Party mense spesialiseer in uitgooi en aan die kant maak. So ook moes die regverdige konings van Juda ‘n groot skoonmaak en uitvee aanpak as die goddelose praktyke van goddelose konings die land vol gestaan het, verwyder en vernietig moes word. Altare vir afgodsaanbidding is tot fyn stof gemaal en in die Kedron spruit afgespoel. Dit was letterlik ‘n grondige reiniging. Lees gerus 2 Konings 23.
Die altare wat deur die konings van Juda gebou is op die dak van die bovertrek van Agas, en die altare wat deur Manasse in die twee voorhowe van die huis van die Here gebou is, is deur die koning afgebreek. Hy het hulle net daar laat stukkend slaan en die puin laat weggooi in die Kedronvallei. (2 Konings 23:12)
Die afstootlike altaar, voor die Here ‘n gruwel en gebou om God uit te tart, is tot fyn stof gemaal wat in die spruit afgespoel is. (1 Konings 14:9; 16:33) Dit is ‘n beslissende afrekening. Die optrede van Josia is simbolies van wat ook in ons lewe moet gebeur.
Dit is gemaklik om met die luuksheid van ‘n historiese terugblik ewe hoogheilig en veroordelend op al die heidense praktyke neer te kyk en te wonder hoe op aarde die mense daarvoor sou val en ooit sou kon dink dat dit die sielsleemte in hulle binneste sou kon vul. Wie is so dwaas om te dink die afgodery van seks, mag en geld gemeng met ‘n “gesonde” dosis sêkulariteit, omdat ons nie die andersdenkendes aanstoot wil gee nie, is die oplossing vir enigiets?
Dit is egter super-belangrik om van die hoge troontjie van historiese waarde-oordeel af te klim en die wêreld om ons realisties en nugter te beskou. Dan is dit weer maklik om afkeur uit te spreek oor “die mense, die leiers en die politiek”. Natuurlik is dit noodsaaklik om nugter te bly en te weet wat aangaan, maar die ware uitdaging is die aanwending van ‘n Heilige Gees geïnspireerde kyk in jou eie lewe. Hoeveel altare bou ek, onderhou ek en aanbid ek omdat ek nie my denke aan die Heilige Gees se vernuwing oorgee nie?
Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. (Romeine 12:2)
‘n Nuwe manier van dink is die beginpunt van ‘n lewe van oorwinning. Dit is nie ‘n sommer-so proses nie. Dit is ‘n bewustelike onderwerping aan die Woord van God om teen-intuïtief te dink en God se hart te onderskei. Die Woord is die “snoeiskêr” vir dooie werke (Johannes 15:3) en die “bad” wat die stof van afgodsaltare wegspoel (Efesiërs 5:26). Dit is ‘n wonder-proses van vreugde en vrede omdat die Heilige Gees ons in volmaakte, onvoorwaardelike liefde van sonde oortuig en die afgodery verbrand in die vuur van vryheid. Dit is die belofte.
Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. (Matteus 3:11)
Dit is die vuurdoop wat die goud van vernuwing in ons bewerk. (Openbaring 3:18) Dikwels is die kruis wat ons dra, die beproewing en gebrokenheid van die lewe, wat God in sy reinigingsvuur in kosbare, individuele boustene vorm om ‘n kragtige stryder in die Koninkryk te word.
Daar is nog ‘n storie van vuur in die Bybel. Sondagskoolstories wat ons denke vernuwe nou dat ons dit met ‘n volwasse perspektief kan bestudeer.
Daniël se drie vriende weier om voor die beeld van Nebukadnesar te buig. (Daniël 3) Jong manne, reeds geskool in die weë van Jehova en sterk van oortuiging te midde van die heersende afgodery van Babilon – net soos die bose uit die boonste kringe van regering bevorder word vandag.
Die oond se stokers verbrand in die oorweldigende hitte van woede en wraak. Die drie vriende stap in die oond ongeskonde, met ‘n vierde man wat selfs die bose Nebukadnesar op sy knieë dwing.
Toe skrik koning Nebukadnesar, spring vervaard op en vra vir sy raadsmanne: “Het ons nie drie manne binne-in die vuuroond gegooi terwyl hulle vasgebind was nie?” Hulle antwoord toe en sê vir die koning: “Ja, beslis, o koning!” waarop hy toe antwoord en sê: “Kyk! Ek sien vier manne los rondstap binne-in die vuuroond, en daar is geen letsel aan hulle nie; en die vierde se voorkoms is soos dié van ‘n godeseun.” (Daniël 3:24,25)
Daar in die vuuroond sien die heiden God self wat sy dienaars se geloof eer. Hy roep die manne uit wat ongedeerd uit die oond stap met ‘n nederige belydenis van die heerser van Babilon.
Met nadere ondersoek was dit duidelik dat die vuur van boosheid geen mag oor God se geloofshelde gehad het nie. Hulle hare was nie geskroei nie, hulle mantels het nie verander nie en daar was geen brandreuk aan hulle.
Daar was geen teken van die normale nagevolge van vuur. Boosheid moes wyk voor die godeseun wat Nebukadnesar gesien het. Net so word ons gered van die vuur van woede en wraak, hetsy in ‘n werk situasie, waar afguns en rugstekery aan die orde van die dag is, hetsy in moeilike familie-omstandighede, vrees oor wêreldgebeure, sowel as vrees in al sy vorme vir mislukking en ondergang. Ons redding is in die woorde wat ons spreek, die ooreenkoms wat ons maak met die Almagtige net soos Sadrag, Mesag en Abednego.
Sadrag, Mesag en Abednego het geantwoord en vir koning Nebukadnesar gesê: Ons het nie nodig om oor hierdie saak aan u ‘n antwoord te gee nie. As ons God wat ons dien ons kan red uit die vlammende vuuroond en uit u hand, o koning, sal Hy ons red. Indien nie, laat dit dan aan u bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie, en aan die goue beeld wat u opgerig het, nie eer sal betoon nie.”
Wat sou die magtige gevolg kon wees as jy die woorde van hierdie manne in die oorweldigende vloedgolf van boosheid oor jou situasie uitspreek? Die ooreenkoms met Almagtige Heerser oor volkere en nasies in die woorde van jou mond, laat die vuuroond magteloos, sonder gevolg.
Dan moet jy net nie weer in die as rol nie. Die altaar van oorwinning moet in stand gehou word met die goue stene van die Woord.
As die •Seun julle dan vrygemaak het, sal julle werklik vry wees. (Johannes 8:36)
Om weer te vrees, weer kwaad te word, weer te val vir dieselfde lokval van swaarmoedigheid en moedeloosheid, waar vrees jou weer en weer lamlê, is om in die as van die vuuroond wat jy oorwin het, te rol.
Stap weg. Leef onder die vleuels van die Almagtige en in die skaduwee van die Allerhoogste. (Psalms 91)
Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. (Kolossense 3:16)