My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ‘n verskrikking. (Jesaja 21:4)
Wat is dit met 2022 sover? Ek “sien” smart, ek hoor van tragedie, ek “voel” die felheid van boosheid. Ek kan amper sover gaan om te sê ek “ruik” die dood en vernietiging van die rook van nog ‘n wrede oorlog op die Europese kontinent en “proe” die roet en honger van lyding in my mond. Daar is droefheid en pyn wanneer mens moord en doodslag aanskou, verdriet in die geboë koppe van ouers wat huil oor kinders wat in hulle klaskamer saam met hulle onderwyseresse afgemaai is. Siele-leed – ou Afrikaans – maar so beskrywend.
Hulle wag op vrede, maar daar is niks goeds nie; op ‘n tyd van beterskap, maar kyk, daar is verskrikking. (Jeremia 8:15)
Nader aan my huis sterf my vriendin se man na ‘n lang stryd met artritis – van hy nege jaar oud was. Hy het net nou die dag sewe en sewentig jaar oud geword. Langs my het Covid gewoed in ‘n huis met vier kinders en net daarna kry die heel jongste “pink eye” en almal moet tuis bly vir nog ‘n week of wat. Ai, vir ‘n besige ma is die skool ‘n breek en een van die dae sluit die skool vir twee volle maande. ‘n Ander hart-vriendin se seuntjie van twaalf het onverklaarbare hoofpyne, so dat hy nie kan skool toe gaan of leer nie. Dit het iewers in April begin. Toe praat iemand anders ook van geestelike stryd en vrees wat April begin het – net voor Paas. Sedert April beleef ek self een van die mees-uitdagende en uitmergelende krisisse van my ganse lewe. Ek sal 2022 onthou.
Ek sal 2022 onthou – soveel te meer vir ‘n ander rede. Iewers in Januarie het ek onthou dat dit in April 1972 was dat ek my lewe bewustelik en onvoorwaardelik in kinderlike vertroue aan Jesus Christus oorgegee het. Dis vyftig jaar gelede en dit maak 2022 my jubeljaar volgens die Bybel se voorskrifte. Ek moet bly wees en fees vier – natuurlik.
Dalk is my fees nie soos ek gedink het nie. My feestafel is in die vallei van doodskaduwee waar my beker vol is met die olie van die Heilige Gees – en oorloop. My voetspoor is op die stormsee waar my Meester my uit die boot uit nooi. Ek word getoets en gerol, ek sink en sluk die storm tot my maag brand van vrees en ontsteltenis. Dan voel ek die ontblote Arm van die Almagtige wat my uitpluk tot in sy Skaduwee en my dra totdat my voete op die Rots vastrap. (Jesaja 40:10,11; 51:5; 52:10)
Elke dag se dagstukkie is honderd persent van toepassing op my situasie en gemoedstoestand. Kan dit ooit toeval wees, as toeval, geluk en lotsbestemming woorde is wat lankal uit my woordeskat geban is? Nee, ‘n duisendmaal nee! Dit is voorsiening en genade, vars elke dag – die oog van God self wat my lei. (Psalm 32:8) Elke keer as ek die Bybel optel “hoor” ek die sagte stem van Jesus wat donderend belofte na belofte in my hart vasbrand. Ek lees op verskillende plekke – en memoriseer sover ek kan en skryf die datum in die kantlyn. Een hartseer oggend lees ek die Psalms van die datums wat moeilik was. Elke woord is krag en genesing.
Een dag lees ek Jeremia 15 waar my Bybel-broer groot krisis slaan. Die woorde tref diep en sit vas in my hart.
U weet alles, Here:
dink aan my, neem my onder u sorg,
straf my vervolgers oor wat hulle aan my doen.
Moet tog nie u toorn laat voortduur en my laat sterf nie;
neem tog in ag dat dit oor U is dat ek beledig word.
Ek het u woorde verslind toe hulle gekom het,
hulle was vir my ‘n vreugde;
ek was bly daaroor dat u Naam oor my uitgeroep is,
Here, almagtige God.
Ek kon nie sit waar daar gesels en gelag word
en dit saam geniet nie;
U het my in besit geneem en ek moes alleen sit,
vol van die verontwaardiging wat van U af kom.
Waarom is daar nie ‘n einde aan my pyn nie,
waarom is my wond ongeneeslik en wil dit nie gesond word nie?
Ek kan nie op U reken nie,
net so min as op ‘n stroom wat nie standhoudend is nie. (Jeremia 15:15-18)
Diep hartseer, diep twyfel aan God se teenwoordigheid en voorsiening – ek was stomgeslaan. Terwyl ek dit lees, besef ek my eie “vol beker” – die beloftes van uitkoms wat ek reeds ontvang het en prys die Here daarvoor. Maar toe lees ek verder – God se antwoord aan Jeremia en ek juig! Die woorde laat my dans en sing soos wat ek nooit gedink het ek sal juig in my jubeljaar.
So spreek die Here, Here!
Ek sal jou help en jou red
Die Here het toe gesê:
As jy jou woorde terugneem,
sal Ek jou weer in my diens neem.
As wat jy sê, waarde sal hê
en nie onsin sal wees nie,
sal jy weer namens My kan praat.
Die mense moet jóú volg,
nie jy vir hulle nie.
Ek maak jou vir hierdie volk ‘n bronsmuur
waardeur hulle nie kan dring nie;
hulle sal teen jou veg, maar hulle sal jou nie oorweldig nie,
want Ek is by jou, sê die Here,
Ek sal jou help en jou red.
Ek sal jou red uit die mag van slegte mense,
jou bevry van dié wat op geweld uit is. (Jeremia 15:19-21)
Soos altyd wanneer die woorde lewe en my hart vasgryp, lees ek die stuk in verskeie vertalings. Eerste aan die beurt my geliefde NKJV.
“I will deliver you from the hand of the wicked,
And I will redeem you from the grip of the terrible.” (Jeremiah 15:21)
En dis waar my vertaling vandaan kom. God sê: Ek sal jou red uit die greep van die verskriklike. Halleluja!
Bodemklip-vriend – wat ook al die verskriklike is wat jou vashou – God is magtig om te red. Net so sal jy saam met Jesaja in Totius se ou Afrikaans kan praat van die “deurgestane verskrikking”.
Hef op julle hoofde, o poorte, ja, verhef julle, ewige deure, dat die Erekoning kan ingaan!
Wie is tog die Erekoning? Die Here, sterk en geweldig, die Here geweldig in die stryd. (Psalms 24:8, OAB)
For You have been a strength to the poor, A strength to the needy in his distress, A refuge from the storm, A shade from the heat; For the blast of the terrible ones is as a storm against the wall. (Isaiah 25:4)
Ons is die bronsmuur – die ondeurdringbare bronsmuur waarteen die storm woed. Ons sal oorwin.
For the terrible one is brought to nothing, The scornful one is consumed, And all who watch for iniquity are cut off— (Isaiah 29:20)
But thus says the Lord: “Even the captives of the mighty shall be taken away, And the prey of the terrible be delivered; For I will contend with him who contends with you, And I will save your children. (Isaiah 49:25)
Ons belofte vir die toekoms.
Aan die skrywer: Mag die jubeljaar duidelik en in elke dimensie van jou bestaan manifesteer. Mag jou beker oorloop. Mag elke sel van jou liggaam amen sê op die bevel van genoegsaamheid en gesondheid vir jou in elke sfeer van jou lewe.
Dankie vir jou woorde. Ek neem dit as ‘n heerlike, geïnspireerde woord van bemoediging en hoop. Vreugde kom sommer spontaan uit my hart.