Ons het so dikwels al die aantyging gehoor dat die Ou Testament vol moord en doodslag is. Dit is inderdaad ‘n geskiedenis van oorlog, voorbereidings vir oorlog, versterkte stede en konings wat die vyande van die volk Israel moet hanteer, soms suksesvol en soms met katastrofiese gevolge. Die sukses, al dan nie, in enige oorlog soos beskryf in die boeke van Joshua, Rigters, Konings en Kronieke, is so opgeskryf om die leier en die volk se verhouding met God te beklemtoon.
Die Ou Testament is vir ons ‘n letterlike, fisiese uitbeelding van ons geestelike stryd met ‘n onsigbare vyand wat “nie vlees en bloed is nie”.
Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug. (Efesiërs 6:12)
Die remedie vir hierdie stryd is ‘n wapenrusting wat in terme van ‘n eerste eeuse Romeinse soldaat verduidelik word – onsigbare wapens van bevryding en saligheid wat teen die gebrokenheid van die wêreld wat ons daagliks ervaar, beskerm. Verlossing oor jou denke, waarheid as gordel, geregtigheid en vryspraak as bors-pantser, die vrede van Jesus waarop jy loop, terwyl jy die skild van geloof en die swaard van die Woord dra.
Met die luuksheid van terugkyk, kan ons die geestelike insig wat ons nou het, op die gevegte van die Ou Testament stories terug reflekteer.
Die wapenrusting van Efesiërs 6 is presies die “wapens” wat Josafat opneem in 2 Kronieke 20.
‘n Groot weermag staan teen Juda op – die Moabiete, die Ammoniete en ‘n groep Meüniete (‘n nomadiese groep Arabiere hoofsaaklik uit die suidooste). Die berig van die koalisie-weermag bereik Josafat in Jerusalem in ‘n tyd wat hy met groot en goeie hervormings besig is. Hy het die regspraak van die land hervorm, leermeesters oor die hele land uitgestuur om die gewone mense die Wet van die Here te leer, grensstede versterk, graan opgegaar vir moeilike tye. Lees maar vanaf 2 Kronieke 17 oor die hoogs suksesvolle heerskappy van Josafat, wat die goedkeuring-stempel van die Kroniekskrywer kry: hy het in die weë van sy voorvader Dawid gewandel en nie die Baäls aanbid nie. Hy het gedoen wat reg was in die oë van die Here.
‘n Mens sou kon dink dat die Here hom so sou seën dat vyandige volke nie teen hom optrek nie; dat hy in vrede met sy vyande leef. Dit is nie hoe die geskiedenis verloop nie. Drie volke span saam om die versterkte Juda binne te val. Die voorspoed van die volk onder Josafat sou verseker jaloesie en gierigheid van sy bure uitlok.
Hier lees mens woorde wat regtig nie by ‘n magtige koning pas nie.
Josafat was bang (2 Kronieke 20:3)
Is dit nie verfrissend en bemoedigend om die Bybel se been-eerlike, onverdunde relaas oor die gebeure te lees nie?
Die grote en suksesvolle koning is bang vir die oormag. Dis egter nie die einde van die storie nie en ook nie die punt nie. Die punt is eintlik wat hy met sy bangheid doen.
Hy gaan by die Here hulp soek.
Josafat roep ‘n vasdag oor die hele Juda uit en die volk reageer. Hulle reis na Jerusalem om saam met die koning die hulp van die Here af te bid. ‘n Groot byeenkoms waar Josafat die leiding neem, word voor die Tempel gehou. Hy tree op as koning en priester – hy lei die volk in gebed.
Die gebed is opgeskryf vir ons insig in die denke van die koning.
Here, is U nie…wat heers oor die koninkryke van die nasies, in wie se hand die krag en mag is en dat daar niemand is wat teen U kan staan nie.
Here is U nie…ons God wat die land aan ons gegee het nie, waarin die heiligdom tot eer van U Naam gebou is nie.
As daar onheil oor ons kom – die swaard, oordeel, pessiekte, hongersnood – sal ons voor hierdie huis, voor U gaan staan, omdat u Naam in hierdie huis is, en omdat ons in ons nood na U om hulp roep, sal U hoor en red.’
Volgens 2 Kronieke was die nasies wat Juda nou aanval onder die nasies wat die Israeliete opdrag gehad het om nie uit te roei nie. Onthou Moab en Ammon was Lot se nakomelinge (gebore uit bloedskande) en die mense van die Seïr-berge was uit Edom, die nakomelinge van Esau. Almal was eintlik “familie”. Hulle “verraad” teen Israel om nou oorlog te maak, word deur Josafat in sy gebed aangehaal.
Dit is net so. Hoeveel maal in ons persoonlike verhoudinge en ook in politiese omwentelinge word goeie dade met boosheid en geweld “beloon”? Dit is juis die rede waarom ons volkome vertrou op die hemelse Regter wat alles weet en volmaakte kennis oor alles en almal het. Hy sal oordeel en vergeld.
Dit is presies wat Josafat doen en wat ons moet doen – persoonlik en publiek, besigheid of privaat – laat God besluit wat om met die spul wat jou te na kom, te doen.
Ons God, sal U hulle dan nie oordeel nie, want ons het nie die krag om hierdie groot menigte wat teen ons optrek, teen te staan nie. Ons self weet nie wat om te doen nie, maar op U is ons oë gerig. ”
Ons oë is op U gerig – dit is ‘n verklaring wat in die heelal weerklink. Dit is die woorde wat die hemele tot aksie beweeg. Dit is die belofte wat staan.
Vertrou op die Here met jou hele hart – op jou eie insig moet jy nie staatmaak nie. Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak. (Spreuke 3:5,6)
Dit is beter om by die Here te skuil as om op mense te vertrou. Dit is beter om by die Here te skuil as om op vooraanstaandes te vertrou. (Psalm 118:8,9)
Uit Josafat se verootmoediging vloei die profetiese woord deur ‘n afstammeling van Asaf, ‘n aanbiddingsleier.
So sê die Here vir julle, ‘Julle moenie bang wees of julle laat afskrik deur hierdie groot menigte nie, want dit is nie julle geveg nie, maar God s’n. Trek môre af, teen hulle uit. Kyk, hulle gaan met die opdraande van Hassis opkom, en julle sal hulle by die eindpunt van die dal voor die Jeruelwoestyn aantref. Julle hoef nie in hierdie geval te veg nie. Neem stelling in, Juda en Jerusalem, staan en aanskou dan die verlossing deur die Here wat met julle is! Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Trek môre teen hulle uit, en die Here sal met julle wees. ’ ”
Wil jy nie in hierdie oomblik met jou gesig na die grond toe kniel, soos Josafat en Nehemia wat plat op sy maag gaan lê het, om die Here aan te roep nie? Josafat en die hele volk het voor die Here in aanbidding gebuig. Die Leviete het opgestaan en die Here met harde stemmebegin loof. Die aanbidding het die geveg-strategie bepaal.
Nadat hy met die manskappe beraadslaag het, het hy sangers vir die Here aangestel wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die Here, want vir ewig duur sy troue liefde!”
‘n Loflied met ‘n jubelkreet – dis nie lippetaal nie. Dit is God se genade wat uit jou hart breek met desperaatheid. Dit is die Heilige Gees in jou wat God se getrouheid aan jou innerlike kommunikeer.
God se hinderlaag laat die vyand mekaar uitmoor – volledige vernietig en totale uitdelging, is die woorde wat die geveg beskryf.
Die gevolg: Die hele weermag van Juda het drie dae lank die buit uitgedra. Die vernietiging van jou vyande is tot jou voordeel. God sien jou hart wat op Hom vertrou en Hy is aktief en wakker oor Sy Woord, Sy beloftes, om dit uit te voer – Jeremia 1.