Daar is ‘n belangrike beginsel van gebed wat ons dikwels mis.
God inisieer gebed. Nie ons nie. Hy praat om die gesprek aan die gang te kry.
Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. (Romeine 10:17, OAB)
Elke keer as die woorde: “laat hom wat ore het om te hoor, hoor wat die Gees aan die gemeente sê”, in die Nuwe Testament voorkom, is dit Jesus wat praat. Dit is nie ‘n toevallige stelling nie. Dit is die Seun van die lewende God wat vermaan dat ons nie ons ore moet toemaak vir dit wat geleer moet word nie.
Hoe ons luister, bepaal ons gebedslewe.
Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. (1 Johannes 4:10)
Kom ons begin by die begin.
Die storie van die Tuin van Eden in Genesis is alles oor woorde. Dit word opgeteken in woorde en dit vertel van woorde. Die eerste woorde ooit het geskep, groot geskep – meer en groter as wat ons ooit kan weet.
Woorde het die wêreld tot stand gebring, woorde het die sterre in die lug hulle plek gegee, woorde het lig gebring en die seë se grense gestel. Toe het God die man gemaak en uit die man die vrou en ‘n seën oor hulle uitgespreek om hulle gesag oor die hele skepping te gee.
Die antieke Hebreërs het geglo dat woorde ‘n eenheid van energie was, wat uitgaan en iets voortbring. Dit is waarom ‘n seën wat uitgespreek is, nie teruggetrek kon word nie. Nadat Isak die eersgebore seën oor Jakob uitgespreek het, kon hy dit nie as ‘n fout ongedaan maak nie. Esau moes met die mindere seën teverede wees.
God se eerste woorde aan die mens is in Sy teenwoordigheid in daardie pragtige, perfekte Tuin gespreek.
Beginsel vir ‘n lewe van uitnemendheid: God praat. As Hy sê bid sonder ophou is Hy bereid om sonder ophou te kommunikeer!
Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek! (Jesaja 52:6, OAB)
Net soos Job gesê het: Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. (Job 42:5,OAB)
Die nuwer vertaling verduidelik hoorsê: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.
Daar in die Tuin het die Here die patroon vir deurlopende kommunikasie gevestig. Hy het nog nooit opgehou nie. Geen sonde kon Sy stem stilmaak nie. Geen boosheid kan God se teenwoordigheid uitblus nie. God was steeds in die aandwind, presies waar Hy altyd was. Sonde het die mens geskuif. Die mens het weggekruip.
Ek is nie seker wat jy van gebed dink nie. Net die woord kan negatiewe ondertone meebring – gedwonge gebed, skaamkry tye, voorgee gebede met leë woorde, gebedswoorde wat oordeel en verwond, lang aframmelings en vervelige godsdienstige rituele. Dink net vir ‘n oomblik wat jou emosionele en intellektuele reaksie op gebed is? Is jy opgewonde of vol skuldgevoelens? Is jy huiwerig of vol verwagting? Voel jy onaangeraak en het reeds lankal besluit dit werk nie vir jou nie of kan jy entoesiasties van onlangse antwoord op gebed getuig?
GEBED: Here, ek wil graag U stem hoor.
Adam en Eva het in die Tuin as die koninklike kroon van die skepping regeer. Hulle was in perfekte kommunikasie met die Skepper en het in die rus van God ingegaan. Adam se eerste dag op aarde was die Sabbat. Dit is die enigste manier om die liefdevolle Vader se teenwoordigheid te ervaar. Gaan in Sy rus in, die rus en rustigheid wat ons gesprek met Hom bring.
Rus en vrede is die eerste wonderbare gevolg van gebed. Adam was ‘n wetenskaplike. Hy het elke dat gewerk om die Skepping te benaam en in die aandwind God ontmoet vir ‘n gesprek. Enige natuurwetenskaplike sal saamstem dat hulle vandag nog voortgaan om die Skepping te benoem. Dit is wetenskap.
In die duisternis wat hulle besluit om na satan se halwe waarheid te luister gevolg het, het daar afstand tussen hulle en God ontstaan as gevolg van die ongemak in Sy teenwoordigheid.
Satan het God se woorde by Eva betwyfel en Eva het sommer bietjie bygelas toe sy sê dat God gesê het hulle mag nie eet of aanraak nie. Sonde kom in ‘n wye verskeidenheid aanbiedinge, maar dit is die deelname en indompeling in sonde wat ons vernietig, nie net die gedagtes daaroor nie. Ons word beskerm deur die Bloed van ons eie gedagtes. Wanneer sonde ons lewe bepaal, word ons naaktheid ontbloot. Net soos hulle daar in die Tuin, bedek die bloed van Jesus ons van die skande wat sonde en boosheid bring.
Beginsel vir ‘n lewe van uitnemendheid: Gebed is ‘n gesprek wat deur God inisieer word.
En sy het ’n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie. (Lukas 10:39,41,42)
Kom ons bid saam:
Here, help my om te hoor wat die Gees aan die kerk sê, sodat ek U hart en plan vir hierdie wêreld ken.
Bid sonder ophou.