179. ‘n Gesprek oor die toekoms.

[Johannes 16]

Enigiemand wat Bodemklippe lees weet dat ek gefasineerd is met tyd.  Die verlede, hede en toekoms word met groot moeite in taal uitgedruk – dink maar net oor Engels. Afrikaans is uniek in sy eenvoud om met hulpwerkwoorde ingewikkelde tydsaanduidings uit te druk. Ons het woorde nodig om ons storie van die verlede te vertel. Ons het wysheid nodig om ons storie in die hede gestalte te gee en ons het geen beheer oor die toekoms nie, selfs al het ons al die regte besluite geneem. Die lewe gebeur in die konstante en onstuitbare ritme van tyd. Soms voel dit stadig en lank wanneer pyn en ongemak heers en soms voel dit so vinnig en vlietend as vreugdevolle en goeie dinge gebeur. Tyd is onbuigbaar en wetenskaplik ferm deur die dae, jare en eeue van die geskiedenis.

In die Christelike tradisie het ek geleer dat die die toekoms aan God behoort en dat ek nie beheer daaroor het nie en ook nie uitsprake daaroor kan maak nie. Die toekoms is ‘n tydvak wat met groot respek aan God oorgelaat word.

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”

Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.(Jakobus 34:13,14)

Die respek vir die toekoms word soms uitgedruk in die Latynse woorde Deo Volenti (DV), wat in geskrewe en gesproke taal bygevoeg word. Dit beteken “soos die Here wil”. Eintlik behoort ons verlede en hede ook aan God en ons leef ons ganse lewe in die wil van God. Ons dien ‘n groot God wat buite tyd staan en in Sy oë is ons bestaan net ‘n damp wat verskyn en verdwyn.

Die toekoms is onseker. Ons beheer net hierdie oomblik. Dit is ons moment om die besluite te neem wat ons verlede onder die bloed van Jesus en ons toekoms bepaal. Ons toekoms is soos Eugene Petersen sê: a field of action for the promises of God. Sal dit nie wonderlik wees as al die onsekerheid oor die toekoms verdwyn en ons toekomssukses gewaarborg is nie? Dit is die goeie nuus van die Evangelie – dit is!

Hier in die laaste gedeeltes van Johannes 16 praat Jesus oor dinge wat kom. Hy berei Sy dissipels voor op die tyd na die kruisiging. In Joodse denke was daar twee tydvakke – die huidige en die toekoms.

Die huidige tyd was sleg en onder die oordeel van God.

Die toekoms was die goue eeu van God.

In die middel van hierdie twee tydvakke is: die dag van die Here – ‘n vreeslike dag waarin die huidige bestel heeltemal vernietig word en vervang word met ‘n wonderbestel waarin die Messias sal heers.

In die tydvak tussen die Ou en Nuwe Testamente het hierdie leer nuwe lewe gekry en profete en verskeie self-verklaarde Messiasse het dit verkondig. Die woorde van die ou profete is ingespan vir die doel.

Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word. (Jesaja 13:9)

Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: dié stikdonker dag, die dag van donker wolke waarop die groot  sterk nasie oor die berge uitsprei soos die lig van die dagbreek uitsprei. Só ‘n sterk nasie was daar nog nooit en sal daar nooit weer wees nie, selfs nie in die verste toekoms nie.(Joël 2:1,2)

Ons weet vandag die ramshoring het geblaas met die koms van die Messias en sal weer blaas by Sy tweede koms. Die sterk nasie is die kerk van Jesus, die onsigbare koninkryk op aarde, die Nuwe Jerusalem van Openbaring, soos wat daar nog nooit was nie.

In die Heilige Gees word geloof in Jesus die onderbou van die koninkryk van God.

Christelike vreugde is onafhanklik van omstandighede en veranderinge. Wêreldse vreugde is verkleef aan wêreldse dinge. Christen vreugde kom uit Jesus as bron en niks in hierdie wêreld kan dit wegneem nie. Ons vreugde kom uit die bron van die Heilige Gees en dit is volmaak in die teenwoordigheid van God waarin die Gees ons lei. Dit is vreugde sonder verwyte uit die verlede.

Pyn is vergete net soos na kindergeboorte (16:21,22).

Jesus belowe die volheid van kennis (16:23). Hier op aarde is daar altyd onbeantwoorde vrae en onopgelosde probleme, maar ons leef in geloof, nie op grond van wat ons sien nie. Volle kennis bring ‘n nuwe dimensie in ons verhouding met Jesus. Die deur van die onsienlike is oop deur Hom, daarom kan ons met insig en wysheid leef.

Die volheid van ons verhouding met God is slegs moontlik deur Jesus. Dit is in Sy naam wat ons vra en ontvang.

Jesus praat in paroimia (Grieks) wat beteken dat dit onduidelik vir die gewone luisteraar is. Daar is ‘n sluier oor, wat weggeneem moet word. Dit vereis meer ondersoek en meer oordenking om verstaan te word. Die woord word ook ten opsigte van die gelykenisse van Jesus gebruik.

Hy sê dat Hy die openlike waarheid met hulle praat. Hy sê reguit Hy is van God en Hy gaan terug na God. Dit is ‘n geweldige stelling. Die kruisdood was in hulle oë die dood van ‘n krimineel. Vir Jesus was dit die pad na God!

Die openbaring is dat in Jesus ons God direk kan nader. Jesus verander die houding van mense teenoor God. Hy is die openbaring van die hart van God. Hy stel God aan die mens voor as ‘n liefdevolle Vader en nie die woedende, verwoestende God wat die profete en karakters in die Ou Testament weerspieël het nie. Dit is vir hierdie openbaring dat Jesus sterf.

Jesus se werk is klaar. Hy kom uit die Vader en deur die Kruis gaan Hy terug. Sy dissipels is die geliefdes van God omdat hulle Jesus ken en liefhet.

Die dissipels gee alles aan Jesus oor (16:29-33). Hulle maak ‘n geloofsprong oor die dinge wat hulle nie verstaan nie. In verse 17-18 is hulle nog verwar en onseker. In vers 19 antwoord Jesus die vrae in hulle harte wat hulle nog nie uitgespreek het nie. Dit bring geloof. Hy toon aan hulle God se glorie en liefde en beantwoord hulle diepste twyfel. Jesus het volmaakte kennis van God sowel as die mens.

Jesus is realisties. Hy weet watter effek die kruisigingsdag op hulle gaan hê. Hy weet dis ‘n donker tyd van verwarring, verraad en teleurstelling. Hy weet hoe hulle gaan reageer en Hy het hulle lief ten spyte daarvan. Selfs met die volle kennis van hulle vernedering van verraad en vrees, vertrou Hy hulle met Sy boodskap en missie!

Is dit nie verstommend wonderbaar nie?

Hulle reaksie in pyn sal hulle nie van die oorwinning in hulle lewe beroof nie.

In hierdie unieke moment in die geskiedenis waar hierdie gesprek plaasvind, is vergifnis en vertroue saamgebind in ‘n onbreekbare geestesband.

Jesus vertrou hulle ten spyte van mislukking en die skuld wat daaruit voortspruit.

Hy het geweet Hy sal alleen aan die kruis hang. Sy oog was op God en nie op mense nie. Hy het geweet Sy vriende gaan Hom verlaat en Hy vergewe hulle in die toekoms in. Hy het hulle innig lief terwyl Hy hulle swakhede ken en vergewe.

Hy gee hulle vrede. Hy vertel hulle Hy weet van hulle toekomstige mislukking en dat dit geen verskil aan Sy liefde maak nie, sodat hulle nie in teleurstelling en vernedering vergaan nie. Dit is die wonder van goddellike simpatie met die mens.

Jesus weet jou sonde sal jou seermaak. Jou sonde doen niks aan Hom nie. Hy is veilig in Sy Vader. Hy wil dat ons sonde oorwin en dat sonde en mislukking ons nooit van Hom af weghou nie. Die duiwel sal aanval met skuld en skande, maar Jesus vergewe en herstel.

Die gawe van Jesus is moed en oorwinning.

Die dissipels word getuies van die belangrikste gebeure in die geskiedenis. Die wêreld op sy slegste kan Jesus nie oorwin nie.

Hoor jy die woord van God oor jou toekoms?

Jou mislukking, die lewe se tragedies en hartseer, die slegste van die slegste sal nie die finale oorwinning in Christus verander nie. Die lewe se slegste scenario bepaal nie jou toekoms nie.

Jy is ‘n kind van die Allerhoogste God!

 

 

 

164. Blind gebore – ja, ek ook.

Dis waar. Regtig. As mens nie kan sien nie, is jy blind. So wat kan jy sien? Onthou jy die gruiserige stem van Louis Armstrong?

I see trees of green, red roses too
I see them bloom for me and you
And I think to myself what a wonderful world

Ja, ons pragtige wêreld hier om ons vir almal om te sien. Hy sing verder.

I see skies of blue and clouds of white
The bright blessed day, the dark sacred night
And I think to myself what a wonderful world

Sien jy dit? Sien jy die seën en die heilige? Dit is eintlik die toets.

Om werklik te sien, moet jy die onsienlike sien.

Hoe is dit moontlik? Daar is net een manier en ‘n ander ou lied verduidelik dit.

Turn your eyes upon Jesus

look full in His wonderful face

and the things of the earth will go strangely dim

in the light of His glory and grace

 Dit is perspektief; ware perspektief; die enigste perspektief vir die lewe – dowwe aardse dinge en skitterende glorie en genade.

Hier in Johannes 9 vertel Johannes van die man blind van gebore was. Daar is net twee ander gevalle waar siekte sedert geboorte genoem word, beide in Handelinge: die lam man by die Mooipoort (3:2) en die kreupele in Listra (14:8). Die blinde man in Johannes was bekend. Die dissipels het van hom geweet.

Nie almal kon sommer enige plek sit en bedel nie. Die stadsowerhede het ‘n spesiale mantel uitgereik vir die “amptelike” bedelaars, nadat hulle gebrek ondersoek is en waar verklaar is.

Die Jode het lyding en siekte met sonde gekoppel. Sy blindheid kon deur sy ouers se sonde of sy eie veroorsaak wees. Daar is vandag nog gereformeerde leerstelling wat glo dat ‘n baba in sonder gebore is en daarom gedoop met word om die hel te vermy. Ek kon nooit verstaan dat ‘n baba se sonde hom siek kan maak nie en dat alle babas nie siek is nie. Hoe kan my genadige en geliefde Here, klein bababtjies laat hel toe gaan? Hy het dan gesê laat die kindertjies na Hom toe kom.

Die Jode het ‘n verdraaide konsep van voorgeboortelike sonde gehad. Hulle het Genesis 4:7 wat praat van die “sonde wat daarbuite wag” interpreteer as buite die moederskoot. Hulle het ook saam met die Grieke die bygeloof gehad dat alle siele reeds bestaan en in ‘n hemelse ruimte wag om gebore te word. Hulle word deur sonde besmet, sodra hulle in die sondige heelal inkom.

Alternatiewelik, kon sy ouers sy blindheid veroorsaak het. God self het tog gesê dat Hy die sondes van die vaders aan die kinders sal besoek in die derde en vierde geslagte (Exodus 20:5,34:7, Numeri 14:18). Die Psalmis vervloek sy vyande met dit in gedagte in Psalm 109:14. Dit word ook in Jesaja 65:6-7 genoem, maar later in die hoofstuk (65:23) word die seën van die Here oor meerdere geslagte beklemtoon.

Wat kan ons vandag daarvan dink? Daar is DNA toetse wat die oorerflike siektes kan uitwys wat die kern van jou fisiese samestelling bepaal.

Jesus spreek nie die korrektheid van die bygelowe of dogma aan nie. Watookal die bron van siekte of lyding; dit is ‘n geleentheid vir die glorie en wonderwerke van God. Die geskiedenis is nie belangrik nie.

Die toekoms van die siekte word aangespreek en die houvas daarvan afgebreek.

Wonderwerke is altyd ‘n teken van God se krag en glorie. Ander Evangelieskrywers beklemtoon Jesus se genesingsbediening. In al die Evangelies word sy simpatie met die mense uitgebeeld. Siektes, verdrukking, pyn en teleurstelling is vir Hom geleenthede om Sy Vader se hart te toon en die wonderbare krag van Sy genade in werking te stel.

Wonderwerke is God in aksie.

By God is daar oplossings. Vir die mens wie God nie ken nie, kan die geweld en wreedheid van die gebroke wêreld, sy moed breek en sy liggaam vernietig. As dieselfde gebeur met ‘n mens wie God ken en die pad saam met Hom loop, is daar hoop binne lyding en uithouvermoeë met die bonatuurlike krag van die Here.

Verder kan ons wat help met mense in pyn, die wonderbare liefde van die Here demonstreer.

God’s highway runs straight through us. Frank Laubach.

Hierdie is een van twee wonderwerke waar Jesus spoeg gebruik om te genees. [Ook die doofstomme in Markus 7:33]. Spoeg as medisyne was algemeen in die antieke wêreld. ‘n Belangrike persoon se spoeg is as meer kragtig in die genesingsproses beskou.

Jesus is wys en wen die vertroue van sy “pasiënt”. Dink net hoeveel vertroue is daar vandag in medisyne. Voorskrif medisyne is een van die belangrikste middels op aarde om genesing te bewerkstellig.

Die Siloambad was ‘n bekende plek in Jerusalem en ‘n ingenieurswonder van die tyd. Die watervoorsiening van Jerusalem was altyd ‘n probleem. Die water het van die Fontein van Gihon in die Kidron vallei af gekom. ‘n Trapskag van 33 trappe het gehelp om waterskep makliker te maak. Die fontein was oop gegrawe en in die geval van oorlog was dit baie maklik om die water vir die stad af te sny.

Toe Hiskia in 700 vC besef Sanherib beplan om Juda binne te val, het hy ‘n tonnel deur die rots na die fontein beveel. (2 Kronieke 32:2-8; 2; 32:30; Jesaja 22:9-11; 2 Konings 20:20). Indien die ingenieurs die tonnel reguit sou grawe sou die tonnel ongeveer 335 meter lank wees, maar omdat die tonnel met kronkels gegrawe is, was dit 533 meter lank. Die rede vir die kronkels was dalk om heilige plekke te vermy of om ‘n groef in die rotsformasie te volg. Sommige plekke is die tonnel net ‘n halwe meter wyd, maar deurgaans is die tonnel amper twee meter hoog. Die ingenieurs het van twee kante gegrawe en in die middel ontmoet – werklik ‘n wonder van daardie tyd.

 Die Siloambad was die plek waar die rotstonnel in die stad uitgekom het. Dit was ‘n opelug bad en die naam beteken: gestuur. Die water uit die fontein is letterlik deur die rots na die stad gestuur.

Jesus stuur die man om in die bad te gaan was. Nadat hy gewas het, kon hy sien. Hy moes Jesus se opdrag gehoorsaam. Sy genesing kon sekerlik daar en dan by Jesus en al die skare gebeur het. Hy is egter van al die bekende plekke wat hy in sy blindheid geken het, weggestuur. Hy moes uit sy gemakzone sy weg vind na die Siloambad en letterlik blindelings die opdrag gehoorsaam.

Sodoende het hy privaatheid gehad om sy genesing te ervaar en die res van die gemeenskap op sy eie terme en in sy eie tyd te ontmoet. Hy het Jesus se manier aanvaar en geen vrae gevra nie.

Jesus se woorde moes gesaghebbend wees. Jesus het nie genesing belowe nie. Hy het net gesê om te gaan was. Hoekom sou die blinde man Hom gehoorsaam? Hy kon gaan was het en dan soos ‘n gek gelyk het as niks gebeur het nie.

Sy gehoorsaamheid het sy twyfel uitgedryf.

Jesus se woorde, God se stem wat aksie vra, was genoeg om sy hele lewe te verander. Jesus het sy volgende stap beveel, sonder om die uitkoms uit te spel.

Wat doen jy as die wonderwerk nie gebeur soos jy dit verwag of begeer nie? Gehoorsaam jy nog steeds blindelings? Is jy gewillig om die volgende stap te neem. sonder dat die uitkoms duidelik is?

Ons praat nie graag oor gehoorsaamheid nie. Gehoorsaamheid het amper ‘n slegte reputasie verkry as gevolg van soveel misbruik deur die kerk en ander instansies van gesag. Dit het die lewensveranderende krag van gehoorsaamheid aan God afgemaak.

Die Griekse woord vir gehoorsaamheid is hupakouo. Die woord beteken om met aandag te luister, om te luister en sonder huiwering te onderwerp, om te luister en te beantwoord.

Luister en reageer – die aksiepad van ‘n wonderwerk.

Is jy gewillig om die langer roete te neem? Kan jy onderwerp aan Jesus se woord sonder om te weet wat die uitkoms gaan wees?

Sjoe! Dis ‘n groot gedagte!

 

 

Antwoord my tog gou, Here, ek is heeltemal gedaan.

 Moet tog nie van my af wegkyk dat ek word soos dié wat sterwe nie.

 Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue.

 Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.

(Psalm 143:7,8)

 

121. Bloedwoorde vir my toekoms.

O, die onsekerheid, die neerslagtigheid, die mistige uitsig en die huiwerige blik op die misterie-pad in die tydvak wat ons die toekoms noem. Aan ons is dit nie geopenbaar nie; God ken dit. Net soos die dood, is die toekoms ‘n misterie wat aan God behoort.

“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. (Deuteronomium 29:29)

In hierdie skrif word ons aangemoedig om die Woord te leef. God se Woord is aan ons openbaar en dit is ons toevlug vir die toekoms. Hy is volmaak in Sy beplanning. Hy sal nooit terughou wat ons nodig het nie. Ons waarborg vir voorsiening en beskerming in die toekoms is die beloftes van God in die Woord van God.

Net soos Noag. God het Noag in die ark ingenooi. Die Afrikaans, Duits en Nederlandse vertalings skryf in Genesis 7:1 dat Noag in die ark moet ingaan, so asof God buite staan. Die Hebreeus wat gebruik word [bõ-], kan “gaan” of “kom” beteken. Die vertalers het diskresie watter woord om te gebruik. Meeste Engelse vertalings skryf “kom”. Die belangrike gedagte hier is dat God die mens innooi in Sy voorsiening, Sy beskerming en sekuriteit teen die vloed daar buite. Die ark het baie kamers, baie plek vir baie soorte, net soos al die verskillende denominasies ook ‘n plek by God het. God oordeel die hart en skryf nie sommer af nie. Hy is altyd daar waar mense Hom soek.

En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander.  (Jeremia 29:14, OAB)

Hoe gaan ons in die ark in? Hier vier ons Heilige Week. Die Kruis is ons toegang. Eie waardigheid, eie geregtigheid, eie pogings bring ons nêrens. Jesus se bloed en die aanvaarding van sy offer is ons toegang tot veiligheid.

God is binne in die ark. In Sy teenwoordigheid is alles wat ons nodig het om ons toekoms tegemoet te gaan. Die ark spreek van ‘n radikale lewensverandering. Dit is jou besluit om in te gaan – die uitnodiging is ewig en Hy hang aan ‘n kruis. Die besluit om in te gaan, breek met ‘n gewone lewe en streef na ‘n lewe van uitnemendheid. Die ark spreek van die onsigbare koninkryk op aarde waarvan Jesus en Johannes die Doper gepraat het.

God is alomteenwoordig – natuurlik. Dit is ‘n akademiese feit en ons moet dit aanvaar. Maar… in gebed ervaar ons Sy teenwoordigheid op ‘n ander manier . Ons ervaar die atmosfeer wat verander, wanneer trane vrylik vloei en die woorde van die Woord van die bladsy af in ons hart inhuppel en daar vasgelê word. ‘n Rhema-woord, die gesproke woord, die “stem” wat by jou ore en oë tegelyk ingaan. Dit is wat Bybelstudie aanvuur – om te hoor.

Hier in Kanada het hulle vir my gesê die mure is hout. Dit het net soos mure waaraan ek gewoond is, gelyk – met pleister en verf. Die eerste ding wat ek gedoen het, die dag saam met die huisagent in die middel van ‘n sitkamer van een of ander huis, is om na die muur toe te loop en aan dit te klop. Die klopervaring was anders as klop teen ‘n baksteenmuur. Nie net dit nie…ek het iets gehoor.

Nadat ek die klank van hout gehoor het, het ek niemand nodig gehad om te weet die muur is hout nie. Ek het geweet uit my eie klopervaring. Net so met die manifesteerde teenwoordigheid van God – jou ervaring van “klop en vir jou sal oopgemaak word” het niemand – geen prediker, vriendin of televisiebediening – nodig om jou van God bewus te maak nie.

Soos ek al hier op Boedmklippe geskryf het – my jongste seun se gunstelinglied is die ou Imperial-groep se lied:

I listen to the trumpet of Jesus, while the others hear a different sound,

I listen to the drumbeat of God Almighty, while the others just wonder around,

I hear the voice of a supernatural singer that only those who know Him can.

Oefen jou Geesgehoor! Is daar so ‘n woord? Miskien moet ons een maak.

Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. (1 Timoteus 4:7, OAB)

Luister na jou innerlike oortuigings. Onderwerp jou gedagtes en denke aan die Heilige Gees. Bid sodat jy God se glorie ervaar. Sy liefde en vrede kan nooit kunsmatig wees nie; as jy dit ervaar kom dit net van Hom af. Die duiwel het nie vrede om te gee nie.

Die duif is die simbool van die Heilige Gees. Hy is jou voorsiening en kommunikasie met God en die wêreld.

Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met ‘n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog. (Genesis 8:11)

In gesprek met God onderwerp jy jou volgende lewenstap aan Hom en Sy plan. (Jeremia 29:11) In Sy teenwoordigheid sal jy vrede kry oor voorsiening vir die toekoms.

GEBED: Here, ek onderwerp my toekoms aan U. Ek bely my benoudheid en vrees oor die toekoms. U is die God van oorvloed en my vertroue is in U. Ek rig my gedagtes in verwagting van die Heilige Gees vir ‘n toekoms ver bo wat ek kan bid of dink (Efesiërs 3).

Beginsel vir ‘n lewe van uitnemedheid: Die inhoud van my toekoms is die beloftes van God – nie wêreldpolitiek, my omstandighede, die sterre voorspel of vrees nie.

Weer eens – die aanhaling van Eugene Petersen in sy dagstukkies: Living the Message.

The way we conceive the future sculpts the present. It gives contour and tone to nearly every action and thought through the day. If our sense of future is weak we live listlessly.

Hope is a response to the future, which has its foundations in the promises of God. It looks at the future as time for the completion of God’s promise. It refuses to extrapolate either desire or anxiety into the future, but instead believes that God’s promise gives the proper content to it.

But hope is not a doctrine about the future: it is a grace cultivated in the present; it is a stance in the present, which deals with the future. As such it is misunderstood if it is valued only for the comfort it brings; as if it should say, everything is going to be all right in the future because God is in control of it, therefore relax and be comforted.

Hope operates differently. Christian hope alerts us to the possibilities of the future as a field of action, and as a consequence fills the present with energy.

 

 

 

 

 

 

101. Skielike stilte – die oomblik van gebed.

Net vir ‘n oomblik, kom ons dink aan die klank in die hemel. Klank en kleur begelei die visioen in elke beskrywing. Johannes beskryf die stem van God soos baie water, die engele met trompette, die nuwe lied, aanbidding van ‘n ontelbare menigte, die stemme van die martelare en die natuur wat aktief deelneem. Dit is alles geluide wat nie ignoreer kan word nie. Is dit nie dikwels ‘n geluid wat ons aandag fokus nie? Ons kyk op en reageer op klank. Ons bou klank in ons lewens in sodat ons bewussyn van gebeure kan verskerp – die deurklokkie as mense arriveer, alarms wat rowers aankondig, telefone wat lui om te kommunikeer.

Hoofstuk 8 begin met stilte na die sewende seël oopgemaak is. Ons het die oopmaak van die sewende seël in die vorige hoofstuk bespreek. Dit is egter nodig om weer te beklemtoon dat Openbaring se hoofstukke nie die gebeure in volgorde aanbied nie, en as ‘n geheel gelees moet word. In die finale opsomming van die boek sal ons ‘n geheelprentjie saamstel wat die belangrikste interpretasiebeginsels aanraak.

Net so is hierdie hoofstuk ‘n vervolg op gebeure wat in die vorige hoofstukke bespreek is.

Die stilte skep ‘n dramatiese verhoog vir kerngebeure in die hemel – ons gebede! Die stilte gee gewig aan die beeld wat voor Johannes ontvou. Selfs meer as klank, is stilte geweldig effektief om aandag te trek en konsentrasie te verskerp..

Bodemklipvriend – die beeld van my gebed in die goue altaar voor die Troon van die Almagtige God van hemel en aarde is een van die pilare wat my bemoedig en staande hou deur enige stryd van vrees, bekommernis en probleme.

Een van die kommentatore is van mening dat ons gebede vir God belangriker is as die musikale aanbidding van die hemelskare. Die hemel is stil by die aanhoor van gebede, selfs die sagste fluisterroep van ons hart. Ek weet God het nie stilte nodig om te hoor nie. Hierdie is ‘n beskrywing in menslike terme om die belang van gebed voor God vir ewig in ons harte in te brand.

Ons het stilte nodig om te fokus. Dink maar wat in ‘n motor gebeur wanneer die radio aan is en die kinders op die agtersitplek tekere gaan. Alles is goed en wel as die pad maklik is, maar sodra daar moeilike omstandighede is; padwerke, verkeersknope of ‘n moeilike kruising, maak ons almal stil om te konsentreer.

Dit is ons Vader. Hy maak die ganse kosmos stil vir ons. Wees bly! Ons gebede is daar in die altaar binne raakafstand van Sy almagtige Hand.

Andrew Murray skryf oor gebed:

It is fellowship with the Unseen, most holy One. The powers of the eternal world have been placed at its [prayer’s] disposal. It is the very essence of true religion, the channel of all blessings, the secret of power and life. Not only for us, but also for others, for the church, for the world, it is to prayer that God has given the right to take hold of Him and His strength.

God hoor ALLE gebed. Hy is meer gereed om gebed te antwoord as wat ons is om te bid.

Die engel staan by die altaar. Daar word dikwels in Openbaring (6:9,9:13,14:18) van die altaar gepraat. Dit is die wierookaltaar in die Heilige deel van die woestyntabernakel waar die tafel met toonbrode en die goue lampstaander is. Dit is nie die brandofferaltaar nie – daar is geen dier offers in die hemel nie. Die Lam is geslag aan die kruis – eens en vir altyd. Niks meer is nodig nie. Die era van brandoffers is vir altyd verby. Die wierookaltaar word in Levitikus 16:12, Numeri 16:46 en Lukas 1:8-10 beskryf. Dit is die simbool van gebed en aanbidding.

Die wierookaltaar was van goud gemaak – ongeveer ‘n vierkante meter groot, met plek binne vir die wierook kole, met horings aan die hoeke.

unknown Die wierookaltaar in die Tabernakel.

Gebed is ‘n offer, omhul met ‘n heerlike geur wat vir die Here aangenaam is. Geen ander offer is nodig nie – net gebed wat die ganse hemel in beweging bring. Die beskrywing van die engel wat vuur op die grond gooi, dui op meer openbaring wat oor die gebeure op aarde kom. Gebed is die sleutel om die openbaring van die seëls te verstaan.

Die beeld van die engel met die gloeiende kool herinner aan die roeping van Jesaja (6:6), ‘n positiewe beeld van salwing en toerusting van die Heilige Gees. Die gerub strooi kole van die altaar oor die stad in Esegiël 10:2.

Hier in ons verhaal neem die engel die gloeiende kole van die altaar en strooi dit oor die aarde (8:5). Gebed het direkte, onmiddellike impak op die aarde.

‘n Trompet is ‘n simbool van ingrype van God in die geskeidenis. Dit is ‘n oproep tot aksie, ‘n waarskuwing om gereed te wees en dikwels ook die aankondiging van ‘n fees of die besoek van ‘n koninklike.

In die geskiedenis van Israel het die trompet die oordeel en aksie van God aangedui (Sefanja 1:14-16, Joshua 6:1-8) soos:

die wet op die kliptafels:                   Exodus 19:16, 10.

die oproep van die bannelinge:        Jesaja 27:13

die “dag” van die Here:                       Joël 2:1, Sagaria 1:16, 9:14.

die vergadering van die uitverkorenes: Matteus 24:31.

Paulus praat van die dag waarop die trompet sal weerklink. (1 Korintiërs 15:52-53 en 1 Thessalonicense 4:16) Dit is ‘n dag van groot vreugde vir die kerk en ‘n dag van afrekening en openbaring vir die kinders van die Here.

Die eerste vier trompette kondig die verwoesting van natuurrampe aan. Die natuur is aktief in die oordeel van God. Slegs ‘n deel van die aarde word getref. Dit is net ‘n voorspel tot die einde en die finale oordeel.

‘n Derde is ‘n substansiële minderheid. Die besonderhede van die volgorde word in die volgende verse gegee:

Eerste die aarde (8:7), dan die see (8:8-9), dan die vars water en fonteine (8:10-11) dan die hemelruim en sterre (8:12) en dit kom neer op die geheel van die skepping.

Die oorsprong van die oordeel vind ons in die plae van Egipte – haelstene, water wat in bloed verander, visse wat vrek, duisternis. [Exodus 7: 17-21,9:23-25 &10:21-23] Sefanja 1:3 praat van die voëls en visse wat in die oordeel van God neergevel word.

Al hierdie rampe word in die geskiedenis van die mensdom meer intens en meer dikwels in die laaste dae herhaal. Die beskrywing van Openbaring gee ons insig in die natuurrampe en besoedeling van die aarde, fisies en geestelik, in ons eie tydvak. Die verwoesting wat om ons gebeur is soms moeilik om te verstaan. Ons weet dat die aarde kreun onder die gevolge van sonde.

Bitterals (wormwood) dui op die pynlikheid van swaar oordeel.

[Grieks = apsinthos – ‘n plant waaruit ‘n bitter olie onttrek is wat giftig op die senuweestelsel inwerk). Dit is dikwels aangewend om wurms inwendig te behandel.

Reën wat soos bloed lyk het in Italië en suidoos Europa in 1901 voorgekom. Die wind wat op ‘n seker manier waai het die Saharasand so ver gewaai dat die rooierige sand soos reën oor Europa neergeval het.

 ‘n Berg wat brand klink soos ‘n vuurspuwende berg. Dit is in die Romeinse tyd berig toe Pompeii verwoes is in 79 nC. Vesuvius, suid van Rome in die Baai van Napels, het onverwags en kragtiglik uitgebars en ‘n hele dorpie onder lawa begrawe. Vandag is dit ‘n toeriste aantreklikheid wat ‘n blik gee op die lewe in daardie tyd.

Die laaste vers praat vand ‘n arend, nie ‘n engel nie, wat met uitroepe van katastrofe en ellende, verdere tragedie aankondig. In Joodse tradisie was ‘n arend dikwels die draer van profesie en openbaring.

Die eerste vier trompette het oordeel oor die natuur aangedui, maar in die laaste drie (hoofstukke 9-11) is dit die ongelowige mense wat ly onder dood en ondergang.

Die wêreld om ons is afgetakel en uitgeput deur oorlog en stryd. God se oordeel is ‘n natuurlike gevolg op die bose staat van sake. Sy eerste gawe aan die mensdom was keuse en Hy sal dit nooit terugtrek nie (Romeine 11:29).

Ons, wie die voorreg het om onsself kinders van God te noem omdat ons ons sonde bely en Jesus as ons Saligmaker aanvaar, is in die unieke posisie om in die veiligheid van goddellike hulp binne die oordeel te oorleef as ‘n voorbeeld van God se reddende krag. Ons gebede en die wonderwerke wat ons van getuig sal ons oorwinning aan die wêreld vertoon.

Hulle het self die oorwinning oor hom [die satan] behaal danksy die bloed van die Lam en die boodskap waarvan hulle getuig het; en hulle het nie hulle lewens so lief gehad dat hulle onwillig was om vir Hom te sterwe nie. (Openbaring 12:11)

 

 

 

 

42. Kry vir jou ‘n bril!

 

Die jaar spoed voort. Soveel het al gebeur, dat die Nuwejaarsfeeste vae ou-nuus is. Mens is maar weer onder die indruk van die verloop van tyd. Gebeure in die nuus sit ons oog op die toekoms en ons kyk onwillekeurig vorentoe. Soos met alles, het ons ‘n keuse hoe ons kyk.

As kinders van die Here, kyk ons nie met wanhoop en paniek nie, al lyk die prentjie hoe. Ons prentjie word gevorm in die beloftes van die Woord. In die Heilige van die Tempel van Aanbidding word ons toekomsvisie gevorm.

Bring die lampstaander [menorah] Unknown, vul dit op met olie (die Heilige Gees), laat dit die Woord (brood) verlig en lewend maak want Jesus sê Sy woorde is Gees en Lewe [Johannes 6:63]. Lig jou hande op by die wierrookbak en aanbid die Almagtige wat die toekoms in Sy hand hou!

Die afgelope naweek het ek ‘n fliek oor ysskaats (figure skating) gekyk. Ek wil dit eerder kunsskaats noem. Ek is altyd in vervoering oor die toewyding en dissipline wat in die beoefening van professionele sport ingaan, om nie te praat van die klassieke musiek uitvoerende kunstenaars van wie ek ‘n hele rits bewonder. Die filmwêreld fasineer my met die totaliteit van ‘n reuse akteursperoonlikheid in een rol, wat my laat lag en huil, en my beheer daaroor uit my hart uitruk. Die fliek, Philomena, het my gerol en gerasper, en sowaar my laat goed voel daarna. Wat a tour de force van storie en kinematogrofie.

Ek kan my nog indink wat die betreding van die volledig- absorberende, kompromielose eise van ‘n uitvoerende kunstenaar se wêreld behels. Sport is so ver van my verwysingsraamwerk, dat ek die winterspele van ‘n paar maande gelede met ‘n oop mond aangegaap het. Die fisiese en intellektuele eise, die psigologiese voorbereiding vir die perfekte balans om op die hoogste vlak te kompeteer, is amper ondenkbaar in vergelyking met die gemak van my lewe as a jack of many trades, master of none.

Ek bekyk ons wêreld en ruk myself terug na die realiteit van my taak. Skielik is ek gekonfronteer met vandag en die toekoms. Waarheen gaan ons? Wat lê voor en wat wil ek bereik? Ek kyk na Suid-Afrika met my hart en na die res van die wêreld met my arm en probeer my kinders daarin visualiseer. Is dit nie dalk beter om so in ‘n beroep absorbeer te wees dat al wat saak maak is maar slegs die volgende kompetisie, die volgende film, die volgende konsert? Die toewyding van gees, siel en liggaam voel skielik luuks teenoor my wye en algemene “aanwending” as mens.

Soos gewoonlik, “praat” ek met die Here in my hart en wonder wat Hy beplan. As ek bestek opneem van my lewe het ek ‘n lang lys seëninge wat akkuraat beskryf kan word as lewenslank. Ek het gebede wat ek gebid het, waarvan ek nog nie die uiteinde sien nie – onthou ek glo nie in onbeantwoorde gebede nie – dis onmoontlik! Dis net gebede waarvan die antwoord in die toekoms duidelik sal word of dalk ook nie in my bepaalde tyd op aarde nie. Oor hierdie aspek van my lewe skreeu ek in die geesteswêreld:

Jesaja 52:7:

How beautiful on the mountains are the feet of those who bring good news, who proclaim peace, who bring good tidings, who proclaim salvation, who say to Zion, “Your God reigns!”

Alle gebede, begeertes en toekomstige onsekerheid hoort onder die banier: Ons God regeer!

Terug by die seisoene wat ons verlede keer oor gepraat het. Elke dag om jou voel jy die verandering aan jou lyf. Ons het al gesels oor die winter en die seker tekens van lente as jy goed kyk. Hierdie manier van kyk is vir my nog altyd ‘n geestelike uitdaging. Wat SIEN jy in die winter van jou begeerte? Wat sien jy wat aan jou toekoms die verskil maak? Meer nog – ons Christene moet anders na die toekoms kyk as ander mense.

Sien jy die amandeltak? Jeremia 1:11,12.

Moreover, the word of the Lord came to me, saying, Jeremiah, what do you see? And I said, I see a branch or shoot of an almond tree [the emblem of alertness and activity, blossoming in late winter].

Then said the Lord to me, You have seen well, for I am alert and active, watching over My word to perform it.

Dink net – geestelike oorwinning – om in die winter van die siel die amandeltak te sien. Die simbool van aktiwiteit en gereedheid wat in die laat-winter blom.

Ek dink ‘n amandelboom is ook ‘n bodemklip. Dis waarlik ‘n padwyser wat jou herinner aan die bloeisels in die laat-winter. Die eerste bloeisels, die seker teken van uitkoms; dat die Here gaan doen wat Hy gesê het Hy sal doen. Die simbool dat Hy wakker is en Sy Woord sal uitvoer.

Die belang van die amandeltak word in Numeri 17 onderstreep. Die staf van Aaron wat in die verbondsark sy ereplek gehad het, het in een dag gebot, gebloei, geblom en vrug gedra. Wat ‘n wonder! Ons almal weet nou mos goed van die seisoene. Dit neem ‘n rukkie vir die bloeisel om te wys, dit gebeur redelik vinnig, maar darem oor ‘n paar dae. ‘n Dooie stuk hout wat in een dag in ‘n lewende tak met vrug verander – ongetwyfeld ‘n wonderwerk. Dit is wat jou verwagting moet wees as jy die Woord van God glo. Jy sal bo jou verwagting verras word want jou God regeer oor jou gebede, omstandighede en toekoms. Dink aan jou Vader wat werk vir jou. Jesus sê dit self.

Johannes 14:10

Do you not believe that I am in the Father, and that the Father is in Me? What I am telling you I do not say on My own authority and of My own accord; but the Father Who lives continually in Me does the His works (His own miracles, deeds of power).

Die grote Skeppergod werk wonderwerke vir jou.

Hoe sal jy dit glo? Hoekom sal Hy dit vir jou doen?

Kry vir jou ‘n bril – kyk reg.

Ons kyk na die toekoms met die bril van hoop. Die toekoms begin in die volgende minuut van jou lewe – dit volg direk op nou. Jy kyk met hoop na nou-nou, maar ook na die verre, verloop van tyd – oor maande, jare en dekades. Die tyd wat in ons gemoed vaag en onbekend is. God is daar en Hy regeer daar ook.

Eugene Peterson (skrywer van The Message – vertaling van die Bybel en ‘n rits ander boeke wat ek sonder voorbehoud kan aanbeveel) beskryf die toekoms en hoop op die manier waarop die Christen homself duidelik onderskei van enige ander denkpatroon op aarde. Laat my toe om hom uitvoerig hieroor aan te haal, want sy definisies inspireer my om uitdagend en roekeloos te glo.

The way we conceive the future sculpts the present. It gives contour and tone to nearly every action and thought through the day. If our sense of future is weak we live listlessly. Much emotional and mental illness and most suicides occur among men and women who feel that they “have no future”.

Hope is a response to the future, which has its foundations in the promises of God. It looks at the future as time for the completion of God’s promise. It refuses to extrapolate either desire or anxiety into the future, but instead believes that God’s promise gives the proper content to it.

But hope is not a doctrine about the future: it is a grace cultivated in the present, it is a stance in the present which deals with the future. As such it is misunderstood if it is valued only for the comfort it brings; as if it should say, Everything is going to be all right in the future because God is in control of it, therefore relax and be comforted.

Hope operates differently. Christian hope alerts us to the possibilities of the future as a field of action, and as a consequence fills the present with energy.

As mens hierdie definisie lees en verteer, dan staan die goeie nuus van ‘n liefdevolle Vader wat regeer, wat aktief werk om Sy beloftes uit te voer, sentraal en dominant in jou toekoms. Die inhoud van jou toekoms is die energieveld van die uitvoering van God se belofte in Sy woord oor jou lewe. Dit red jou vir ewig van ‘n passiewe toekomsvisie, waarin jy soos ‘n lewelose marionet op die verhoog van die lewe sonder beheer ronddans, volgens die toutjies in beheer van lot of boosheid.

Die vertroue op die Woord van God maak jou ‘n aktiewe geloofsheld in jou eie toekoms.

Moenie vir ‘n oomblik toelaat dat jou eie onwaardigheid jou verhoed om hierdie pad met vreugde in die voetspoor van Jesus te volg nie. God self sê:

Because you are precious in My sight and honoured, and because I love you….Jesaja 43:4

Weer – nie jou eie goedheid of pogings nie, eerder God se onvoowaardelike liefde. Jou toegang tot die rykdom van Sy heerlikheid vir meer as wat jy nodig het, is die Kruis en die Bloed.

Ek bid vir elkeen die volvoering van God se droom vir jou in jou toekoms en veral ‘n spesiale insig in Sy liefde en kruisdood wat jou toekoms bepaal.