276.   Wysheid wat lag

Sterkte en eer is haar kleed, en sy lag oor die dag wat kom.  (Spreuke 31:25)

Ek dink nie dis maklik om te lag oor die toekoms nie.  Dis dalk met groot inspanning net moontlik om nie te huil nie.  Die wêreld is maar boos…en gewelddadig… en onseker…en vuil.  Die lysie van verkeerd kan lank word, sommer maklik, soos in die dae van Habakuk.

Dis die moeite werd om die drie hoofstukke van Habakuk in een sitting deur te lees.  Die profeet herinner ons aan die belangrike vraag: Hoekom?  Hy vra dit vir die Here.  In moedeloosheid en groot omwentelinge in die geskiedenis, vra hy hoekom die Here sy volk verlaat het.  Die hele boek is ‘n gebed – ‘n  gesprek met God – ‘n dialoog.  God se antwoorde maak al die verskil.

Habakuk leef in een van die mees onseker tye van Juda se geskiedenis.  Die volk het lankal vergeet van die wonderlike hervormings van Josia, wat ’n herlewing in aanbidding ingelei het.  Die gevolg van vergete hervormings was wydverspreide geweld, onderdrukking van die armes en die ineenstorting van die regstelsel.

Die wêreld om Juda was in oorlog gedompel.  Babilon word nou die oorheersende mag nadat hulle teen Assirië en Egipte opgestaan het.  Juda se grondgebied is tussen die twee wêreldmagte en is die logiese volgende verowering vir Babilon.  Israel, die tien stamme, is reeds lankal deur Assirië weggevoer en daar is geen moontlikheid van die herstel van hulle grondgebied.  Juda, die ander deel van die verdeelde ryk, is al wat oor is van die groot Hebreeuse beskawing onder koning Salomo.

Habakuk skryf heel moontlik in die tyd tussen die val van Nineve (612 vC) en die val van Jerusalem (586 vC).

Die drie hoofstukke is die verhaal van ‘n geestelike “denk-reis” van die profeet waarin hy die toestand om hom beskryf en bekla, aan die Here die  vrae vra, antwoord kry en dan uitstyg met ‘n hemelse perspektief tot op die hoogtepunt van die boek – die lied van Habakuk wat ons so dikwels  aanhaal en sing.  Dit is ‘n pelgrimstog in die denkpatroon van ‘n man wat reis van twyfel na aanbidding.

Die musikale notasie in 3:19 sou kon impliseer dat Habakuk soos Jesaja, ‘n singende profeet was of dalk ‘n aanbiddingsleier as ‘n lid van die Leviete wat in die Tempel diens gedoen het.  Hy het ‘n nugter beskouing van die  toestand rondom hom en hy kan eenvoudig nie die groeiende onreg  ignoreer nie.  Dit is vir hom heeltemal natuurlik om die groot kwessies voor die Here te bring. 

Die verskil tussen die begin van die boek en die einde is treffend.

In die eerste verse is Habakuk oorweldig deur omstandighede.  Hy dink aan niks anders as geweld en onreg.  Hy bring dit voor God (1:2) omdat hy  nie God se voorsiening of sy aksie in die lewens van sy volk ervaar nie.  

God is nêrens.  Mense regeer – boos en wreed – net soos mense sonder God se riglyne.  Hy gebruik woorde wat die toestand beskryf – verwoesting… geweld… stryd… twis…  verdraaide reg… goddeloosheid. 

God se antwoord is nie wat hy verwag nie. God sê Hy gaan nie die Galdeërs gebruik.

Ek gaan die Galdeërs laat kom,

die wrede, woeste nasie

wat dwarsoor die aarde rondtrek

om lande te verower wat nie hulle s’n is nie.  (1:6)

Lees gerus die opvolgende verse oor die verskrikking wat die Galdeërs inhou.

Dit is nie eintlik ‘n oplossing of ‘n belofte wat die profeet troos nie.  Hy verstaan dat God nie die sonde en ongeregtigheid kan verdra nie, en dat sonde gestraf moet word.  Dit gee aanleiding tot sy tweede vraag.

Waarom doen God niks aan die goddelose volk nie?  Waarom gryp God  nie in nie en bring bekering oor die volk sodat hulle die vernietiging van die  Galdeërs kan vryspring nie?

Die vraag van Habakuk voor God, bring ons by die woorde wat vir tyd en ewigheid die toekoms vir ons definieer.  Ons sal ten gronde gaan as ons nie visie vir die toekoms het nie.  Ons soek die aangesig van God en kry sy perspektief op sake van die dag.  Hier in die begin van ‘n kalenderjaar sal ons net soos Habakuk ons perspektief onderwerp aan ‘n Woord uit die hemel.

Ek wil op my uitkyktoring gaan staan,

my plek op die vestingmuur gaan inneem,

ek wil wag om te verneem wat die Here vir my sal sê

en wat ek moet antwoord wanneer mense my verwyt.

Die Here het toe vir my gesê:

Skryf wat Ek aan jou gaan openbaar duidelik op kleitablette

sodat mense dit sommer in die verbygaan kan lees.

Die openbaring geld vir ‘n bepaalde tyd;

dit sal gou kom want dit kom beslis.

Jy moet net geduldig bly wag

as dit nie gou kom nie,

want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie. (2:1-3)

Wat is die visioen vir die toekoms wat opgeskryf moet word?

Hoor, kinders van God oor al die eeue!  Hoor die kreet van die Hervorming uit die mond van Martin Luther!   Hoor dit vandag en altyd!

Maar die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe. (Habakuk 2:4, OAB, Romeine1:17)

Die visie van God se beskerming oor sy eie, sy kinders, sy onsigbare Koninkryk op aarde, sy Kerk, is die inleiding tot die lied in die derde hoofstuk.  Hy bid tot God om die visie in die midde van die jare te laat uitspeel.  Hy bid vir uitkoms, sonder vrae en sonder paniek.  Hy maak staat op God se ontferming en genade.

Here, roep u werk in die lewe in die midde van die jare; (3:2)

Habakuk se nuwe perspektief in gebedsoorwinning is duidelik in sy woorde in die hele derde hoofstuk.  Hy sluit af met ‘n vreugdelied, waarin hy nugter  en rasioneel kennis neem van die omstandighede en sy hemelse perspektief inlei met die kragtige word: nogtans. Ten spyte van, nieteenstaande al die boosheid  – die groot kontras met die begin van die boek.

Ek loop op hoë plekke.   Die “voete” van my denke waarmee ek die lewenspad “loop” is verander, getransformeer.   Nuwe denke kom uit die Teenwoordigheid van God in gebed.

Die toekoms is bedek in die hemelse perspektief uit die Mond van God wat in sy Teenwoordigheid in gebed verkry word. Die lied van Habakuk:

Al sou die vyeboom nie bot nie

en daar geen druiwe aan die wingerde wees nie,

al sou die olyfoes misluk

en die lande geen oes lewer nie,

al sou daar geen kleinvee in die kampe meer wees nie

en die beeskrale sonder beeste wees,

nogtans sal ek in die Here jubel,

sal ek juig in God, my Redder.

Die Here my God gee vir my krag.

Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok,

op hoë plekke laat Hy my veilig loop.

Vir die koorleier. Met snarespel.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s