Terwyl ons almal die stryd voer met ‘n oormaat inligting, is dit terselfdertyd net verstommend wat op ons vingerpunte beskikbaar is en hoeveel mens kan leer, sonder moeite, met die nodige onderskeiding en ‘n bietjie tyd en fokus. Ek leer daagliks. Of dit nou nuwe tegnologie of raad is wat help om fikser en gesonder te leef, die herlewing van ou “boererate” wat beter gesondheid en huishoudings belowe, of dieper insig in die geskiedenis, die argeologie, die Skrif of wat ook al mens in belang sou stel, dit is blitsig op jou skerm, dikwels in die mond van kenners of diegene wat hulle as kenners voordoen, met die veronderstelling dat jy self oordeel oor wat jy lees en inneem.
Dit is ‘n opwindende tyd om te leef as mens die chaos kan navigeer. Dit is juis die punt. Elke geslag op hierdie aarde was bewus van die chaos om hulle, gedefinieer as verwarring en wanorde in ruimte en materie wat die potensiaal van leefbare omstandighede verwoes en waar orde en progressie deur die warboel van puin en verderf verhinder word.
In die Bybel is die simboliek van die see met chaos en wanorde geassosieer. Dit weet ons uit die eerste woorde in die Skeppingsverhaal.
Die aarde was woes en leeg, en donkerte was oor die •oerwater. (Genesis 1:2, Afr 2020) Donker op die diep waters – sê ‘n ander vertaling.
Die see was vir ou Israel ‘n bron van vrees, onsekerheid, chaos en oordeel. Ons lees dikwels van die vernietigingskrag van vloedwater en die verwoesting van ‘n stormsee, ‘n tsunami of enige ander vorm van water wat nie totaal onder beheer van die mens is nie. In alle omstandighede moes water aan die beheer van die mens onderwerp word as lewensbron en nie as ‘n oorweldigende natuurkrag nie.
Die verhaal van Noag en die Ark gaan oor water en die verwoesting van ‘n vloed. Dis net logies dat die metafore oor vloedwater met ‘n aanval van boosheid gekoppel is. (Jesaja 59:19)
Uit meer inligting oor ander mense en wat hulle glo, leer ek van die eskatologiese dogma en verwagtinge van Islam, waarvan ek tot onlangs nie eers bewus van was nie. Dit is die leer oor die eindtyd wanneer die mense agter die “hindernis” van die dood opgewek word vir oordeel na die paradys of die hel. Ongeveer tien persent van die Koran word aan die hierdie onderwerp gewy. Dit gaan hoofsaaklik oor die dade en misdade wat die oordeel bepaal. Die wêreld sal ophou bestaan en net die paradys en die hel sal voortbestaan.
Die aanbreek van die eindtyd sal voorafgegaan word met verskriklike chaos, wydverspreide oorlog, natuurrampe en morele verval. Uit hierdie chaos sal ‘n bose figuur, ‘n gewelddadige, onmenslike figuur of groep met die naam Gog en Magog (Bybelse konsepte) verskyn as ‘n tiran wat sonde en verwoesting versprei. Daarna sal ‘n regverdige man, ‘n afstammeling van Mohammed en ondersteun deur Jesus, op die toneel verskyn om al die bose magte te verslaan. Met die geskal van ‘n trompet sal die aarde en alle lewende wesens vernietig word. Dan sal die dode opstaan vir die oordeel met ‘n brug na die paradys en ‘n krans na die hel.
Een van die interessante gevolge van hierdie leer, is die aanmoediging en bevordering van chaos. Chaos en oorlog is ‘n “goeie teken” vir die aanbreek van die eindtyd.
[Vir my is die betekenisvol dat die ewige bestaan van Jesus erken word en dat ‘n afstammeling van Mohammed genoem word en nie hyself nie, terwyl hulle glo dat hy ook na die “hemel” opgevaar het.]
Soos ons weet is dit lynreg teen die leer van die Bybel wat orde en vrede verkondig. Jesus bied die oplossing, die teenwig van chaos en oorlog.
Vrede laat Ek julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie. (Johannes 14:27)
Vrede binne chaos? Is dit moontlik?
Die ou Israeliete het die see as die bron van chaos beskou en God se heerskappy oor die see en vloedwaters was super-belangrik. Die eerste groot geloofstoets van Moses op die pad uit Egipte was die see. God se voorsiening in die verband is ‘n pilaar van getuienis om Sy almag oor die natuur te bevestig.
In die mond van die digters is God se mag oor die see bevestig.
Deur sy krag het Hy die see laat bedaar, deur sy insig het Hy Rahab verbrysel. (Job 26:12)
Rahab was die mitologiese, mistiese seemonster wat chaos gesimboliseer het. Die beeld van Rahab of die Leviatan, soos dit in Jesaja (27:1) genoem en beskryf word, is die van ‘n reuse, wriemelende slang met vlerke wat uit die donker dieptes van die see verskyn en alles verorber en vernietig. Dit is in die ou Hebreeuse geskrifte beskryf as verwronge waarheid, leuens wat as waarheid opgedis word.
Op daardie dag sal die Here met sy wrede en groot en sterk swaard rekenskap eis van Leviatan, die vinnige slang, van Leviatan, die kronkelende slang. Die monster wat in die see is, sal Hy doodmaak.
God se heerskappy oor die see is in Sy eie woorde aan Job bevestig.
Wie het met dubbeldeure die see ingeperk toe dit uitgebreek, uit die baarmoeder voortgekom het,
“Het jy al gekom tot by die bronne van die see, en in die onbekende dele van die diep waters rondgeloop? (Job 38:8,16)
In al hierdie simboliek van chaos, die see en seemonsters, bevestig God sy almag en volkome heerskappy oor die see. Vir die Jode van die eerste eeu was dit geweldig. Hy heers met sy woorde oor die wind en seestorm saam met sy dissipels uit ‘n boot, maar dis nie al nie. Hy loop op die water en kalmeer die storm. Hy bewys sy absolute mag oor die natuur en onderwerp dit onder sy voete.
Dit is U wat met u krag die see geskud het, die koppe van seemonsters op die water verpletter het, die koppe van die Leviatan verbrysel het, dit as kos vir woestynbewoners gegee het. (Psalm 74:13,14)
Kos vir die woestynbewoners? Dit is ons kos, ons lewensbrood. Die getuienis van God se almag, sy oorheersing van chaos en boosheid is ons lewegewende kennis. Dit is hoe ons oorwin – deur die woord van ons getuienis en die Bloed van die Lam. (Openbaring 12:11)
Vir die Jode, wat die see bo alles vermy het, is die woorde van Openbaring 21:1 goeie nuus – daar sal geen see meer wees nie. Dit is ons belofte vir ons woning in die Nuwe Jerusalem, nou en hier op aarde, die Kerk van Jesus. Ons verval nie in chaos nie. Dit is onderworpe aan die vrede wat Jesus aan ons gee.
Die finaliteit van Babilon (simbolies van alles wat sleg is) se val is ’n magtige engel wat ‘n groot meulsteen in die see gooi en Babilon wat nie meer is nie. (Openbaring 18:21)
Ons saligheid word uit orde en vrede gebore, nou reeds, hier op aarde waar ons saam met Jesus in die Nuwe Jerusalem leef, in Sy teenwoordigheid, in veiligheid en kalmte.
Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon. (Psalms 4:9)