118. Omdat God so sê.

Gebed is ‘n voortdurende leer ondervinding. Ek sou graag wou leer totdat ek eendag in Sy teenwoordigheid met Hom van aangesig tot aangesig kan gesels. In die tussentyd begeer ek om te leef in die openbaring van Sy teenwoordigheid (manifest presence) in Sy onsigbare koninkryk hier op aarde, sodat die bewustheid van die Vadershart so ‘n werklikheid word dat dit die kenmerk van my lewe is.

Van die eerste oomblik in die nuwe leerkurwe oor gebed wil ek bid dat ons gedagtes en verbeelding bevry word om die volle impak van die Woord van God te ervaar. Laat jou gedagtes beelde vorm, kyk in die onsienlike in en betree die misterie van God se Woord en werk.

En die man het met my gespreek: Mensekind, kyk met jou oë en hoor met jou ore en gee ag op alles wat ek jou sal laat sien; want om jou dit te laat sien, is jy hierheen gebring. Verkondig aan die huis van Israel alles wat jy sien. (Esegiël 40:4)

In hierdie oomblik – neem jou gedagtes gevange en onderwerp hulle aan die Woord van God… Ons neem elke gedagte gevange om dit aan Christus gehoorsaam te maak. (2 Kotintiërs 10:5)

Jy is op hierdie plek om te sien en te hoor.

GEBED vir hierdie oomblik: Here, ek gee my lewe en gedagtes oor en begeer om van U te leer in gehoorsaamheid aan U Woord. Kom Heilige Gees, kom leer my. Ek bely enige bekommernis en vrees wat hierdie gebed verhinder. (Matteus 13:22)

BEGINSEL vir ‘n lewe van uitnemendheid: luister vir die stem binne in die stem wat na jou toe kom. Binne hierdie gedeelte is daar iets wat jy moet leer. Dis nie die mees omvattende beginsels oor gebed wat jy moet leer nie. Daar is iets wat NOU belangrik is en wat jou ‘n stap vorentoe sal help om jou gebedslewe so te ontwikkel dat jy nog nader aan die hart van jou Vader kom.

In die eerste plek – baie geluk dat jy hierdie lees. Jy is presies waar jy moet wees. Dink daaroor. Dis die mees belangrike lewensvaardigheid om te hê – om te weet wat belangrik is. Jy hoef nooit te twyfel oor die tyd wat jy in die Woord van God spandeer nie.

Dis nie so omdat ek so sê nie. Ek is ook maar net ‘n gewillige dienaar. Selfs my gewilligheid is ‘n werk van die Heilige Gees. Hy werk in my om te wil. (Filippense 2:13)

Jy is op die regte plek omdat God so sê.

Jy ken die kode van Bybelstudie: God sê dit, ek glo dit, geen gekibbel nie.

As die Here dit sê is dit belangrik en waar bo alle dinge.

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom. Dan sal julle op die dag wanneer Christus kom, onberispelik en sonder blaam wees. (Filippense 1:9,10)

Die Woord van die Here is altyd prioriteit. As ons in gehoorsaamheid ingestel is op die oortuiging van die Heilige Gees, sal ons altyd weet wanneer om die TV af te skakel en die goue oomblikke saam met ons kinders te geniet. Ons sal weet wanneer om ander pligte vir eers opsy te skuif en aandag te gee waar die emosies hand uitruk of prestasie gevier moet word. Stop alles en bid as jy die aanval van boosheid herken. Jaag die duiwel uit jou huis uit. Rek die minute wanneer jy die Here dank vir al Sy seën en goedheid. Hoor en fokus op die Heilige Gees wanneer jy die salwing voel.

Reinig jou gedagtes op hierdie oomblik en HOOR die woord van die Here:

Toe het die mense wat eerbied vir die Here het, onder mekaar geredeneer, en die Here het dit gehoor en daarop ag geslaan. Daar is ‘n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van dié wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam.

Hulle sal vir My ‘n kosbare besitting wees die dag as Ek ingryp, sê die Here die Almagtige. Ek sal goed wees vir hulle, soos iemand goed is vir sy seun wat vir hom werk.

Dan sal julle weer die verskil sien tussen wie goed doen en wie goddeloos is, tussen wie My dien en wie My nie dien nie. (Maleagi 3:16-18)

 GEBED vir hierdie oomblik: jou naam word voortdurend voor God opgeskryf. (Onthou Hy staan buite tyd.) Maak vir jou ‘n gedagtebeeld van die hemelse wese, die scriba in die troonkamer van die hemel by die lewensgrote lessenaar en ‘n skitterende goue skryfinstrument in sy hand – hy skryf jou naam.

BEGINSEL vir ‘n lewe van uitnemendheid: jy is uitkenbaar as ‘n man of vrou wat aan God behoort, onderskeibaar van die bose, die destruktiewe en die gewone. My gebed vir jou: (Efesiërs 1:18)

 Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het.

 Om werklik onderskeibaar van die wêreld te wees is om Sy naam en die volle impak van gebed in Sy naam onder mekaar te deel. Is die nie presies wat ons in hierdie oomblik doen nie?

Die enigste manier om die goddellike en sekulêre lewe van mekaar te onderskei is die merkbare teenwoordigheid van die Vader en intieme kommunikasie met Hom. Dit is wat ons onderskei van georganiseerde godsdiens.        

Georganiseerde godsdiens is nie die kerk nie. Ons is die kerk van Jesus.

Ons wie Sy naam bespreek, wie Sy teenwoordigheid soek, wie Sy wonderwerke raaksien en eer. Ons is Sy edelstene, Sy kosbare besitting.

Juig, Bodemklipvriend. Dit is jy. Jy is vir Hom kosbaar.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s