Bronne

Soos julle weet is William Barclay, ‘n teologie professor van die Universiteit van Glasgow, wat reeds in 1978 oorlede is, een van my Nuwe Testament mentore. Hy was ‘n produktiewe skrywer met ‘n verfrissende insig in die Bybel. Sy kennis van die argeologie, geologie, mitologie en geskiedenis rondom die Nuwe Testament is verstommend. Sy kommentare en boeke lees soos ‘n goeie rolprent met kleur en kinematografie.

As ek sê mentor, dan bedoel ek my “vermetele” self wat oor jare geestelike oupas aangeneem het. Ek het ‘n hele paar van hulle wie ek gereeld aanhaal. ‘n Paar voorbeelde is Jack Hayford, oor die 80 jaar oud en baie aktief in die bediening, Watchman Nee wie in 1974 in ‘n kommunistiese tronk in Sjina oorlede is, John Lennox, ‘n afgetrede Wiskunde professor van die Universiteit van Oxford en ‘n meester in Apologie en ook Andrew Murray, ‘n Skotse teoloog aktief in Suid-Afrika in die negentiende eeu.

In die bespreking van Openbaring en die Evangelie van Johannes het ek Barclay se struktuur gevolg. Daarby het ek die voetnotas, “word wealth” en “kingdom dynamics” van die Spirit Filled Life Bible met Jack Hayford as redakteur bygewerk. Die kommentare wat beskikbaar is op Biblehub.com  en die verskillende vertalings op Biblegateway.com  is ‘n belangrike bron en die oorweldigende inligting op die wêreldwye web is oop vir almal.

Ek is ‘n navorser en die moeilikste deel van skryf is om weg te stuur van te veel inligting terwyl ek myself in die agtergrond en antieke geskiedenis rondom die Bybel kan verloor.