274.  Dis jou Fees – ‘n dansfees

Wat ook al jy van wêreldgebeure en die chaos op politieke en sosiale gebied mag dink of ervaar, Kersfees is om die draai.  Net soos elke jaar is daar die liede, die versierings, die kleure en die uitdagings.  Dit is een van die heerlike feeste op die Christen-kalender, saam met Paas, Pinkster en ‘n Dankfees (Thanksgiving) wat ek hier in Noord-Amerika leer vier het.  Vir enige persoon wat nie die Dankfees-tradisie het nie, is dit ‘n goeie byvoeging tot ‘n jaarlikse reeks feeste waaraan ons self die inhoud gee.

Net soos die Feeste van ou Israel betekenis en vervulling in die lewe van Jesus op aarde, sy dood en opstanding verkry het, is ons feeste Jesus-gefokus.  Sonder die Christene in die wêreld wat die boodskap en waarheid van Kersfees vier, is al die rituele, legendes en simpel storietjies ‘n “much ado about nothing”.

Baie Christene het ook al in sommige Kers-tradisies verval, wat die fokus van God se goedheid en liefde vervaag. Vader Kersfees deel die geskenke uit aan kinders wat ‘n hele maande gedreig word met soet-wees, terwyl hulle geskenke bedreiging word.  Is daar ‘n boodskap van genade en onverdiende guns aan ons kinders, of gaan dit oor vervulde wense en teleurgestelde verwagtinge?  Is Ouma se stal-toneeltjie nou te kleurvol en outyds vir ons moderne huise om ‘n sweempie van die werklike storie van Kersfees te dra?

Ons wêreld gaan gebuk onder geweldige tragedie en ontwrigting – internasionaal, nasionaal, publiek en privaat.  Dit is in elke Christen se mag om betekenis en inhoud aan Kersfees te gee en dit ‘n Jesus-fees te maak, wat hoop, vrede, vreugde en liefde in ons huise laat seëvier en dit dan uit ons huise laat deursyfer in ‘n gemeenskap  wat siek en ellendig in armoede van liggaam en gees vergaan.

Jy maak saak.  Wat jy doen is belangrik!  In die tyd van Nehemia, toe die herstel van die muur ‘n amper onoorkomelike struikelblok in die verdediging van Jerusalem was, het hy die mense bemoedig om net die muur voor hulle eie huis te bou.  (Nehemia 3:28,29)  Dit het die mense soveel moed gegee vir so ‘n groot taak.

Mens sou kon dink dat Kersfees geskaak is en op ‘n sekulêre manier gevier word, want dit is wat mens oppervlakkig om jou sien – tot binne in die Islam-wêreld, op ‘n reusagtige skaal met bome en blink soos net hulle kan.  Ons kan niks daaraan verander nie, maar ons kan beheer en bepaal wat in ons eie huise gebeur.  Ons sal die muur van Jerusalem, die Kerk, die Koninkryk, bou sodat die hele stad veilig is – met die troffel in die een hand en die swaard in die ander.  Ons swaard is die Woord van God, die Waarheid van Jesus.  Ons is die eerste linie teen boosheid juis omdat ons, soos Petrus, die bonatuurlike openbaring van wie Jesus is, elke dag uitleef.     Die poorte van die hel self sal ons nie oorweldig nie. (Matteus 16:18)

Weet ook altyd dat ons aan die wenkant is.  Kersfees is ‘n tradisie wat eers teen die derde eeu na Jesus ontstaan het.  Die Juliaanse kalender wat toe gevolg is, het die draai van die jaar op 25 Desember gevier (Winter Solstice).  Ons volg die Gregoriaanse Kalender en daarvolgens is die draai van die jaar op 21 Desember.  Die donkerste dae van die jaar in die Noordelike halfrond het allerhande heidense feeste ontketen ter ere van hulle gode soos die Oosterse Songodin, die Egiptiese songod, Ra en die Romeinse songod, seun van Zeus, wat die son van geregtigheid genoem is.  Sekere mense  wil glad nie Kersfees vier omdat hulle dink Kersfees kom uit ‘n heidense tradisie.  Kersfees is nie ‘n afskynsel van die heidense tradisies nie – Kersfees is juis die antwoord op die soeke van die heidene na dit wat waar is en substansie het.

Teen die einde van die eerste Eeu was daar ‘n honderdduisend Griekse Christene vir elke Jood wat ‘n Christen geword het.  Die heidene het die waarheid van Jesus aangegryp.  Dink net vir ‘n oomblik waaraan dink jy  as jy die datum 25 Desember hoor.  Dink jy aan Ra of die Oosterse songodin?  Natuurlik nie.  Weet jy hoe hulle lyk?  Ek dink nie so nie –  ek weet ook nie.  Ons dink aan Kersfees  en al die heerlikheid rondom dit.

Ek kan my net voorstel hoe ‘n priester in ‘n dorpie sy gemeente kerk toe genooi het, sodat hulle nie uitgesluit sal voel as die rowwe partytjies van die ongelowiges woed nie.  Ek sou dink dat hy dalk oor die Son van Geregtigheid met genesing in sy strale uit Maleagi 4 sou preek en die vreugde van die koms van Jesus beklemtoon.  Natuurlik is Jesus nie in Desember gebore nie.  Die lammers was buite.  Desember is te koud daarvoor.  Die ware datum is seker nader aan April iewers.

Ons vier die koms van die enigste mens wat ooit gesê het: Ek is die Lig van die wêreld. (Johannes 8:12)  Ons vier die Lig, die waarheid van Jesus, dalk ook omdat ons die waarheid van die lig-fees van die Jode, Hanukkah, wou “belig” met die Waarheid –  Jesus wat gesê  het:  Ek is die Waarheid…die Weg en die Lewe.  (Johannes 14:6)  Die Jode vier elke jaar rondom Kersfees hulle Hanukkah vir agt dae lank – hierdie jaar van 18-26 Desember – ‘n datum wat hulle op hulle eie spesiale manier bereken.  Die fees van lig gaan oor die wonderwerk van die Lamp in die Tempel wat agt dae gebrand het.  Jesus is die Lig van die Lampstaander wat die simbool van die Kerk is.  Ons is die ligdraers – Hy is die Lig.

[Vir die oorsprong van Hanukkah – sien Bodemklippe 104 en 167]

Kersfees van 1818 in die Oostenrykse dorpie, Oberndorff, net suid van Salzburg, was koud en donker.  Hongersnood was aan die orde van die dag.  Die afgelope twaalf jaar was oorheers deur die Napoleontiese oorloë in Europa en die mense was bekend met dood, verwonding en pyn.  In 1815 het ‘n geweldige vulkaniese uitbarsting in Indonesie, Tambura, soveel as in die atmosfeer opgeskiet dat Europa klimaatsverandering ondervind het.  Storms het ook in die somer gewoed, soveel so dat 1816 en 1817 bekend was as die jare sonder somer.  Sneeu het sommer in Julie geval en die oeste verwoes. 

Die priester van Oberndorff het ‘n ses-strofe gedig geskryf om sy gemeente te bemoedig en die wonder-boodskap van Kersfees, wat spreek van God wat sy liefde oor die mensdom uitstort, aan hulle oor te dra.  Hy het ‘n vriend gevra om musiek daarvoor te skryf.  ‘n Week voor Oukersaand 1818 het die kerkie se orrel gebreek.   Op daardie Oukersaand van 1818, voor ‘n gemeente wat goed bekend met trauma was, is Stille Nag die eerste keer gesing – met kitaarbegeleiding.  Dit is sekerlik vandag die heel bekendste Kerslied.

Bodemklip-vriende, sing die liede, speel die musiek en bring die Kersboom – die simbool van die Boom van Lewe (Genesis 2:9 en Openbaring 22:2)    Die blare is vir die genesing van die nasies.  Bid vir die nasies as jy die boom versier.  Die  loot uit die stomp van Isai is Jesus. (Jesaja 11:1,2)  Hy is die Boom van die Lewe.  Hang die balle as simbool van die vrugte wat dwarsdeur die jaar die voorsiening  van God vir ons op alle gebiede beklemtoon.  Die silwer en goue balle is in koninklik kleure vir die enigste Koning wat saak maak – die Kind, die Koning van die Konings.  Bring die groen in die huis – die wonder en prag van ons Skepping.  

Vier die fees met heerlike kos.  Dawid het gedans toe die Ark van die Verbond in Jerusalem inkom en aan die volk rosyne koek uitgedeel.  (2 Samuel 6:19)  Sny die Kerskoek en juig oor God met ons, Emanuel, God is in ons midde net soos die Ark wat sy Teenwoordigheid gesimboliseer het. 

Jesus se lewe op aarde is vervat in die pragtige lied van Sydney Carter:  The Lord of the Dance.  Sing dit en dans saam.

https://youtu.be/Umj0Lucha1w  The Lord of the Dance – Laurika Rauch


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s