106. Onderwêreld van die onbekende.

[Openbaring 13]

Die onbekende is vreesaanjaend, aaklig, grillerig, skrikwekkend en angswekkend – dink maar aan soveel woorde as wat jy kan om dit te beskryf. Elke woord en meer nog was nodig om die gevoelens van die antieke wêreld oor die see te beskryf. Die see was ‘n misterie van reuse skepsels en donker, onbekende water wat onverwags in ‘n verwoestende storms kon ontwikkel. Die storms het  hulle houtbote in stukke geruk en die hulpelose seevaarders verdrink. Tog moes soveel reise per boot aangepak word. Judea was ‘n verraderlike seereis ver van die res van die Romeinse ryk en Rome.

Hoofstuk 13 begin soos ‘n dramatiese gedig:

En ek het ’n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ’n naam van godslastering.

Die anti-Chris sal uit die see opkom, die simbool van chaotiese politieke gebeure.

Dit is hoe die voller prentjie van die valse drie-eenheid begin vorm aanneem. Dit is uiters belangrik om die kinders van God bewus te maak van boosheid se groter plan en hulle sodoende toe te rus op elke moontlike vlak van die lewe.

Satan delegeer mag na twee diere. Dit is ‘n samestelling van Daniël se monster in Daniël 7:2-7. Dit beskryf die verpersoonliking van alle boosheid – ‘n leeu met arendsvlerke, die simbool vir Babilon, die beer as simbool van Mede, ‘n luiperd met vier vlerke – die simbool vir Persië en ‘n dier wat nie genoem word nie, wat die ryk van die Grieke onder Alexander die Grote aandui, wat alles vertrap. Al die diere kan gelyktydig in die Romeinse Ryk gesien word in die beskrywing van H.B. Swete:

 The empire has the vigilance, craft and cruelty of the leopard, ever ready to spring upon its prey; it has the crushing strength of the bear; it is like the lion whose roar terrifies the flock.

Paulus het respek vir die owerhede van die dag gevra. Hy was ‘n Romeinse burger en het daarop staatgemaak in sy sendingtaak tot voordeel van die Evangelie. Hier in Openbaring is daar ‘n duidelike skuif in die houding teenoor die regering. Dit is oorlog tussen die kerk en die owerhede en Rome is die verpersoonliking van alles wat boos is.

Die eerste dier verteenwoordig anti-Christelike regering en politieke mag. Die tweede dier verteenwoordig anti-Christelike godsdiens, filisofie en ideologie. Saam skep hulle ‘n leuenagtige, misleidende sekulêre gemeenskap, ekonomie en kultuur. Die derde dier is die Vals Profeet (13:11).

Die dier van Openbaring sluit alles waaroor Daniël gepraat het in. Die sewe koppe en tien horings dui op die regeerders van Rome en die daaropvolgende politieke heersers van die wêreld. Wêreldleiers neem dikwels godslasterlike name vir hulleself soos God, Redder, Goddellik en so voorts.

Godslastering is alle afkrakende woorde en gesprek. Dit is om wat menslik is, goddellik te noem en wat boos is, goed te praat. Dit is die leuen wat vandag in die wêreld heers. Dit is ‘n spottende afmaak van die woorde van aanbidding van die kinders van die Here: “Wie is soos ons God” (Exodus 15:11).

Dit is uiters belangrik om te besef dat ons in die realm van die valse drie-eenheid woon en ingelig is oor die strategie van boosheid. Ons Vader wil nie hê dat ons vergaan as gevolg van ‘n gebrek aan kennnis. Ons is die heiliges, die kerk, getrou en sterk om in Sy krag en genade moeilike tye te deurstaan.

Die kop van die dier is verwond met die kruisiging, maar dit is genees en hy kan voortgaan met sy bose planne. Sekere Romeine en selfs lede van die kerk van daardie tyd, het geglo dat Nero, ‘n besondere wrede en walglike keiser, na sy dood weer geleef het om voort te gaan om die kerk so verskriklik te vervolg.

Openbaring 13:9,10 herinner aan God se oordeel teen Juda in Jeremiah 15:2,3. Die vervolgdes en verjaagdes moet hulle vertroue in God behou en nie die metodes van die Dier en Draak aanneem nie. Dit word deur Jesus bevestig in Matteus 26:52:

Toe sê Jesus vir hom: “Sit jou swaard terug in sy plek, want almal wat na die swaard gryp, sal deur die swaard omkom.

Die evangelie van liefde kan nie met die geweld van mense verdedig word nie. God sal Sy woord verdedig en vergeld.

Die ander dier is die Vals Profeet (13:11), die mondstuk van die vals drie-eenheid. Hy word beskryf as ‘n lam, in teenstelling met die ware Lam van God, Jesus. Caesar-aanbidding (soos in Bodemklippe 42 verduidelik is) dien as simbool van die poging om jou redding en uitkoms in die politieke bestel te soek. Satan kan ook bonatuurlik werk met tekens en wonders in die okkulte met die doel om te mislei.

Vir die ongelowige is die gekruisigde Jesus nie die oorwinnaar nie. Die ongelowige sien net die kopwond van die Dier wat genees is en dit lyk aanvaarbaar en selfs aantreklik. Net die ware gelowige kan die waarde van die oorwinning van die Kruis begryp. Die ongelowige word maklik mislei. Hy sien die afgodsbeeld en die vuurtekens en val plat om te aanbid, hoewel hy nooit enige aanbidding van enigiets sal erken nie. In werklikheid is die verwerping van Jesus, aanbidding van die Dier.

Die merk (666) is die vals seël van God (Openbaring 7:2-4). In die tyd van Caesar-aanbidding het die magistraat sertifikate uitgedeel sodat elke inwoner bewys kon lewer dat hy verklaar het, Caesar is god.

Grieks en Hebreeus het nie aparte numeriese sisteme nie. Al die letters van hulle alfabet het numeriese waarde. Die getal 666 is die waarde van die naam van die Dier.

Die Jode het volgens die voorskrifte van Exodus 13 en Deuteronomium 6, letterlik die Woord van God, die Wet, op hulle voorkoppe en gewrigte gedra. Slawe is met ‘n brandmerk, gebrand om hulle status onuitwisbaar te maak. Dit is ‘n stigma genoem en het eiendom aangedui – een mens wat aan ‘n ander behoort. Jy behoort aan die een wie jy aanbid.

Ons, die kerk, dra die seël van die doop.

Die waarskuwing teen misleiding kom sterk in 2 Thessalonicense 2:3-12:

 Laat niemand julle op watter manier ook al mislei nie. Die dag van die Here sal nie aanbreek voordat die laaste afvalligheid gekom het en die wettelose mens wat vir die verderf bestem is, sy verskyning gemaak het nie. Hy sal hom verset teen al wat God genoem word of wat as heilig vereer word, en hy sal hom bo hulle verhef. Hy sal selfs in die tempel van God gaan sit en voorgee dat hy God is.

Die Woord van God waarsku en berei voor op die strategie van die bose en die wêreldorde van die vals drie-eenheid.

Wie is die leuenaar anders as hy wat nie wil erken dat Jesus werklik die Christus is nie? Hý is die antichris, hy wat nie die Vader en die Seun wil erken nie. (1 Johannes 2:22)

En elkeen wat dit nie van Jesus bely nie, het nie die Gees wat van God afkomstig is nie. Hy het die gees van die antichris, die gees van wie julle gehoor het dat hy kom en wat nou reeds in die wêreld is. (1 Johannes 4:3)

Die Boek van die Lam (13:8) is die hemelse register van almal wat aan God behoort. Ons name staan daar geskryf sedert die vroegste tye (1 Petrus 1:20). Dit is nie uitverkiesing nie, dit is God se vooraf wete; Sy voorkennis. Hy is alwetend en staan buite tyd. Die hele geskiedenis is vir Hom ‘n oogwink. Hy weet wie gaan Hom verwerp met ‘n harde hart tot die einde toe. Ons weet hy wil dat almal gered word. (2 Petrus 3:9).

Niks wat die Dier, Vals Profeet of Satan kan doen kan ons ooit uit Sy hand pluk nie.

 

 

 

100. Nog wind, nog storms… baie engele.

[Openbaring 7]

Die toneel is dramaties en donker in die sewende hoofstuk. ‘n Oppervlakkige benadering sou verwarrend kon wees. Winde en engele, syfers en menigtes, seëls en merke, donderende stemme en aanbiddingsliedere alles saam beskryf kosmiese geskeidenis in ‘n paar woorde. Lees aan, moenie opgee nie. Kyk dieper en verstaan die metafore en simbole sodat jy die blydskap en seën van die visie nie misloop nie. Die woorde is God-woorde, ons verstand is gesalf. In plaas daarvan om die groot prentjie perfek te verstaan, luister na die sagte stem van die Heilige Gees vir dit wat jou Vader nou aan jou kommunikeer. Hy is bewus van jou posisie op hierdie oomblik en weet presies wat jy nodig het en moet hoor. Hy sal jou verstand verlig en in jou hart praat.

Die Jode het aanvaar dat engele die wêreld beheer. Die aarde was vierkantig en plat. Die winde uit die noorde, suide, weste en ooste was “goeie” winde, maar die wat diagonaal waai, was “sleg”. Hulle was bekend met die beelde “engel van vuur” in Openbaring 14:18 en die “engel van baie water” in Openbaring 16:5. Hulle het ook geglo dat engele die oordeel kan terughou op God se bevel.

Die Sirocco-wind was bekend as ‘n verwoestende warrelwind wat plantegroei verinneweer en die oes vernietig. [Sagaria 6:1-5, Nahum 1:3,4, Psalm 18:15, Jesaja 40:7,24, 66:15]. Psalm (83:13) verklaar dat God sy vyande verstrooi soos stoppels voor die wind. Ander skrif bevestig die mag van wind as ‘n faktor in die verwoesting van die oes. [Jeremia 23:19, 30:23. Hosea 13:15]

Die wetenskaplikes vandag weet baie meer van die weerpatrone op aarde, maar ons moet altyd weet dat God in beheer is en uitred uit die ergste storm.

Die engele beheer die wind en verhinder enige nadeel totdat die seël van saligheid die kinders van God merk. Die winde is simbolies van bose magte. Die ooste was gereken as die oorsprong van alles wat goed is en die bron van seën – daar waar die son opkom. Die son is ‘n simbool van lig en lewe. Dit is die belofte, selfs binne die donkerste storm.

Ons dien die lewende God in teenstelling met gode wat deur mense gemaak word. Hy is meer as genoeg om ons te beskerm teen enige boosheid. [Jesaja 44:9-17, 2 Konings 18: 17-37]

Ons is bevoorreg om die kenteken van die lewende God te dra. Dit is ons beskerming teen boosheid. Ons lees van die man in ‘n linnekleed met ‘n inkpost aan sy heup gegord wat die voorkop van diegene wat ook kla en kerm oor die boosheid om hulle.  [Esegiël 9:1-7]

In antieke tye was die koning se seël baie betekenisvol en uiters belangrik. Met ‘n seëlring het hy dokumente verly en eiendom beskerm. Die koning se seël was ‘n onbestrede verteenwoordiging van die koning se gesag en vertroue. [Genesis 41:42, Ester 3:10,8:2]

Die leeukuil in die tyd van Daniël is deur Darius verseël (Daniël 6:17) en so-ook Jesus se graf deur die Romeinse owerhede. ‘n Seël het die bron van handelsgoedere en die eiendomsreg van wingerde aangedui.

Vir die vroeë kerk was die doop simbolies van die seël van saligheid en doopkandidate is in wit klere gedoop. Ons doop word met die Heilige Gees geseël. Dit is die volle pakket van redding en beskerming teen boosheid in hierdie wêreld.

Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys. (Efesiërs 1:13,14)

Ons is verseël teen God se wraak (die openbaring van Homself aan die ongelowige), nie van verdrukking en dood nie. Ons word nie immuun teen die gebrokenheid van die aarde nie, maar ons word veilig deurgelei. Ons is die getuienis van die wêreld. Die kerk is terselfdertyd die waarskuwing, die versekering en die aanmoediging vir die verkondiging van die belofte. Ons leef saam met die ongelowige, maar verbind en verseël met die Bron van Lewe en Waarheid as ‘n voorbeeld van ‘n uitmuntende lewe binne die verwonding van verdrukking.

Die 144 000 is ‘n simbool van volledigheid.

Die getal 1000 is 10x10x10 – die perfekte kubus. Die getal 144 is 12×12 wat die ouderlinge en die stamme insluit – dus die kerk en Israel saam. Dit is ‘n simbool van die getroue oorblyfsel van die Ou en Nuwe Testament. Dit is die volledige geestelike Israel. [Galasiërs 6:16, Openbaring 14:1-5]

Die getal is insluitend en onbeperk. Dit simboliseer meervoudigheid en oorvloed. Nie al die Jode is deel van Israel nie – Romeine 9:6-8:

Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou ‘n nageslag kom.” Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word.

Ons is Abraham se nageslag in Christus. (Galasiërs 3:29, 6:16).

Die stamme wat in hierdie hoofstuk genoem word is in geen spesifieke volgorde nie. Juda is eerste as die geslag waaruit Jesus gebore is. Dan is afwesig as gevolg van afgode (Genesis 48:17) en word as vyand uitgemaak (Jeremia 8:16). Manasseh (Josef se seun) is op die lys.

Die volgende verse beskryf die glorieryke bestaan van die kerk in die hemel. Dit is die kerk in ‘n staat van oorwinning soos die groot wolk van getuies in Hebreërs 12:1. Die heiliges is ontelbaar. In Abraham word elke nasie van die wêreld geseën. (Genesis 15:5, 32:12) Dit is die groot menigte uit al die nasies en tale.

Hulle dra wit klere met palmtakke in die hand – simbolies van oorwinning en groot vreugde, terwyl hulle aanbid. Die lied van aanbidding het sewe onderskeidende kenmerke van die Redder:

Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!” en gesê: “Amen! Die lof en die heerlikheid, die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte behoort aan ons God tot in alle ewigheid. Amen!” (Openbaring 7:10,12)

Sterkte word met vier woorde in Grieks beskryf:

 

  • koach – vermoeë, in staat wees
  • exousia – gesag, outoriteit
  • dunamis – groot mag en krag
  • kratos – effektiewe mag om te regeer

Al die woorde is gebruik in die teenwoordige tyd van die werkwoord om die volgehoue uitvoering en konstante gebeure te beklemtoon. Dit is die aanbidding wat nou in die hemel en te alle tye aan die gang is.

Ten spyte van al die verdrukking deur al die eeue is die kerk triomfantelik in aanbidding.

Die groot verdukking is die intense aftakeling van die aarde wat kulmineer in die tweede koms van Jesus. Net deur die bloed van Jesus is daar vergifnis en herstel van sonde, in die verlede, hede en toekoms. Die bloed reinig en maak skoon.

Die gelowiges word in die Teenwoordigheid van God beskerm. Die Engelse vertaling stel dit mooi: He will spread His tabernacle over them. Die belofte van Sy teenwoordigheid is oop vir almal – ook die vroue en die heidene. Dit is nie soos die Tempel in die tyd van Jesus waar die vroue en die heidene (nie-Jode) afgesonder is en apart moes aanbid nie.  Die Tempel was veronderstel om ‘n simbool van die veiligheid in die teenwoordigheid van die Here te wees en nie ‘n plek van verwydering en diskriminasie nie. Dit verklaar Jesus se woede daaroor. (Matteus 21:12)

Die Lam is die herder – ‘n welbekende beeld in die antieke wêreld. [Psalm 23, Jesaja 25:8 Esegiël 34:24] Hy sal sorg dat Sy skape se dors met strome van lewende water geles word. [Jesaja 55]

Hierdie gedeelte is vol bemoediging en hoop vir ‘n toekoms wat volgens die heel beste scenario uitspeel – oorwinning ten spyte van verdrukking. Al die trane word afgeveë met ‘n oorwinningskreet op hulle lippe.

Redding is nie ontsnapping nie, eerder ‘n jubelende segetog.

God bring ons almal triomfantelik deur die moeilikheid. Die lewe is nie maklik nie, maar ware Christelike hoop is nie om al die probleme te vermy nie, maar om te volhard en die waarborg van die oorwnningsglorie en Jesus se beloning te smaak – Judas 24.

Alle begeerte na geregtigheid sal vervul word. Jesus is die Brood van die Lewe. In Hom is daar alles. (Johannes 6:35)

Hulle sal nie honger of dors kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by fonteine langs lei.

Ek sal al my berge paaie maak, my grootpaaie sal sonder opdraandes wees. (Jesaja 49:10,11)

Deurgedra, goed versorg, volkome gered – dis ons Vader.

Hier volg ‘n stuk uit William Barclay se kommentaar oor die wonder van ‘n ware herder. Dit dien om ons beeld van ons hemelse Herder te versterk.

 

The divine shepherd.

This is a precious picture in any age; but it was more meaningful in Palestine than it can ever be to those who live in cities. Judaea was like a narrow plateau with dangerous country on either side. It was only a very few miles across, with on one side the grim cliffs and ravines leading down to the Dead Sea and on the other the drop to the wild country of the Shephelah. There were no fences or walls and the shepherd had to be ever on the watch for straying sheep. George Adam Smith describes the eastern shepherd. “With us sheep are often left to themselves; I do not remember to have seen in the East a flock without a shepherd. In such a landscape as Judaea, where a day’s pasture is thinly scattered over an unfenced track, covered with delusive paths, still frequented by wild beasts, and rolling into the desert, the man and his character are indispensable. On some high moor, across which at night hyenas howl, when you met him sleepless, far-sighted, weather-beaten, armed, leaning on his staff, and looking out over his scattered sheep, every one on his heart, you understand why the shepherd of Judaea sprang to the front in his people’s history; why they gave his name to their king, and made him the symbol of Providence; why Christ took him as the type of self-sacrifice.”

Here we have the two great functions of the Divine Shepherd. He leads to fountains of living waters. As the psalmist had it: “He leads me beside still waters” (Psalms 23:2). “With thee is the fountain of life” (Psalms 36:9). Without water the flock would perish; and in Palestine the wells were few and far between. That the Divine Shepherd leads to wells of water is the symbol that he gives us the things without which life cannot survive.

He wipes the tear from every eye. As he nourishes our bodies so he also comforts our hearts; without the presence and the comfort of God the sorrows of life would be unbearable, and without the strength of God there are times in life when we could never go on.

The Divine Shepherd gives us nourishment for our bodies and comfort for our hearts. With Jesus Christ as Shepherd nothing can happen to us, which we cannot bear.

 

[Quoted from William Barclay – Daily Study Bible – Revelation – http://www.studylight.org]

 

81. Orde of chaos – die regte manier.

Nuusbeelde van ons eie land en ander wêrelddele wys ons so dikwels die chaos van oorlog, natuurrampe en armoede. Daagliks stry ons teen chaos in ons eie lewens. Ons maak aan die kant, maak skoon, orden, kategoriseer en beplan. Chaos is soos ‘n honger monster gereed om oor te neem en verwoesting te saai. Chaos is negatief. Dit veroorsaak emosionele verwarring, depressie en gevoelens van magteloosheid. ‘n Goed-georganiseerde lewe spreek van beheer en goeie beplanning.

Net so het Jerusalem in puin en verlate agtergebly na ‘n verwoestende besetting en die dood van die Judese koning. Die hele volk Juda, behalwe die swakkes, siekes en oues is deur Nebukadnesar in ballingskap weggevoer. Die ballingskap is deur verskeie profete voorspel, met die uitvoerige waarskuwings oor ‘n lang tydperk oor terugkeer na die Here om die ballingskap te vermy. Die volk se voortdurende ongehoorsaamheid het die Babiloniese heerser die oorhand laat kry. Die ballingskap sou 70 jaar duur. Daniël het as ‘n jong seun in die paleis van Nebukadnesar beland en vier heersers, Babilonies sowel as Persies, as ‘n banneling gedien. Hy het die profesie geken en begin bid dat die Here die uitkoms stuur. In genade verkort die Here die tydperk en na 60 jaar ballingskap arriveer die eerste bannelinge terug in Juda.

Onder die goeie gesindheid van Kores, die Persiese heerser, het die eerste vlaag bannelinge teruggegaan Juda toe. ‘n Mens kan jou kwalik voorstel wat hulle indrukke van die verlatenheid en verwoesting was. Die oorweldigende omvang van die heropbou was sekerlik ‘n massiewe uitdaging. Die tempel was ‘n ruine, die muur afgebreek in rommel en stof en die stad ‘n wegkruipplek vir rowers en swerwers. Sterk leierskap het die mense gemotiveer en die werk uitgedeel.

Ek is altyd verstom oor die detail van die verslaggewing in Esra en Nehemia, wat spreek van deeglikheid en orde. Die twee boeke van die Ou Testament was in die Hebreeuse Bybel een boek. Esra se naam beteken: die Here het gehelp. Dit is nie heeltemal duidelik of Esra self die boek onder sy naam geskryf het nie en of iemand anders dalk die skryfwerk gedoen het nie en die naam van die boek aan die hoofkarakter van die gebeure gekoppel het. Meeste kenners is van mening dat Esra self die boek geskryf het, asook Nehemia sowel as 1 en 2 Kronieke.

Esra was ‘n priester en skrifgeleerde en word so beskryf in Esra 7:9-11:

Esra het hom gewy aan die wet van die Here. Hy wou dit in die praktyk toepas en Israel elke voorskrif en bepaling leer. Hier volg ‘n afskrif van die volmag wat koning Artasasta verleen het aan die geleerde priester Esra, wat op hoogte was van alles in verband met die gebod van die Here en met sy voorskrifte aan Israel

Die boek beskryf die eerste groep se terugkeer uit ballingskap in 538 vC oor ‘n tydperk van 23 jaar in hoofstukke 1 – 6. Bouwerk aan die tempelherstel begin in alle ywer, maar vyandskap onder die nie-Joodse inwoners van die gebied, bring die herstelwerk tot ‘n stilstand. Die profetiese bediening van Haggai en Sagaria inspireer die terugkerendes om die bouwerk te hervat en nie moed te verloor omdat die tempel nie so indrukwekkend soos die tempel van Salomo is nie. Uiteindelik is die nuwe Tempel in 515 vC voltooi en toegewy.

Ongeveer 60 jaar later is daar ‘n tweede groep wat terugkeer onder die leierskap van Esra met nog geld en waardevolle items vir die verfraaiing van die Tempel en tot ondersteuning van die aanbidding, ingesluit die kosbare tempelelemente wat deur Nebukadnesar weggeneem is – verstommende antieke administrasie! Esra word geestelike hervormer en invloedryke, toegewyde priester. Hy preek ernstige terugkeer na die oorspronklike gees van die wet van die Here. Hy spreek die afvalligheid aan, selfs tot die mate dat hulle moet skei van heidenvroue met wie hulle getrou het. Die belangrikste tema in die boek is God se getrouheid en die mens se ontrouheid.

God se getrouheid en leiding in tye van politieke verwarring en omwenteling is ‘n ligtoring vir ons lewens vandag. Ons is so blootgestel aan die oproer en onrus wat staatsbesluite veroorsaak op ‘n wêreldwye vlak. Wanneer alles so duister en ontwrig lyk, is dit tyd om weer die gebed van die blinde Bartomeus te bid: Here, laat my sien.

God is getrou om die ballingskap te verkort. Hy versag die wêreldmag van daardie tyd se heerser, Kores, se hart teenoor sy volk sodat die terugkeer van die bannelinge kan begin. Hy wek die leiers op om hulle te begelei en die reëlings te tref – Esra en Serubbabel. Toe hulle moedeloos raak met die bou van die tempel en die vyandskap van die mense hulle lamlê, rig Hy Haggai en Sagaria op om moed en goddellike inspirasie oor hulle te profeteer sodat die werk klaarkom. Hy voorsien lering en duidelike leiding oor Sy Woord in die persoon van Esra, sodat daar geen onduidelikheid oor Sy plan en wil is nie.

Aan die ander kant, laat die mense toe dat vyandskap hulle durf steel totdat hulle totaal opgee met die bouery. Die tempel is uiteindelik klaar en ‘n plek van aanbidding is herstel, maar nog is die volk nie oortuig nie. Lees die pragtige gebed van Esra vir die volk in hoofstuk 9. Hy is so moedeloos oor die sonde en afvalligheid van die volk dat hy sy klere skeur, sy baard en hare uittrek en verslae voor die Here gaan sit. Hy bely hulle sonde en spreek al God se genade en voorsiening uit.

‘n Mens sou nou kon wonder watter effek het dit dat hy die volk se sonde bely, terwyl hyself so noukeurig voor die Here wandel. Die profete en volksleiers van ouds het dikwels namens die hele volk by die Here ingetree. Dit is ‘n wonderbare en wonderwerkende beginsel. Ons kan vir ons gesinne, ons familie en ons volk voor die Here intree en namens hulle, hulle sonde bely en die Here om uitkoms bid.

Esegiël 22:30:

Ek het iemand tussen hulle gesoek wat ‘n muur sou bou en vir die stad in die bres sou tree dat dit nie vernietig word nie, maar Ek het niemand gekry nie.

And I sought for a man among them, that should build up the wall, and stand in the gap before me for the land, that I should not destroy it; but I found none.

In Esegiël 22 word ‘n donker prentjie van die land geskilder:

“Mens, sê vir die land: Jy is ‘n land wat geen reën sal kry die dag as my toorn losbreek nie.

“Die regeerders in die land sweer saam en is soos brullende leeus op vangste uit. Hulle vreet mense op en vat die rykdom en kosbaarhede vir hulleself, hulle maak baie vrouens in die land weduwees.

Die burgers van die land verdruk en beroof mense. Hulle buit armes en mense in nood uit en hulle verdruk die vreemdeling asof daar geen reg bestaan nie.

Die amptenare in die land is soos verskeurende wolwe. Hulle moor, hulle laat mense doodgaan, hulle maak oneerlike wins.

Is dit ‘n skrikwekkend bekende beskrywing van politieke korrupsie en onsekerheid, verwarring en verkeerde praktyke? Wat is ons rol?

God soek iemand om in die bres te staan. Dit is nie die jammerlike weeklaag van saamkla, saam skinder, saam sleg praat wat so algemeen is nie. Dit is ook hoegenaamd nie ‘n oproep om die feite en werklikhede van so ‘n negatiewe toestand te ignoreer nie. Dit is ‘n oproep tot gebed en positiewe bydra tot die oplossing wat net kan kom deur ‘n ingrype van die Hemel Vader wie ons ken en dien.

Dit is een van die mees onstellende goddellike verwyte in die ganse Bybel.

” Ek het gesoek”, sê God, “Ek het niemand gekry nie!”

My hart skreeu ten hemele: Hier is ek Here. Ek sal bid vir Suid-Afrika. Ek ken U wonderwerke. Ek weet dat U ‘n groot en gedugte Hemelheerser is wat oor die heelal regeer en daar vir U niks onmoontlik is nie. Vergewe my dat ek moedeloos raak en die vyand toelaat om die bou van die Tempel te ontspoor. Ek sal my hande oplig voor U oor my land. Laat U Woord oor my lippe kom. Laat U krag deur my vloei sodat ek effektief teen die boosheid van vernietiging kan weerstand bied. Vul my op met U meegevoel en liefde vir die mense, sodat ek hulle onvoorwaardelik kan liefhê en vergewe soos U my liefhet en vergewe.

Is ons nie God se verbondsvolk nie? Hoe kan ons toelaat dat politiek die magtige terme van God se bloedverbond neutraliseer? Ons gebrek aan insig in die ware voorsiening van God aan ons, binne politieke verwarring en onrus, maak ons moedeloos en ontspoor die bouwerk. Bou ons die Tempel? Herstel ons die plek van aanbidding?

Ek glo ons word almal opgeroep om Esra te wees. Ons kenteken wat duidelik in ons praat en optrede herkenbaar moet wees, moet verklaar: Die Here het gehelp.

Hoor die woorde van aanmoediging van die profeet Sagaria aan die bouers van die Tempel wat moed verloor het: [4:6,7]

Toe antwoord hy en sê vir my: Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.

Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ’n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!

Ons is die “geleerde priester” soos Esra deur die Persiese koning beskryf is. Dit word oor ons uitgespreek in 1 Petrus 2:9:

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig.

Ons kenteken is die verlossingswerk van God. Dis ons wat die lig in die duisternis is. Ons is die lamp wat nie onder die emmer ingesteek word nie. Ons sing nie meer:

LAAT ONS SKYN VIR JESUS MET ‘N HELDER GLANS,

   SKITTER SOOS DIE STERRE AAN DIE HEMELTRANS!

   IN DIE DONKER WêRELD, SKYN DAN, SKYN –

   JY IN JOU KLEIN HOEKIE EN EK IN MYN.

Ons is gekies om te skyn. Bodemklipvriend, die opdrag is duidelik saam met die belofte van voorsiening, lering, profete en priesters. Waarin is ons toekoms verseker? In die beloftes van God. Laat ons die slap hande en die lam knieë oprig en aan die werk spring. [Hebreërs 12:12]

Mag ons onder die indruk kom van die hoë roeping waarmee ons geroep is. 1 Petrus 2:9 in The Message:

But you are the ones chosen by God, chosen for the high calling of priestly work, chosen to be a holy people, God’s instruments to do his work and speak out for him, to tell others of the night-and-day difference he made for you—from nothing to something, from rejected to accepted.

Volgende keer: Esra 3:3:

Ten spyte van hulle vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land het hulle die altaar op sy oorspronklike plek opgerig en daarop brandoffers vir die Here gebring, soggens en saans.