Ons het verlede keer die wonder van die belofte van God se geheime plek binne-in jou denke beklemtoon. Dit is die Skuilplek van die Allerhoogste en die Skaduwee van die Almagtige waar jy veilig is. (Psalms 91:1) ‘n Bewuswording van Sy teenwoordigheid en ‘n bewus-bly van Sy nabyheid is die essensie van ‘n triomfantelike lewe. Die heerlike bykomstighede in so ‘n lewe is diepe insig in omstandighede en wêreldgebeure, salige hoop sonder vrees vir die toekoms en God-gegewe vreugde wat nie afhanklik van die sienlike is nie.
Ek het onlangs nuwe ontdekkings ten opsigte van dieper betekenisse van Hebreeuse woorde gemaak. Ek is ingeskryf op ‘n YouTube-reeks met die naam Revelation Road – ek kan dit aanbeveel. Die betekenis-nuanse van woorde gee grondige insig. Vir my is dit ‘n woordfees elke keer.
Die Hebreeuse woord vir wildernis verskil met een letter van die woord vir praat. Sulke woorde kom gewoonlik uit dieselfde stamwoord. Die strekking van die woord vir wildernis impliseer dat die stem van God in die wildernis gehoor word. Hoekom op aarde sou dit so moet wees?
Ons het baie voorbeelde daarvan in die Ou Testament want daar leer ons hoe die fisiese werklikheid die onderbou van die geestelike werklikheid vorm. God praat met Moses in die brandende bos in die woestyn – fisies ja maar ook tydens ‘n wildernis-seisoen in sy lewe na hy uit Egipte gevlug het. By die berg Sinai, gedurende die Israeliete se wildernis-verblyf, ontvang hy die Wet van God, die openbaring van God se karakter aan die mens.
Geestelike wildernis-tyd is nie lekker nie. Dit gaan gewoonlik met stryd en teleurstelling gepaard. Op sy beste is dit ‘n tyd van verwagting en hoop – verwagting dat God gaan doen wat Hy belowe het en hoop op die uitkoms wat ons in geloof aan vashou, dit wat ons nie kan sien nie. Dit is ‘n tyd van transformasie – vernuwing in ons denke en verwagtinge, meer fokus op die Woord met skerper sensitiwiteit wat vertroue in God verdiep. Ons word getoets en geknie totdat ons sag en bruikbaar is, geskool in genade en vergifnis om die glorie van God in die wêreld te leef.
Dawid se wildernis-tyd van tien jaar, op vlug voor die koning se magte, sy eie mense, berei hom voor vir die koning wat hy moet wees – nie foutloos nie, maar diep afhanklik en fyn ingestel op sy roeping. Dawid regeer die volle 40 jaar soos deur God bepaal, ten spyte van sy sonde en die rebellie van sy kinders.
In Jesaja roep die profeet die stem in die wildernis wat die plek vir die Messias voorberei. Die grootste gebeure in die ganse menslike geskiedenis, word in die wildernis voorberei. Johannes die Doper groei op in die wildernis, toegerus en voorberei om sy roeping te leef. Jesus se bediening begin met die voorbereiding in die wildernis net na Sy doop.
Die wildernis word in die lewe van Hosea (en die boek in die Bybel met sy naam) voorgehou as ‘n plek van herstel en vernuwing. Israel se afvalligheid word met Hosea se huwelik met ‘n prostituut vergelyk. Hosea moet met haar trou, haar liefhê en kinders hê. Elke kind het ‘n naam wat die sonde van afgodery en God se woede daaroor, uitbasuin. Daarmee saam kom die profetiese woord deur Hosea van God se beloftes van herstel.
Dit is juis hier, in die tweede hoofstuk, dat God die afvallige vrou (Sy volk) na die wildernis uitnooi. Dit sal haar plek van herstel word.
Daarom, kyk, Ek gaan haar oorhaal, haar na die woestyn laat gaan, en mooi met haar praat. (Hosea 2:14)
Hier word die woestyn direk met die stem van God verbind. Sy moet oorgehaal word om in die woestyn te gaan sodat sy kan hoor. Dit is woestyn-tye wat ons in staat stel om te hoor. Dit is weg van die alledaagse, die gewone rumoer wat ons ore toestop vir die “fluistering in die windstilte.”
In die volgende vers is die alles-oortreffende belofte.
Ek sal daarna haar wingerde vir haar teruggee, en die vallei van Agor as ‘n poort van hoop. Daar sal sy antwoord soos in haar jong dae, soos in die tyd toe sy uit Egipteland opgetrek het.(Hosea 2:15)
Wingerde is ‘n simbool van voorsiening en voorspoed. Sy sal in die wildernis God se voorsiening ervaar, alle behoeftes wat vervul word. Verder in Hosea praat hy van die nuwe wyn, olie en graan – die noodsaaklike sowel as die luukse.
Die vallei van Agor is simbolies van moeilikheid. Die vallei is deur Joshua (7:26) so benaam na aanleiding van Agan se sonde en die nederlaag by Ai. Die moeilikheid, die vernietiging wat sonde bring, sal herstel word met hoop. Hoop se stamwoord is om te wag. Dit is nie ‘n passiewe tyd van stilsit en naels-kou in desperate angstigheid nie. Wag en hoop is nie verskillende aksies nie. Dit is een konsep. Dit is in werklikheid ‘n tou wat saamgevleg word om sterker te word en gewig te dra. Dit is die tou waarmee Ragab uit Jerigo ontvlug het, sy en haar hele familie.
In die woestyn word die stem van die Here die lewenslyn – die voorsiening, beloftes uit die Woord, tye van vas en gebed, salige hoop, openbarings van God se glorie en sy karakter, sy goedheid en genade – saamgevleg in ‘n tou wat ons uitred uit Jerigo, die ommuurde bose vesting wat verkrummel voor die belofte wat uitbasuin word.
Die verbond word hernu, die huwelik voltrek en ‘n man staan in vir die volle omvang van voorsiening en beskerming. In Hebreeus is die woord vir man in die konteks van ‘n huwelik (husband) Baal. Dit dui op ‘n grondeienaar en huweliksmaat. Omdat die woord met die Kanaänitiese afgode geassosieer is, het God na homself verwys as ishi – my man. Die beskrywing van ‘n man as huweliksmaat vind ons in Jesaja.
Elkeen van hulle sal daar wees, as ‘n skuiling teen die wind, ‘n beskutting teen stortbuie, as waterstrome in ‘n dor streek, as die skadu van ‘n swaar rots in ‘n vermoeide land. (Jesaja 32:2)
[Die Afrikaans praat van ‘n koning, maar die Hebreeus gebruik die word vir man.]
Dit is die voorsiening van jou man, jou God, in die vallei van moeilikheid wat jou woestyntyd inlei waar jy die Stem hoor en die tou van verwagting en hoop sterk vleg om jou uit te red uit die boosheid wat jou omring.
Wanneer ontstellende gedagtes meer word in my binneste, dan beur u vertroosting my op. (Psalms 94:19)
Ja, die berge mag wyk en die heuwels wankel, maar my troue liefde sal nie van jou wyk nie, en my vredesverbond sal nie wankel nie, ” het jou ontfermer, die Here, gesê. (Jesaja 54:10)