179. ‘n Gesprek oor die toekoms.

[Johannes 16]

Enigiemand wat Bodemklippe lees weet dat ek gefasineerd is met tyd.  Die verlede, hede en toekoms word met groot moeite in taal uitgedruk – dink maar net oor Engels. Afrikaans is uniek in sy eenvoud om met hulpwerkwoorde ingewikkelde tydsaanduidings uit te druk. Ons het woorde nodig om ons storie van die verlede te vertel. Ons het wysheid nodig om ons storie in die hede gestalte te gee en ons het geen beheer oor die toekoms nie, selfs al het ons al die regte besluite geneem. Die lewe gebeur in die konstante en onstuitbare ritme van tyd. Soms voel dit stadig en lank wanneer pyn en ongemak heers en soms voel dit so vinnig en vlietend as vreugdevolle en goeie dinge gebeur. Tyd is onbuigbaar en wetenskaplik ferm deur die dae, jare en eeue van die geskiedenis.

In die Christelike tradisie het ek geleer dat die die toekoms aan God behoort en dat ek nie beheer daaroor het nie en ook nie uitsprake daaroor kan maak nie. Die toekoms is ‘n tydvak wat met groot respek aan God oorgelaat word.

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”

Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.(Jakobus 34:13,14)

Die respek vir die toekoms word soms uitgedruk in die Latynse woorde Deo Volenti (DV), wat in geskrewe en gesproke taal bygevoeg word. Dit beteken “soos die Here wil”. Eintlik behoort ons verlede en hede ook aan God en ons leef ons ganse lewe in die wil van God. Ons dien ‘n groot God wat buite tyd staan en in Sy oë is ons bestaan net ‘n damp wat verskyn en verdwyn.

Die toekoms is onseker. Ons beheer net hierdie oomblik. Dit is ons moment om die besluite te neem wat ons verlede onder die bloed van Jesus en ons toekoms bepaal. Ons toekoms is soos Eugene Petersen sê: a field of action for the promises of God. Sal dit nie wonderlik wees as al die onsekerheid oor die toekoms verdwyn en ons toekomssukses gewaarborg is nie? Dit is die goeie nuus van die Evangelie – dit is!

Hier in die laaste gedeeltes van Johannes 16 praat Jesus oor dinge wat kom. Hy berei Sy dissipels voor op die tyd na die kruisiging. In Joodse denke was daar twee tydvakke – die huidige en die toekoms.

Die huidige tyd was sleg en onder die oordeel van God.

Die toekoms was die goue eeu van God.

In die middel van hierdie twee tydvakke is: die dag van die Here – ‘n vreeslike dag waarin die huidige bestel heeltemal vernietig word en vervang word met ‘n wonderbestel waarin die Messias sal heers.

In die tydvak tussen die Ou en Nuwe Testamente het hierdie leer nuwe lewe gekry en profete en verskeie self-verklaarde Messiasse het dit verkondig. Die woorde van die ou profete is ingespan vir die doel.

Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word. (Jesaja 13:9)

Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: dié stikdonker dag, die dag van donker wolke waarop die groot  sterk nasie oor die berge uitsprei soos die lig van die dagbreek uitsprei. Só ‘n sterk nasie was daar nog nooit en sal daar nooit weer wees nie, selfs nie in die verste toekoms nie.(Joël 2:1,2)

Ons weet vandag die ramshoring het geblaas met die koms van die Messias en sal weer blaas by Sy tweede koms. Die sterk nasie is die kerk van Jesus, die onsigbare koninkryk op aarde, die Nuwe Jerusalem van Openbaring, soos wat daar nog nooit was nie.

In die Heilige Gees word geloof in Jesus die onderbou van die koninkryk van God.

Christelike vreugde is onafhanklik van omstandighede en veranderinge. Wêreldse vreugde is verkleef aan wêreldse dinge. Christen vreugde kom uit Jesus as bron en niks in hierdie wêreld kan dit wegneem nie. Ons vreugde kom uit die bron van die Heilige Gees en dit is volmaak in die teenwoordigheid van God waarin die Gees ons lei. Dit is vreugde sonder verwyte uit die verlede.

Pyn is vergete net soos na kindergeboorte (16:21,22).

Jesus belowe die volheid van kennis (16:23). Hier op aarde is daar altyd onbeantwoorde vrae en onopgelosde probleme, maar ons leef in geloof, nie op grond van wat ons sien nie. Volle kennis bring ‘n nuwe dimensie in ons verhouding met Jesus. Die deur van die onsienlike is oop deur Hom, daarom kan ons met insig en wysheid leef.

Die volheid van ons verhouding met God is slegs moontlik deur Jesus. Dit is in Sy naam wat ons vra en ontvang.

Jesus praat in paroimia (Grieks) wat beteken dat dit onduidelik vir die gewone luisteraar is. Daar is ‘n sluier oor, wat weggeneem moet word. Dit vereis meer ondersoek en meer oordenking om verstaan te word. Die woord word ook ten opsigte van die gelykenisse van Jesus gebruik.

Hy sê dat Hy die openlike waarheid met hulle praat. Hy sê reguit Hy is van God en Hy gaan terug na God. Dit is ‘n geweldige stelling. Die kruisdood was in hulle oë die dood van ‘n krimineel. Vir Jesus was dit die pad na God!

Die openbaring is dat in Jesus ons God direk kan nader. Jesus verander die houding van mense teenoor God. Hy is die openbaring van die hart van God. Hy stel God aan die mens voor as ‘n liefdevolle Vader en nie die woedende, verwoestende God wat die profete en karakters in die Ou Testament weerspieël het nie. Dit is vir hierdie openbaring dat Jesus sterf.

Jesus se werk is klaar. Hy kom uit die Vader en deur die Kruis gaan Hy terug. Sy dissipels is die geliefdes van God omdat hulle Jesus ken en liefhet.

Die dissipels gee alles aan Jesus oor (16:29-33). Hulle maak ‘n geloofsprong oor die dinge wat hulle nie verstaan nie. In verse 17-18 is hulle nog verwar en onseker. In vers 19 antwoord Jesus die vrae in hulle harte wat hulle nog nie uitgespreek het nie. Dit bring geloof. Hy toon aan hulle God se glorie en liefde en beantwoord hulle diepste twyfel. Jesus het volmaakte kennis van God sowel as die mens.

Jesus is realisties. Hy weet watter effek die kruisigingsdag op hulle gaan hê. Hy weet dis ‘n donker tyd van verwarring, verraad en teleurstelling. Hy weet hoe hulle gaan reageer en Hy het hulle lief ten spyte daarvan. Selfs met die volle kennis van hulle vernedering van verraad en vrees, vertrou Hy hulle met Sy boodskap en missie!

Is dit nie verstommend wonderbaar nie?

Hulle reaksie in pyn sal hulle nie van die oorwinning in hulle lewe beroof nie.

In hierdie unieke moment in die geskiedenis waar hierdie gesprek plaasvind, is vergifnis en vertroue saamgebind in ‘n onbreekbare geestesband.

Jesus vertrou hulle ten spyte van mislukking en die skuld wat daaruit voortspruit.

Hy het geweet Hy sal alleen aan die kruis hang. Sy oog was op God en nie op mense nie. Hy het geweet Sy vriende gaan Hom verlaat en Hy vergewe hulle in die toekoms in. Hy het hulle innig lief terwyl Hy hulle swakhede ken en vergewe.

Hy gee hulle vrede. Hy vertel hulle Hy weet van hulle toekomstige mislukking en dat dit geen verskil aan Sy liefde maak nie, sodat hulle nie in teleurstelling en vernedering vergaan nie. Dit is die wonder van goddellike simpatie met die mens.

Jesus weet jou sonde sal jou seermaak. Jou sonde doen niks aan Hom nie. Hy is veilig in Sy Vader. Hy wil dat ons sonde oorwin en dat sonde en mislukking ons nooit van Hom af weghou nie. Die duiwel sal aanval met skuld en skande, maar Jesus vergewe en herstel.

Die gawe van Jesus is moed en oorwinning.

Die dissipels word getuies van die belangrikste gebeure in die geskiedenis. Die wêreld op sy slegste kan Jesus nie oorwin nie.

Hoor jy die woord van God oor jou toekoms?

Jou mislukking, die lewe se tragedies en hartseer, die slegste van die slegste sal nie die finale oorwinning in Christus verander nie. Die lewe se slegste scenario bepaal nie jou toekoms nie.

Jy is ‘n kind van die Allerhoogste God!

 

 

 

113. Waar skryf jy ‘n nul?

Hoe lank duur ‘n leeftyd nou eintlik? Wat is daar binne ‘n leeftyd wat konstant bly? Verandering kom so gou, beplan en onbeplan. Kyk vir ‘n oomblik terug oor die afgelope vyf jaar en dink aan al die dinge wat verander het. Dit is soms moeilik om tred te hou met gebeure, mense en omstandighede.

Dink nou aan ‘n duisend jaar. Kan enigiemand jou moeg maak met die gedagte van ‘n duisend jaar. Ons kan skaars die honderd jaar wat die sterkste onder ons leef, beheer.

So hoekom sal ons in ‘n millenium belangstel? ‘n Duisend jaar is soveel meer as ‘n lewensduur en werklik moeilik begrypbaar.

Ek kan goed onthou hoe my ma haar berekeninge in haar besigheid, voor rekenaars en sigbladverwerkings gedoen het. Sy het haar eie sigblaaie gemaak. Sy het papiere aanmekaar geplak om die oorsig oor die berekeninge makliker in ‘n oogopslag te sien. Dit was maklik om hier en daar ‘n ekstra nul in te skryf of uit te laat, wat dan alles omvergooi. Miskien het sy een van die foute besef toe sy oor nulle filosofeer.

Dit maak baie saak waar jy die nulle in jou lewe skryf, het sy gesê. Nulle voor die een beteken niks. Nulle na die een voeg waarde toe. Sorg dat jy die nulle van jou lewe (jou eie pogings) ná die Een leef. Wanneer ons ons lewe “bereken” is dit net wat na die Een, wat soos die Kruis van Jesus geskryf word, kom wat werklik ‘n verskil maak.

Hier in die 20e hoofstuk van Openbaring is ons weer by die getalle van Openbaring, soos ons voorheen al bespreek het. Die hele gedagte van ‘n duisendjarige vrederyk waarin die Messias regeer, vind sy oorsprong in Joodse geskrifte. Die “dogma” as mens dit so kon noem, het grootliks verskil en afgehang van die tendense in die gemeenskap en die status van die leraar wat dit verkondig. Dit was veral gewild in die eeue voor die geboorte van Jesus. Dit is nie Christelik in oorsprong nie.

Voor Jesus se geboorte het die kerkleiers gevoel dat die wêreld inherent so sleg is dat die koninkryk van God en die Messias nie in hierdie realm kan kom nie. Uit hierdie siening het die gedagte van ‘n beperkte Messiaanse regering ontstaan, waarna die finale afrekening sou plaasvind.

Sommige historici sien die wêreldgeskiedenis in ‘n reeks van weke. Daar is sewe weke in die verlede, In die agste week sal die gelowiges met die swaard regeer en die huis van God bou. In die negende week sal boosheid vernietig word en geregtigheid floreer. In die tiende week sal die oordeel kom en daarna die ewigheid van God se goedheid.

Die psalmdigter vra God om die jare van lyding met jare van vreugde te vervang (Psalms 90:15). So het die gedagte ontstaan dat die goeie jare net soveel as die slegte jare sal wees.

Selfs meer gewild was die gedagte dat ‘n duisend jaar soos ‘n dag in die oë van die Here getel word.

 Want duisend jaar is in u oë soos die dag van gister as dit verbyskiet, en soos ’n nagwaak. (Psalms 90:4)

Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. (2 Petrus 3:8)

Die ou Hebreeuse skrywers het geleer dat elke dag van die skepping ‘n duisend jaar was. Die Messias sou in die sesde duisend jaar kom en Sy regering sou die sewende duisend jaar, die ekwivalent van die Sabbat, duur.

Hierdie hoofstuk in Openbaring wys dat Millenarianisme in die vroeë kerke redelik gewild was. Augustinus het die leer vergeestelik en in ‘n groot mate die verwagting van letterlike vervulling stadig laat sterf. Hy het die oorwinning oor Satan deur die gelowiges, die ware volgelinge van Christus as die regering van die Millenium gesien. Vanaf die geboorte van Jesus is die koninkryk van God op aarde gevestig en dit is die opstanding uit die dood van sonde van elke wedergebore Christen, wat sy plek as soldaat en stryder teen boosheid inneem en uitleef.

Die ewige heerskappy van die groot rots van Daniël 2:44, 7:14,27 is die koninkryk wat Jesus met sy eerste woorde van bediening bevestig het.

Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. (Matteus 3:2)

Ek dink mens kan heeltemal veilig die interpretasie dat ons in die simboliese millenium leef, aanvaar. Die regering van die Messias is ingelei deur Jesus se lewe op aarde. Johannes het die millenium-gedagte ingesluit om te wys dat Jesus die antwoord eens en vir altyd op AL die verwagtinge van die Messias was en dat Hy deur die kerk, Sy heerskappy op aarde gevestig het.

Die getal duisend is gebruik om menslike ontelbaarheid uit te druk. Psalms 50:10 sê dat die vee op ‘n duisend heuwels aan die Here behoort en Job 9:3 verklaar:

As jy ‘n saak teen Hom sou wou voer, sou jy Hom nie eers op een vraag uit duisend kon antwoord nie.

Die slang is die “ou duiwel” (20:2) die vyand van die mens. Hy was daar in die Tuin by die eerste Adam se verleiding en het ‘n gemors van verwoesting en tragedie oor die wêreld losgeruk. Hy is die aanklaer van God se kinders en die teenstaander van God en mens.

Die afgrond (20:3) is gesien as ‘n onderaardse spelonk waar die afgestorwenes gegaan het. Dit was die onderwêreld of onderaardse diepte wat die duiwels gevrees het toe Jesus hulle uit die besetene van Gadara uitdryf. (Lukas 8:31)

Die onderaardse diepte word geseël net soos die graf van Jesus geseël is. God maak oop wat Hy oop wil hê. (Matteus 27:66)

Die duiwel wat losgelaat is, spreek van ‘n toetstydperk vir die Christene. Geloof wat getoets word, is blywend. Die wat in Christus sterf en die wat in Hom leef sal hulle loon ontvang en saam met Hom regeer in hulle bevoegdheid as regters. (20:4)

Die trone is die van die 24 ouderlinge, die kerk. Die ouderlinge word vier maal in Openbaring genoem. Hulle is die verteenwoordigers van die kerk op aarde en in die hemel (Daniël 7:22,27, Matteus 19:28, Lukas 22:30, Hebreërs 12:1,2) en word saamgestel uit die 12 stamme en die 12 apostels.

Diegene wat onthoof is, is die simboliese verwysing na die martelare en enigiemand wat vir die Evangelie ly.

 Oordeel wat van ‘n troon kom is ‘n konsep wat dikwels in die Nuwe Testament voorgekom het. Jesus het self gesê dat sy dissipels op trone saam Hom sal sit en die 12 stamme oordeel (Matteus 19:28). Paulus herinner die gelowiges aan hulle oordeelsplig. Dit is nie die tipe oordeel wat ons aan dink soos in ‘n hof met ‘n hamerslag en vonnis nie. Dit is die verpligting om te besluit om die regte ding te doen. Ons weet nou al wat die waarheid is, om Jesus, dié Waarheid, te ken. Ons kan nou al die leuens van die wêreld onderskei. Ons oordeel daagliks, om in moeilike omstandighede, waar bedrog en verraad heers, die regte keuses te maak.

Die dood het geen mag oor die gelowiges nie. Die fisiese dood is die oorgang na die ewigheid. (20:6)

Priester beteken brug-bouer volgens die Latyn, pontifex. Die priester bou ‘n brug tussen die mense en God. Ons het die voorreg om mense na Jesus te lei. Ons is die heilige volk, die koninklike priesterdom wat in Jesus brûe bou na God toe.

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.(1 Petrus 2:9)

 Die kerk sal saam met Jesus regeer. In Christus is die mees gewone mens ‘n koning wat regeer.

In die volgende verse word die finale rebellie beskryf (20:7-10). Satan wil die einde verhaas aangesien die geleentheid vir redding verbygaan. God is in beheer van die tye. Die vier uithoeke van die aarde beteken die ganse aarde.

‘n Groot en gedugte mag wat optrek teen Jerusalem is een van die sentrale gedagtes in Joodse teologie. (Daniël 11:1-45, Sagaria     14:1-11)

Die stryd van Gog en Magog vind ons in Esegiël 38:1-23 en 39:1-29. Hulle sal optrek teen Jerusalem en uiteindelik totaal deur die Messias oorwin word.

Dit is nie ‘n fisiese, militêre stryd nie. Die stryd is geestelik. Ons leef in die geestelike dispensasie na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag. Die fisiese Jerusalem is vervang met die nuwe Jerusalem, die kerk van Jesus.

In die laaste verse word die finale oordeel beskryf. (20:11-15)

Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn. (Romeine 14:10)

Ons moet immers almal voor die regterstoel van Christus verskyn, (2 Korintiërs 5:10)

Hierdie skrifte bevestig die eenheid van God en Jesus. Daar is net een regterstoel van die Drie-eenheid. Dit is kern belangrik vir die Jode om dit te verstaan. Die Hebreeuse God is een, in teenstelling met die veelvuldige gode van die heidennasies om hulle. Hulle bely met oortuiging Deteronomium 6:4:

“Hear, O Israel: The Lord our God, the Lord is one!

 En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. (Openbaring 20:11)

 Hemel en aarde sal vergaan, maar Jesus se woorde nooit. (Markus 13:31). Sien ook 2 Peterus 3:10, Psalms 102:25-27.

Die boeke word geopen. Daar is twee soorte boeke wat in Openbaring genoem word. Die Boek met die sewe seëls en die Boek van die Lam. (Daniël 7:10 en Openbaring 5, 13, 17 e.a) Ons juig by die oopmaak van die Boeke. Ons word die kosbare besitting van die Here. (Maleagi 3:16-18)

 God se boeke word dikwels in die Skrif genoem. Moses is gewillig om uit die Boek van die Lewe uitgewis te word ter wille van die volk (Exodus 32:32). Die psalmdigter vra dat die bose uit die Boek van die lewe uitgewis moet word (Psalms 69:28).

Paulus praat van mede-arbeiders wie se name in die Boek van die Lewe opgeskryf is (Filippense 4:3). Aan Sardis word die belofte gemaak dat hulle name nie uit die Boek van die Lewe gehaal sal word nie (Openbaring 3:5).

Elke heerser van die antieke wêreld het ‘n boek gehad waarin die name van die burgers opgeteken is. Dawid het die volk getel, die Romeine het gereeld ‘n sensus gehou. Dit is juis die rede waarom Josef en Maria uit Nasaret na Bethlehem moes gaan.

Die Boek van die Lewe is ‘n rekord van die geestelike, lewende, aktiewe burgers van die Koninkryk van God. Niks, nie eers die dood nie, kan jou naam uit daardie Boek verwyder nie.

Hoewel die kinders van God doodgaan, is hulle lewend in die onsienlike koninkryk van God.

Die see sal sy dooies teruggee. Vir die antieke wêreld was ‘n begrafnis van die grootste belang. Mense wat op see doodgegaan het, het geen begrafnis gehad nie. Johannes troos al die bygelowe en sluit almal in die uiteindelike opstanding in.

 Net so met die doderyk waar mense vir die opstanding gewag het. Met die opstanding van Jesus is die doderyk leeggemaak.

 Alle dood word onder die opstanding van Jesus in oorwinning omskep. Satan het geen mag in die finale opstanding nie. Prys die Here!

 

60. Laat daar Lig wees

Net Een het ooit gesê:

Ek is die Lig van die Wêreld.

LightoftheWorld

LAAT DAAR LIG WEES

Kotie Schoeman

Uit die eeue van vergetelheid

toe duisternis die hemelruim omring

het daar ‘n God’lik Wese afgekyk

om onbekende planne uit chaos voort te bring.

Met grootse skeppingsdrang

roep Hy die lig

en skoonheid onbeskryflik

het alle duisternis vervang.

 

Maar aan die sy van die Alwyse

werk ook die Medekunstenaar

en vol verlustiging het Hy aanskou

hoe die Alwyse, die mooiste

skoonste skepping bou.

Hy het die watervloede reggestel

en soet fonteine op laat wel

so het blydskap lig en lewe

God’s skepping sag omvou.

 

Vanuit ‘n ligpaleis so ver…

so ver in die verskiet

het hemelsang verrys, lofsange

wat net die Skepper prys

en oor die tralies van die hemelland

het engele ver geleun

om af te kyk en te aanskou

die skepping

van die Vader en die Seun.

En toe het God die hele land

met blom en gras en boom beplant

en diere vir die veld gegee

en visse vir die see.

Die Kunstenaar en die Alwyse wens

‘n wese daar te stel

om soet gemeenskap te geniet

en uit hul skeppingswens

maak Hul die mens.

‘n Weinig minder as ‘n God’lik wese

met eie sin en wil.

Afskynsel van die Ewige

met eer en heerlikheid gevul

om in gehoorsaamheid oor al die skone werke

te regeer, op Sy bevel.

En toe het God gerus,

maar in die awendwind…

wou God, die mens daar vind.

‘n Vreemde duisternis oorval die tuin

‘n helse rook vanuit die put;

die Kunstenaar kom, en vind die puin

en sien hoe lig moes wyk

hoe sielenag gebore is.

Waar is die mens, my skeppingskroon

berou… berou vervul My hart.

Die mens wat Ek gemaak het,

dié mens is nou My smart.

En deur die eeue heen

het daar ‘n stryd gewoed.

In die hart van die alwyse God

was daar ‘n toorngloed

‘n onbetaalde skuldlas

‘n mensdom wat sou boet.

Maar toe het God gespreek

en vir die Hemelkunstenaar het Hy

‘n menslik liggaam voorberei;

want in die Boekrol was dit opgeskryf

‘n Offerlam, ‘n Slaaf, ‘n Prins, ‘n Priestergod,

wat in die stof moes leef en ly.

Een donker nag in Bethlehem,

verrys vanuit ‘n stal ‘n babastem…

en oor die tralies van die Hemelland

het weer eens engele geleun

om af te luister en saam te sing

die lied wat aan die herders bring

die boodskap van die God’lik Lig.

Dié Lig wat daardie sielenag

vir ewig sal verdring.

En niks is daar in die gans heelal

wat hierdie Lig kan doof

Selfs ook die helse nag vanuit die put

moet wyk, voor die geloof

van Sy bemindes.

Want Hy, die Hemelkunstenaar,

het deur Sy eie dood die prys betaal,

en nou kan ons deur Sy geregtigheid

gemeenskap met die Vader hê,

en leef in alle ewigheid.

Dis met groot vreugde dat ek hierdie gedig van my ma publiseer vir hierdie Kerstyd.

Ek bid vir Bodemklippe oor die Kersseisoen,  vir elkeen wat hierdie lees en toelaat dat die Woord harte raak en verander.

Baie liefde

Ansophie

41. Vra enigiets – wat wil jy hê?

Net vir ‘n oomblik – sit stil, maak toe jou oë en antwoord die vraag – wat wil jy hê?

Spreek dit uit ….of beter nog – skryf dit neer, met die datum. Beste – stop die video en dink. Soos die Psalmis sê – SELA pause and calmly think about it.

Dis eintlik ‘n moeilike vraag. Moeilik – omdat dit jou diepste wese ontbloot. Wat is vir jou die maat van sukses, oorwinning, die beste? Wat wil jy vir jou kinders hê? Ons kinders van die Here is nie dobberend op die lewensee van koue ambisie en wrede waardes en weelde nie. Ons is welvarend en suksesvol met ‘n doel! Ken jy die doel? Weet jy waarheen jy oppad is? Waarvoor werk jy?

Kom ons praat oor die toppunt van sukses – by die gebrek aan ‘n beter uitdrukking – jou ultimate. Ek kan nie regtig ultimate vertaal nie, want dit het in die Engelse idioom so ‘n ietwat groter betekenisnuanse as net die “uiteindelike” waarmee dit vertaal word. Ek praat nie van die einde van jou lewe nie. Ek praat van NOU.

Stap saam met my verder in die boek Samuel – ‘n belangrike hoofstuk en ‘n ou bekende storie – een wat jy as kind in die Sondagskool gehoor het. Mense wat skaars die Bybel ken, ken hierdie storie. Die storie van Dawid en Goliat ……… praat van sukses!

1 Samuel 17.

Dawid is reeds gesalf as die volgende koning, maar hy werk nog steeds vir sy pa as skaapwagter. Samuel se besoek aan Dawid se gesin word baie mooi vertel in die 16e hoofstuk. Hy is baie beindruk met Isai se seuns en dis vir hom duidelik waarom die Here hierdie gesin gekies het, maar God spreek hom aan in die 7e versie:

For the Lord does not see as man sees; for man looks at the outward appearance, but the Lord looks at the heart.

So verskyn Isai se seuns een vir een voor Samuel en die Here kies nie een van hulle nie. Dawid word uit die veld geroep en voor sy gesin as die volgende koning van Israel gesalf. Hoewel hy uitgesonder word, is Saul nog koning en gaan alles maar net so voort, asof niks verander het.

Die ewige doring in die vlees van Israel se bestaan, die Filistyne, trek op teen Israel. Saul stel sy weermag by die vallei van Elah op sodat die twee weermagte aan beide kante van die vallei mekaar kan sien en bedreig. Die Filistyne het ‘n kampioenvegter, ‘n soort middelman, wat die uitslag van die oorlog moet bepaal. Daar is dikwels in die antieke tyd van hierdie metode gebruik gemaak. Daar is volop voorbeelde in die Griekse mitologie ook. Achilles was so ‘n kampioen.

Die uitdaging word gestel – indien enigiemand hierdie reus kan oorwin, dan gee die Filistyne oor en Israel word as oorwinnaar verklaar.

Die wapenrusting van hierdie krygsman word fyn beskryf. Dis nie genoeg dat hy buitengewoon groot van postuur is nie, hy het die beste wat die antieke oorloguitrusting in terme van beskerming kan bied, aangetrek. Die figuur van Goliat is intimiderend en vreesaanjaend en met sy woorde van uitdaging weet mens hy is baie bewus van die vrees wat hy inboesem. Dis deel van die strategie – breek die gees, speel op die emosies, laat die oë van die Israeliete die boodskap van vernedering goed in hulle gemoed invryf.

Die strategie werk. Hulle is stilgeskrik, geen beweging en geen plan kom uit die Israeliese weermag nie. Drie van Dawid se broers is soldate in die weermag van Saul en sal deel in die heerlike oorwinning, maar hulle sit saam met die res in ‘n skoktoestand van hopeloosheid – 40 dae lank. Dis ongeveer 6 weke en mens kan amper dink die Israeliete is al gewoond aan hierdie dreigpraat. Al hulle kreatiwiteit en oorspronlikheid word lamgelê deur vrees.

Dawid kom vars op die toneel. Na so ‘n lang tyd het hulle pa seker bekommerd geraak oor voorrade en besluit om Dawid by die skape weg te kry en oorlogsveld toe te stuur. Hy arriveer op die toneel en hoor die woorde van Goliat wat Israel se weermag uitdaag. Hy ervaar die effek daarvan op die Israeliete en staan verstom toe hulle wegvlug van die dreigement.

Onder die Isrealiete is die groot beloning wat Saul bekend gemaak het vir die oorwinning van die reus, groot nuus. Die beloning is lewenslange voordeel – die koning se dogter, groot rykdom en vrystelling van belasting vir sy pa. Lewenssukses is gewaarborg in die beloning van die koning vir die man wat die reus oorwin. (v 25)

Dawid vra daarna in vers 26. Hy staan nie ongaangeraak deur die beloning nie en voeg sommer by:

For who is this uncircumcised Philistine that he should defy the armies of the living God?

Sy broer is sommer woedend en sien dit as ‘n belediging vir die soldate van Israel. Hy trap Dawid uit en in sy woorde van tipiese broerbaklei, vertel hy vir Dawid goed wat sy plek is en dat hy hoogstens ‘n toeskouer kan wees. Dawid is na alles net die kleinboet, nog nie eers as soldaat uitgestuur saam met die weermag nie. Dawid se uitdagende houding word aan Saul gerapporteer en Saul roep hom.

Voor Saul, offer Dawid om die reus te veg. Daarvoor is Saul glad nie te vinde nie en soos enige verantwoordelike persoon in daardie posisie wil hy vir Dawid ontmoedig. Maar Dawid steun op sy eie getuienis en vertel van sy noue ontkomings met wilde diere in die veld by die skape. Hy is gewoond om op die Here te vertrou, maar weet ook dat hierdie situasie ernstiger is as wat hy dusver ervaar het.

Ons het almal ons Goliat. Een of ander tyd moet hy gekonfronteer word. Soms is dit ‘n situasie buite onsself – moelike kollegas of werksomstandighede, kinders se dinge, verhoudings, maar dikwels is dit iets binne onsself – vrees, obsessionele gedagtes of bekommernis, onsekerheid, ongeloof, wantroue, woede, siekte van watter aard ookal, bitterheid en verwonding. Goliat staan en daag jou uit, praat jou negatief en moedeloos, breek jou geloof af totdat jy nie meer in staat is om die Almag van die lewende God te sien nie. Jy het ‘n vars perspektief nodig, ‘n nuwe fokus, bewuste optrede. Dis ‘n tree oor die afgrond, ‘n oefening in vertroue en geloof, ‘n vasgryp aan dit wat jy weet die Here kan doen, ‘n opvulling van die Heilige Gees wat nuwe woorde in jou mond sit.

Saul doen wat enige ouer vir sy kind wil doen. Trek vir hom sy eie wapenrusting aan. Hy het die ondervinding. Hy weet wat werk in oorlog. Sy wapenrusting het die toets van die tyd weerstaan. Wat kan nou beter wees as die koning se wapens! Enige ouer sal op enige gegewe tyd van ‘n jong kind se lewe, voel hy is nie naastenby toegerus vir die lewe wat hy moet ingaan nie. Tog kan hy nie ‘n tree verder kom in jou wapenrusting nie. Jou wapentrusting wat die Here oor jare vir jou aantrek, is nie vir iemand anders nie. Dawid het Goliat tegemoet gegaan met sy eie karige wapens.

Stel jou vir ‘n oomblik hierdie toneel voor met die kinematografie van die hedendaagse Hollywood. Hier stap die figuur van Dawid af in die vallei. Ek kan my voostel dat die Israeliese weermag doodstil word soos die nuus versprei dat Dawid na die reus oppad is. Die Filistyne wat sien iets is aan die gang, kom nader en staar ongelowig na die figuurtjie – miskien is hy net die boodskapper wat die oorgawe kommunikeer. Hy is duidelik nie ‘n soldaat nie.

Dan kniel Dawid. Hy moet kniel om die klippies vir sy slingervel op te tel. Hy lyk besonder blootgestel in hierdie omgewing, onbeskermd (sonder ‘n wapendraer soos Goliat het), heeltemal alleen in die vallei wat oor weke ‘n heksebroeisel van vrees en arrogansie geword het. Hy kniel tussen twee reuse – Goliat en Saul (onthou Saul het uitgestaan onder die volk). Hy ignoreer die woud van spiese en skilde wat aan beide kante wag. Op die oomblik wat hy daar kniel is die realiteit van die vyand onderworpe aan die dominansie van sy persepsie van sy God. In Dawid se gemoed (en noem dit verbeelding) is God groter as enige reus wat die wêreld vir hom opdis. Op sy knieë is hy besig om Heilige Gees wapens te kry, en in die oë van almal, teen-intuitief vir enige soldaat wat die gevaar van die oomblik onderskei, weerloos en ‘n oop teiken.

In die oë van die mense is dit dieselfde denkpatroon wat van Goliat ‘n reus maak, wat van Dawid ‘n klein onindrukwekkende figuutjie maak. Hulle sien nie soos God nie. Hulle kyk na die uiterlike. Daaruit maak hulle die afleiding van nederlaag en hulle is almal verkeerd.

In die veld by die skape is Dawid se bewustheid van God gevorm. Hy het Sy Teenwoordigheid ervaar, Sy uitkoms. Hy het met sy lier die grootheid en Almag van sy God besing. In sy verbeelding was God die reus en Goliat klein. Hy kon nie verstaan dat almal wat die lewende God dien, dit nie besef nie.

In daardie oomblik van bizarre omgekeerde magspel, kry Goliat se grootheidswaan ‘n ernstige knou. Toe hy besef Dawid maak gereed om te veg, kon hy sy oë nie glo nie. Hy vaar uit en beledig Dawid dat hy dink hy kom ‘n hond veg met stokkies. Hy vervloek hom en die Filistyne spot en lag en vertel hom hoe hulle sy lyf vir die voëls en die wilde diere sal voer.

Dawid se woorde is die onsigbare swaard wat hy optel, wat geen Filistyn ooit, antiek of modern, kan hoop om te sien nie. Die Naam van die Here. Sy uitdagende houding is Heilige Gees inspirasie wat profeties die nederlaag van die Filistyn uitspel. Dawid besef hy is in ‘n oomblik om die Almag van God sonder wapen te bewys. Dis God se oorlog, God se geveg, God gaan wen – nie Dawid nie. Sy mond is vol van die groot dade van God en die fokus is totaal van aardse wapens afgehaal……for the Lord does not save with sword or spear, for the battle is the Lord’s and He will give you into our hands. (vers 47)

Hy haal die klippie uit, swaai die slingervel en die klippie sink in die reus se voorkop in. Soos die kinderliedjie sê: Net een skoot en die reus was dood. In vers 50 van die hoofstuk staan interessante woorde:

So David prevailed over the Philistine with a sling and a stone, and struck the Philistine and killed him, but there was no sword in the hand of David.

Ek wil amper uitroep – ja, die swaard was in sy mond en natuurlik in God se hand.

Die gevolg – pandemonium. Ons is nog steeds in ons Hollywood-toneel. Die Filistyne se skok, hulle paniek-vlug, die Israeliete se vreugde-skok, oorwinningskrete en buitversameling. Ek dink dis veilig om te sê dat daardie dag nie verloop het, soos enigeen in daardie twee kampe verwag het nie. Dis ‘n Goddellike ingrepe – iets nuut, onverwags, onbekend. Die vrouens sing.

Dawid keer terug na Jerusalem met Goliat se kop as die simbool van sy oorwinning. Die voëls en wilde diere het sekerlik sy lyf opgevreet, net soos hy voorspel het met Dawid gaan gebeur.

Hierdie oorwinning is triomf op meer as een vlak. Dit het ‘n effek op die ganse volk. Israel was op die punt om sy identiteit as God se volk en sy wonderwerk-geskiedenis prys te gee. Dawid se sukses het invloed in die publieke sfeer gehad, net soos ons eie sukses, privaat sowel as publiek invloed uitoefen.

Ter afsluiting – wat wil jy hê? Oorwinning oor Goliat en die buit, plus die beloning en glorie wat daarmee gepaard gaan. Alles saam die waarborg van lewenssukses.

Kies nou – hemel en aarde word as getuie geroep – kies die lewe, kies die Woord, kies jou getuienis van oorwinning, versamel jou bodemklippe…..

 

 

 

 

23. Die lokval van vrees – skerp pyn in ystertande!

 

Ek het iewers gehoor dat die frase moenie vrees nie 366 maal in die Bybel herhaal word, dus een vir elke dag van die jaar en ‘n ekstra. Ek weet nie waar ek dit kan bevestig nie, maar dit maak absoluut sin. Een van die heel belangrikste strategieë van die vyand is VREES. Dit lê jou lam, bepaal jou besluite, beinvloed jou verhoudinge en kan sukses van jou steel. Dit is ‘n lokval, gestel uit die hel, en as jy inval dan pynig die ystertande van vreesgedagtes jou gemoed.

Onthou die duiwel is nie kreatief nie en kan niks nuuts uitdink nie. Die Woord is ons handboek vir die lewe en daarom kry ons ALLES wat ons nodig het daaruit. As mens mooi kyk na die manier waarop die duiwel die oorhand in mense se lewens kry, dan is alles in die Bybel opgeskryf.

Kyk maar goed na die verhale en identifiseer die strategie:

  • Adam en Eva – die Woord van God word bevraagteken by Eva wat nie direk by God gehoor het nie. Sy het volgense hoorsê by Adam die bepalings oor die Boom van Kennis gekry.
  • Abraham wat ongeduldig raak en selfs inspring om vir hom ‘n nageslag te bewerkstellig.
  • Dawid wat verlei word toe hy  eintlik by sy soldate op die slagveld moes wees.
  • Die konings van Israel se geskiedenis van hoogmoed en die grootsheid van die lewe.
  • Die pogings om Jesus te versoek soos opgeteken: – Skrif wat uit konteks aangehaal om die Woord ‘n leuen te maak.

So kan mens die duiwel se strategieë bestudeer en reduseer en voorberei daarvoor deur die beloftes in die Woord te leef.

Een van die lokvalle wat hy vir ons stel is VREES. Soveel gemoedsteurings en selfs fisies simptone kan terugherlei word na vrees en angs. Dis ‘n siekte van ons tyd, stres in al sy vorme, spanning oor die sorge van die lewe.

Ons gee baie name en baie pille – maar op die ou end weet elkeen hoe voel die kloue van vrees wat jou vasgryp.

Kom ons begin by die geloofsheld Abraham.  In Genesis 15:1 sê die Here vir Abraham:

Do not be afraid, I am your shield, your exceedingly great reward.

Hierdie is ‘n verbondsbelofte. God het vir Abraham gesê dat in hom al die nasies van die aarde geseën sal wees. Romeine 4:13 sê dat hierdie belofte ons toekom nie deur die wet (ons goeie dade of lewe nie) maar deur GELOOF.

Die belofte dek ons hede sowel as ons toekoms. Die skild is ons sekuriteit vir vandag, die loon is ons toekoms se gewaarborgde sukses. Daar is niks wat in jou lewe as kind van God kan gebeur wat jy nie kan hanteer en oorwin saam met die Here nie. Dit is die eerste vreesoorwinnigsbeginsel.

Jy is veilig in Sy hande. Weer is ons terug by Exodus 34 waar die Here Homself beskryf as oorvloedig in goedheid en waarheid. Jeremia 29 bevestig dat Sy planne vir ons is planne van voospoed met ‘n hoop en toekoms.

Nehemia 13:2 sê: Onse God sal hierdie vloek in ‘n seën verander.

Romeine 8:28 ALLE dinge werk mee ten goede vir die wat die Here liefhet.

Hierdie is die pilaarskrifte wat mens moet onthou as dinge “verkeerd” loop en ek sit dit in aanhalingstekens. Dinge loop volgens ons verkeerd.

Lewensuitdaging: Kan jy die Here so vertrou dat jy die pad waarin Hy jou lei aanvaar en dit nie as ‘n afdraaipaadjie beskou nie. Die afdraaipaadjie-konsep is net in jou eie kop en ‘n gebrek aan openbaringskennis wat nie ingestel is om Sy liefdevolle leiding te herken nie.

Die EERSTE vreesoorwinnigsbeginsel is dus – Ontspan in God se Hande en Sy plan.

Die TWEEDE vreesoorwinnigsbeginsel is die opdrag van die ganse Skrif – MOENIE VREES NIE.

God sê dit vir Abraham, vir Joshua in 1:9, Dawid se psalms is vol van sy hantering van sy vrees, angs en depressie. Jesus kom herhaal hierdie lewensbeginsel in Matteus 6: 25 – 34. Kyk net saam met my hoe ‘n uitvoerige rede Jesus hier aanhef oor bekommernis. Hy verduidelik, illustreer, herhaal en beklemtoon die absolute vergeefsheid van bekommernis.

Jesus verbied bekommernis – nie sinvolle beplanning vir die toekoms nie. Hy vereis nie ‘n roekelose ontkenning van verantwoordelikeheid nie. Hy praat van die vreesgevulde maalkolk wat jou vreugde en vrede steel. Die woord is MERRIMNAN angsvolle bekommernis.

Jesus beklemtoon in vers 25 dat God ons lewe gee en Hy sal daardie lewe onderhou. God is die Skepper van die liggaam en Hy sal ook aan al die behoeftes van die liggaam voldoen. Hy illustreer met die voëls van die hemel en die lelies van die veld. Twee pragtige illustrasies van oorvloed en skoonheid. Dis hoe Hy sorg – uit Sy onuitputlike bron. Hy wys daarop hoe nutteloos bekommernis is. Kan jy jou lengte wysig met bekommernis. Dan gaan Hy selfs verder en sê dat bekommernis ‘n kenmerk van ‘n heiden is, nie van iemand wat die Here ken nie. HARDE WOORDE. ‘n Heiden het geen god of hy glo dalk aan ‘n kwaai, onvoorspelbare god. Daarteenoor is ons wat ons God pappa noem. Ons kan rus in Sy liefdevolle voorsiening op elke gebied. Dus gehoorsaam die opdrag – moenie bekommer nie. Maar HOE?

Hier is die DERDE vreesoorwinningsbeginsel. In vers 33  word die genesing vir alle bekommernis uitgespel. In die heel eerste Bodemklip – gesprek het ons gekyk na die vers in Fillipense 1: 9:

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.

Die Amplified praat van: keen insight, greater depth of acquaintance, and more comprehensive discernment. So that you may surely learn to sense what is vital and approve and prize what is excellent and of real value.

Dit is ons strewe. Om altyd te weet wat is belangrik. Dis hoe mens met wysheid optree.

In Matteus 6 :33 gee Jesus die opdrag: Soek eers die koninkryk van God en Sy geregtigheid (definisie van geregtigheid: conformity to the revealed will of God in all respects) en al hierdie dinge (al die benodigdhede van ‘n oorvloedige lewe wat Hy nou net van gepraat het), sal vir jou toegevoeg word.

Dit beteken nie dat elke bekommernis ‘n sonde en ‘n direkte daad van ongehoorsaamheid is nie. Dikwels dryf bekommernis jou tot aksie en kan jy stappe neem om die dinge vas te vat. Ek praat van die vretende, draaikolk van nuttelose windmeul-gedagtes oor dinge wat jy geen beheer oor het nie, en wat jy in gebed  moet oorgee sodat die vrede wat alle verstand te bowe gaan jou hart en jou sinne (gemoed) kan bewaar. Fillipense 4:6, 7.

Die verhaal van Martha en Maria se keuses in Lukas 10: 38 – 42 is baie bekend. Daar was nog altyd so ‘n steurende lyn vir my in die verhaal, want ek is ook iemand wat graag sorg en kook en huis regmaak ensovoorts. My natuurlike simpatie is by Martha. Om te sê jy is ‘n ou Martha is eintlik ‘n belediging. Met eerste oogopslag lyk dit so, maar ‘n dieper kyk is nodig.  Die verhaal gaan oor lewensprioriteite en nie die alledaagse nie. Die rondhardloop rondom die sorge van die lewe en die alledaagse kan in jou groei tot ‘n afgod, as dit voorkeur geniet bo die “soeke na die koninkryk” van Maria aan die voete van die Rabbi (leermeester). In die alledaagse is daar geen verlossing van en oorwinning oor vrees nie. Aan die voete  van Jesus gebeur die wonder van verlossing van vrees. Verwag ‘n wonderwerk as jy bid!

Hoe dink jy oor God as jy vasgestrengel voel in gedagtes van bekommernis? Sien jy Sy gesig? Hoe lyk jou Vader? Hy sê in Psalm 32:8:

Ek wil jou onderrig en leer aangaande die weg wat jy moet gaan. Ek wil my OOG oor jou hou.

As jy op hierdie oomblik voel dat die holkol van vrees en spanning op jou maag sit – kom ek seën jou met die priesterlike seën van Numeri 6. SIEN die oog van God op jou en op wie en wat jy oor bekommer.

The Lord bless and keep you

The Lord make His face to shine upon you and be gracious to you

The Lord lift up His countenance upon you and give you peace.

Ontvang dit in die Naam van Jesus met die belofte van Jesaja 26 : 3:

You will keep him in perfect peace whose mind is stayed upon You, because he trusts in You.