370. ‘n Plek net vir jou

Die hele wêreld se sielkundiges weet en vertel hoe verwoestend verwerping is.  Soveel vrees en woede, onsekerheid en persoonlikheid-steurings se oorsaak kan gevind word in een of ander slegte ondervinding of ondervindings waar ‘n persoon se karakter of selfs goeie bedoelings afgekraak en beledig is.  Soveel mense leef in verhoudinge en omstandighede waarin hulle self nie die pas aangee of hulleself kan laat geld nie.  Jou plek in die naaste verhoudinge rondom jou is super belangrik vir lewensvrede en -vreugde.

Elkeen weet hoe dinge in verhoudinge kan ontrafel en verkeerd loop.  Herstel vat veel langer en verg meer fokus en opoffering – ‘n hele proses.  Terwyl ek bid vir gebedsversoeke van mense wat eintlik as slagoffers van hulle eie huismense leef, breek my hart vir die gebrokenheid van ons wêreld.  Ek roep uit na die Here want ek weet net Hy kan die ware herstel, beter as ooit vantevore waarna ons almal smag, bewerk.  Vir Hom is niks onmoontlik nie.  Ek roep dit uit in my gebed en dit bring vrede in my hart en  -ek glo vas – vrede in ander huise, ander plekke, ver van my.

Roep uit saam met Jeremia.

“ ‘Ag, Here, my Heer, kyk, dit is U wat die hemel en die aarde gemaak het deur u groot krag en uitgestrekte arm! Niks is vir U onmoontlik nie. (Jeremia 32:17)

Dit is ‘n grootse gedagte wat ons so maklik vergeet.  Dalk dink ons te maklik dat ons krag te min is, ons sê te min tel, ons geen oortuigingskrag het nie en ander mense ons lewe se welstand en rigting bepaal.  Sulke gedagtes kan nie verder van die waarheid wees nie.  As jy jou lewe aan die Here oorgegee het, is Hy jou liefdevolle Vader wat jou oneindig lief het met ‘n liefde wat nooit kan vergaan nie.

Ja, die berge mag wyk en die heuwels wankel, maar my troue liefde sal nie van jou wyk nie, en my vredesverbond sal nie wankel nie, ” het jou ontfermer, die Here, gesê. (Jesaja 54:10)

Dit is seker moontlik om hierdie woorde te lees en dit oor jou gedagtes te laat verdamp.  Die werklikheid van die sienlike is oorweldigend.

Dit is juis wat nie moet gebeur nie.  Dit is woorde wat deur dieselfde God gespreek word wat die aarde gemaak het, die God wat met die woorde van Sy mond die heelal in plek gesit het. Hierdie woorde SKEP en meer spesifiek, hulle skep ‘n spesiale, unieke en nuwe – soos wat daar nog nooit was nie – plek net vir jou in jou wêreld, voortgebring uit die gedagtes van die Ewige God.

Dalk het Jakob ook gedink hy gaan gewoon lê en slaap.  Hy het in sy droom ‘n majestueuse visioen gehad waarin God die beloftes wat aan sy voorvaders gemaak is, aan hom herhaal het.  Toe hy wakker word, was die dood normale, eensame veld rondom hom die realiteit wat hy sien. Ten spyte van die sienlike realm, praat hy die woorde wat sy droom werklikheid maak, die belofte wat in die sienlike in gebid word.

Jakob het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie!” Hy het bang geword en gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek nie! Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!”  (Genesis 28:16,17)

Vreesaanjaend – natuurlik.  Dit is ‘n besef, ‘n begrip wat jou tot stilstand ruk.  Dit is die oomblik dat jy besef die onsienlike is ‘n groter werklikheid as die sienlike. Die doodgewone klip wat onder sy kop was, word die simbool van die Skeppingswoorde aan hom gespreek, woorde wat vandag nog staan en nooit kan verander nie.  Al wat hy kon uitroep in menslike verbystering, is dat hy dit nie besef het nie.

Dit is die punt.  God is alomteenwoordig.  Hy hoef nie op te daag nie.  Die onbegrip van Sy teenwoordigheid en die oppervlakkige omgang daarmee is ons probleem.  Hy is Wie Hy is en Hy is hier, daar en oral waar jy is.

Dit is God wat jou plek heilig maak – nie ontoeganklik en ver van jou nie -daar waar jy is.  Dit is jou plek, jou binnekamer waaroor ons al gepraat het.  Jou enigste, privaat-plek waar geen mens toegang het nie – jou eie denke.  Dit is die plek, jou plek, waar jy God ontmoet en waar jy besef dat jou gebroke, omgedolwe, nie-ideale omstandighede is Bethel, die poort van die hemel.  Jy staan op heilige grond, net daar waar jy is en uitroep.  Net daar  waar jy nou is, maak nie saak hoe jou “nou” lyk nie, is die huis van God. Hy bou jou huis.

Dit is die oomblik waarin jy nog ‘n invalshoek van die veelvuldige karakter en aksies van God (wonderwerke en bonatuurlike insig in die Woord) besef en begryp.  Dit is skoonheid van die oomblik waarin water van die Woord die stof en modder van die wêreld van jou afwas. (Efesiërs 5:26)

Luister na God se woorde oor jou omstandighede.

“ Magtelose, stormgeteisterde stad, wat nie getroos is nie – kyk, Ek gaan jou bouklip in blink klei lê, jou fondament met •lasuurstene bou.

Ek sal jou borswerings van •chalcedoon maak, en jou poorte sal van •berilsteen wees. Jou hele grensmuur sal van kosbare edelstene wees.

Al jou kinders sal leerlinge van die Here wees, en groot sal die voorspoed van jou kinders wees. Deur geregtigheid sal jy jouself stewig vestig. 

 “Besef dat jy ver is van verdrukking – ja, jy hoef nie te vrees nie; en ver van verskrikking – ja, dit sal nie naby jou kom nie. Kyk, as iemand jou wel aanval – dit kom nie van My af nie. Wie ook al jou aanval, sal oor jou tot ‘n val kom. (Jesaja 54:11-15)

Dit is ‘n beskrywing van die Nuwe Jerusalem net soos in Openbaring 21:18 en verder. Dit is edelstene, die stene in die kroon van God, Sy juwele – Maleagi 3:16-18 en 4:2.  Dit is jy omdat jy eerbied vir Sy Naam het. Die Son van Redding skyn met genesing in sy strale. Voel die helende hitte van geregtigheid oor jou lewe.

Ons is die Stad, die Kerk, die kosbare besitting van God.  Jy het ‘n plek, heilige grond, net daar waar jy staan – en jy het dit nie besef nie!


Lewer kommentaar