277.  Voete wat vlieg

Kom ons vertoef nog ‘n bietjie by die profeet Habakuk se woorde van goud vir alle tye.  Habakuk skuif sy denk-horisonne van dreigende politiese omwenteling na ‘n hemelse perspektief met ewigheidswaarde wat sy  gemoed oplig tot ‘n vreugdevolle aanbiddingslied.

In ’n paar woorde word die warrelwind van vreesgedagtes ‘n lied vir alle tye.  In sy gesprek met God vorder hy van klagtes en murmurering na vertroue en van twyfel na geloof.  In sy kop reis hy van die vallei na die hoë plekke van nuwe perspektief en insig.

Die hart van die Evangelie is transformasie – ‘n verandering op ‘n diep vlak uit ‘n herbore gees na ‘n nuutwordende siel wat met goddelike wysheid en insig besluite neem en op die Here staatmaak vir elke aspek van lewe – om op te vaar soos ‘n arend en saam met Christus in hemelse plekke te sit. (Efesiërs 2:6)

Dit is juis wat die boek Habakuk demonstreer – evangeliese vernuwing. (Romeine 12:2)

In die kern van sy nalatenskap in woorde staan die kreet van elke gelowige: Die regverdige sal deur die geloof lewe. (2:4)  Vir die profeet was  dit ’n belofte van beskerming in die tyd van politiese omwenteling  met groot bedreiging.  Dit beteken dat wanneer al die bedreigings werklikheid word, die gelowige volkome op die beskerming van die Here kan staatmaak en as deel van die regverdige oorblyfsel oorleef en floreer.

Hierdie stelling word die kern van die kragtige Evangelie van hoop wat Paulus en die skrywer van Hebreërs beklemtoon.  Vir Martin Luther word  dit die kreet van die hervorming.

Habakuk wil sin maak uit die verwarring en boosheid wat hy sien.  Dit was sekerlik vir hom net so skokkend soos die verrukte vernietiging en disrespek vir alles wat goed en waar is, wat vandag om ons aangaan.  Dit is net logies om God te vra.  Dit is vir ons die voorbeeld.  God sal dalk ook sê dit is nie goeie nuus nie- dit gaan erger word met ‘n opdrag om ons visie vir die toekoms neer te skryf sodat die boodskap van geloof en hoop die volk sal red.

Geloof is ‘n mosie van vertroue in die toekoms en hoop is die energie om vas te gryp aan die beloftes van God wat die inhoud van die toekoms is. (Jesaja 45:11)

Lees saam met my in Lukas 8 van die vrou wat aan bloedvloeiing gely het.  Sy was amper by die heel laagste punt van desperate pogings om verligting te kry. (Matteus 9; Markus 5)

Die skande van die vrou was dat sy volgens Joodse voorskrifte onrein was en dat enigiemand wat aan haar raak onrein is. (Levitikus15:19-33)  Sy was afgesny van mense en daarom het sy in die skare na Jesus toe gekom.  Sy was eintlik glad nie veronderstel om daar te wees nie.  Sy het teen alle konvensie opgetree.

Alle rabbi’s het  klere gedra met blou en wit gevlegte tossels gedra  om hom te herinner dat hy ‘n man is wat God se wet onderhou.  Die vrou wou graag een van die tossels van Jesus se kleed aanraak.  Sy het letterlik genesing in geloof “gevat” sonder om te vra.

In die oomblik na sy aan Jesus se kleed geraak het, was dit asof sy die enigste mens in die hele wêreld voor hom was.  In die spasie binne ‘n groot menigte, het Hy stilgestaan en met haar gepraat.  Sy was net ‘n gewone, verwonde mens met geen aanspraak op spesiale behandeling. 

Sy het egter een uitstaande kenmerk gehad.  Sy het Jesus gesoek met ‘n doel.  Haar siekte het haar tot by sy Voete gedryf.  Sy het Hom ontmoet – iets wat sekerlik nooit sou gebeur het as sy nie so desperaat was nie.  Voor sy Voete het sy gesond geword.  In haar geweldige vernedering, wat sekerlik haar siel verskeur het, het sy voortgebeur tot by die voete van die Meester.

Sy het volgens die bygeloof van die tyd geglo dat sy net aan sy kleed moet raak.  Jesus het bygelowige desperaatheid en siele-uitroep met sy woorde  verhef tot ewige waarheid waarvolgens ons vandag ons lewe rig.

Toe sê Hy: “Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!” (8:48)

Dit is merkwaardig dat Hy haar dogter noem.  In Markus lees ons dat sy haar hele geskiedenis aan Jesus vertel het.  Dit het sekerlik ingesluit dat haar ouers haar afgesny het as gevolg van haar siekte.  Sy kon nie saam met enigiemand in ‘n huis woon nie en sou alleen haar lewenspad moes loop.  Jesus herstel haar kindskap aan sy Vader.  Sy is ‘n dogter van die Allerhoogste  God.

Net soos hierdie vrou van haar siekte gered is in haar waagmoed om tot  by die voete van Jesus te kom, so sal ons geloof ons red van die politieke en sosiale chaos in ons gemeenskap.  Dit is ons keuse of ons soos Habakuk voor die voete van God in gebed vra hoekom of soos die vrou deur die “skare” van nuus, ons persoonlike stryd en teenstand van die boosheid van die wêreld, sal beur om in sy ewige Woorde van Waarheid en Lewe, ons salige hoop en bonatuurlike vrede te kry.

Die Here sorg vir die regverdiges

en luister na hulle hulpgeroep.

As die regverdiges om hulp roep,

hoor die Here hulle

en red Hy hulle uit al hulle benoudhede.

Die Here is naby die gebrokenes,

Hy help die moedeloses.

Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref,

die Here red hom uit almal. (Psalm 34)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s