275.  Die Toekoms – alweer

Daar is min ander tye gedurende die jaar wat ons so direk en filosofies oor ‘n stuk toekoms, die komende twaalf maande, dink soos hier rondom Nuwejaar.  Dis ook reg so.  Daar is baie waarde in meditasie – diep-dink – nie soos die Oosterse denkers wat ‘n leë gedagte-wêreld wil aanmoedig nie.  Eerder Christen-meditasie wat volheid van denke aanmoedig.  Natuurlik weet ons almal dat bekommernis ook ‘n  “volheid van denke” is en dat vrees en bekommernis juis die gedagte-vyand is wat ons beveg.  Dawid kla daaroor:

Toe ek met baie onrus in my binneste sit,

het u vertroosting my tot rus gebring. (Psalms 94:19)

In the multitude of my anxieties within me,
Your comforts delight my soul
.(NKJV)

When my anxious thoughts multiply within me, Your comforts delight me. (Amplified Bible)

Ons almal weet hoe die vermenigvuldiging van vrees-gedagtes funksioneer, veral in die nag. Daar is genoeg om oor besorg te wees in  die jaar wat voorlê.  Dis nie moeilik om bekommerd te wees nie.  Dis moeilik om NIE bekommerd te wees nie.  Wat is dan die “volheid van denke”  wat die vrees-vermenigvuldiging teëwerk?

Die OAB het ‘n pragtige Totius-frase wat vir my 2022 goed beskryf.

Jou hart sal die deurgestane verskrikking oordink en sê: Waar is hy wat getel het? Waar is hy wat geweeg het? Waar is hy wat die torings opgeskryf het?  (Jesaja 33:18)

Jesaja praat met Israel oor die Assiriese inval – ‘n vreesaanjaende vyand wat paniek in die volk laat opvlam het.   Die Assiriërs het al die bates en kosbaarhede van die Israeliete laat opskryf om te sien wat hulle wil buitmaak.  Alles wat die volk van God van waarde geag het, is deur die vyand ”getel” en “opgeskryf”.  Is dit wat 2022 met jou gedoen het?

In Junie het ek geskryf oor die ”greep van die verskriklike”. [https://bodemklippe.com/2022/06/04/264-die-greep-van-die-verskriklike/]  

Dit is baie belangrik om die slegte tye waardeur ons leef vierkant in die oog te kyk en dit in gebed te hanteer.  Ons is nie gemaak om met die  verwonding van emosionele stryd in ons harte te leef nie.  Die gevolg daarvan is bitterheid en diep-gesetelde woede wat in ander verhoudings manifesteer en uiteindelik al ons geliefdes impakteer.

Vir my is die gebed aan julle almal oor 2023 ook in Jesaja 33 te vinde – ‘n pragtige hoofstuk wat in geheel gelees moet word.

Lees dit in die 1933 vertaling in Totius-Afrikaans:

En daar sal bestendigheid van jou tye wees, ‘n rykdom van volle verlossing, van wysheid en kennis; die vrees van die Here sal sy skat wees.  (Jesaja 33:6)

Ek is altyd ten gunste van skryf.  Neem ‘n tydjie saam met jou “persoonlike sielkundige”, jou joernaal, en skryf die verskrikking van 2022 neer – hetsy dit in jou persoonlike lewe was of die impak van jou omstandighede, land en wêreld.  Dit is jou Oujaar-meditasie. 

Maak dit in ‘n “gedagte-bondel” wat jy in jou verbeelding voor die Kruis neersit en sien hoe ‘n druppel bloed uit Jesus se lyf daarop drup.  Die impak van die Bloed op jou bondel is geweldig.  Die bondel verander. Die swart as van teleurstelling en hartseer word mooi, dit groei, dit word ‘n rots.  Jou struikelblok word ‘n vastrapplek vir oorwinning, jou onvermoë ‘n deur vir sy Voorsiening.  [https://youtu.be/W3UlgSyli-U]

Jou vallei van Moeilikheid word ‘n deur van Hoop.  

Daarom, kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart spreek.

Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot ‘n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Egipteland opgetrek het.  (Hosea 2:14,15)

Die wingerd, ‘n simbool van Voorsiening en oorvloed, word gegee in die woestyn, simbolies van swaarkry en skaarste.  Dit is in die wildernis van verwonding dat ons  meer bewus raak van die Voorsiening van die Here en in dankbaarheid sy Liefde ervaar.

Waarmee sal ons hierdie laaste dae van 2022 vervul?   Wat is die gedagte-bondel wat in ons binneste vermenigvuldig?  Dit kan net een ding  wees.

Kom ons prys die Here – my siel, my lyf in dans en alles wat in my is – loof sy Heilige Naam. Lees Psalms 145-150 vir die woorde van lof en vreugde-aanbidding wat jy kan gebruik om jou nuwe lied te sing.  Vermenigvuldig die grootheid van God, jou God, in jou binneste.

Verkondig die genadejaar  oor 2023.

Die genadejaar van die Here.

1 DIE Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis;

2 om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die Here en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos;

3om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die Here tot sy verheerliking.  (Jesaja 61:1-3)

Dit is die profetiese woord oor 2023.  Die Genadejaar van die Here – soos elke jaar.

In Hoc Anno Domini  – in hierdie jaar van ons Heer. 

Hier is ‘n foto van die artikel wat Oukersdag in die Wall Street Journal gepubliseer is. 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s