Ons is gewoond aan briewe in die Bybel. Meeste van die Nuwe Testament is in die genre van briewe geskryf. Die ouer garde onder ons het geleer hoe om ‘n brief te skryf – ek weet nie meer of die kuns van brief-skryf nog geleer word nie. Ons kan maklik die briewe van die Bybel erken aan die aanhef, met ander woorde ‘n kort verklaring oor wie skryf, met hoeveel vreugde die skrywe aangepak is en aan wie die brief gerig is. Dan volg die onderwerp wat bespreek word, die afsluiting en gevolgtrekkings waarin die kerk of gemeenskap van gelowiges aanmoediging word en dan ‘n slot, waar sekere persone vermeld word, gevolg deur ‘n groet aan die einde.
Dit is seker so dat eposse vandag nog steeds as briewe gesien sou kon word – dit word dan “pos” genoem. Die ouer geslag skrywers sal meestal ‘n epos in briefvorm konstrueer, maar in moderne kits-kommunikasie word ‘n epos gou korter, meer op die punt af en dikwels by die hoeveelste in die reeks oor ‘n sekere onderwerp, sommer net ‘n paar lyne wat die onderwerp meer as die persoon aanspreek.
Paulus was die meester van kommunikasie in briefvorm in die Nuwe Testament en het na die pen gegryp as hy nuus uit die kerke wat hy geplant of net besoek het, gehoor het. Dikwels was die nuus nie goed nie, soos so dikwels in die kerkgeskiedenis gebeur het. Dit is te verwagte as mense van verskillende klasse, rasse, kulture en verwagtings bymekaar kom om in eenheid God te dien. Vir die Jode was dit ‘n ou bekende konsep en met soveel proseliete (mense wat hulle tot die Jodedom bekeer het) uit die Griekse en Romeinse samelewings, kan mens net dink dat die Christen-manier vir almal ‘n uitdagende aanpassing was.
Meeste geleerdes is dit eens dat bekering tot die Jodedom ‘n historiese hoogtepunt in die eeu voor Jesus se lewe op aarde en die aanvang van die Christendom bereik het. Die verwagting na iets nuuts en die soeke na waarheid en substansie het mense na die ware God getrek.1 Die Jode het nuwe bekeerlinge tot hulle geloof gedoop. Hulle was gewoond aan die doop soos deur Johannes die Doper beoefen is, maar nooit vir ‘n Jood nie.
Dit is hoekom sy bediening so opslae gemaak het. Hy het Jode gedoop; Jode onder die indruk van die gebrekkigheid van hulle aanbidding, hoewel hulle in die waarheid opgevoed is. Die ontwikkeling van die Fariseërs, Skrifgeleerdes, Sadduseërs en Esene in die tydperk tussen die Ou en Nuwe Testament toe die profetiese stem in Israel stil was, het gepoog om die Skrifte, dit wat hulle gehad het en waarvan almal seker was, te bewaar en te interpreteer. Sedert die terugkeer uit ballingskap was die oorblyfsel Jode net ‘n provinsie van een of ander wêreldryk. Dit het die vlam van verlange na politieke onafhanklikheid en selfs wêreldoorheersing onder die heerskappy van hulle Messias, brandend gehou.
Vir hulle, net soos vir ons is dit super-belangrik om die geestelike perspektief op ons wêreld-politiek en omstandighede te behou en te voed. Net soos vir die Jode van ouds is ons omstandighede chaoties en gewelddadig. Vir hulle het dit nooit verander nie. Hulle is deur die eeue vervolg en bedreig, onderdruk en uitgemoor. Vlugtelinge het die wêreld gevul en toe met intense vervolging hulle pad na ‘n eie land teruggevind, weer eens met chaotiese en gewelddadige gevolge.
Waar laat dit ons in die spesifieke fragment van tyd waarin ons onsself bevind? Ons het laaskeer oor die kos van die woestynbewoners gepraat. Ons is die wildernis-bewoners en ons “voed” op die glansryke, majestueuse glorie van God, binne-in ons omstandighede. Dit is juis in die grootse, oorweldigende boosheid, magslus en bedrog van wêreld-leierskap waarin ons so magteloos voel, dat God se wonderwerkende krag so duidelik is. Hoe sal ons weet dat Hy werk, vernuwe en bekragtig as ons dit nie so desperaat nodig het nie?
Wildernis-omstandighede laat ons sien, wat in volmaakte omstandighede hoegenaamd nie duidelik sou wees nie.
Ons is nie alleen nie. Behalwe vir ‘n Herder-God wat vir ons ‘n tafel dek in die vallei van doodskaduwee, het ons mekaar – ons mede-gelowiges, mede-woestynbewoners, feesgenote aan die oorvloed-tafel van die God wat ons liefhet en uitred.
Paulus sê dit so:
Julle is ons brief, geskryf in ons harte, gelees en verstaan deur alle mense. Julle is duidelik ‘n brief van Christus wat deur ons diens opgestel is, geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte. (2 Korintiërs 3:2,3)
God se epos in ons hart geskryf om deur ander “gelees” te word sodat almal om ons voordeel trek uit elke wonderwerk en ingrepe – aksies van liefde van ons God en Vader. Is dit nie die hoogste eer nie? Met ons getuienis kan ons mekaar bemoedig. Dit is een van die sleutel-elemente van ‘n lewe van oorwinning sonder dat omstandighede verander. (Openbaring 12:11)
Daarom, bemoedig mekaar, en laat die een die ander in die geloof opbou, soos julle inderdaad doen. (1 Tessalonisense 5:11)
Ons is vir mekaar gegee om die vreugde van getuienisse en die wonders van God in alle omstandighede te deel. Dit is ons krag en aanmoediging, sielevreugde om met mekaar te deel.
Dit is ook hoe ons in eenheid funksioneer, sonder om te stry oor leerstelling, maar om die weldade van God voor te hou.
Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in •Christus julle ook vergewe het. (Efesiërs 4:32)
Laat elkeen van ons sy medemens behaag met die oog op wat vir hom goed is en hom kan opbou. (Romeine 15:2)
Te veel gevra? Moet jy ook die politieke leier behaag met wat hom of haar opbou? Dit is tog duidelik gestel dit gaan om jou medemens en nie net jou mede-gelowige nie.
Die opdrag is veral moeilik as dit kom by wêreld-leiers, openbare figure wat blatant lieg en bedrieg en nog wegkom daarmee. Dit is waarom ons vir hulle moet bid. Uit eie ondervinding is dit glad nie maklik nie. Dis nie gebed met so ‘n visuele uitwerking dat lewens verander en die hele wêreld nou skielik reg is nie. Dit is eerder ‘n toets vir volharding in gebed met diepe afhanklikheid van wat gebid moet word. Dit is ‘n gebed wat jou eie hart ondersoek… en verander.
Paulus gee die opdrag duidelik.
Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ‘n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. (1 Timoteus 2:1-4)
Meditasie en diep dink oor hierdie Skrif is kos vir jou siel. Dit verander jou perspektief, veral die woede wat opvlam en jou innerlike vrede versteur of heeltemal steel. Hoe kan ek in lyn met God se hart kom? Dit is amper onmoontlik om te dink dat ek vir sekere mense met ‘n oop gemoed en opregte hart moet bid. Dit is net moontlik as ek onderwerp aan die Woord en in lyn met God se hart kom.
Dan sien ek die belofte: … sodat ons ‘n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei.
Dit klink soos hemel vir my. Rustig en stil met waardigheid is wat ek vir my lewe sou kies – natuurlik. Skielik is die bordjies verhang. Is dit AL wat ek moet doen vir ‘n rustigheid in die politieke en ekonomiese wildernis waarin ek leef? Dit klink meer doenbaar.
Let wel, dit is nie die gebed vir ‘n die verandering van regering, ‘n politieke party voorkeur of die verwydering van ‘n slegte leier nie. Veel eerder gaan dit om die fokus op God se almag en dat Hy ALLE dinge tot ons voordeel kan bewerk. (Romeine 8:28)
Kom ons sluit af met hierdie Skrif uit Romeine waarmee ons volgende keer voortgaan. Dit is ‘n pertinente onderwerp wat ‘n dieper diskussie vereis.
Laat elke mens onderdanig wees aan die gesaghebbers wat oor hom gestel is, want daar is geen gesag wat nie van God afkomstig is nie; en dié wat daar wel is, is deur God ingestel. Wie die gesag teenstaan, verset hulle dus teen die instelling van God, en diegene wat hulle verset, sal ‘n oordeel oor hulleself bring. Die owerhede boesem immers nie vrees in as dit kom by goeie optrede nie, maar wel by slegte optrede. Wil jy sonder vrees vir die owerheid leef? Doen dan die goeie, en jy sal lof van die owerheid ontvang. Want die owerheid is ‘n dienaar van God, tot jou beswil. Maar as jy die kwade doen, moet jy bang wees. Die owerheid dra nie verniet die swaard nie. Hy is immers ‘n dienaar van God, aangestel om die kwaaddoener te straf. (Romeine 13:1-4)
Net ‘n oppervlakkige lees ontbloot my foutiewe denke tot my skande. As ek my hart met ‘n emoji kan ontbloot is dit ‘n mengsel van twee: 😬 en 😳
1.Mission and Conversion: Proselytizing in the Religious History of the Roman Empire – Martin Goodman, Oxford Scholarship Online.