120. Kom uit – waar is jy?

Kom ons stap verder in dieTuin van Eden, in daardie ou storie aan die begin van die Bybel, toe die hele pragtige verhaal verkeerd loop en verwoesting en tragedie insluip om ons bestaan hier op aarde te kenmerk. In die verdraaiing van die wonderplan van God, saai satan die saad van twyfel en laat Eva dink sy mis iets wat God in Sy wondervoorsiening sou weglaat of weerhou. Sy eet van die vrug en gee dit aan die man sodat hulle die god van hulle eie toekoms word.

Hulle sien hulle eie naaktheid en kruip weg sodat hulle nie God in die aandwind ontmoet soos gewoonlik nie – asof dit hoegenaamd moontlik is om van ons alwetende, alomteenwoordige God weg te kruip. Daardie selfde dag, sonder dat die son oor hulle sonde ondergaan, roep God – Adam, waar is jy?

Sou ons ooit kon dink dat God nie geweet het waar Adam is nie? Dis net logies dat God presies geweet het wat in die Tuin gebeur het daardie dag. Nogtans het Hy gekom…en geroep.

Sonde het nie die gesprek beëindig nie. Geen sonde kan ooit die gesprek beëindig nie. Dit is hoe The Message vertaling dit stel.

“Come. Sit down. Let’s argue this out.” This is God’s Message:

“If your sins are blood-red, they’ll be snow-white.

If they’re red like crimson, they’ll be like wool. (Jesaja 1:18, The Message)

Is die nie die uitnodiging van alle tye nie? Kry dit wat pla uit die pad. Kom terug na die Here toe. Geen ompaaie nie, geen skuld nie, niks wegkruiptaktiek nie. Kom terug, roep uitvergifnis is gewaarborg.

 Gebed: Bely watookal jy van God wegsteek en al die redes vir jou wegkruipery. As daar niks is waaraan jy kan dink nie – vra die Heilige Gees – Hy sal jou herinner.

Where can I go from Your Spirit?

Or where can I flee from Your presence? 

If I ascend into heaven, You are there;

If I make my bed in hell, behold, You are there. (Psalm 139:7,8)

As God dit sê is dit lewegewende, lewensveranderende, kragtige wonderwerk-woorde. Sy vergifnis sal jou oplig en uit jou moedeloosheid van nederlaag en hopeloosheid lig.

Hoekom sou God dan vrae vra? Beslis nie om inligting te kry nie, maar om die gesprek aan die gang te kry. Adam moes praat oor wat in die Tuin gebeur het. In ‘n amper komiese heen en weer kom die hele storie uit. Die man blameer die vrou en die vrou blameer die slang en God oordeel…die slang – nooit die mens nie. Die mens sal op ‘n vervloekte aarde die gevolge van die sonde moet hanteer, maar nooit sonder God nie.

Sonde is dikwels geheim, dikwels skandalig en ‘n groot verleentheid. Niemand wil dit in die openbaar hê nie. Leuens en bedrog is meer hanteerbaar as dit in die geheim gebeur. God maak dit openbaar – minstens tussen ons en Hom, sodat genesing kan begin. Die hele sielkinde is op gesprek gefokus. Daarin lê helende krag. Ons liefdevolle Vader het ‘n antwoord vir die grootste en slegste deurmekaarspul wat jou lewe en vreugde steel. Hy sal nie toelaat dat jy oorweldig word nie. Sy plan vir jou lewe sal vasstaan.

Al maak mense hoeveel planne, wat die Here besluit, staan vas. (Spreuke 19:21)

Dikwels, maar nie altyd nie, is Sy eerste kommunikasie met ons, ons omstandighede. Hy orkestreer nie ons chaos nie, maar Hy sal altyd die bose gevolge van ons verkeerde besluite, tot ons voordeel laat werk. Al die verwoesting om ons vandag is die gevolg van sonde en die verkeerde besluite van mense. Ander mense se sonde het baie keer baie hartseer in ons lewe tot gevolg. God is altyd daar in die tragedie van die lewe om te red, te genees en te herstel. Binne die krisis is daar altyd ‘n keuse om God te vertrou of ons eie planne te maak. Ons liefdevolle Vader sal altyd ons grooste tragedie ten goede laat meewerk.

In die Tuin is dit God se plan wat vasstaan. Hy oordeel die slang en verklaar oorlog tussen sy saad en dié van die vrou.

Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.” (Genesis 3:15)

Hy gaan verder en bedek hulle naaktheid op Sy manier, nie hulle patetiese poging om te probeer toemaak waar skande dreig nie. Die bloed van ‘n onskuldige dier (heel moontlik ‘n lam) bedek die sonde en vorm ‘n blywende, aanvaarbare bedekking in die oë van God.

BEGINSEL vir ‘n uitmuntende lewe: ons word bedek deur die bloed van DIE Lam, Jesus.

GEBED: Dank die Here vir herstel van sonde en ‘n lewe van oorwinning in die Kruis van Jesus.

In Sy bloed word die omstandighede van die Tuin van Eden herstel en ons kan weer in God se teenwoordigheid wandel net soos voor die sondeval. Waar Hy is, waar Sy bloed ons reinig, is daar volmaakte vrede en rus.

Vanaf hierdie oomblik in die Tuin is alles gefokus op die groot gesprek tussen God en die mens. Satan sal enigiets doen om dit af te breek. God se liefde en vergifnis herstel die gesprek.

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s