158. En jy? Wat sê jy?

[Johannes 7]

Praat is maklik. Anonieme praat nog makliker. Woorde sonder verantwoordelikheid. Maklik gemaak met moderne tegnologie van vingerpuntnuus vir ‘n konstante stroom praatmateriaal. Mense in die publieke oog word nog steeds in die openbaar veroordeel en tereggestel soos in antieke tye tot die laat middeleeue, net die metode verskil. Die nuusmedia, sosiale media en privaatgesprekke verskaf die feite, spreek die vonnis uit en swaai die byl.

Shakespeare was die eerste persoon wie die werkwoord skinder as selfstandige naamwoord gebruik het. Afrikaans noem ‘n persoon wat skinder ‘n skinderbek – heel gepas met die negatiwiteit van die mond van ‘n dier wat woorde rondslinger. Dit impliseer die rou wreedheid van ‘n trop wilde honde wat verskeur en vermoor. Ek wens ons kon die beeld van bebloede prooi in ons gemoed bewaar wanneer ons onnadenkende woorde soos die skerp lem van ‘n dolk ander mense verwond.

In die lig van ons moderne tyd kan ons seker maklik die grapevine van Judea in die tyd van Jesus voorstel. Die gewoonte van die vroue in daardie tyd, was om in groepe die water vir die huis te gaan haal en die tydjie om die put as ‘n stukkie kuier uit ‘n besige dag met baie verpligtinge te kerf.

Nuus versprei so gou. Voor die dae van internet en kabelnuus was my pa se gunstelinggrappie: telegram, telefoon, tell-a-woman. Moontlik het nuus in Judea onder andere deur die tell-a-woman -netwerk versprei. Ons kan egter nie die mans heeltemal vryspreek nie. Openbare baddens was kuiertyd. Reisigers het op kruispaaie nuus gedeel en handelaars op die hoofpaaie het nuus versamel om gesprek om kooptransaksies aan te knoop. Mense uit ander wêrelddele was primêre nuusbronne.

Die mense het gebabbel, gepraat en geskinder – oor Jesus. Langer argumente is afgewissel met die korter het jy gehoor – weergawe van elke nuwe brokkie nuus oor Hom.

Die Joodse feeste was vrugbare grond vir albei. Die Fees van die Tabernakels wat hier in Johannes 7 genoem word het einde September, begin Oktober plaasgevind; een van die drie Herfsfeeste. Elke Jood, wat binne ‘n radius van 15 myl van Jerusalem af gewoon het, was verplig om die Fees by te woon. Die Fees het agt dae geduur en Jesus se broers het Hom probeer oortuig om die Fees by te woon. Jesus het egter niks gedoen wat nie op die kalender van die hemel uitgemerk was nie.

Hy praat van My tyd. Daar is ander plekke in Johannes waar Hy die woord tyd (ōra) gebruik waarmee Hy God se tyd aandui (Johannes 2:4; 7:30; 8:20; 12:27). God se tyd kon nie uitgestel of geskuif word nie. In hierdie gedeelte gebruik Hy die woord kairos, wat die geskikte tyd beteken, die volheid van tyd, die beste tyd. Hy sê eintlik dat die tyd nie gepas is vir dit wat moet gebeur nie.

Soveel van ons lewe word in tyd gemeet. Dit is ‘n luuksheid om tyd af te neem vir ontspanning. Ons lewe is letterlik in die ratte van outydse horlosies “opgewen” en afwen is ‘n woord wat met stresbestuur in verband gebring word. Dae word afgemerk vir vakansie, verjaardae, troues en ander spesiale geleenthede. Dit is ons chronos-tyd, kalendertyd.

Jesus besluit oor tyd op ‘n baie dieper vlak. Sy roeping en bediening bepaal wanneer Hy iets moet doen. Hy merk dit nie op die aardse kalender nie – Hy leef volgens God se kalender – ora. Wanneer God se tyd die uitkoms bepaal is dit die volheid van tyd – kairos-tyd.

Jesus gaan wel Jerusalem toe, maar op Sy eie. Hy het getrou die Feeste bygewoon. Hy het geweet dat elke Fees in Sy lewe, dood, opstanding en tweede koms vervul sou word. Hy het stil en privaat Jerusalem binnegekom, sonder om die publieke oog op Hom te vestig. Hy het nie toegelaat dat mense hom voorsê of Sy hand dwing met enigiets nie.

Dit is so belangrik om God te vertrou met tydsberekening.

  • Dit is onmoontlik om Jesus se optrede af te dwing. Sy dissipels wou hê dat Hy moet wys wat Hy kan doen in Jerusalem. Jesus tree nie op om die guns van mense te wen nie. Hy tree slegs op om die wil van God te doen.

 

  • Dit is onmoontlik om Jesus met ongeërgdheid te hanteer. Sy broers was nie ingestel op Sy missie nie. Hulle het die wêreld en die wêreld se metodes gemaklik gevind. Jesus se lewe het die wêreld geoordeel en Sy teenwoordigheid het ‘n groot verskil in die gewone gang van sake gemaak.

In die volgende verse (7:10-30) word verskeie reaksies op Jesus bespreek.

  1. Sy broers het Hom met minagting behandel, amper spottend.

 

  1. Die openlike haat van die Fariseërs en priesters begin wys. Jesus ontbloot die vyandskap tussen hulle en skielik is hulle bereid om saam te staan. Hulle was verknog aan hulle eie sisteme en stelsels en sou nie toelaat dat enigiets of enigiemand hulle aansien in die gemeenskap beskadig nie. Die Sadduseërs was polities. Al die priesters was Sadduseërs. Hulle het nie al die reëls van die Fariseërs onderhou nie. Hulle het gemaklik met die Romeine saamgewerk en in luuksheid geleef. Hulle eie belange was baie belangriker as God s’n.

 

  1. Daar was ‘n diep begeerte om Jesus te elimineer (Johannes 7:30,32) binne verskeie groepe. Elke persoon kan onderwerp of verwerp. Jesus is hoër as enigiets. Neutraliteit is nie ‘n opsie nie.

 

  1. Daar was arrogante oordeel oor Sy leer uitgespreek. Jesus het geen reg gehad om oor die Wet en die Profete te praat nie, omdat Hy nie die opleiding in die godsdiens en kultuur van die dag gehad het nie. Hulle was akademiese snobs. Dis miskien goed om te onthou dat meeste van die grootste digters, kunstenaars, skrywers en evangeliste min of geen opleiding gehad het nie. Ons kan nooit neerkyk op akademiese onderrig nie, maar kan dit nooit verhef tot ‘n voorwaarde vir grootsheid nie. Dit is nie altyd die sleutel nie.

 

  1. Die reaksie van die mense is gemeng. Sommige toon belangstelling (7:11) en ander wil gesprek voer (7:12).

 

Argumente is dikwels ‘n instrument om jou gedagtes en denkpatrone te vorm. Is dit dalk moontlik om uit gesprek tot kennis te kom? Inderdaad. Daar is ‘n groot verskil tussen gesprek en skinder.

Wat is skinder dan? Is dit altyd negatief? Net ‘n stemtoon kan feite so kleur dat dit leuenagtig word. Is ons woorde altyd ‘n juiste weergawe van die gees waarin iets aan ons oorvertel is? Moeilik.

Ons moet wegbly van ydelpraatjies sê Timoteus (1:6) en Titus (1:10). Beide hierdie skrywers kategoriseer ydelpraters met bedrieërs.

Nie alles wat ons van ander sê is noodwendig skinder nie. Ek het al dikwels iemand gekomplimenteer met die wete dat dit oorvertel sal word. Dit is soms ‘n manier om waardering uit te spreek. Woorde kan so bemoedigend en opbouend wees. Lees maar gerus weer Jakobus 3.

Een van my heel gunsteling gedeeltes in die Bybel is Maleagi 3:16-18 wat die wonderbare gevolge van goeie gesprek uitspel. Dit het tot gevolg dat die majestieuse Skriba van die hemel ons name in ‘n gedenkboek opteken.

Terug by Johannes 7 om te kyk na die uitkoms van die gesprek.

Sommige het gesê:

  1. Hy is ‘n goeie man. (7:12) Hy is soveel meer as dit.

 

  1. Hy is ‘n profeet (7:40). ‘n Profeet sê: God sê. Jesus sê: Ek sê. Hy het nie as gedelgeerde van God opgetree nie. Hy is God self.

 

  1. Hy is waansinnig (7:20). Hy het die kruis gekies bo mag, ‘n lydende dienskneg bo ‘n oorwinnende koning. Hy het wêreldstandaarde omgekeer en waarheid en vrede in ‘n wrede mal wêreld gebring.

 

  1. Hy is ‘n bedrieër. Hy het mense weg van godsdiens af verlei. Hy is van enige misdaad in die boek aangekla: oortreder van die Sabbat, ‘n vraat, ‘n dronkaard, verkeerde vriende en het die ortodokse leierskap wesenlik bedreig.

 

  1. Hy was dapper en vol moed (7:26). Hy praat openlik met die leiers hoewel Hy al hulle konvensies oorboord gooi. Hy het fisiese pyn hanteer. Hy het by Sy oortuigings gehou toe almal Hom verlaat het. Toe Hy triomfantelik in Jerusalem inry, het Hy geweet dit is die stad wat Hom sou teregstel. Hy het God gevrees, nooit ‘n mens nie.

 

  1. Hy het ‘n dinamiese persoonlikheid gehad (7:46). Hy is leë hande in hegtenis geneem. Krag het uit Hom gevloei sodat die soldate wat Hom gevange geneem het, verward en uit plek uit gevoel het.

 

  1. Hy was die Christus, die Messias. Dit is ‘n feit – eenvoudig en waar.

 

Daar was ook ander reaksies:

  1. Die mense het in vrees reageer (7:13). Die woord vir praat hier is letterlik ‘n gemompel. Dit was ‘n gebrom van onsekerheid soos die gekla in die woestyn. Ons hoef nie bang te wees om oor Hom te praat nie.

 

  1. ‘n Sekere deel van die skare het geglo (7:31). Hulle kon eenvoudig nie die bewyse ignoreer nie. Hulle het hulle vrees en vooroordeel oorkom.

 

  1. Nikodemus het Jesus verdedig (7:50). Hy was alleen in hierdie poging. As ons Jesus verdedig is dit vir ons eie aanmoediging. God het niemand nodig om Hom te verdedig nie. Ons eie getuienisse maak ons sterk en bemoedig die mense om ons. As ons van God praat is dit ons gees en siel wat sterk word.

 

Hoor wat sê Wysheid in Spreuke 8:

 Luister, want wat ek sê, is die moeite werd, elke woord van my is opreg.

 Ek praat net die waarheid, ek het ‘n afsku van wat verkeerd is. Elke woord uit my mond kan die toets deurstaan, nie een het ‘n verkeerde of vals bedoeling nie.

 Mense wat insig het, weet dat ek reguit praat, wie die kennis het, weet wat ek sê, is reg.

 Aanvaar wat ek julle leer, dit is meer werd as silwer; kennis is meer werd as die fynste goud.

 

Bid saam met my die woorde van die Psalmis (19:15, OAB):

Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!

 

 

119. Net hoorsê …of eerstehands?

Daar is ‘n belangrike beginsel van gebed wat ons dikwels mis.

God inisieer gebed. Nie ons nie. Hy praat om die gesprek aan die gang te kry.

Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God. (Romeine 10:17, OAB)

Elke keer as die woorde: “laat hom wat ore het om te hoor, hoor wat die Gees aan die gemeente sê”, in die Nuwe Testament voorkom, is dit Jesus wat praat. Dit is nie ‘n toevallige stelling nie. Dit is die Seun van die lewende God wat vermaan dat ons nie ons ore moet toemaak vir dit wat geleer moet word nie.

Hoe ons luister, bepaal ons gebedslewe.

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. (1 Johannes 4:10)

Kom ons begin by die begin.

Die storie van die Tuin van Eden in Genesis is alles oor woorde. Dit word opgeteken in woorde en dit vertel van woorde. Die eerste woorde ooit het geskep, groot geskep – meer en groter as wat ons ooit kan weet.

Woorde het die wêreld tot stand gebring, woorde het die sterre in die lug hulle plek gegee,  woorde het lig gebring en die seë se grense gestel. Toe het God die man gemaak en uit die man die vrou en ‘n seën oor hulle uitgespreek om hulle gesag oor die hele skepping te gee.

Die antieke Hebreërs het geglo dat woorde ‘n eenheid van energie was, wat uitgaan en iets voortbring. Dit is waarom ‘n seën wat uitgespreek is, nie teruggetrek kon word nie. Nadat Isak die eersgebore seën oor Jakob uitgespreek het, kon hy dit nie as ‘n fout ongedaan maak nie. Esau moes met die mindere seën teverede wees.

God se eerste woorde aan die mens is in Sy teenwoordigheid in daardie pragtige, perfekte Tuin gespreek.

Beginsel vir ‘n lewe van uitnemendheid: God praat. As Hy sê bid sonder ophou is Hy bereid om sonder ophou te kommunikeer!

Daarom sal my volk my Naam leer ken; daarom sal hulle weet op dié dag dat dit Ek is wat spreek: Hier is Ek! (Jesaja 52:6, OAB)

Net soos Job gesê het: Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien. (Job 42:5,OAB)

Die nuwer vertaling verduidelik hoorsê: Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien.

Daar in die Tuin het die Here die patroon vir deurlopende kommunikasie gevestig. Hy het nog nooit opgehou nie. Geen sonde kon Sy stem stilmaak nie. Geen boosheid kan God se teenwoordigheid uitblus nie. God was steeds in die aandwind, presies waar Hy altyd was. Sonde het die mens geskuif. Die mens het weggekruip.

Ek is nie seker wat jy van gebed dink nie. Net die woord kan negatiewe ondertone meebring – gedwonge gebed, skaamkry tye, voorgee gebede met leë woorde, gebedswoorde wat oordeel en verwond, lang aframmelings en vervelige godsdienstige rituele. Dink net vir ‘n oomblik wat jou emosionele en intellektuele reaksie op gebed is? Is jy opgewonde of vol skuldgevoelens? Is jy huiwerig of vol verwagting? Voel jy onaangeraak en het reeds lankal besluit dit werk nie vir jou nie of kan jy entoesiasties van onlangse antwoord op gebed getuig?

GEBED: Here, ek wil graag U stem hoor.

Adam en Eva het in die Tuin as die koninklike kroon van die skepping regeer. Hulle was in perfekte kommunikasie met die Skepper en het in die rus van God ingegaan. Adam se eerste dag op aarde was die Sabbat. Dit is die enigste manier om die liefdevolle Vader se teenwoordigheid te ervaar. Gaan in Sy rus in, die rus en rustigheid wat ons gesprek met Hom bring.

Rus en vrede is die eerste wonderbare gevolg van gebed. Adam was ‘n wetenskaplike. Hy het elke dat gewerk om die Skepping te benaam en in die aandwind God ontmoet vir ‘n gesprek. Enige natuurwetenskaplike sal saamstem dat hulle vandag nog voortgaan om die Skepping te benoem. Dit is wetenskap.

In die duisternis wat hulle besluit om na satan se halwe waarheid te luister gevolg het, het daar afstand tussen hulle en God ontstaan as gevolg van die ongemak in Sy teenwoordigheid.

Satan het God se woorde by Eva betwyfel en Eva het sommer bietjie bygelas toe sy sê dat God gesê het hulle mag nie eet of aanraak nie. Sonde kom in ‘n wye verskeidenheid aanbiedinge, maar dit is die deelname en indompeling in sonde wat ons vernietig, nie net die gedagtes daaroor nie. Ons word beskerm deur die Bloed van ons eie gedagtes. Wanneer sonde ons lewe bepaal, word ons naaktheid ontbloot. Net soos hulle daar in die Tuin, bedek die bloed van Jesus ons van die skande wat sonde en boosheid bring.

Beginsel vir ‘n lewe van uitnemendheid: Gebed is ‘n gesprek wat deur God inisieer word.

En sy het ’n suster gehad met die naam van Maria; dié het aan die voete van Jesus gesit en na sy woord geluister. Maar Jesus antwoord en sê vir haar: Martha, Martha, jy is besorg en verontrus oor baie dinge; maar een ding is nodig; en Maria het die goeie deel uitgekies wat van haar nie weggeneem sal word nie. (Lukas 10:39,41,42)

Kom ons bid saam:

Here, help my om te hoor wat die Gees aan die kerk sê, sodat ek U hart en plan vir hierdie wêreld ken.

 

Bid sonder ophou.