374. Onderwerping met ‘n houding daarby

Ons ken almal die storie van die seuntjie wie hard aangespreek word om te sit en dan wel gaan sit met die aankondiging: Ek sit nou maar binnekant staan ek. Dit is ‘n klassieke voorbeeld van verset en opstand met ‘n goeie skoot rebellie ingemeng.

Dit klink na ernstige emosies vir nou en dan met groot omwentelinge in ons omstandighede, hetsy persoonlik of openbaar.  Tog is dit juis die innerlike storms wat daagliks oor ons waai, ons vasgryp en tot woede of frustrasie uitlok.  Net ‘n paar hoofopskrifte, ‘n paar woorde uit ‘n vyandige houding in ons daaglikse omgang of selfs ‘n onverwagte misverstand tussen vriende, het die potensiaal om ons argwaan op die hals te haal.

Ons ken almal die gevoel wat wêreldpolitiek by ons wek – groot frustrasie en magtelose woede.  Vandag is dit so maklik om dit uit te spreek, nie net privaat nie, maar in die openbaar op verskeie sosiale media platforms.  Dit voel asof soveel partye, instansies en media ‘n agenda navolg om die gemeenskap van goeie waardes en hoë ideale wat oor jare met groot bloedvergieting gebou en bewaar is, af te breek en met chaos te vervang.  Ons streef tog daarna om as beskaafde mense hierdie aarde te bewoon.

Beskaafd?  Wat is ‘n beskawing nou eintlik?  Dit word gedefinieer as komplekse mag oor mense en die natuur met die ontwikkeling van stede, sosiale stratifikasie, ‘n regering, landbou, rekordhouding, grootse argitektuur en gespesialiseerde arbeid. 

Ek sou dit definieer as ‘n orde van samelewing wat aan elke mens die geleentheid ontsluit om sy volle potensiaal uit te leef.  Dit is voorwaar die ideaal wat ‘n politieke en sosiale struktuur behoort te bou.  Dit is egter nie wat gebeur nie en pogings om dit te bewerkstellig, is op hulle beste gebrekkig.

Dit is amper onmoontlik om die groot verdeeldheid in Westerse samelewings te versoen, terwyl vryheid as ‘n hooggeagte gemeenskaplike waarde gekoester word.  Dit is baie maklik om met geweld en vrees te regeer soos wat ons in baie dele van die wêreld sien.  Dit is ook dikwels die mense uit sulke onderdrukking wat na die Weste toe uitwyk en begeer om te leef in die vryheid van spraak en assosiasie wat ons as vanselfsprekend beskou.

Wat kry hulle in die Weste deesdae?  Glad nie wat hulle verwag het nie en ek praat nie eers van diegene wat met ‘n agenda van verset en vernietiging kom nie.

Een van die uitstaande kenmerke van die wette en regulasies rondom die godsdienstige feeste van antieke Israel, was die insluitende aard van die voorskrifte.  

Jy moet bly wees voor die Here jou God – jy, jou seuns en dogters, jou slawe en slavinne, die Leviete in jou dorpe, die •vreemdelinge en die vaderloses en weduwees by jou – op die plek wat die Here jou God sal kies om sy Naam daar te vestig.  (Deuteronomium 16:11 – voorskrifte oor die Paasfees)  Dit is dikwels herhaal vir die toepassing in die sewe  feesvierings oor die jaar.

Slawe en slavinne, vreemdelinge, weeskinders en weduwees – dink net.  As ek hierdie Skrif lees dan breek my hart oor die liefdelose kerk, Christen-gemeenskappe wat meer oor dogma en liturgie te sê het as die brandende sielenood rondom hulle.  Wat kry die “vreemdelinge” in die Weste?  Ons word oorrompel deur hulle en net soos Israel van ouds deur hulle “vreemdelinge” met afgodery, vals aanbidding, immoraliteit en gewelddadige instellings oorweldig is, is die Weste in gevaar van ‘n afkraking van die goeie sedes in die eeu-oue tradisie van boosheid wat alles wat goed is wil vernietig.  

Die immigrante van vandag kry voorgee-Christene wat nog nooit ‘n besluit geneem het om Jesus te volg nie, en tog onder die naam van Christen hulleself voorstel.  Hulle is so ver van God en sy hart wat brand vir die mens, sy Skepping, dat alles wat hulle van God sê as skinder afgemaak kan word.  Hulle ken hom nie.  Dit is ‘n afwatering van die waarheid wat Jesus kom leer en leef het. Die boodskap, soos geleef in die leuen van naam-Christen, is sonder krag en inhoud.

Dis net sowel iemand praat oor my, hoe ek my huis hou en hoe ek mense onthaal, maar hulle was nog nooit by my aan huis nie en het my nog nooit ontmoet, hoewel ek hulle al uitgenooi het.  Net so staan die grootste, mees inklusiewe uitnodiging van alle eeue oor elke mens en al wat die onderdruktes uit ander wêrelddele by ons sien, is voorgee, trots en gierigheid.  Mense gaan onder naam van Christen en leef ‘n leuen met groot gemak, sonder om die substansie van die krag van ‘n bekering, wedergeboorte en ‘n onderworpe lewe eers te mis.  Hulle vergaan van ‘n gebrek aan kennis van die waarheid en wonder dan hoekom hulle gemeenskap bedreig word.

Vir ons, wie die roepstem van die uitnodiging beantwoord het en dan woestynbewoners word, burgers van die onsigbare Koninkryk van Jesus op aarde, is die taak opgelê om te bid.  Een van die wonder-beloftes van politieke en sosiale vrede is opgesluit in ons houding teenoor ons regering.

Daar is een beginsel wat hier geld en al die ander is daarvan afhanklik net soos Jesus vir die hoog-geleerdes gesê het.

“Meester, wat is die belangrikste gebod in die Wet?” Hy het vir hom gesê: “ ‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die belangrikste en die eerste gebod.  (Matteus 22:36-38)

Dis baie maklik om vlugtig oor hierdie woorde te lees.  Ons ken dit tog so goed. Ons weet dit van kleins af – God is eerste, dis in klip geskryf van die vroegste dae.  Die vraag is die verskil tussen weet en leef.  

Leef ek met God eerste in my verstand, daar waar emosies opgewek word, daar waar my eie opinie die blits-pad na die troon van my denke het?  Ek weet tog die heel beste wat moet gebeur, watter mense moet weg, wie moet regeer en wat hulle moet doen.  Die afgod van eiewaan sit gemaklik en verhewe.

Dit was in bloedige en chaotiese politiek van die dag dat Paulus die eerste ses verse van Romeine 13 skryf.

1Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. 2Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring. 3Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by slegte optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerheid leef? Doen dan die goeie, en jy sal lof van die owerheid ontvang. 4Want die owerheid is ‘n dienaar van God, tot jou beswil. Maar as jy die kwade doen, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers ‘n dienaar van God, aangestel om die kwaaddoener te straf. 5Dit is dus noodsaaklik om onderdanig te wees, nie net uit vrees vir die straf nie, maar ook ter wille van jou gewete.

Die voorskrifte uit hierdie gedeelte het gekom in ‘n tyd van intense vervolging van Die Weg, soos wat die jong Christen-beweging in die eerste eeu bekend gestaan het.  Toe die Romeine besef dat hierdie mense nie werklik deel van die Joodse gemeenskap is nie, het die vervolging verskerp met die hulp van die Jode wat dit wou uitwis. 

Die regering was beslis nie as vriendelik gereken nie.  Daar was altyd Joodse faksies wat met geweld die onderdrukking wou beveg. Dit het met tye tot hartverskeurende bloedvergieting gely om maar net om weer onder die ystervoet van Rome te buig. [Volgens Nebukadneser se droom soos deur Daniel verduidelik was Rome die voete van klei en yster.]

Sedert die terugkeer na die ballingskap was Israel nooit weer vry van ‘n wêreldryk wat hulle oorheers het nie. Ten beste is hulle toegelaat om hulle lewenswyse te handhaaf en hulle godsdiens te beoefen as ‘n provinsie van Persië, die Grieke en Alexander die Grote se generaals wat na sy dood sy verowerde gebiede regeer het en toe die Romeine.

Die oorweldigende teenstand en geweld teen die Christene, is juis een van die blywende getuienisse van die ewigheidswaarde van die waarheid soos deur Jesus geleer en geleef is.  Hier is ons vandag, bevoorreg om die verstommende oorlewing van die Christen boodskap te leef en te verkondig in vryheid van spraak en assosiasie wat op grond van Christelike beginsels volgens die waarde van elke individu, gevestig is.

Juis in ons tydvak, met al die vryhede wat vir die Christene van die eerste eeu ondenkbaar sou wees, is die voorskrifte van Paulus pertinent van toepassing.  Loop ons ook met dolke rond om die Romeinse Ryk soldaat vir soldaat te moor?  Ons weet lewe en dood is in die mag van die tong.  Die dolke van ouds is met woorde vervang.  

Ons kraak af en breek stukkend met wat ons uitspreek… tot ons eie nadeel.  Ons weet die Woord van God is lewend en kragtig en daarom kan ons die seën van onderwerping verwag.  Sal ons die owerheid in gebed aan God onderwerp sodat die gesag tot ons beswil uitgeoefen word? By God is niks onmoontlik nie.  Hy gebruik die “verkeerde” regering om in ons voordeel te regeer. 

God slaan met ‘n krom stok ‘n reguit hou. (FP Moller)

Dink net aan die vrede en wonderwerke wat ons mis omdat ons oog op aardse regerings is. Asof hulle optrede ons toekoms bepaal!  Ons is tog verenig in die salige en kragtige hoop (die bewys van wat ons nie sien nie)  dat die inhoud van ons toekoms die beloftes van God is. 

Ons kan die wonder-seën van onderwerping ervaar en uitleef as ons ons eie houding verander.

Lees saam met my die Ou Vertaling van 1933 met ‘n wonderlike “Totius”-woord: Welgeluksalig – alles wel, alles gelukkig en salig daarby – ‘n toestand van diepe seën – WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag.  (Psalm 1:1-2)

Waar wandel jy, waar staan jy en waar kry jy jou sit?  Lees aandagtig en maak dit jou eie.

Volgende keer: Hoe maak jy vrede met onderwerping aan ‘n regering wat alle Christelike waardes verraai en ondermyn?


Lewer kommentaar