181. Woorde van glorie en waarheid.

[Johannes 17]

Reg aan die begin van die studie van hierdie Evangelie, het ons in verwondering gestaan oor die idee van ‘n woord wat ‘n mens word. Laat my toe om Augustinus se aanhaling te herhaal: In everything I ever knew about the world, everything I read and regarded as worth studying, I had never heard of a word becoming a man.[Bodemklippe 133]

As ‘n woord vlees word, dan moet ons hard en diep oor die krag van woorde dink. God het met woorde geskep en die ondenkbare in bestaan geroep. Profesie, Heilige Gees-inspireerde woorde, spreek die hart en gedagtes van God uit, vandag net soos in die verlede. Dink net aan die magtige uitsprake van die profete en Psalmskrywers van ouds, wat oor eeue ons bygebly het en oorwinning en wonderwerke van geloof in ons gewerk het.

Aanbiddingswoorde besing die karakter van God en bring die teenwoordigheid van die Almagtige in ons atmosfeer in. As ons God in ons wêreld in praat dan bou ons op, ons bemoedig, kalmeer, genees en spreek die wonderkrag van die onsienlike om ten goede te transformeer. As ons skinder, jaloesie, wellus, gierigheid en hoogmoed uitspreek, nooi ons die verwoesting van boosheid in ons lewe en dit beïnvloed almal om ons.

Woorde wat ons uitspreek is ooreenkomste met die kragte van die onsienlike wereld.  Woorde van belydenis sal ons innerlike mens genees. Woorde van vergifnis sal ons denke bevry sowel as die lewens van diegene wat ons te nagekom het. Woorde van feesviering sal ons jaloesie oorwin en gebede van dankbaarheid oor God se werk in ons lewens word.

Hoe ons kyk bepaal ons woorde. Ons eie perspektief kan ons verslaan, voordat ons nog die dag aanpak. Jesus het so dikwels oor die oog gepraat. Kom ons kyk na een van Sy uitsprake oor hoe jy kyk.

“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matteus 6:22,23)

Dit laat mens dink aan hoe jy praat. Jesus het ook gesê:

Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dít is die dinge wat die mense onrein maak. Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery.  Dít is die dinge wat ‘n mens onrein maak… (Matteus 15:18-20)

Ons walglike en gemene woorde, wat uit ‘n donker hart met verkeerde perspektief kom, word ooreenkomste met die duisternis wat verwoesting en verderf in ons lewe innooi.

In die lig van hierdie begrip van wat ons woorde werklik skep, laat ons met oorgawe luister na die woorde wat Jesus vir ons bid.

Hoor, Bodemklipvriend, luister en leef!

Hierdie verse is wonderbaar. (Johannes 17:9-19)

As ons die volle betekenis van hierdie woorde begryp, het ons ‘n hemelse bestaan hier op aarde.

Ons is deur die Vader aan Jesus gegee. Die Heilige Gees roer ons harte om Jesus aan te neem. (Johannes 6:37,44)

In ons lewens, die dissipels van Jesus, verheerlik ons Jesus. Ons redding is Sy glorie. Ons opdrag van Hom is om die wêreld te leer van sy Vader, ‘n liefdevolle God wat red.

Ons is die instrumente van God in aksie.

Sit dit nie jou lewe in ‘n nuwe perspektief nie? Bring jou omstandighede voor Hom en “sien” hoe God dit uitwerk volgens Sy plan en tot Sy eer.

Jesus bring volkome vreugde, terwyl Hy waarsku hoe ‘n skerp kontras hulle (die dissipels en ons) se lewens met die wêreld rondom hulle sal wys. Dit maak nie saak hoe erg ons stryd is nie, by Hom is daar vreugde.

Jesus sê dat alles wat aan sy Vader behoort, syne is. Hy verklaar Sy volmaakte eenheid met Sy vader. Jesus is die inkarnasie van God self.

Hy bid verder vir Sy dissipels.

Daar is nie ontvlugting uit die wêreld nie, maar daar is oorwinning in die stryd. Ons begrawe onsself nie in kloosters en afsondering nie. Ons lewe die Christen-lewe in die rowwe oseane van boosheid. Ons sonder af in gebed en meditasie om kragtig in die storm te wees. Ons is God in aksie in die wêreld.Ons word nie vrygestel van probleme nie; ons is die oplossing van probleme in Christus.

Ons verwerp nie die wêreld nie, ons skryf dit nie af nie, ons wen dit terug.

Jesus bid vir eenheid.

Verdeeldheid impliseer eksklusiwiteit. Eenheid is ‘n besluit. Ons kan nie eenheid “voel” nie. Ons word een gemaak. Ons verander en leef uit God om onvoorwaardelik lief te hê, om te vergewe en in te sluit. Die Heilige Gees in ons onderskei die geeste, om te weet wat  demoniese misleiding en onenigheid is.

Die eenheid waarvoor Jesus bid is nie organisatories of administratief nie. Dit is die eenheid in persoonlike verhouding, die liefde in ons harte in die gesprek met Hom wat nooit ophou nie, wat ons verhoudings met ons medemens kragtig beïnvloed.

Kerke is georganiseerde godsdiens en kan verskil soos die wye verskeidenheid van mense op aarde, almal deur God geskape. Mense is so verskillend, die verskille verstom my. God se skepping is nooit stil nie, nooit stilstaande nie en altyd groter as wat ‘n mens verstaan. Slegs in liefde kan ons die groot verskille tussen denominasies oorkom. Die kerk is ‘n misterie. Dit is die Koninkryk van God en Hy regeer soewerein daaroor. Ons kan nie alles verklaar nie.

Dit is na alles meer menslik om verdeeld te wees; heel natuurlik om vyandig te wees. Die eenheid van die kerk van Jesus (nie ‘n denominasie nie) sal die bewys van God se werk in ons harte wees. Ware eenheid kan net bonatuurlik verklaar word.

Hy bid vir beskerming teen die aanvalle van die satan. Die Woord, die Bybel soos ons hom in ons hande hou, verduidelik al die strategieë van die duiwel. Ons vyand is nie kreatief nie. Hy kan nie nuwe maniere van verleiding en misleiding uitdink nie. Hy kom skelm en agterbaks met dieselfde goed oor en oor. Leer hoe hy werk en hoe om te veg. Leun op die beskerming van hierdie gebed.

Hy bid vir heiligmaking deur die waarheid.

Heiligheid is hagiazein in Grieks. Dit beteken apart of verskillend. Ons word afgesonder vir ‘n spesifieke doel.

Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken; voordat jy gebore is, het Ek jou aan My gewy en jou as profeet vir die nasies aangestel. (Jeremia 1:5)

Heiligmaking beteken ook om toegerus te word met die noodsaaklike vaardighede en toerusting vir die taak.

Jesus sal ons nie los nie. Hy gee ons alles wat ons nodig het om te oorwin.

In Johannes 17:20-26 gaan die gebed verder. Hy bid vir Homself en die kruis.

Hy bid vir die dissipels en die verre toekoms, die tyd wat voorlê en almal wat tot geloof in Hom sal kom. Dit is ONS!

Jesus het hoop en geloof in die toekoms gehad. Daar is nooit ‘n onsekerheid in Hom oor die toekoms nie. Hy het Sy vader vertrou en Hy het Sy missie aan die mense daar om Hom oorgelaat met vertroue en hoop. Hy het geweet dat hulle nie die volle implikasie van die grootse taak besef nie. Nogtans was Hy seker van sukses. Hy het geweet Sy vader sal hulle toerus en oppas en so ook almal wat na hulle sou kom.

Jesus gee aan ons God se glorie – dit is verstommend!

Die kruis was Jesus se glorie. Dit was Sy eer om te ly. Dit was nie die straf vir sonde nie. Dit was Sy manier om glorie oor boosheid te laat triomfeer. Enige sjirurg wat met moeilike operasies lewens red, ontvang groter erkenning as die dokter wat net ‘n voorskrif uitskryf.

Volkome gehoorsaamheid is Jesus se glorie. Om die wil van God te doen is ons glorie. Ons eie wil lei ons na hartseer en tragedie. Sy wil lei na oorwinning.

Jesus se glorie het gekom uit Sy verhouding met Sy vader. Ons verhouding met Jesus is die bron van ‘n glorieryke lewe. Ons lewe skyn Jesus se glorie. Onthou glorie is die substansie of volle “gewig” van alles van God – Sy aansien, eer, glans, prag en praal, Sy krag, gesag, rykdom, waardigheid en uitnemendheid. Sulke woorde is maar net ‘n karige poging om met woorde God te probeer beskryf.

Jesus sêdat Sy dissipels (ons ingesluit) Sy glorie in hemelse plekke sal sien.

Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom ‘n plek in die hemel gegee.  (Efesiërs 2:6)

Ons deel die lyding van die kruis in hierdie wêreld, maar ook die glorie van die oorwinning oor die dood.

Dit is ‘n betroubare woord: As ons saam met Hom gesterf het, sal ons ook saam met Hom lewe; as ons in die geloof volhard, sal ons saam met Hom regeer; as ons Hom verloën, sal Hy ons ook verloën; as ons ontrou is – Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie(2 Timoteus 2:11-13)

Dit is ons vreugde – ons sien die hemel reeds nou in die persoon van Jesus en ons verhouding met Hom.

Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spieël en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken. (1 Korintiërs 13:12)

Hierdie gebed was die laaste woorde van Jesus voor die verraad en die kruis. Kosbare laaste woorde van die grootste van alle mense.

Woorde van glorie en waarheid – woorde vir die lewe – woorde wat ons en ons toekoms verander.

 

 

179. ‘n Gesprek oor die toekoms.

[Johannes 16]

Enigiemand wat Bodemklippe lees weet dat ek gefasineerd is met tyd.  Die verlede, hede en toekoms word met groot moeite in taal uitgedruk – dink maar net oor Engels. Afrikaans is uniek in sy eenvoud om met hulpwerkwoorde ingewikkelde tydsaanduidings uit te druk. Ons het woorde nodig om ons storie van die verlede te vertel. Ons het wysheid nodig om ons storie in die hede gestalte te gee en ons het geen beheer oor die toekoms nie, selfs al het ons al die regte besluite geneem. Die lewe gebeur in die konstante en onstuitbare ritme van tyd. Soms voel dit stadig en lank wanneer pyn en ongemak heers en soms voel dit so vinnig en vlietend as vreugdevolle en goeie dinge gebeur. Tyd is onbuigbaar en wetenskaplik ferm deur die dae, jare en eeue van die geskiedenis.

In die Christelike tradisie het ek geleer dat die die toekoms aan God behoort en dat ek nie beheer daaroor het nie en ook nie uitsprake daaroor kan maak nie. Die toekoms is ‘n tydvak wat met groot respek aan God oorgelaat word.

Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly; ons sal sake doen en geld maak.”

Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn.(Jakobus 34:13,14)

Die respek vir die toekoms word soms uitgedruk in die Latynse woorde Deo Volenti (DV), wat in geskrewe en gesproke taal bygevoeg word. Dit beteken “soos die Here wil”. Eintlik behoort ons verlede en hede ook aan God en ons leef ons ganse lewe in die wil van God. Ons dien ‘n groot God wat buite tyd staan en in Sy oë is ons bestaan net ‘n damp wat verskyn en verdwyn.

Die toekoms is onseker. Ons beheer net hierdie oomblik. Dit is ons moment om die besluite te neem wat ons verlede onder die bloed van Jesus en ons toekoms bepaal. Ons toekoms is soos Eugene Petersen sê: a field of action for the promises of God. Sal dit nie wonderlik wees as al die onsekerheid oor die toekoms verdwyn en ons toekomssukses gewaarborg is nie? Dit is die goeie nuus van die Evangelie – dit is!

Hier in die laaste gedeeltes van Johannes 16 praat Jesus oor dinge wat kom. Hy berei Sy dissipels voor op die tyd na die kruisiging. In Joodse denke was daar twee tydvakke – die huidige en die toekoms.

Die huidige tyd was sleg en onder die oordeel van God.

Die toekoms was die goue eeu van God.

In die middel van hierdie twee tydvakke is: die dag van die Here – ‘n vreeslike dag waarin die huidige bestel heeltemal vernietig word en vervang word met ‘n wonderbestel waarin die Messias sal heers.

In die tydvak tussen die Ou en Nuwe Testamente het hierdie leer nuwe lewe gekry en profete en verskeie self-verklaarde Messiasse het dit verkondig. Die woorde van die ou profete is ingespan vir die doel.

Die dag van die Here het nou gekom, dit is ‘n wrede dag, ‘n dag van gramskap en gloeiende toorn, ‘n dag waarop die land verwoes en sy sondaars uitgeroei word. (Jesaja 13:9)

Blaas die ramshoring in Sion, roep hard op my heilige berg. Al die inwoners van die land sal bewe, want die dag van die Here kom, dit is naby: dié stikdonker dag, die dag van donker wolke waarop die groot  sterk nasie oor die berge uitsprei soos die lig van die dagbreek uitsprei. Só ‘n sterk nasie was daar nog nooit en sal daar nooit weer wees nie, selfs nie in die verste toekoms nie.(Joël 2:1,2)

Ons weet vandag die ramshoring het geblaas met die koms van die Messias en sal weer blaas by Sy tweede koms. Die sterk nasie is die kerk van Jesus, die onsigbare koninkryk op aarde, die Nuwe Jerusalem van Openbaring, soos wat daar nog nooit was nie.

In die Heilige Gees word geloof in Jesus die onderbou van die koninkryk van God.

Christelike vreugde is onafhanklik van omstandighede en veranderinge. Wêreldse vreugde is verkleef aan wêreldse dinge. Christen vreugde kom uit Jesus as bron en niks in hierdie wêreld kan dit wegneem nie. Ons vreugde kom uit die bron van die Heilige Gees en dit is volmaak in die teenwoordigheid van God waarin die Gees ons lei. Dit is vreugde sonder verwyte uit die verlede.

Pyn is vergete net soos na kindergeboorte (16:21,22).

Jesus belowe die volheid van kennis (16:23). Hier op aarde is daar altyd onbeantwoorde vrae en onopgelosde probleme, maar ons leef in geloof, nie op grond van wat ons sien nie. Volle kennis bring ‘n nuwe dimensie in ons verhouding met Jesus. Die deur van die onsienlike is oop deur Hom, daarom kan ons met insig en wysheid leef.

Die volheid van ons verhouding met God is slegs moontlik deur Jesus. Dit is in Sy naam wat ons vra en ontvang.

Jesus praat in paroimia (Grieks) wat beteken dat dit onduidelik vir die gewone luisteraar is. Daar is ‘n sluier oor, wat weggeneem moet word. Dit vereis meer ondersoek en meer oordenking om verstaan te word. Die woord word ook ten opsigte van die gelykenisse van Jesus gebruik.

Hy sê dat Hy die openlike waarheid met hulle praat. Hy sê reguit Hy is van God en Hy gaan terug na God. Dit is ‘n geweldige stelling. Die kruisdood was in hulle oë die dood van ‘n krimineel. Vir Jesus was dit die pad na God!

Die openbaring is dat in Jesus ons God direk kan nader. Jesus verander die houding van mense teenoor God. Hy is die openbaring van die hart van God. Hy stel God aan die mens voor as ‘n liefdevolle Vader en nie die woedende, verwoestende God wat die profete en karakters in die Ou Testament weerspieël het nie. Dit is vir hierdie openbaring dat Jesus sterf.

Jesus se werk is klaar. Hy kom uit die Vader en deur die Kruis gaan Hy terug. Sy dissipels is die geliefdes van God omdat hulle Jesus ken en liefhet.

Die dissipels gee alles aan Jesus oor (16:29-33). Hulle maak ‘n geloofsprong oor die dinge wat hulle nie verstaan nie. In verse 17-18 is hulle nog verwar en onseker. In vers 19 antwoord Jesus die vrae in hulle harte wat hulle nog nie uitgespreek het nie. Dit bring geloof. Hy toon aan hulle God se glorie en liefde en beantwoord hulle diepste twyfel. Jesus het volmaakte kennis van God sowel as die mens.

Jesus is realisties. Hy weet watter effek die kruisigingsdag op hulle gaan hê. Hy weet dis ‘n donker tyd van verwarring, verraad en teleurstelling. Hy weet hoe hulle gaan reageer en Hy het hulle lief ten spyte daarvan. Selfs met die volle kennis van hulle vernedering van verraad en vrees, vertrou Hy hulle met Sy boodskap en missie!

Is dit nie verstommend wonderbaar nie?

Hulle reaksie in pyn sal hulle nie van die oorwinning in hulle lewe beroof nie.

In hierdie unieke moment in die geskiedenis waar hierdie gesprek plaasvind, is vergifnis en vertroue saamgebind in ‘n onbreekbare geestesband.

Jesus vertrou hulle ten spyte van mislukking en die skuld wat daaruit voortspruit.

Hy het geweet Hy sal alleen aan die kruis hang. Sy oog was op God en nie op mense nie. Hy het geweet Sy vriende gaan Hom verlaat en Hy vergewe hulle in die toekoms in. Hy het hulle innig lief terwyl Hy hulle swakhede ken en vergewe.

Hy gee hulle vrede. Hy vertel hulle Hy weet van hulle toekomstige mislukking en dat dit geen verskil aan Sy liefde maak nie, sodat hulle nie in teleurstelling en vernedering vergaan nie. Dit is die wonder van goddellike simpatie met die mens.

Jesus weet jou sonde sal jou seermaak. Jou sonde doen niks aan Hom nie. Hy is veilig in Sy Vader. Hy wil dat ons sonde oorwin en dat sonde en mislukking ons nooit van Hom af weghou nie. Die duiwel sal aanval met skuld en skande, maar Jesus vergewe en herstel.

Die gawe van Jesus is moed en oorwinning.

Die dissipels word getuies van die belangrikste gebeure in die geskiedenis. Die wêreld op sy slegste kan Jesus nie oorwin nie.

Hoor jy die woord van God oor jou toekoms?

Jou mislukking, die lewe se tragedies en hartseer, die slegste van die slegste sal nie die finale oorwinning in Christus verander nie. Die lewe se slegste scenario bepaal nie jou toekoms nie.

Jy is ‘n kind van die Allerhoogste God!

 

 

 

121. Bloedwoorde vir my toekoms.

O, die onsekerheid, die neerslagtigheid, die mistige uitsig en die huiwerige blik op die misterie-pad in die tydvak wat ons die toekoms noem. Aan ons is dit nie geopenbaar nie; God ken dit. Net soos die dood, is die toekoms ‘n misterie wat aan God behoort.

“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. (Deuteronomium 29:29)

In hierdie skrif word ons aangemoedig om die Woord te leef. God se Woord is aan ons openbaar en dit is ons toevlug vir die toekoms. Hy is volmaak in Sy beplanning. Hy sal nooit terughou wat ons nodig het nie. Ons waarborg vir voorsiening en beskerming in die toekoms is die beloftes van God in die Woord van God.

Net soos Noag. God het Noag in die ark ingenooi. Die Afrikaans, Duits en Nederlandse vertalings skryf in Genesis 7:1 dat Noag in die ark moet ingaan, so asof God buite staan. Die Hebreeus wat gebruik word [bõ-], kan “gaan” of “kom” beteken. Die vertalers het diskresie watter woord om te gebruik. Meeste Engelse vertalings skryf “kom”. Die belangrike gedagte hier is dat God die mens innooi in Sy voorsiening, Sy beskerming en sekuriteit teen die vloed daar buite. Die ark het baie kamers, baie plek vir baie soorte, net soos al die verskillende denominasies ook ‘n plek by God het. God oordeel die hart en skryf nie sommer af nie. Hy is altyd daar waar mense Hom soek.

En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander.  (Jeremia 29:14, OAB)

Hoe gaan ons in die ark in? Hier vier ons Heilige Week. Die Kruis is ons toegang. Eie waardigheid, eie geregtigheid, eie pogings bring ons nêrens. Jesus se bloed en die aanvaarding van sy offer is ons toegang tot veiligheid.

God is binne in die ark. In Sy teenwoordigheid is alles wat ons nodig het om ons toekoms tegemoet te gaan. Die ark spreek van ‘n radikale lewensverandering. Dit is jou besluit om in te gaan – die uitnodiging is ewig en Hy hang aan ‘n kruis. Die besluit om in te gaan, breek met ‘n gewone lewe en streef na ‘n lewe van uitnemendheid. Die ark spreek van die onsigbare koninkryk op aarde waarvan Jesus en Johannes die Doper gepraat het.

God is alomteenwoordig – natuurlik. Dit is ‘n akademiese feit en ons moet dit aanvaar. Maar… in gebed ervaar ons Sy teenwoordigheid op ‘n ander manier . Ons ervaar die atmosfeer wat verander, wanneer trane vrylik vloei en die woorde van die Woord van die bladsy af in ons hart inhuppel en daar vasgelê word. ‘n Rhema-woord, die gesproke woord, die “stem” wat by jou ore en oë tegelyk ingaan. Dit is wat Bybelstudie aanvuur – om te hoor.

Hier in Kanada het hulle vir my gesê die mure is hout. Dit het net soos mure waaraan ek gewoond is, gelyk – met pleister en verf. Die eerste ding wat ek gedoen het, die dag saam met die huisagent in die middel van ‘n sitkamer van een of ander huis, is om na die muur toe te loop en aan dit te klop. Die klopervaring was anders as klop teen ‘n baksteenmuur. Nie net dit nie…ek het iets gehoor.

Nadat ek die klank van hout gehoor het, het ek niemand nodig gehad om te weet die muur is hout nie. Ek het geweet uit my eie klopervaring. Net so met die manifesteerde teenwoordigheid van God – jou ervaring van “klop en vir jou sal oopgemaak word” het niemand – geen prediker, vriendin of televisiebediening – nodig om jou van God bewus te maak nie.

Soos ek al hier op Boedmklippe geskryf het – my jongste seun se gunstelinglied is die ou Imperial-groep se lied:

I listen to the trumpet of Jesus, while the others hear a different sound,

I listen to the drumbeat of God Almighty, while the others just wonder around,

I hear the voice of a supernatural singer that only those who know Him can.

Oefen jou Geesgehoor! Is daar so ‘n woord? Miskien moet ons een maak.

Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. (1 Timoteus 4:7, OAB)

Luister na jou innerlike oortuigings. Onderwerp jou gedagtes en denke aan die Heilige Gees. Bid sodat jy God se glorie ervaar. Sy liefde en vrede kan nooit kunsmatig wees nie; as jy dit ervaar kom dit net van Hom af. Die duiwel het nie vrede om te gee nie.

Die duif is die simbool van die Heilige Gees. Hy is jou voorsiening en kommunikasie met God en die wêreld.

Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met ‘n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog. (Genesis 8:11)

In gesprek met God onderwerp jy jou volgende lewenstap aan Hom en Sy plan. (Jeremia 29:11) In Sy teenwoordigheid sal jy vrede kry oor voorsiening vir die toekoms.

GEBED: Here, ek onderwerp my toekoms aan U. Ek bely my benoudheid en vrees oor die toekoms. U is die God van oorvloed en my vertroue is in U. Ek rig my gedagtes in verwagting van die Heilige Gees vir ‘n toekoms ver bo wat ek kan bid of dink (Efesiërs 3).

Beginsel vir ‘n lewe van uitnemedheid: Die inhoud van my toekoms is die beloftes van God – nie wêreldpolitiek, my omstandighede, die sterre voorspel of vrees nie.

Weer eens – die aanhaling van Eugene Petersen in sy dagstukkies: Living the Message.

The way we conceive the future sculpts the present. It gives contour and tone to nearly every action and thought through the day. If our sense of future is weak we live listlessly.

Hope is a response to the future, which has its foundations in the promises of God. It looks at the future as time for the completion of God’s promise. It refuses to extrapolate either desire or anxiety into the future, but instead believes that God’s promise gives the proper content to it.

But hope is not a doctrine about the future: it is a grace cultivated in the present; it is a stance in the present, which deals with the future. As such it is misunderstood if it is valued only for the comfort it brings; as if it should say, everything is going to be all right in the future because God is in control of it, therefore relax and be comforted.

Hope operates differently. Christian hope alerts us to the possibilities of the future as a field of action, and as a consequence fills the present with energy.

 

 

 

 

 

 

98. In die boekrol is alles opgeskryf.

Die wêreld het meer kits-inligting beskikbaar vandag as enige tyd in die geskiedenis. Google is ‘n werkwoord, letterlik die woord wat werk en hy werk hard. “Google dit”, sê mens as die flieknaam jou ontglip, as jy sinonieme nodig het, as jy die naam van die derde Britse koning na Cromwell soek. Wat ookal jy wil weet, het iemand neergeskryf en beskikbaar gemaak op die wolk van inligting wat ons aarde bedek,.

Ek wil dit waag om te sê dat Openbaring die “Google” is van alles wat werklik saak maak. Dit is die diep waarheid wat ons oorlewing en oorwinning hier op aarde verseker. Die woorde van die visioen is ‘n rykdom van inligting, oor die tweeduisend jaar gelede opgeteken, wat ons wêreld verklaar en ons toekoms waarborg. Dit is die mees unieke literatuur moontlik, dikteer deur die Outeur, Jesus en opgeteken deur die outeur, Johannes.

Ons lees Openbaring 5 en “sien” saam met Johannes Jesus se aankoms in die hemel na die kruisiging. In die regterhand van God, die simbool van gesag en mag, is die boekrol van die geskiedenis, op die voor- en agterkant vol geskryf. Dit is volledig en geseël– niks kan bygevoeg of weggeneem word nie.

In die Romeinse reg was net die laaste testament van ‘n persoon met sewe seëls geseël, een vir elke getuie. Al die getuies moes teenwoordig wees as die seëls gebreek word en die testament gelees word. Gewone dokumente het slegs een seël gehad. In hierdie geval het ons ‘n baie spesiale dokument: die boekrol waarin die ganse geskiedenis van die mensdom en God se saligheidsplan opgeskryf is, wat nou deur Jesus openbaar word as oorwinnaar oor die dood en hel. Die sewe seëls verteenwoordig al die gevolge van sonde en ongehoorsaamheid.

Geen lewende wese, in die hemel of op die aarde is waardig om God se plan in die volheid van die tyd uit te voer nie.

Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. (Efesiërs 1:9,10)

Dit is werklik die aarde se tragedie. Niemand is waardig nie. Johannes ervaar die diep teleurstelling en hartseer hieroor en huil. Die belofte van die Messias was dikwels ‘n bron van frustrasie. Verwagtinge is teleur gestel en vals Messiasse het die mense mislei. Die hoop op die belofte moes meerdere kere deur die profete aangespreek word om die geloof van die volk aan te moedig en verwagtinge te laat herleef.

Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie. (Amos 3:7)

Binne die visioen is daar ‘n plek van ontvangs. Buitestaanders sal niks kry nie. Hulle leef in onkunde en verwarring volgens Efesiërs 4:17-19:

In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Is dit nie ‘n skrikwekkende en akkurate beskrywing vna die post-moderne mens wat ons geloof as feëverhale afskryf en spottend in gedagtes volhard wat tot niks lei nie. Dit is waarmee die kind van God te doen het op ‘n daaglikse basis in die geestelike realm. Hulle word gevangenes van hulle eie wêreldbeskouing, sonder ware kennis en sonder insig in omstandighede. Hierdie staat van onwaardigheid is die gevolge van ongehoorsaamheid en vir Johannes, soos vir ons, is dit oorweldigend, maar…

Daar is troos vir die desperate uitroep van onwaardigheid in die goddellike Plan. Een van die ouderlinge, met ander woorde, die kerk, het die kennis van Jesus en Hy is die oplossing vir alles. Jesus se eie woorde op aarde het so dikwels vertroos en genees. “ Moenie huil nie” het Hy vir verskeie mense gesê. Die kerk weet, in Sy teenwoordigheid word die trane afgedroog. Die ware kerk van Jesus is die veilige hawe waar troos en bemoediging geloof versterk en verwarring en verwonding genesing vind.

Menslike droefheid is die gevolg van gebrekkige kennis en visie. Ons ontbreek geduld, vertroue en volharding om te wag op die belofte van uitkoms en oorwinning. (Hebreërs 10:36) Jesus is waardig om die diep geheimenisse van God te openbaar. Hy neem die boekrol waarin ons toekoms verseker is en werk dit uit. Wees sterk en volmoed! Ons is in die hande van die Waardige een. Daar is geen beter plek moontlik nie.

Jesus word voorgestel as die Leeu uit die stam van Juda, die afstammeling van Dawid. Dit is presies hoe Hy voorgestel word in die geslagsregister in Matteus 1, sodat elke Israeliet sal weet Hy is die Een wat hulle verwag het.

‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. (Jesaja 11:1)

Die Messias sal ‘n kombinasie van goedheid en krag wees. (Jeremia 23:5, Sagaria 3:8.)

In plaas van die leeu wat hy verwag, sien Johannes ‘n Lam, asof hy geslag is, maar duidelik lewend, want Hy staan tussen die vier lewende wesens. Dink net daaraan dat Jesus sy wonde ook in die hemel dra. Dit is die Plan van God in vervulling; dood met ‘n doel om die hele mensdom te red, sonder beperking of uitsluiting. Sy dood en lewe was altyd en sal altyd vir almal wees.

Die sewe horings simboliseer allesomvattende gesag, almag en eer. (Psalm 89:17,112:9, 148:14.) Sedert die woestyntabernakel plaas die priester die bloed van redding op die horings van die altaar.

Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting. (Levitikus 4:7,18,25)

Die bloed is die krag van redding om los te koop uit sonde en die skuld te betaal wat ons nie kon bybring nie. In die tyd van die konings van Israel kon ‘n mens die horings van die altaar vasgryp om die doodstraf te ontwyk. (1 Konings 1:50 en 2:28)

Die sewe oë simboliseer volledige kennis, wysheid en insig. (Jesaja 11:2)

In Daniël 7:9 -14 beskryf Daniël die Oue van Dae in wie se teenwoordigheid die boeke oopgemaak word.

Die Lam is die fokuspunt van die toneel. Jesus word 29 keer in die Bybel die Lam van God genoem. Jesaja (53:7) en Jeremia (11:19) beskryf Hom as die lam wat na die slagting gelei word.

Aanbidding is die reaksie op hier majestieuse toneel wanneer alles wat asem het, die ouderlinge en ook ons gebede die Here aanbid. Wierook is die simbool van gebed. Ons gebede is voortdurend voor die troon in die wierookaltaar.

Die goue bakke van wierook is die gebede van die heiliges – dis ons.

Mag my gebed voor U wees soos ‘n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ‘n graanoffer in die aand. (Psalm 141:2)

‘n Nuwe lied word gesing. ‘n Lied wat nog nooit vantevore gesing is nie – nuut in kwaliteit. (Psalm 33:3, 40:3, 98:1, 144:9, 149:1, Jesaja 42:1-13)

Op hierdie punt is dit waardevol om onsself weer uit die beperkinge van aardse tyd uit te plaas. Hierdie grootse en majestieuse toneel speel af in die onsienlike, waar ons gebede, saam met die heiliges van alle tye voor die Troon van God, Jesus aanbid.

Ons is die konings en priesters wat nou regeer. Ons voorbidding, geestelike oorlogvoering en lewe van geregtigheid regeer oor die aarde, binne in die gebrokenheid. Ons getuienis is die oorwinning oor die bose. (Openbaring 12:11)

Hoor weer die woorde wat ons beskryf:

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (1 Petrus 2:9)

Die getalle in Openbaring is simbolies van oneindigheid en ontelbaarheid (5:11) Net die Here kan sulke berekeninge doen. Hy is El Shaddai – die God van oorvloed. Daar is altyd meer as genoeg.

Die hele skepping, op die aarde en onder die aarde, elke moontlike wese sal die Here prys. Elke knie sal buig en elke tong bely. (Filippense 2:10) Die skepping is ingestel om God te prys. Dit sien ons reeds in die onbevraagde ritme van die seisoene en getye, die saai- en oestye, die sterre en planete, die verloop van die natuur se voortplanting en vernuwing. Almal sing saam in die heelal-koor om elke kenmerk van God te aanbid en te besing. Sy karakter is ondeurgrondelik en altyd nuut, sodat daar altyd nuwe openbaring is om te aanbid. Die ganse geskiedenis beweeg na ‘n punt van erkenning van Jesus en wie Hy is. So sing ons AMEN – dit is waar.

Die harp was ‘n bekende instrument van die sangers en koorleiers van ouds. (Psalm 147:7)

Ons gebede is voor die Troon by God. Daar is geen ander middelaar nodig nie. Jesus is ons middelaar. Hy het die deur na God geopen. Ons kan ingaan deur die Bloed van die Lam. Prys die Here!

Ons sing saam:

U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

 “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”

 “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”

42. Kry vir jou ‘n bril!

 

Die jaar spoed voort. Soveel het al gebeur, dat die Nuwejaarsfeeste vae ou-nuus is. Mens is maar weer onder die indruk van die verloop van tyd. Gebeure in die nuus sit ons oog op die toekoms en ons kyk onwillekeurig vorentoe. Soos met alles, het ons ‘n keuse hoe ons kyk.

As kinders van die Here, kyk ons nie met wanhoop en paniek nie, al lyk die prentjie hoe. Ons prentjie word gevorm in die beloftes van die Woord. In die Heilige van die Tempel van Aanbidding word ons toekomsvisie gevorm.

Bring die lampstaander [menorah] Unknown, vul dit op met olie (die Heilige Gees), laat dit die Woord (brood) verlig en lewend maak want Jesus sê Sy woorde is Gees en Lewe [Johannes 6:63]. Lig jou hande op by die wierrookbak en aanbid die Almagtige wat die toekoms in Sy hand hou!

Die afgelope naweek het ek ‘n fliek oor ysskaats (figure skating) gekyk. Ek wil dit eerder kunsskaats noem. Ek is altyd in vervoering oor die toewyding en dissipline wat in die beoefening van professionele sport ingaan, om nie te praat van die klassieke musiek uitvoerende kunstenaars van wie ek ‘n hele rits bewonder. Die filmwêreld fasineer my met die totaliteit van ‘n reuse akteursperoonlikheid in een rol, wat my laat lag en huil, en my beheer daaroor uit my hart uitruk. Die fliek, Philomena, het my gerol en gerasper, en sowaar my laat goed voel daarna. Wat a tour de force van storie en kinematogrofie.

Ek kan my nog indink wat die betreding van die volledig- absorberende, kompromielose eise van ‘n uitvoerende kunstenaar se wêreld behels. Sport is so ver van my verwysingsraamwerk, dat ek die winterspele van ‘n paar maande gelede met ‘n oop mond aangegaap het. Die fisiese en intellektuele eise, die psigologiese voorbereiding vir die perfekte balans om op die hoogste vlak te kompeteer, is amper ondenkbaar in vergelyking met die gemak van my lewe as a jack of many trades, master of none.

Ek bekyk ons wêreld en ruk myself terug na die realiteit van my taak. Skielik is ek gekonfronteer met vandag en die toekoms. Waarheen gaan ons? Wat lê voor en wat wil ek bereik? Ek kyk na Suid-Afrika met my hart en na die res van die wêreld met my arm en probeer my kinders daarin visualiseer. Is dit nie dalk beter om so in ‘n beroep absorbeer te wees dat al wat saak maak is maar slegs die volgende kompetisie, die volgende film, die volgende konsert? Die toewyding van gees, siel en liggaam voel skielik luuks teenoor my wye en algemene “aanwending” as mens.

Soos gewoonlik, “praat” ek met die Here in my hart en wonder wat Hy beplan. As ek bestek opneem van my lewe het ek ‘n lang lys seëninge wat akkuraat beskryf kan word as lewenslank. Ek het gebede wat ek gebid het, waarvan ek nog nie die uiteinde sien nie – onthou ek glo nie in onbeantwoorde gebede nie – dis onmoontlik! Dis net gebede waarvan die antwoord in die toekoms duidelik sal word of dalk ook nie in my bepaalde tyd op aarde nie. Oor hierdie aspek van my lewe skreeu ek in die geesteswêreld:

Jesaja 52:7:

How beautiful on the mountains are the feet of those who bring good news, who proclaim peace, who bring good tidings, who proclaim salvation, who say to Zion, “Your God reigns!”

Alle gebede, begeertes en toekomstige onsekerheid hoort onder die banier: Ons God regeer!

Terug by die seisoene wat ons verlede keer oor gepraat het. Elke dag om jou voel jy die verandering aan jou lyf. Ons het al gesels oor die winter en die seker tekens van lente as jy goed kyk. Hierdie manier van kyk is vir my nog altyd ‘n geestelike uitdaging. Wat SIEN jy in die winter van jou begeerte? Wat sien jy wat aan jou toekoms die verskil maak? Meer nog – ons Christene moet anders na die toekoms kyk as ander mense.

Sien jy die amandeltak? Jeremia 1:11,12.

Moreover, the word of the Lord came to me, saying, Jeremiah, what do you see? And I said, I see a branch or shoot of an almond tree [the emblem of alertness and activity, blossoming in late winter].

Then said the Lord to me, You have seen well, for I am alert and active, watching over My word to perform it.

Dink net – geestelike oorwinning – om in die winter van die siel die amandeltak te sien. Die simbool van aktiwiteit en gereedheid wat in die laat-winter blom.

Ek dink ‘n amandelboom is ook ‘n bodemklip. Dis waarlik ‘n padwyser wat jou herinner aan die bloeisels in die laat-winter. Die eerste bloeisels, die seker teken van uitkoms; dat die Here gaan doen wat Hy gesê het Hy sal doen. Die simbool dat Hy wakker is en Sy Woord sal uitvoer.

Die belang van die amandeltak word in Numeri 17 onderstreep. Die staf van Aaron wat in die verbondsark sy ereplek gehad het, het in een dag gebot, gebloei, geblom en vrug gedra. Wat ‘n wonder! Ons almal weet nou mos goed van die seisoene. Dit neem ‘n rukkie vir die bloeisel om te wys, dit gebeur redelik vinnig, maar darem oor ‘n paar dae. ‘n Dooie stuk hout wat in een dag in ‘n lewende tak met vrug verander – ongetwyfeld ‘n wonderwerk. Dit is wat jou verwagting moet wees as jy die Woord van God glo. Jy sal bo jou verwagting verras word want jou God regeer oor jou gebede, omstandighede en toekoms. Dink aan jou Vader wat werk vir jou. Jesus sê dit self.

Johannes 14:10

Do you not believe that I am in the Father, and that the Father is in Me? What I am telling you I do not say on My own authority and of My own accord; but the Father Who lives continually in Me does the His works (His own miracles, deeds of power).

Die grote Skeppergod werk wonderwerke vir jou.

Hoe sal jy dit glo? Hoekom sal Hy dit vir jou doen?

Kry vir jou ‘n bril – kyk reg.

Ons kyk na die toekoms met die bril van hoop. Die toekoms begin in die volgende minuut van jou lewe – dit volg direk op nou. Jy kyk met hoop na nou-nou, maar ook na die verre, verloop van tyd – oor maande, jare en dekades. Die tyd wat in ons gemoed vaag en onbekend is. God is daar en Hy regeer daar ook.

Eugene Peterson (skrywer van The Message – vertaling van die Bybel en ‘n rits ander boeke wat ek sonder voorbehoud kan aanbeveel) beskryf die toekoms en hoop op die manier waarop die Christen homself duidelik onderskei van enige ander denkpatroon op aarde. Laat my toe om hom uitvoerig hieroor aan te haal, want sy definisies inspireer my om uitdagend en roekeloos te glo.

The way we conceive the future sculpts the present. It gives contour and tone to nearly every action and thought through the day. If our sense of future is weak we live listlessly. Much emotional and mental illness and most suicides occur among men and women who feel that they “have no future”.

Hope is a response to the future, which has its foundations in the promises of God. It looks at the future as time for the completion of God’s promise. It refuses to extrapolate either desire or anxiety into the future, but instead believes that God’s promise gives the proper content to it.

But hope is not a doctrine about the future: it is a grace cultivated in the present, it is a stance in the present which deals with the future. As such it is misunderstood if it is valued only for the comfort it brings; as if it should say, Everything is going to be all right in the future because God is in control of it, therefore relax and be comforted.

Hope operates differently. Christian hope alerts us to the possibilities of the future as a field of action, and as a consequence fills the present with energy.

As mens hierdie definisie lees en verteer, dan staan die goeie nuus van ‘n liefdevolle Vader wat regeer, wat aktief werk om Sy beloftes uit te voer, sentraal en dominant in jou toekoms. Die inhoud van jou toekoms is die energieveld van die uitvoering van God se belofte in Sy woord oor jou lewe. Dit red jou vir ewig van ‘n passiewe toekomsvisie, waarin jy soos ‘n lewelose marionet op die verhoog van die lewe sonder beheer ronddans, volgens die toutjies in beheer van lot of boosheid.

Die vertroue op die Woord van God maak jou ‘n aktiewe geloofsheld in jou eie toekoms.

Moenie vir ‘n oomblik toelaat dat jou eie onwaardigheid jou verhoed om hierdie pad met vreugde in die voetspoor van Jesus te volg nie. God self sê:

Because you are precious in My sight and honoured, and because I love you….Jesaja 43:4

Weer – nie jou eie goedheid of pogings nie, eerder God se onvoowaardelike liefde. Jou toegang tot die rykdom van Sy heerlikheid vir meer as wat jy nodig het, is die Kruis en die Bloed.

Ek bid vir elkeen die volvoering van God se droom vir jou in jou toekoms en veral ‘n spesiale insig in Sy liefde en kruisdood wat jou toekoms bepaal.

 

 

 

18. VANDAG – hierdie dag.

Ons het verlede keer bietjie gekyk na die konsep van tyd en die kragtige beginsel van God se Alwetenheid. Hoewel Hy buite tyd staan en nie die beperkinge van elke sekonde aftel nie, praat die Woord van die Here so dikwels oor die konsep van ‘n dag – ‘n relatiewe kort tydsbestek in terme van die ewigheid.

Die dramatiese aankondiging van die begrip dag in Genesis kom met die eerste skeppingsdaad – God het die lig dag genoem en dit was aand en dit was more die eerste dag. Vers 5. As gevolg van hierdie woorde het die Hebreers se dag met sonsondergang begin – tot sonsondergang die volgende dag. Genesis 8: 22 is die pragtige bevestiging van die ritme van die aarde en die sekerheid waarmee ons op die seisoene en dagbreek van elke oggend kan staatmaak. Hier word die beginsel van opeenvolging, van verandering, van uitkoms na probleme gevestig. So seker as die opeenvolging van dag en nag,so seker is die Woord van God.

While the earth remains, seedtime and harvest, cold and heat, winter and summer and day and night SHALL NOT cease.

In die spreke van God met sy slawevolk wat Hy uit Egipteland lei, vestig Hy sekere belangrike dae – trouens die hele jaar word in herinneringsfeeste verdeel om die ritme van herdenking en aanbidding te vestig. Sekere dae word uitgesonder vir seker aktiwiteite. In elke werksweek word die voorskrifte van die Sabbat uitgespel.

Weer eens die beklemtoning van ‘n relatiewe kort tydsduur in die grootse konsep van die Almagtige en Alwetende God. Die Psalmis gee uiting hieraan en roep uit in Ps 118:24:

This is the day that the Lord has made, we will rejoice and be glad in it.

Dit mag wees dat hierdie ‘n relatiewe kort tydsbestek in die groter prentjie is, maar dis al wat ons het. Belangrik. Ons kan nie verander aan ons verlede nie, kan nie ons toekoms bepaal nie, maar ons kan vandag hanteer sodat dit ‘n wesenlike verskil aan albei hierdie tydsbeskrywings het.

Staan ‘n oomblik saam met my stil by hierdie konsepte in die lig van die Woord. Ons verlede is onder die bloed van Jesus – dis ‘n heerlike gedagte as jy geneig is om jouself te blameer vir die foute wat jy gemaak het, wat dalk hierdie dag beinvloed. Jy kan ook uitvaar en ander blameer vir die foute en negatiewe ondervindings van die verlede – onthou ons het al gepraat oor hoe die sonde van ander mense wat jou lewe, emosies en gesondheid beinvloed het of nog steeds beinvloed.

God verwyt nie, Hy blameer nie. Ek wil amper se Hy sal Homself nie so verneder om jou verlede vir jou voor te hou as die rede van die mislukking wat jy voel nie. Wat doen God? Jesaja 1: 18:

Come now, let us reason together, says the Lord. Though your sins are like scarlet, they will be as white as snow, Though they are red like crimson, they shall be as wool.

Kom tog, dat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here….

God verwyt jou nie dat die gemors van jou sonde en verkeerde besluite die situasie onhanteerbaar maak nie. Hy weet dat Sy mag enige moontlike gemors kan oplos, by Hom is alles moontlik. Lukas 1:37

Dit is die medisyne vir jou verlede. Onder die bloed met die belofte van oplossing as jy dit aan die gesag van God onderwerp.

Die inhoud van jou toekoms is die beloftes van God in Sy Woord. Dit is slegs op hierdie dag, miskien in hierdie oomblik dat jy daaraan kan vasgryp, dit jou eie maak en jou hele lewe daaraan onderwerp. Dit is die vaste vertroue op die dinge wat jy hoop en ‘n bewys van dit wat jy nie sien nie. Hebreërs 11:1. Dit is die versekering dat God ‘n beloner is van die wat Hom soek. Hebreërs 11:6. Dit is die versekering van Sy goedheid : Exodus 34:6, Sy planne vir jou : Jeremia 29:11.

HOOR wat die Here sê in Jeremia 30: 21 se laaste deel en 22: For who is this who pledged his heart to approach Me? Says the Lord. You shall be My people and I will be your God.

Wonderlike vesekering van die reaksie van God as jy Hom nader met jou hele hart. Lees verder in Jeremia 31: 9:  They will come with weeping and with supplications (gebed waarin jy God direk vra vir voorsiening op watter gebied ookal)  I will lead them. I will cause them to walk by the river of waters, in a straight way in which they shall not stumble; for I am the Father to Israel, and Ephraim is My firstborn.  (Efraim is ‘n sinoniem vir Israel wat die volk van God is en dus ons).

Hierdie is jou toekoms – ongeag wat die omstandighede is. Kom ons lees verder in Jeremia 31: 12 – 14:

Therefore they shall come and sing in the height of Zion, streaming to the GOODNESS of the Lord – for wheat and new wine and oil, for the young of the flock and the herd (alles beloftes van voorsiening en voorspoed) their souls shall be like a well-watered garden and they shall sorrow no more at all. Hy sê verder Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee, Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.

Is dit nie die moeite werd om jou kommer en sorge in die pakkie van gebed toe te vou en aan die gesag van God te onderwerp nie? Vra Hom direk vir voorsiening en uitkoms, want hier belowe Hy dit. Die antwoord op jou spesifieke gebed sal jou getuienis word. In Vers 14 praat hy van versadig, oorgenoeg en oorvloedig. DIS jou toekoms, dis die belofte – wat wil jy meer hê?

In Psalm 84 :10 roep die psalmis uit dat ‘n dag in die Teenwoordigheid van die Here is beter as ‘n duisend daarbuite. Verbly jou in hierdie dag. Gee oor in hierdie dag.

Dink net watter verskil EEN donker Vrydag in die geskiedenis van die ganse mensdom gemaak het, met die DERDE dag  – opstandingsdag – wat daarop gevolg het.  Kan jy ooit weer twyfel aan die krag van EEN dag?

Die Romeine het al die spreuk Carpe Diem bekend gemaak en miskien toe reeds die krag van een dag besef. Hulle sê: Pluk die dag.

Keer dat hierdie dag van jou gesteel word. Gryp jou dag en bring jou bekommernis na die Here toe, vra Sy uitkoms en merk dan vir jou ‘n FEESDAG waarin jy jou getuienis vier met ‘n vrolike gesig en stem, sodat jou wêreld sal weet hoe GOED jou God vir jou is.

Tot volgende keer.