Hy mal is en dat die duiwel hom mal maak. Hy het geantwoord en gevra hoe kan die duiwel eer aan God bring. Sy doel was om God al die eer te gee. Hulle het die duiwel in hulle gehad – Hy het dit in soveel woorde gesê.

Hy wou nie wêreldse eer hê nie. Hy het geweet Hy sou verwerp word, ly en gekruisig word. Sy oog was op God om Hom te verhef tot Sy plek.

Hier in die laaste verse van Johannes 8 maak Jesus die een verklaring op die ander, amper asof Hy wil aanstoot gee. Hy will hulle dwing tot Gees-insig wat hulle nie gehad het nie. Hoe is dit moontlik dat iemand nie sterf nie? Abraham en al die profete was dood. (Sagaria 1:5)

Jesus praat van geestelike dinge in die fisiese realm. Aan ons sê Hy: sien alles in die geestelike realm. Elke dag word geleef met die oog op die ewigheid.

Wat is die dood? Dit is maar net ‘n intieme ondervinding met God.

Ons leef in die onsigbare koninkryk. Ons praat die taal van die hemel waar probleme die geleentheid vir wonderwerke is terwyl ons in die voetspoor van die Almagtige loop.

Alle ware eer kom van God af.  Wêreldse eer beteken niks. Daar is geen self-goedkeuring wat die toets van die ewigheid deurstaan nie.

Jesus weet Hy het unieke kennis van God wat in kontras staan tot wat die mense gehoorsaamheid noem. Hy weet presies wat God se hart is.

Jesus maak nog ‘n “verregaande” verklaring. (8:56) Hy sê Hy was voor Abraham. Dit was soos ‘n vonk in droeë hout.

Die Jode het geglo dat Abraham in die paradys was en alles op aarde sien. Jesus sê Hy is uit Abraham gebore en daarom sal Abraham juig in hierdie dag. Dit was in die geboorte van die Messias wat al die nasies van die aarde sou juig. Aan Abraham is ‘n visioen van die Messias gegee (Genesis 15:18-21).

Abraham het gelag toe hy hoor hy gaan ‘n seun hê. Die Rabbi’s het geleer dat hy in die nuus oor die Messias gejuig het en daarom gelag het.

Dit was maklik om te verstaan dat Abraham die Messias gesien het. Hulle kon egter nie verstaan dat Jesus sê dat Hy voor Abraham bestaan het nie. Op vyftig het die Leviete afgetree. Jesus was heeltemal te jonk om as wys gereken te word. Jesus het eintlik gesê dat Hy tydloos is.

Deur dit te sê het Hy aanspraak gemaak daarop dat Hy God is. Hy het Israel se vaders waarlik geken; Abraham, Isak en Jakob en al die geloofshelde van ouds. Hy het ‘n mens geword om ons te wys hoe God werklik is.

Dit is die verklaring wat Hy maak en hulle wou Hom doodmaak daarvoor. Hy het eenvoudig weggeloop omdat dit nog nie Sy tyd was nie.

 

 

162. Vrou, jy is waardig.

Ons het al hieroor gepraat. Juda van ouds was so erg soos sekere lande waarvan ons vandag lees. Vroue het geen regte gehad en is meestal geïgnoreer as tweedeklas burgers en eggenotes om te gebruik en te misbruik. As ons in die Westerse wêreld lees van sulke vroue is daar misnoeë en diepe simpatie. Die rabbi’s in die tyd van Jesus het nie eers gedink dis die moeite werd om ‘n vrou die Wet van Moses te leer nie. Nogtans is daar in hierdie tyd by die Tempel ‘n voorhof vir vroue geskep om die vroue ‘n kans vir aanbidding te gun, maar nooit saam met die mans nie.

Dit is baie belangrik om te weet wat die Bybel oor vroue leer, sodat die vals leerstellings en skinderstories oor ongelykheid in die Bybel en voor God afgebreek kan word.

God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. (Genesis 1:27)

God het man en vrou gelyk geskape. Die Bybel vertel pragtige vertale van vroue in leierskap van aanbidding (Miriam) as volksleiers (Deborah) as rolspelers in paleise (Esther) en ook as bose invloed in die lewes van die konings (Jezebel en Athaliah).

In die mate waarin die volk Israel van die Here af weggedryf het, het hulle houding oor vroue versleg. Die Bybel leer dat ‘n vrou aan haar eie man, wat haar lief het soos sy eie liggaam, onderdanig is, maar nooit aan mans in die algemeen nie. (Efesiërs 5:28,29). Hy vergelyk die liefde van Christus aan die kerk met ‘n man se liefde vir sy vrou.

Ons storie oor die vrou wat in owerspel betrap is, speel af in die voorhof van die vroue. Die vroue kon nie by die altaar verby, behalwe vir ‘n offer nie. Rondom die voorhof van die vroue was daar dertien kiste vir offerhande in die vorm van trompette – nou bo en wyer na onder.

Elke kis was vir ‘n sekere soort offerhande uitgemerk. Die eerste twee was vir tempelonderhoud, die derde en vierde vir die duifoffer na kindergeboorte, die vyfde vir die altaarhout, die sesde vir wierook en die sewende vir die onderhoud van die goue kruike. Die ander ses was vir enigiets wat iemand nog sou wou bydra.

Daardie deel van die Tempel was besig en ‘n goeie plek om te leer.

Jesus maak die verklaring: Ek is die Lig van die wêreld (8:12). Die agtergrond was indrukwekkend. Die Fees van die Tabernakels het afgeskop met ‘n seremonie. Vier reuse lampstaanders is in die Voorhof van die Vroue geplaas en net sodra dit donker geword het, het die lig daavan oor die hele Jerusalem geskyn. Die hele nag is gekenmerk met vreugdevolle danse en gesange.

Jesus sê dat Hy hulle lewe sal lig maak vir meer as net een nag en Sy vreugde is van ewigdurende aard. [Sien die skakel aan die einde van die stukkie na ‘n preek van Bill Johnson van Bethel kerk oor: The discipline of joy]

Jesus is die Lig van die lewe: – die bron van die lig of die lig wat lewe gee soos die son lewe aan plante gee. Jesus is beide – die bron van lig en die lig self.

Die woord volg is gebruik vir soldate wat ‘n offisier in oorlog volg, ‘n slaaf wat sy meester volg, ook vir iemand wat ‘n wyse leermeester se advies volg of die spesialiskennis van ‘n seker persoon in ‘n leidende rol. Dieselfde woord kon gebruik word vir die volg van ‘n argument of ‘n boodskap wat ter harte geneem en gehoorsaam word.

Om Jesus te volg op al die bogenoemde maniere, is die enigste waarborg vir ‘n veilige reis deur die lewe en die heerlikheid van God te ervaar.

Lig was baie spesiaal in Joodse denke. Vir hulle was Jesus se woorde ‘n verklaring dat Hy God self is. (Psalms 27:1; Jesaja 60:19; Job 29:23; Miga 7:8)

Hulle het argumenteer dat Jesus se verklaring nie deur getuies ondersteun kan word nie (Deuteronomium 19:15; 17:6).

Jesus maak ‘n verklaring oor Sy eie gesag (8:13-20). Hy was seker waar Hy vandaan kom en Sy verhouding met die Vader, die hoogste gesag wat daar is. Daarom was Sy getuie God self. Dit was duidelik uit Jesus se woorde, dade en wonderwerke en boonop Sy uitwerking op die mense om Hom. Die oorweldigende skares om Jesus kon net ‘n werk van die Heilige Gees wees.

Net God kan mense in staat stel om te sien wie Jesus is.

Jesus beklemtoon Sy reg om te oordeel en daarmee saam verklaar dat die kerkleiers geen kennis van God het nie (8:15-18). Die hele geskiedenis van die Jode en hulle kennis van die Skrifte moes hulle voorberei het, sodat hulle die Messias sou kon herken.

Geen teologie kan ‘n mens ooit voorberei om die Seun van God te ken of te herken – slegs ‘n nederige besluit om Hom in jou lewe in te nooi. (Lukas 24)

Jesus praat profeties (8:21-30). Daar is geleenthede vir alle mense om Jesus te ontmoet sowel as geleenthede om die geleentheid te verpas. Tyd is beperk. Daar is oordeel juis omdat daar soveel geleentheid is.

God gee aan almal genoeg geleetheid om Jesus te aanvaar.

Jesus gaan weg in die onsienlike realm waar Sy vader is. Ons volg in gehoorsaamheid. Slegs die ongehoorsames kan nie saamgaan nie. Pinksterdag se uitstorting van die Heilige Gees het die kerk se geboorte aangekondig sowel as die geestelike dimensie van die koninkryk van God. Selfdood was vir die Jode geweldig en hulle was seker sulkes gaan hel toe. Soveel liefdeloosheid in die kerk het gelei tot soveel ongegronde oordeel. Ons weet goed dat God in Sy volmaakte liefde sulke desperaatheid toevou in Sy ewige arms.

Jesus praat van sterf vir hulle eie sonde. Sonde beteken om die doel te mis. Verwerping van Jesus laat die ware lewe by jou verbygaan, afgeskei van God. Hier op aarde begin die ewige lewe reeds, die God-lewe. Dan hou die dood ook geen verskrikking nie. Sonder Jesus is jy soos Adam terwyl hy wegkruip. Sonder Jesus dra jy die gevolge van jou sonde. Dit bly altyd jou keuse.

Die woord vir die wêreld is kosmos (8:23). Jesus gebruik dit op Sy eie manier.

The kosmos is the changing, transient life that we live; it is all that is human as opposed to all that is divine. [Barclay]

Die wêreld is God se skepping en binne dit is Jesus die oorbrugging van die gaping tussen die mens en God. Die wêreld is die objek van Sy liefde. Jesus is die wêreld se grootste gawe van God. Die Skepper het self na Sy skepping gekom en hulle het Hom verwerp. Hierdie verwerping dui op die groot verwarring in die wêreld en die blindheid van die mense vir die waarheid. (John 1:10; 14:17; 17:25; 15:18-19; 16:33)

Jesus kan al die foute regmaak. Hy is die antwoord vir alles, maar enigiemand kan Hom verwerp.

Jesus praat die hart van die Vader vir die wêreld.

 Ons sal eers die volle prentjie van Jesus kan sien in die Kruis, die Opstanding en die uitstorting van die Heilige Gees wanneer Hy ons leer en herinner wat nie sin gemaak het voor die Kruis nie. Jesus se woorde was die begin van ‘n hele nuwe era (8:28-30).

VOLGENDE KEER: Die laaste woorde van Hoofstuk 8 (31-55).

 

 

A sermon by Bill Johnson of Bethel church: The discipline of JOY

 

https://youtu.be/Sy9Y8ScrWDM

 

 

 

 

 

161. Vry en onbeskaamd.

Maar U, Here, beskerm my aan alle kante, U herstel my eer en aansien. (Psalm 3:4)

Die storie van die vrou wat in owerspel betrap is, is een van my gunsteling hoofstukke in Johannes. Dit is ‘n dramatiese straattoneel in ou Jerusalem wat die genade, liefde en oordeel van God op so ‘n manier bymekaar bring, dat elke mens wat dit lees sal besef hoe Jesus se teenwoordigheid lewe en dood bepaal. Wanneer die wêreld en die kerk in alle wreedheid en genadeloosheid toeslaan, is Jesus in die middel van die teologiese, politiese en morele argument. Sy optrede en die twee sinne wat Hy praat bring uitkoms en herstel.

Dit is sekerlik die mees gesaghebbende uitspraak waar ‘n doodsvonnis ter sprake was, in die geskiedenis van die mensdom ooit.

Die kwessie wat in hierdie gedeelte aangespreek word, is ‘n dilemma na albei kante toe. Die kerkleiers skep ‘n situasie wat hulle uitbuit om Jesus in ‘n lokval van argument vas te trek. Owerspel was ‘n ernstige misdaad met die doodstraf daaraan gekoppel.

Volgens Levitikus 20:10 moet die man en die vrou tot die dood veroordeel word. Die metode van doodmaak word nie bepaal nie. Deuteronomium 22:13-24 praat oor ‘n verloofde meisie. Sy en die man wat haar verlei het, moet buite die stadsmure gestenig word. Die Mishna (kommentaar op die Talmud) praat van verwurging – iets wat nooit ooit in die die Ou Testament ter sprake was.

Die wet het voorgeskryf dat die man en die vrou doodgemaak moet word. Die afwesigheid van die man in hierdie geval is, ‘n skryende diskriminasie teen die vrou en ‘n teken van die tyd waarin die toneel hom afspeel. Die vrou moes die blaam dra en met haar lewe betaal.

Vir Jesus is die lokval gestel:

As Hy sou sê dat die vrou gestenig moes word soos die Wet van Moses voorskryf, dan het Sy boodskap aan sondaars oor genade en liefde grootliks skade gely en Hy sou nie weer die vriend van die sondaar genoem kon word nie. Hy sou ook direk in botsing met die Romeinse owerhede gekom het, aangesien hulle publieke teregstelling deur die Jode verbied het.

Indien Hy haar sou vryspreek, sou Hy die Wet van Moses verbreek en owerspel goedkeur.

Hy het afgebuk en met Sy vinger in die grond geskryf. Die moontlikhede van wat Hy daar geskryf het, is soveel as die mense wat daarooor kommentaar lewer. Kom ons kyk na ‘n paar.

Hy kon dalk die aanklaers toelaat om hulle woorde te herhaal sodat hulle self tot die besef van hulle wreedheid en arrogansie sou kom.

Een kommentaar meen dat die desperate vrees van die vrou, die bloedlus in die gesigte van die omstanders, die onsimpatieke hantering van ‘n weerlose vrou in ‘n skare wat toekyk, Jesus so met weersin vervul het, dat Hy sy gesig van hulle verberg het. Na alles, was die aanklaers die mense wat hulleself kinders van God genoem het.

Daar is ‘n nog ‘n interessante punt wat uitgelig kan word. Dit kan wees dat Jesus met ‘n goddellike vinger die sonde van die aanklaers in die sand of op die stene wat hulle vasgehou het, geskryf het, terwyl hulle oor Sy skouer loer. Die Griekse woord wat hier gebruik word is nie graphein, wat skryf beteken nie, maar katagraphein, wat opskryf, soos vir die hou van ‘n rekord teen iemand, beteken.

Nieteenstaande het hulle op ‘n antwoord aangedring. Hy het dit gegee:

Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ‘n skoon gewete het, eerste ‘n klip op haar gooi.” (Johannes 7:7)

Die woord, sonder sonde van die OAB, is wyd in betekenis om in te sluit sonder sondige begeertes. Die vertaling “skoon gewete” is ‘n goeie aanduiding van die inhoud van Jesus se bedoeling.

Skielik is Jesus alleen by die vrou en Hy praat met haar. Mans het nie in die openbaar met ‘n vrou gepraat nie. Hy vra haar waar haar aanklaers is.

Haar enigste woorde in die straathof wat haar lewe sou neem, is haar antwoord op Sy vraag.

Jesus stuur haar weg met woorde van hoop en lewe op ‘n vars begin. Hy stuur haar nie na die sinagoge vir beter lering oor die Wet van Moses sodat sy nie weer sondig nie. Hy stuur haar in ‘n wêreld vol chaos en morele verval. Hoe kon Hy dit doen?

Jesus het geweet Hy is oppad kruis toe vir haar sonde!

Hy het ook ten volle Sy Vader met haar lewe vertrou en geweet dat die Vaderhand deur die werking van die Heilige Gees die enigste veilige plek op hierdie aarde is. Dit is presies wat ons ook met doen met nuwe bekeerlinge en die mense vir wie ons bid. Net sodra die kerk mure bou en dink dat hulle mense moet “help” om nie te sondig nie, is daar korrupsie en wettisisme.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was oortuig dat hulle as die teoloë regsgeleerdes van die tyd, die hoogste gesag was om haar te straf uit ‘n posisie van oordeel, kritiek en sensuur. Hulle was heeltemal gemaklik in die rol. Simpatie en liefde om ‘n sondaar terug te wen, was lankal verlore. Hulle wou nie sonde aanspreek nie, net oordeel en straf. Hulle het nooit besef dat hulle ook geoordeel gaan word nie.

Die wêreld sukkel om mense te red. Rehabilitasie vir verslawing en misdaad het twyfelagtige sukses. Dikwels het straf bitterheid, woede en meer ernstige dade tot gevolg.

Die vrou, as ‘n mens en skepsel van God, het geen plek in die toepassing van die Wet deur die kerkleiers nie. Sy is bloot ‘n instrument om Jesus te by te kom.

Sy is ‘n niks sonder ‘n naam.

As mense niks word, is die Christendom dood.

God gebruik name. Daar is bladyse en bladsye name in die Bybel. Die Bybel fokus op mense by naam. God sê vir Moses: Ek ken jou op jou naam.” (Exodus 33:17). Hy sê aan Kores: sodat jy kan weet dat Ek die Here is, dat Ek jou op jou naam geroep het, Ek, die God van Israel. (Isaiah 45:3).

Dink jy die Fariseërs wat haar aangekla het, het haar naam geken? Indien wel, het hulle haar nie by naam aan Jesus voorgestel nie.

Sy het heel moontlik verlangs van Jesus gehoor. Mens weet so min van haar af. Sy het Hom dalk as deel van die kerk beskou en is sonder hoop, gevul met vrees in Sy teenwoordigheid ingesleep. Hoe het sy die hele geding waarvan sy die middelpunt is, sonder dat iemand in haar rigting kyk, ervaar?

Net ‘n volmaakte mens kan oordeel. Daarom het die Fariseërs na volmaaktheid gestreef. Jesus waarsku om nie te oordeel nie (Matteus 7:1). Wanneer ons oordeel sien ons die splinter in ander se oog en nie die balk in ons eie nie (7:3-5). Ons is blind vir ons eie foute, terwul ander se sonde en tekortkominge so duidelik is.

Ons eerste reaksie op ‘n fout moet simpatie en bejammering wees. Ons moet verligting bring met ‘n boodskap van hoop en saligheid. Weersin verdwyn in liefde en die begeerte om te help.

Jesus het nie haar sonde goedgekeur nie. Hy het oordeel uitgestel tot na die geleentheid vir saligheid. Hy het haar ‘n tweede kans gegee sodat sy beter besluite kan neem. Hy was jammer vir haar. Sy liefde het simpatie vir haar voortgebring.

Hy het haar laat gaan met ‘n uitdaging. Dit was nie maklik nie. Sy moes haar lewe omkeer en nuwe besluite maak op grond van haar tweede kans. Sonde was oral.

Jesus het haar vertrou om haar kans te gebruik. Hy het haar in Sy Vader se hand “losgelaat” en geweet sy sal veilig wees.

 

 

 

 

 

 

160. Kom ons hou partytjie!

Dit is betekenisvol hoe die konsep van ‘n blye byeenkoms deel van die ou Joodse geskiedenis en godsdiens is. Oor die algemeen was die antieke gemeenskappe meer ondersteunend, as die sosiale opset vandag met so ‘n sterk fokus op privaatheid, persoonlike voorkeur en individuele prioriteit. Oorlewing was ‘n spanpoging. Feeste het dikwels plaasgevind om gebeure en suksesse te vier. Daarom vind ons vandag in die meeste lande publieke vakansiedae om die hoogtepunte van ‘n nasie of kultuurgroep te vier.

Ons vier ook verjaarsdae, gradeplegtighede, skooleindeksamens en aftrede, selfs verwelkomings- en afskeidspartytjies. Christene vier Kersfees, Paas en saam met die sekulêre komponent van die gemeenskap Thanksgiving op die noord-Amerikaanse kontinent. Ek sou graag ‘n groter klem op Pinkster ook sien. So ‘n fees kan in dieselfde afwagting van Handelinge 2 plaasvind. Hoewel daar soms nog Pinksterbidure plaasvind, is dit na my mening so afgeskeep dat ons die krag daarvan verloor. Ander godsdienste het hulle vasdae en feesdae.

Jare gelede het ons gesin by die Here geleer om fees te vier. My man het baie lank in ‘n baie veeleisende omgewing gewerk en op roetine basis gevas. Hy het eintlik net Sondae beskikbaar gehad om bietjie af te sonder en hom oop te stel vir Heilige Gees insig en ‘n studie van die Woord van God. Baie Sondae het ek lekker dinge met die kinders beplan om op te maak daarvoor dat hulle pa vir ‘n paar uur in sy studeerkamer verdwyn.

Een Sondagmiddag laat, na so ‘n paar maande van die roetine, het hy met ‘n groot glimlag en vol vreugde ons kom haal en uitgeneem vir ete. Hy het vertel hoe God vir hom gesê het dat sy vastyd verby is en hy ons moet leer om fees te vier. Hy het ons maaltyd saam ‘n fees ter ere van God se goedheid verklaar. Stadig het die konsep van feesvier in ons gesin ingesypel, wanneer ons uiteet, maar ook meer en meer rondom ons tafel by die huis. Hy het ons tafelgebed verander. Ons moes mekaar in die oë kyk en ons dankbaarheid oor God se genade en goedheid uitspreek. Glad nie meer rympies wat vinnig afgerammel word nie.

Ek was so vol vreugde oor al die veranderinge en het die Here gedank vir ‘n priester in ons huis wat die geestlike pas aangee. Hy het verder twee privaat feesdae per jaar aangekondig waarin ons uitkoms en antwoord op gebed gevier het.

In die laaste gedeelte van Johannes 7 (7:37-53) word die Fees van die Tabernakels, ook bekend as die Loofhuttefees, weer genoem. Dit het in Oktober plaasgevind. Die Fees was van groot historiese belang: die mense het uit hulle huise gegaan en tydelike grashutte gebou om die tyd van Israel in die wildernis te vier. Hulle kon die sterre deur die dakke sien. Al die voorskrifte vir die Fees vind ons in Levitikus 23:40. Volgens Levitikus was die Fees sewe dae. In Jesus se tyd is daar nog ‘n dag bygevoeg.

Die Fees was ook ‘n soort Dankfees vir die oes aangesien dit aan die einde van die landboujaar plaasgevind het. (Exodus 23:16; 34:22) Die Fees het ook baie populêr geword. (1 Konings 8:2) Dit is met die oorvloed van die natuur gevier; alles wat die lewe moontlik en gelukkig gemaak het. Die ideaal was dat die Fees deur almal – arm en ryk, slawe, bediendes en meesters en vreemdes – gevier word.

Daar was ‘n daaglikse seremonie gedurende die Feestyd. Die mense het palmtakke na die altaar geneem. Dan het die priester water uit die kuil van Siloam geneem terwyl die mense die woorde van Jesaja 12:3 herhaal het: Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.

Die water is uitgegiet as ‘n offer aan God terwyl die mense sing. Hulle het die Hallel gesing – Psalms 113-118 met fluite en ‘n koor. Op die laaste dag van die Fees het hulle sewe maal om die altaar geloop om Jerigo te onthou.

Die Fees was ‘n herdenking van die wonderwerke.

Wat doen jy om wonderwerke in jou lewe te vier? Kan ons dalk ‘n partytjie hou om die uitkoms van die Here in ons lewe te vier? Onthou en onthou goed. Moenie dat die vyand jou van jou eie getuienis beroof nie.

Maar sorg dat jy nie dan die Here vergeet wat jou uit Egipte, uit die plek van slawerny, bevry het nie. (Deuteronomium 6:12)

Die water het oor die takke gevloei en die mense herinner aan die lewe-gewende water van Jesus waaroor Hy met die vrou in Samaria by die put van gepraat het. (Johannes 4)

Die Here sal jou altyddeur lei;

selfs in dor streke sal Hy in jou behoeftes voorsien.

Hy sal jou sterk maak.

Jy sal wees soos ‘n tuin met volop water,

soos ‘n fontein waarvan die water nie opdroog nie. (Jesaja 58:11)

Ons kan met oorgawe feesvier omdat ons in Jesus die volle vervulling van al die feeste van Israel het. Hy is die rede vir al sewe feeste.

Die Een wat deur die water van sy doop en die bloed van sy dood na ons toe gekom het, is Jesus Christus; nie net deur die water nie, maar deur die water én die bloed. Die Gees is die getuie daarvan, en die Gees is die waarheid.

Daar is dus drie wat getuig : die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen. (1 Johannes 5:6-8)

Jesus belowe ‘n reiniging – heeltemal skoon en lewegewend. Net in Sy reiniging is vrede en volheid.

Die simboliek van water kry ons regdeur die Ou Testament. Psalms 105:41, Esegiel 47:1; 47:12. Ook Joël 3:18: A fountain shall come forth from the house of the Lord.

 Jesus is die Rots in die woestyn waaruit die waters gevloei het (Exodus 17:6). Dit is waarom dit so belangrik vir Moses was om nie die Rots die tweede maal te slaan nie en die stem van die Here te gehoorsaam. Jesus is een maal geslaan – die Kruis. Nou is dit net nodig om met Hom te praat, dan vloei die strome van saligheid. Die wonder gebeur nie altyd op een manier nie. Dis belangrik om te luister.

Paulus bevestig dit:

…en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus. (1 Korintiërs 10:4)

Daar is geen Gees, geen Pinkster sonder die Kruis nie. Voor die Kruis was die Heilige Gees ‘n misterie. Na die opstanding is Hy ‘n persoon wat die opgestane Jesus in ons laat leef. Pinkster het die strome van seën uit die hemel laat vloei.

Wonderwerke is die water op die droogte van die siel. Die Pinkster belewenis bring die wonderwerke in die realm van ons lewe. Met Heilige Gees insig, “sien” ons God se werk.

Sal God dit weer en weer doen? NEE, Hy doen dit voortdurend. My gebed is altyd en sal altyd wees: Here, maak my oë oop om U wonders te sien.

Moenie God beperk tot ons kalendertyd nie. Hy werk altyd.

Die skare het oor Jesus gepraat. (7:40-44) Baie het geglo Hy is die Een wat sou kom; die vervulling van die belofte van die profete. Hulle het gepraat oor Sy geboorteplek. Meeste mense het geweet Hy kom uit Nazaret. Slegs diegene wat bietjie dieper ondersoek ingestel het, het uitgevind dat Hy wel in Bethlehem gebore is, presies soos al die profete gesê het.

Moet nooit navorsing en vrae vermy nie. Jesus het Thomas genooi om sy hande in Sy wonde te steek en in Jesus se teenwoordigheid het al Thomas se twyfel verdwyn (Johannes 20:27). Jesus sal altyd ‘n soekene gemoed antwoord. Hy belowe antwoorde as jy vra (Matteus 7:7).

Die wagte van die priesterhoofde was verstom oor Jesus se leer. Hulle kon hulleself nie so ver bring om Hom te arresteer nie. Om Jesus te hoor praat sal jou lewe verander – vandag net soos toe.

Die leiers was woedend en het hulle eie wagte en Nikodemus beledig toe hulle planne nie slaag nie. Hulle arrogansie, intellektuele snobisme en geestelike hoogmoed het die Fariseërs laat neerkyk op die gewone mense en op die streek van Galilea. Hulle het nooit met die gewone mense gemeng nie, selfs nie in die konteks van die Wet wat hulle so hoog geag het nie.

Wat sê hulle eintlik: As jy enigsins intellektueel of akademies gereken word, sal jy nie deur Jesus beïnvloed word nie. Is dit nie presies die argument uit geleerde kringe vandag nie?

Is die getalle van die skare enige aanduiding van waarheid of waarde? Die skare kon wegdraai, Hom verwerlkom in Jerusalem as koning en kort daarna skreeu vir Sy kruisiging.

Ons kan nie die skare volg nie. Ons kan nie eers die kerk volg nie. Volg ons die mense of die man, Jesus? Sal jy Hom vind in die kerk?

Selfs Nikodemus het Jesus huiwerig verdedig en klem gelê op die reg van die wagte om self te besluit. Die woede en beledigings teen Galilea het hom stilgemaak.

Hoe sal ons Jesus verdedig met sulke woedende opposisie? Slegs in die krag van die Heilige Gees kan ons die trekkrag van die skare weerstaan en die oppervlakkige argumente van populêre opinie ignoreer. Die Heilige Gees sal ons oortuig van sonde, geregtigheid en oordeel. Die Woord en ons eie getuienis is die krag van God se goedheid in ons lewe.

Jesus het aangehou leer. Vroeg in die oggend was Hy terug in die Tempel. Die mense het gekom…