Die wêreld is aanmekaargesit van woorde. Alles begin by woorde. Eintlik voor die vorming van die woord by die gedagte wat dan in klank uitgespreek word. Woorde is eintlik gedagtes in klank wat oor ‘n mens se lippe vloei.
Ek was baie beïndruk met die uitspraak van die Woord van die Here oor Samuel.
Samuel het grootgeword. Die Here was by hom en het nie een van Samuel se woorde onvervuld gelaat nie. (1 Samuel 3:19)
Die Engelse idioom druk dit anders uit.
So Samuel grew, and the Lord was with him and let none of his words fall to the ground.
Wat nou as mens andersom sou bid? As mens daardie woorde oor jou lippe laat tuimel en met ‘n skrik-besef bid dat die woorde tog wel op die grond moet val voor hulle ore bereik van die persoon waarna hulle uitgeslinger is, sodat die ondeurdagte en onsimpatieke skerpheid wat jou lippe verlaat, tog net verdamp.
Ons is self aanmekaar gevleg uit God se gedagtes.
En vir my, hoe kosbaar is u gedagtes, o God – hoe oorweldigend is die volle getal daarvan! As ek dit tel, is dit meer as die sand. Word ek wakker, dan is ek steeds by U. (Psalm 139:17,18)
Net soos die Woord so kosbaar God se gedagtes oor elkeen van ons uitdruk sodat dit vir ons ‘n daaglikse versterking kan wees, so is ons woorde uiters belangrik in die uitlewing van wat ons glo. Dit is met ons eie mond dat ons die verklarings van oorwinning of nederlaag uitspreek.
Wat is ons ooreenkoms met die onsienlike? Praat ons God se Woord in die oorwinningskreet van Sy almag en belofte van onvoorwaardelike liefde of praat ons onsself in ‘n nederlaag van hopeloosheid in? Dit is juis ons lewensdoel om Jesus te ken en soos Hy te wees en te praat.
Dit is natuurlik net prakties om te dink dat ‘n dag se eise en ‘n situasie se emosie en ontsteltenis ons uitlok om woorde te laat warrel wat wond. Woorde van woede wat uitborrel en bloed trek uit die siel van die ontvanger en ons eie, want die spyt en verwyt is aaklig.
Jesaja weet sy eie woorde sal tekort skiet in die magtige taak wat God vir hom het. Hy moet waarheid aan die koning spreek, sy rol as profeet uitleef in tye wat die volk nie altyd geneë is om te hoor nie.
Die waarheid is nie die eenvoudige, maklike boodskap wat mens sou dink dit moet wees nie. Meestal is die waarheid onwelkom omdat vooroordeel en egoïstiese eiesinnigheid die gedagtegang van die meeste mense bepaal. Die wêreld soos ek dit wil, is die algemene en populêre uitgangspunt. Dit is hoekom die oortuiging van mense die werk van die Heilige Gees is. Dit is ‘n diep innerlike denkpatroon wat aan verandering en vernuwing onderwerp moet word.
Dit is hoe Jesaja sy woord-taak aan God onderwerp. Dit is nie net nuwe gedagtes, nuwe oortuigings, nuwe woorde om te spreek nie. Hy onderwerp sy anatomie aan God sodat die vernuwing op ‘n alles-insluitende vlak kan plaasvind.
Nuwe lippe.
In die majestueuse visioen by sy roeping sien Jesaja God op sy troon sit en die serafs in aanbidding Sy lof besing. Sy eerste woorde is ‘n klaaglied oor sy eie ontoereikendheid. Hy kerm dit uit.
Ek het gesê: “Wee my, want ek is verlore!
Want ek is ‘n mens met onrein lippe, en by ‘n volk met onrein lippe woon ek. Ja, my oë het die Koning, die Here, Heerser oor alle magte, gesien.” (Jesaja 6:5)
Dit is egter nie die einde van die storie nie, ook van sy visioen nie. God hoor die weeklaag van sy dienaar, net soos Hy altyd ons kerm-roep aanhoor en antwoord. Die seraf raak Jesaja se lippe met ‘n gloeiende kool van die altaar aan.
Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het. Hy het my mond aangeraak en gesê: “Kyk, dit het jou lippe aangeraak, jou sondeskuld het gewyk, daar is vir jou sonde versoening gedoen.” (Jesaja 6:6,7)
Dit is nie die kool van enige altaar nie. Dit is die wierookaltaar uit die Heiligdom, die altaar van aanbidding net voor die Allerheiligste. Dit is die brandende kool van die altaar wanneer aanbidding die salwing van lewende krag in die binneste van die priester word.
Dit is die vuur van reiniging in die oomblik van sondebesef. Jesaja se weeklaag is sy sonde belydenis wat oombliklik ‘n kragtige gevolg dra. Dit is eers na hierdie kragtige vuurproef en die glorie van die Teenwoordigheid van die Allerhoogste, dat Jesaja sy opdrag aanvaar.
Nuwe lippe vir die woorde van die Woord. Brandende kole van die verterende vuur van God self. (Hebreërs 12:29)
Dit is Heilige Gees lippe wat ons vra.
Ek doop julle wel met water omdat julle julle bekeer het, maar Hy wat ná my kom, is my meerdere, en ek is nie eers werd om sy skoene uit te trek nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop. (Matteus 3:11)
Ons self bring die begeerte na die Troon van God. Dit is ons sonde-weeklaag wat die seraf beweeg. Dit is die vuur van die Heilige Gees wat vernuwe en die hout, hooi en stoppels wegbrand sodat ons met gesuiwerde goud ons woorde vorm.
Of dit goud, silwer, edelstene, hout, gras of strooi is waarmee iemand op die fondament bou, elkeen se werk sal aan die lig kom. Die dag wanneer Christus kom, sal dit duidelik word. Die dag kom met vuur, en die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. (1 Korintiërs 3:12,13)
…sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus. (1 Petrus 1:7)
Gaan voort. Vra vir nuwe lippe.