170. Koning van vrede.

[Johannes 12]

Jesus is oppad Jerusalem toe.

Vir Hom om Jerusalem toe te kom in die tyd van die Paasfees is waarlik waagmoed. Hy het geweet Hy het diep “moeilikheid” met die owerhede. Blyplek was ‘n probleem in Jerusalem en baie pelgrims het in Betanië oorgebly in die tyd. Tyding oor Lasarus het vinnig versprei.

Die Romeine het graag ‘n sensus afgekondig. Hulle wou seker maak elkeen betaal belasting. Soos ons weet het Josef en Maria Bethlehem toe gereis vir ‘n sensus. In ‘n Romeinse sensus kort na die kruisiging is opgeteken dat sowat 256 000 lammers tydens die Paasfees geslag is. Gewoonlik het tien mense ‘n lam gedeel en daarom is die skatting op meer as 2,600 000 Jode in Jerusalem tydens die Paasfees. Jerusalem was vol en besig.

Die karakters in die stories om Jesus is altyd merkwaardig. Die inspirasie van die Heilige Gees gee ons die kleurvolle en dramatiese besonderhede van die mense sodat ons na soveel eeue nog met die mense om Jesus kan identifiseer.

Marta het ‘n maaltyd bedien. Mariahet Jesus met kosbare parfuum gesalf. Sy het haar heel beste oor Hom uitgegiet.

In haar bediening het Marta ook haar liefde vir Jesus uitgeleef. Sy was goed met wat sy gedoen het. Ek kan so met haar identifiseer, want ek voel ook ek moet ietsie te ete en te drinke voorsit om die gesprek te laar vloei. Ek weet een van my gawes van die Heilige Gees is gasvryheid. Ek sou spring om vir Jesus iets voor te sit. Tog voel ek daar is stille kritiek op Marta. Haar diens aan Jesus het haar buite hoorafstand van Sy stem geneem. Miskien was daar nie moderne oopplan kombuise nie. Ek hou van kook, maar ek hou ook van die geselskap.

Solank ons gawes en selfs ons bediening ons nie buite die bereik van die stem van God neem nie, kan ons met vrymoedigheid en passie voortgaan. Ek het al so dikwels my passie vir materiaal, binneversiering, kuns en mode aan die Here onderwerp en Hom gevra om dit in Sy koninkryk te gebruik. Ek is lief vir mooi goed en ek wil nie hêdit moet my van Hom af wegdryf nie.

Die mees belangrike ding in my lewe is om die stem van God te hoor. Ek wil hoor as ek lees, hoor as ek werk, hoor wanneer ek skryf en hoor wanneer ander mense om my is. Ek wil God “hoor” in die alledaagse.

Hoe leef ons ons liefde vir Hom?Dink daaroor.

Onthou dit kan in die kleinste, mees gewone en eenvoudigste take wees, soos om jou familie te versorg. Dit is altyd ons eerste roeping.

Jesus het dit self gesê. Ons moet Sy getuies wees in Jerusalem(ons gesin), Judea(ons familie en vriende), Samaria(die mense waarvan jy nie hou nie) en dan die res van die wêreld (Handelinge 1:8).

Maria was oorvloedig in haar offer. Dit was ‘n teken van verering om iemand se hoof te salf (Psalm 23). Maria het Jesus se voete gesalf. Haar nederigheid het haar aan Sy voete gebring. Sy het nie gedink sy is goed genoeg om Sy hoof te salf nie.

Liefde het haar vrymoedigheid gegee. Geen gerespekteerde vrou sou haar hare in die publiek los maak nie. Getroude vrouens het hulle hare bedek. Eintlik was dit net prostitute wat met hulle hare uitlokkend was. Maria was glad nie gepla met wat die mense sou dink nie.

Haar huis is gevul met die heerlike geur van die parfuum. Dit is wat met ons ook gebeur. As ons Jesus liefhet en eer, is ons die lieflike geur van liefde. Die kerk wat haar voorbeeld volg is waarlik die liggaam van Jesus.

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur(2 Korintiërs 2:14)

Judashet ewe edel oor die armes gepraat en gesêdie duur parfuum kon verkoop word. Jesus het geweet Judas gaan Hom verraai. Hy het heel moontlik Judas die tesourier gemaak om hom te wen met vertroue en te kommunikeer dat Hy die beste van Judas verwag.  Vir Judas was dit ‘n groot versoeking om meer geld te kry. Hy het die geld in elk geval misbruik. Sy gawe het sy ondergang gebring as gevolg van sy selfsugtige doelstellings.

Die woord wat hier gebruik word is bastazein,wat beteken om te draof te steel.

Judas het die hele liefdesritueel van Maria gemis. Sy oog was op sy eie belange. Hy kon nie onderskei wat belangrik is nie. Hy kon nie die tyd (hy het nie besef die kruis is naby nie) onderskei, of die openbaring van liefde van Maria nie. Hy het nie gehoor dat Jesus weer en weer sêdat Hy hulle gaan verlaat nie.

Judas het beheer oor die geld gehad en gedink dat hy Jesus ook vir sy eie politieke ambisie kan “gebruik”. Hy wou van die Romeine ontslae raak en het gedink dat hy Jesus in ‘n konfrontasie met die owerhede kan dwing.

Tydsberekening is baie belangrik.

…van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan: (1 Kronieke 12:32)

Wat Maria daardie dag gedoen het, kon nooit herhaal word nie. Sy het die geleentheid gebruik om haar liefde te betoon. Ek dink nie een van hulle het gedink aan die trane, bloed en hartseer van die einde van daardie week nie.

Leef liefde – teenoor God en teenoor ander. Gryp die geleenthede – dien en bedien met jou beste.

Die opmerking van Judas oor die armes was veronderstel om “reg” te klink. Jesus self haal die Skrif aan:

Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”(Deuteronomium 15:11)

In die volgende verse (12:9-11) ontmoet ons die priesters en die Joodse owerhede. Die priesters was almal Sadduseërs.

Die Sadduseërs was welvarende aristokrasie wat met die Romeine saamgewerk het om hulle lewenstyl te behou. Enige burgerlike onrus, opstande of moeilikheid onder die mense sou die Romeine met ‘n swaar en wrede hand onderdruk en hulle, die Sadduseërs, daarvoor blameer. Hulle sou verseker hulle posisie en welvaart verloor. Die Sadduseërs het in Jesus ‘n bedreiging vir hulle goeie regering gesien.

Polities moes hulle dringend van Hom ontslae raak.

 Teologieswas Hy selfs ‘n groter probleem. Hulle het nie in die lewe na die dood geglo nie. Lasarus se opwekking was ‘n groot bedreiging vir hulle opvattings. Daar was selfs berugte dat hulle Lasarus wou doodmaak.

Die waarheid was van geen belang nie.

Intussen kom Jesus Jerusalem binne – soos ‘n koning – net wat hulle gevrees het. (12:12-19)

Die skare saam met Hom het gejuig met uitroepe van koningskap. Hulle het Hom as ‘n held gesien omdat Hy moed gehad het om die owerhede teen te staan.

Hosanna in Hebreeus beteken: red nou.

Hulle het die woorde van die Hallel(Psalms 113-118), gesing wat tydens die dankoffers en gedurende die Paasfees gesing is. Elke persoon het as kind het die woorde geleer en almal kon dit saamsing. Dis ook tydens die Loofhuttefees gesing. Hulle het in oorwinning gesing. Hulle het dit gesing toe Nehemia die muur herstel het (Nehemia 8:14-18).

Die skare het gesing in die vooruitsig dat hulle Rome sou oorwin en in afwagting vir die trompetgeskal om hulle herstel aan te kondig. Hulle wou Hom kroon vir alles wat Hy nie wou wees nie en weerstaan het. Jesus moes hulle doelstellings dien.

Jesus kon nie praat nie. Hulle sou Hom nie hoor nie en nie luister nie. Daarom is dit belangrik om te let op wat Hydoen.

Hy ry op ‘n donkie. Dit was ‘n direkte aanspraak op die titel Messias.

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!

Jou koning sal na jou toe kom.

Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar,

hy is nederig en hy ry op ‘n donkie,

op die hingsvul van ‘n donkie.   (Sagaria 9:9)

Hy was ‘n besondere soort Messias. ‘n Donkie was ‘n edel dier in die antieke tye en glad nie met minagting behandel nie. (2 Samuel 17:23; 19:26). Mefiboset, die prins en seun van Saul, het op ‘n donkie gery toe hy Dawid besoek het.

Dit was ‘n teken van vrede.

‘n Perd was ‘n oorlogsdier en ‘n koning op ‘n perd kom om oorlog te maak. Jesus was waarlik die Prins van Vrede. Die skare het dit gemis. Hulle wou oorlog maak. Dit was hulle plan. Hulle wou die ystervuis van Rome met geweld teenstaan.

Die Joodse leiers het profeties uitgeroep:

Kyk, die hele volk gaan agter Hom aan.

Jesus het baie moed. Hy weet hoe verkeerd hulle is. Hy weet wat die reaksie gaan wees en tog kom Hy Jerusalem binne met al die aandag op Hom.

134. Woord, Lig, Wêreld, Donker

Ons het dit al gesê. Dit staan geskrywe in die baie boeke van die geskiedenis, Die woorde staan vas en onveranderd. Niemand kan dit betwis nie.

“Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12)

Baie mense het gekom en gegaan. Baie het hulleself as God of die Messias uitgeroep. Baie het mense getrek deur wonderwerke, genesing en ander voordele. Google maar net die mense in die Jodendom wat oor eeue hulleself as die Messias verklaar het. Geen van die name is bekend nie.

Niemand in die ganse geskeidenis van die mensdom het nog ooit gesê hy is die lig van die wêreld nie.

Die woord lig kom 21 keer in Johannes se Evangelie voor. Jesus is die lig van die mense. Die roeping van Johannes die Doper was om aan te dui wie die Lig is. Jesus het homself twee maal die lig van die wêreld genoem (Johannes 8:12, 9:5)

Die lig van Jesus is in mense (Johannes 11:10) sodat hulle kinders van die Lig word (Johannes 12:26). Ek het as die lig na die wêreld toe gekom, sodat dié wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie. (Johannes 12:46)

  • Jesus bring lig om die chaos te verdryf – Hy is die enigste een wat dit kan doen.
  • Jesus bring lig om dinge te ontbloot en te wys hoe dit werklik is. Al die bagasie en leuens van die wêreld word gestroop, om mense en omstandighede in hulle ware karakter te wys. Dit is lig wat waarheid openbaar.
  • Jesus bring rigtinggewende lig – sekerheid binne onsekerheid. Hy gee lig wat besluite bepaal.

Duisternis in die wêreld is net so ‘n werklikheid soos lig (Johannes 1:5)

Die onoorwinlike lig van Jesus sal die die duisternis oorwin, Johannes maak die saak uit dat jy moet kies sodat jy aan die wenkant kan wees.

Dit is mense wie se dade boos is wie die lig vrees (Johannes 3:19-20). Dit is net iemand wat iets wil wegsteek wat duisternis verkies. Duisternis word simbolies gebruik om blindheid te beskryf. Jesus belowe ‘n lewe sonder duisternis as ons Hom volg.

Sonder Jesus is dit onmoontlik om rigiting in jou lewe te hê.

Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf en sien dat die klip van die graf af weggerol is, skryf Johannes in 20:1. Hy beskryf die atmosfeer as donker om die geweldige kontras in die opstanding te beklemtoon. Duisternis en dood is vir ewig inherent verander.

Judas het sy hand saam met Jesus se hand in die bakkie gesteek en toe uitgegaan. Dit was nag (Johannes 13:30).

Wat ookal soveel bose magte oor die geskiedenis heen wou doen om hierdie lig te doof, het gefaal. In elke geslag skyn die lig van Christus helder ten spyte van vervolging en onderdrukking.

Duisternis sal nooit wen nie. Dit mag die simbool van jou omstandighede of hartstoestand wees, maar dis nooit te veel dat die lig van Jesus alles verander nie. Hy is daar om Sy lig te skyn net daar waar jy roep.

Die volk het op ‘n afstand bly staan, maar Moses het nader gegaan na die donker wolk waarin God was. (Exodus 20:21)

Binne die eerste vyf verse bring Johannes al die bygelowe, al die afgode, al die filosofie, al die verwarring en selfs die wêreldse logika bymekaar en gee die antwoord in die persoon van Jesus. Die hele deurmekaarspul van Romeinse, Griekse, Egiptiese en Persiese godery word verskuif in die lig van die waarheid van Jesus.

Dit is die mees radikale verklaring ooit –

Jesus is die enigste antwoord op alles nog ooit.

 Johannes die Doper was ‘n getuie van die Lig, net soos ons geuies is, nooit die lig self nie. (Johannes 1:6-8)

Vierhonder jaar was die profete stil voordat Johannes begin doop het. Daar was die gevaar dat mense sou dink hy is die vervulling van die belofte. Johannes maak dit duidelik dat Hy en die Doper net na Jesus wys en geen plek langs hom wil inneem nie. Daar is net één.

Johannes die Doper self stel dit duidelik in die Evangelie van Johannes. Jesus moet meer wees en die Doper minder (Johannes 3:25-30). Die mense het bevestig dat Johannes nie kon doen wat Jesus doen nie (Johannes 10:41).

Johannes waarsku skerp om nie mense aan te hang nie. Slegs Jesus is waardig om te volg. ‘n Ware profeet sal na Jesus wys as die middelpunt van alle aandag. Die Doper was net ‘n getuie.

Ons ken die werke van Jesus uit die getuienisse. Dit is die

  • getuienis van Jesus self. Nou ja, oor My getuig Ek self én die Vader wat My gestuur het.” (Johannes 8:18). “Al getuig Ek ook oor Myself, is my getuienis geldig, omdat Ek weet waar Ek vandaan gekom het en waarheen Ek teruggaan (Johannes 8:14). Jesus se persoon en werke was sy eie beste getuie.

 

  • getuienis van sy werke. “Maar Ek het getuienis wat nog gewigtiger is as dié van Johannes. Die werk wat die Vader My gegee het om te voltooi en waarmee Ek nou juis besig is, lê oor My getuienis af en bevestig dat die Vader My gestuur het (Johannes 5:36). Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op grond van die werke self. (Johannes 14:11). As Ek nie by hulle die werke gedoen het wat niemand anders gedoen het nie, sou hulle nie skuldig gewees het nie; maar nou sien hulle dit, en tog haat hulle My en my Vader (Johannes 15:24). Geen mens kon die kragtige werke van Jesus doen, sonder dat hy nader aan God was, as enige mens nog ooit was.

 

  • getuienis van die Woord. Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig (Johannes 5:39). As julle Moses geglo het, sou julle in My geglo het, want hy het van My geskrywe (Johannes 5:46). Filippus was oortuig dat Jesus die een is van wie die profete geskryf het. (Johannes 1:45).

 

  • getuienis van die laaste profeet, Johannes die Doper. Hy het gekom om te getuig; hy moes getuig van die lig, sodat almal deur hom tot geloof kon kom. (Johannes 1:7-8).

 

  • getuienis van die mense met wie Jesus in aanraking gekom het. Die Samaritaanse vrou was ‘n getuie van die insig en krag van Jesus (Johannes 4:39). Die man wat blind gebore is, was ‘n getuie van Sy genesingskrag (Johannes 9:25;9:38). Die mense wat Sy wonderwerke aanskou het, was verstom oor Sy werke (Johannes 12:17).

 

  • getuienis van die dissipels self en veral die skrywer van die Evangelie. En julle moet getuig, want julle is van die begin af by My” (Johannes 15:27). Daar is dus drie wat getuig: die Gees en die water en die bloed, en die drie se getuienis stem ooreen (1 Johannes 5:7). Die Gees het die waarheid verkondig en die mense in staat gestel om die waarheid te erken.

God gee altyd bevestiging in getuienis. Dit geld vandag nog en is veral waar in die wonderbare herlewing wat aan die gang is. Laat altyd die Woord toe om profesie te bevestig. Die Here sal jou wys en Sy plan bevestig. Sy weg is lig – nie ‘n duistere verwarring nie.

“Daar mag nie net een persoon teen iemand getuig nie, al was die oortreding of die misdaad ook wat, al het hy ook hoe verkeerd gehandel. ‘n Beskuldiging kan net bewys word deur die getuienis van twee of drie getuies. (Deuteronomium 19:15)

1:9: Die ware lig wat elke mens verlig, was aan kom na die wêreld toe.

Daar is twee Griekse woorde vir waarheid: alethes en alethinos. Die eerste beteken waar in kontras met onwaar en die tweede beteken werklik teenoor onwerklik. Johannes gebruik die tweede een om te beklemtoon dat Jesus die perfekte is, in kontras met al die vals en onvolmaakte wat Hom vooraf gegaan het.

Hy stel sy saak soos ‘n regsgeleerde om alle twyfel oor Jesus weg te redeneer.

Daar is gedeeltelike lig en vals lig wat die mense volg. Jesus is die enigste ware lig, die werklike lig wat waardig is om te volg. Jesus is die dagbreek van ‘n donker wêreld.

Kennis van Hom kan die skadu van twyfel heeltemal verdryf. In Sy koms is God nie meer ‘n misterie nie. Jesus het getoon wat God is. Hy is die Lig wat al die vrae en verwarring kon antwoord.

Selfs die dood het al sy mistiese angsaanjaende krag verloor. Die antieke wêreld het die dood bo alles gevrees. Dit het die marteling en argwaan van een of ander god aangekondig en daar was geen uitweg nie. Jesus het ‘n groter, beter lewe na die dood belowe en vrees vir dood verdryf.

Antieke gemeenskappe was erg eksklusief. Die Jood het die Griek gehaat, die heidene gehaat, wat volgens hulle vir geen ander doel as die helse vuur gemaak is. Daar is geen aandag gegee aan die woorde van die ou profeet dat Israel die lig van die nasies sal wees. (Jesaja 42:6; 49:6) Die Romeine het die Christendom gehaat en gevrees omdat dit hulle van hulle eksklusiwiteit beroof het.

In die wêreld vandag is net een oplossing – glo in Jesus sodat Hy ons in liefde en vrede kan verenig. Enige ander eenheid of vrede is onmoontlik.

Hy maak die onmoontlike moontlik. Geloof in Hom is ‘n verligting en ewige rus in waarheid en veiligheid.

Waar is Hy vandag? Hy is Bron van lewe en oorwinning oor duisternis.

In genade deur die Kruis is Hy myne! Roep uit na Hom en leef in die lig – vir altyd.

 

 

 

121. Bloedwoorde vir my toekoms.

O, die onsekerheid, die neerslagtigheid, die mistige uitsig en die huiwerige blik op die misterie-pad in die tydvak wat ons die toekoms noem. Aan ons is dit nie geopenbaar nie; God ken dit. Net soos die dood, is die toekoms ‘n misterie wat aan God behoort.

“Wat nie geopenbaar is nie, is bekend aan die Here ons God, maar wat geopenbaar is, is vir altyd bekend aan ons en ons nageslag: ons moet lewe volgens al die woorde van hierdie wet. (Deuteronomium 29:29)

In hierdie skrif word ons aangemoedig om die Woord te leef. God se Woord is aan ons openbaar en dit is ons toevlug vir die toekoms. Hy is volmaak in Sy beplanning. Hy sal nooit terughou wat ons nodig het nie. Ons waarborg vir voorsiening en beskerming in die toekoms is die beloftes van God in die Woord van God.

Net soos Noag. God het Noag in die ark ingenooi. Die Afrikaans, Duits en Nederlandse vertalings skryf in Genesis 7:1 dat Noag in die ark moet ingaan, so asof God buite staan. Die Hebreeus wat gebruik word [bõ-], kan “gaan” of “kom” beteken. Die vertalers het diskresie watter woord om te gebruik. Meeste Engelse vertalings skryf “kom”. Die belangrike gedagte hier is dat God die mens innooi in Sy voorsiening, Sy beskerming en sekuriteit teen die vloed daar buite. Die ark het baie kamers, baie plek vir baie soorte, net soos al die verskillende denominasies ook ‘n plek by God het. God oordeel die hart en skryf nie sommer af nie. Hy is altyd daar waar mense Hom soek.

En Ek sal My deur julle laat vind, spreek die HERE, en julle lot verander.  (Jeremia 29:14, OAB)

Hoe gaan ons in die ark in? Hier vier ons Heilige Week. Die Kruis is ons toegang. Eie waardigheid, eie geregtigheid, eie pogings bring ons nêrens. Jesus se bloed en die aanvaarding van sy offer is ons toegang tot veiligheid.

God is binne in die ark. In Sy teenwoordigheid is alles wat ons nodig het om ons toekoms tegemoet te gaan. Die ark spreek van ‘n radikale lewensverandering. Dit is jou besluit om in te gaan – die uitnodiging is ewig en Hy hang aan ‘n kruis. Die besluit om in te gaan, breek met ‘n gewone lewe en streef na ‘n lewe van uitnemendheid. Die ark spreek van die onsigbare koninkryk op aarde waarvan Jesus en Johannes die Doper gepraat het.

God is alomteenwoordig – natuurlik. Dit is ‘n akademiese feit en ons moet dit aanvaar. Maar… in gebed ervaar ons Sy teenwoordigheid op ‘n ander manier . Ons ervaar die atmosfeer wat verander, wanneer trane vrylik vloei en die woorde van die Woord van die bladsy af in ons hart inhuppel en daar vasgelê word. ‘n Rhema-woord, die gesproke woord, die “stem” wat by jou ore en oë tegelyk ingaan. Dit is wat Bybelstudie aanvuur – om te hoor.

Hier in Kanada het hulle vir my gesê die mure is hout. Dit het net soos mure waaraan ek gewoond is, gelyk – met pleister en verf. Die eerste ding wat ek gedoen het, die dag saam met die huisagent in die middel van ‘n sitkamer van een of ander huis, is om na die muur toe te loop en aan dit te klop. Die klopervaring was anders as klop teen ‘n baksteenmuur. Nie net dit nie…ek het iets gehoor.

Nadat ek die klank van hout gehoor het, het ek niemand nodig gehad om te weet die muur is hout nie. Ek het geweet uit my eie klopervaring. Net so met die manifesteerde teenwoordigheid van God – jou ervaring van “klop en vir jou sal oopgemaak word” het niemand – geen prediker, vriendin of televisiebediening – nodig om jou van God bewus te maak nie.

Soos ek al hier op Boedmklippe geskryf het – my jongste seun se gunstelinglied is die ou Imperial-groep se lied:

I listen to the trumpet of Jesus, while the others hear a different sound,

I listen to the drumbeat of God Almighty, while the others just wonder around,

I hear the voice of a supernatural singer that only those who know Him can.

Oefen jou Geesgehoor! Is daar so ‘n woord? Miskien moet ons een maak.

Maar verwerp onheilige en oudwyfse fabels, en oefen jou in die godsaligheid. (1 Timoteus 4:7, OAB)

Luister na jou innerlike oortuigings. Onderwerp jou gedagtes en denke aan die Heilige Gees. Bid sodat jy God se glorie ervaar. Sy liefde en vrede kan nooit kunsmatig wees nie; as jy dit ervaar kom dit net van Hom af. Die duiwel het nie vrede om te gee nie.

Die duif is die simbool van die Heilige Gees. Hy is jou voorsiening en kommunikasie met God en die wêreld.

Teen die aand het die duif na hom toe teruggekom, nogal met ‘n varsgeplukte olyfblaar in sy bek. Toe het Noag geweet dat die water op die aarde opdroog. (Genesis 8:11)

In gesprek met God onderwerp jy jou volgende lewenstap aan Hom en Sy plan. (Jeremia 29:11) In Sy teenwoordigheid sal jy vrede kry oor voorsiening vir die toekoms.

GEBED: Here, ek onderwerp my toekoms aan U. Ek bely my benoudheid en vrees oor die toekoms. U is die God van oorvloed en my vertroue is in U. Ek rig my gedagtes in verwagting van die Heilige Gees vir ‘n toekoms ver bo wat ek kan bid of dink (Efesiërs 3).

Beginsel vir ‘n lewe van uitnemedheid: Die inhoud van my toekoms is die beloftes van God – nie wêreldpolitiek, my omstandighede, die sterre voorspel of vrees nie.

Weer eens – die aanhaling van Eugene Petersen in sy dagstukkies: Living the Message.

The way we conceive the future sculpts the present. It gives contour and tone to nearly every action and thought through the day. If our sense of future is weak we live listlessly.

Hope is a response to the future, which has its foundations in the promises of God. It looks at the future as time for the completion of God’s promise. It refuses to extrapolate either desire or anxiety into the future, but instead believes that God’s promise gives the proper content to it.

But hope is not a doctrine about the future: it is a grace cultivated in the present; it is a stance in the present, which deals with the future. As such it is misunderstood if it is valued only for the comfort it brings; as if it should say, everything is going to be all right in the future because God is in control of it, therefore relax and be comforted.

Hope operates differently. Christian hope alerts us to the possibilities of the future as a field of action, and as a consequence fills the present with energy.

 

 

 

 

 

 

71. Veilig en vry.

En ek het my oë opgehef en gekyk – daar was ‘n man met ‘n meetsnoer in sy hand.

Toe sê ek: Waar gaan u heen? En hy antwoord my: Om Jerusalem te meet, om te sien wat sy breedte en wat sy lengte is.

Jubel, en wees bly, o dogter van Sion! Want kyk, Ek kom om in jou midde te woon, spreek die HERE.

 

Sagaria 2:1,2 en 10

Ons het al dikwels saamgesels oor luuksheid en uitnemendheid. So wil ons lewe. Mense is besorg oor hulle nalatenskap en die manier waarop hulle onthou gaan word. Wie onthou jy? Wie sal wen as jy vandag die oordeel moet fel oor ‘n uitmuntende en uitstaande lewe?

Die nuus van die dag is gewoonlik die sensasionele – dit wat aandag trek. Dit is meestal rykdom, roem of moord en doodslag. Hier en daar kom nuus oor onbaatsugtigheid, selfloosheid en opoffering ook deur, maar dis amper nooit hoofnuus. ‘n Mens ervaar ‘n diep vrede en lekkerte in jou binneste as ‘n lewe gered word, mense uitreik en iemand help, ‘n dier gehelp word, boosheid gestuit word en goedheid triomfeer. Al die regte chemikalië in jou brein gee jou daardie “feel good”- sensasie wat ons moderne mense so dikwels ontwyk. So ‘n sensasie is ‘n desperate grype na diep innerlike vrede en vergenoegdheid, wat nie van die hoofnuus of subnuus afhanklik is nie.

Die teoloë is dit eens dat meeste van die profesieë van die Bybel reeds vervul is. Dis net Daniël, Sagaria en Openbaring wat in ons toekoms lê.

Die pragtige woorde van Sagaria oor die maatlyn is ‘n heerlike herinnering aan God se groot Plan wat vasstaan oor tyd en ewigheid. Sagaria sien in een van die visioene wat hy beskryf, ‘n man met ‘n meetsnoer [measuring line]. Die man sê vir Sagaria hy gaan Jerusalem meet om sy breedte en lengte te bepaal.

In die antieke tyd was ‘n stad se mure uiters belangrik. Die mure was sekerlik die belangrikste front van verdediging en is voortdurend nagegaan vir swakhede. Op die hoeke van die muur en oor die hekke was torings vir die wagte om die vyand van ver af te sien. Fondamente vir mure en torings was sterk en diep, sodat vyande nie maklik onderdeur kon grawe nie.

Jerusalem is die kerk van Jesus. Die man meet die kerk. Gewoonlik is mates die basis van feite en besluite. Noukeurige mates sal effektiwiteit en toepassing bepaal.

Jesus is die Meesterbouer van Sy kerk. Die engel bring die boodskap aan die profeet dat Jerusalem ‘n stad sonder mure sal wees met ‘n groot aantal mense en diere [Sagaria 2:4,5]. God self sal ‘n muur van vuur om die stad wees met Sy heerlikheid daarbinne. In vers 10 bevestig Hy Sy plek in die kerk.

Dit is die belofte. Dit is ‘n lewe van uitnemendheid – binne-in die kerk van Jesus, daar waar Hy is en Sy heerlikheid die atmosfeer bepaal. Dit is nie die lewe van rykdom en roem, of mislukking en vernedering nie. Dis ‘n lewe in die Plan met die Outeur van die Plan in die uitvoerende posisie met volle gesag oor alle gebeure en omstandighede.

Jesus belowe ‘n kerk sonder mure, met plek vir almal. Die plek is veilig en vry, sonder vrees en bekommernis. Dit is sekerlik die luukste lewe wat ‘n mens ooit kan lei. In die plek van heerlikheid is die antwoord vir alle vrae Sy stem met Woorde van Lewe.

Fillipense 4:6,7:

Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.

En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus.

Om die volle omvang van hierdie allesomvattende belofte te verstaan, lees saam met my die Amplified vertaling:

Do not fret or have any anxiety about anything, but in every circumstance and in everything, by prayer and petition (definite requests), with thanksgiving, continue to make your wants known to God.

And God’s peace [shall be yours, that tranquil state of a soul assured of its salvation through Christ, and so fearing nothing from God and being content with its earthly lot of whatever sort that is, that peace] which transcends all understanding shall garrison and mount guard over your hearts and minds in Christ Jesus.

Let op dat die Afrikaanse woord smeking vertaal word met definite requests. Dit is nie ‘n pleitgebed, soos wat dalk in die woord: smeking ingelees kan word nie. Formuleer versoeke noukeurig en bring dit met dankbaarheid voor die Here. Fokus op God se goedheid en voorsiening in jou lewe, bring perspektief oor jou versoeke.

Dankbaarheid is die beste ingesteldheid vir ‘n lewe van uitnemendheid.

Die lang verduideliking van “vrede wat alle verstand te bowe gaan” klink vir my soos ‘n verdedigingsmuur van die hoogste gehalte. Dit is jou sterk toring teen die vyandswind, jou veilige hawe in die aanval, die skadu van die rots in stryd. Ons leef in geloof in die waarheid van hierdie Woord. Dit is ons fondament. Onstuitbare geloof, sonder twyfel is effektiewe beskerming. Weet dat geloof bonatuurlike magte in werking stel. Die vurige gebed van die regverdige het groot krag sê Jakobus [5:17]:

The earnest (heartfelt, continued) prayer of a righteous man makes tremendous power available [dynamic in its working].

God sien jou hart. Hy weet wat jy nodig het. Hy is in beheer en regeer in almag. Hy het jou lief. Hy sal jou gebed beantwoord.

Bodemklip-vriend, jy is ‘n inwoner van Jerusalem en die nuwe Jerusalem van Openbaring. Jy is die kerk van Jesus. Juig in jou stad sonder mure met volle verdediging en beskerming. Jy is veilig en vry, sonder inagneming van jou omstandighede. ‘n Lewe in vryheid en veiligheid hang nie af van ‘n fisiese plek nie. Dit is die plek van heerlikheid met ‘n muur van vuur.

Johannes die doper bevestig die muur van vuur. Matteus 3:11:

Ek doop julle wel met water tot bekering; maar Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie. Hy sal julle doop met die Heilige Gees en met vuur.

Jesus self is ons muur van vuur. Die Heilige Gees het op Pinksterdag as vuur gemanifesteer, verdeel en op almal gaan rus. Dit is die innerlike krag wat ons staande hou, ons laat oorwin ten spyte van moeilikheid en ons swakhede oorkom. God in ons en God in Sy kerk.

Hier op aarde is ons die kruik wat die Heilige Gees in die wêreld vrystel om te bou wat boosheid afbreek. Ons is die helende krag van die gebroke wêreld. Is jy deel van die oplossing wat bou en nie breek nie – al voel jy nie lus nie en al werk dinge nie uit soos jy dit sou wou dikteer nie?

Wat is die maat waarmee jy meet? As God sy maatlyn uithaal, sal ons breed en lank genoeg wees om Sy Plan uit te voer?

‘n Lewe van uitnemendheid – a life of excellence – ‘n gelukkig lewe – vreesloos en vry.

Happiness is not a goal, it is a by-product. Paradoxically, the one sure way not to be happy is deliberately to map out a way in which one would please oneself completely and exclusively.

Eleanor Roosevelt

First Lady of the USA 1933-1945.

56. Die eerste prys, die goue medalje – wie wen?

Daar is niks so verfrissend en bevrydend soos nuwe perspektief nie.

Soms is dit ‘n oomblik se insig in ‘n saak, ander kere is dit daardie tree terug om jou lewe oorsigtelik te beskou in ‘n rasionele en objektiewe oefening. Insig in jou eie swakheid en sonde word belowe en die oortuiging daarvan in gebed voor Sy voete waar jy die volmaakte liefde van jou Vader ervaar, is kosbaar soos goud. In die Ewige Arms kan jy vergewe, verander, vernuwe en verdiep. Die Heilige Gees oortuiging verwyder sonde, gee insig in geregtigheid en rus in die volmaakte oordeel oor jou hart. [Johannes 16:8-11]

In die vorige Bodemklippe het ons gesels oor die krag om te vergewe. Ek wil graag beklemtoon dat jy nooit op jou eie krag moet staatmaak nie. Die vermoeë om te vergewe en hoegenaamd ‘n lewe van oorwinning te leef, is direk gekoppel aan jou oorgawe aan die Here. Jesus het dit self gesê en dis super belangrik vir ‘n lewe van vrede en vreugde. Johannes 15:4: [Ampl]

Dwell in Me, and I will dwell in you. [Live in Me, and I will live in you.] Just as no branch can bear fruit of itself without abiding in (being vitally united to) the vine, neither can you bear fruit unless you abide in Me.

Johannes 15:5 [NKJV]

“I am the vine, you are the branches. He who abides in Me, and I in him, bears much fruit; for without Me you can do nothing.

Hierdie beginsel is die fondament, die basiese beginsel, die grondslag, die wegspringblok vir die wedloop, die eerste opdrag in die handleiding van ‘n Christen. Dit is onmoontlik om te slaag as jy nie in Jesus weggesteek is nie. Hy is jou skuilplek, jou sterk toring, jou veilige hawe en kragbron. Jy sal nooit slaag op grond van jou eie moraliteit en sin vir ‘n goeie lewe nie. Dit is ‘n waarborg vir mislukking en skuld.

Die rede hiervoor vind ons in die tree terug, die insig uit die afstand. Wat is die satan se eerste prys met betrekking tot jou lewe?

Die antwoord: Jou geloof.

Hy mors met jou verhoudinge, hy gooi hindernisse oor jou pad, hy lok jou aanstoot en woede uit, hy steel, moor en verwoes, hy val jou aan met twyfel oor God en maak jou besig sodat jy nie die Stem hoor nie, verblind jou insig in die Woord en verdoof die ramshoring wat waarsku vir oorlog (sy aanval) – alles sodat jy in moedeloosheid en twyfel soos Job op sy laagste punt satan se skor stem moet hoor : vloek God en sterf. Dit is sy goue medalje.

Paulus het dit geweet. Hy was by uitstek ‘n hekkie-atleet. Nie die egalige, voorspelbare hekkies wat ons so netjies op die atletiekbaan uitpak nie – eerder die uitdagings van daardie wrede perdewedren waar ‘n onverwagte watergat aan die anderkant van ‘n grasmuur jou onkant betrap en jy uit die modder moet opstaan en verder hardloop.

Daarom het hy gesê: 2 Timoteus 4:7:

I have fought the good fight, I have finished the race, I have kept the faith.

Het jy nie al gevoel dat ander mense se sonde in jou lewe jou vuil en stinkend laat nie? Dit is die tipe hindernisse wat die duiwel opstel.

Hy gebruik die wortel van bitterheid om jou lewe so te verdof en te verswak, dat jy die oorspronklike vreugde, vrede en krag van kindskap verloor en moedeloos in die modder bly lê. Dink oor jou eie hart en dink oor die mense om jou. Kyk dieper en sien dat ateisme dikwels uit kerkpyn gebore word, onverskilligheid oor die evangelie en Jesus uit die pyn van teleurstelling met Christene of kerkleiers kom. Was jy nie ook al diep seergemaak deur ‘n Christen of iemand wat met sy geloof op sy arm loop nie? Het jy die geloof behou in die Een wat nooit kan teleurstel nie?

Die kerk, sy leiers en gelowige vriende se potensiaal om jou aanstoot te gee en jou diep teleur te stel, is baie hoog – hoër as die ongelowiges in jou lewe. Dit is ‘n feit van ons lewe.

Jesus het hierdie toestand aangespreek met woorde wat my in skaamte laat opkrul. Matteus 5:44-48:

Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg; sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemele is; want Hy laat sy son opgaan oor slegtes en goeies, en Hy laat reën op regverdiges en onregverdiges.

Want as julle liefhet die wat vir julle liefhet, watter loon het julle? Doen die tollenaars nie ook dieselfde nie?

En as julle net jul broeders groet, wat besonders doen julle dan? Doen die tollenaars nie ook so nie?

Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.

Ons het een woord vir liefde in Afrikaans, maar Grieks het vier. Die mees algemene twee is phileo en agape. Ek weet dat meeste van julle hierdie woorde in preke en lering meerdere male gehoor en geleer het. Net in kort: phileo dui op die liefde tussen broers en vriende in ‘n tipe verhouding waar mense liefde kan terugverwag. Agape is onvoorwaardelike liefde, liefde van een kant wat niks terugverwag nie, liefde wat hoegenaamd nie reageer op vyandskap of belediging of teleurstelling nie en wat nooit uitgewis kan word nie. Dit is die liefde waarmee God ons liefhet. Hy IS liefde en kan net uit liefde reageer. Dit is die tipe liefde waarmee Jesus ons uitdaag in die bostaande Skrif.

Sommer bo-op die amper onmoontlike opdrag om lief te hê soos Hy en alles wat mense na jou toe kan gooi met liefde en seën te beantwoord sê Hy: wees volmaak. Jinne, hoe op aarde – hierdie vuil, liefdelose, rugsteek, kwaadpraat, skinder, doodslag en moordende aarde – is dit nou moontlik? Here, Here, die standaard is te hoog, skreeu my hart. Waar is die satisfaksie wat net wraak en ‘n goeie uitbarsting kan bring? Kan ek nie maar in ‘n weeklaag oor alles wat pla – mense, misdaad, moord en bedrog – van my frustrasie en negatiwiteit uitspoeg nie?

Jesus se uitdaging om lief te hê is weer eens nie ‘n aanspraak op ons eie krag nie. Hy vra geloof, altyd soos ‘n mosterdsaad, in God se liefde. Dit is net in Jesus wat ons geloof in God se liefde ‘n verskil in die wêreld kan maak. Geestelike volmaaktheid is die geestelike eindbestemming.

Strong’s definieer volmaak so: teleios refers to that which has reached an end, finished, complete. When applied to a person it signifies consummate soundness and includes the idea of being whole. More particularly, when applied to believers, it denotes maturity.

God se standaard van liefhê is die genesing vir jou gebrokenheid. Die woord heel is so beskrywend van volmaak. Dit is in ouer Afrikaans ook die woord vir gesond.

As jy jou son van liefde oor jou vyande, jou haters, kwaadpraters en korruptes kan laat skyn, het jy die geloof behou. Om lief te hê is ‘n mosie van vertroue in God se Almag en Sy Naam as regeerder oor volkere en nasies. Of dit nou die politiek, misdaad en slegte nuus in die media is, of jou familie-manewales en gesinsverwonding – jy sal die geloof behou, want met ‘n mosterdsaad-geloof is jy in staat om te vergewe en die boom met die wortel van bitterheid in die see te werp.

[Vergelyk Lukas 17]

1 Korintiërs 9:24:

Do you not know that those who run in a race all run, but one receives the prize? Run in such a way that you may obtain it.

Ek lees hierdie skrifte oor en oor en wil dit in my gemoed inbrand. Die woord hardloop staan uit. Ek wil my voorstel as jy nie hardloop nie, raak jy agter en val uit die wedloop uit. As jy aanhou hardloop, val die modder van die watergat af, jy hardloop jou droog. Die volgende hindernis is dalk stormwater.

Psalm 18:6:

He reached from on high, He took me; He drew me out of many waters.

Psalm 69:14

Rescue me out of the mire, and let me not sink; let me be delivered from those who hate me and from out of the deep waters.

Mense wat hom haat het vir hierdie liedskrywer gevoel soos diep water. Hoor wat sê die Message:

Rescue me from the swamp,
Don’t let me go under for good,

Pull me out of the clutch of the enemy;
This whirlpool is sucking me down.

As God jou red uit die waters van haat en bitterheid, sal jy skoon anderkant uitkom.

Ek is self nie sportief nie en het nie veel begeerte om te hardloop nie, maar ek sit! [nou ja] dikwels in verstomming oor die voorbereiding, toewyding, tyd en gefokusde doelgerigtheid waarmee ‘n atleet sy passie uitleef. Ek wil so ‘n gespierde, fikse siel hê. ‘n Siel en hart geoefen in liefde en vergifnis.

As jy weer in jou gemoed daardie dolk-woorde hoor, as die mens voor jou staan met die grynslag van satan op sy gesig en die kettings van woede in jou hart stywer trek, roep om hulp sodat die Heilige Gees jou kan versterk en dink aan die resies wat met volharding [endurance] klaargemaak word. Ons dwaal nie rigtingloos in die moddergat van woede en bitterheid nie. Ons is soldate met ‘n wapenrusting op ‘n mars met ‘n doel – die eerste prys, die goue medalje: Ek het die geloof behou.

Hebreërs12:1:

[ The Race of Faith ] Therefore we also, since we are surrounded by so great a cloud of witnesses, let us lay aside every weight, and the sin which so easily ensnares us, and let us run with endurance the race that is set before us,

Psalm 66:5,6: [The Message] Take a good look at God’s wonders— they’ll take your breath away. He converted sea to dry land; travelers crossed the river on foot. Now isn’t that cause for a song?

My jongste seun se gunsteling toe hy skaars kon staan was hierdie lied.  Hoor die woorde:

I listen to the trumpet of Jesus

while the world hears a different sound

I march to the drumbeat of God Almighty

while the others just wander around

I’m a member of the Holy Ghost traveling band

I’m moving up to a better land

I hear the voice of the Supernatural singing

Like only those who know Him can

 

 

BELANGRIKE NOTA: 

Jesus gee die opdrag aangaande die normale aanstoot en hindernisse wat mense ervaar in die alledaagse lewe. Mishandeling en misbruik is nie normaal nie. Indien jy in ‘n verhouding is waarin jy fisies of psigologies mishandel en misbruik word, moet jy hulp soek en die bose band verbreek. So ‘n verhouding sal jou lewe vernietig. Dit is nie verkeerd om boosheid te identifiseer en te breek nie.