367.  Wanneer hoor sien word

Ons het altyd gelag as iemand sê, gee my ‘n bril dat ek kan hoor. Ons weet ook dat een sintuig vir ‘n ander instaan as iets verkeerd gaan – blinde mense wat staat maak op hulle gehoor en fyn geluide kan onderskei.  Dowe mense kan lippe lees en die wêreld van beeld meer noukeurig waarneem.  Geluide en geraas het ‘n groot invloed op konsentrasie en dit wat met sig hanteer word.  Net sodra die verkeer moeilik word, word die musiek sagter gedraai en die gesels droog op sodat ons kan fokus. 

Ons geestelike sintuie werk op dieselfde manier.  Dit het beduidende invloed op die manier wat ons lewe en besluite neem.  Dit is natuurlik ook in stilte en afsondering waar ons fokus op al die moeilikhede en die rowwe, klipperige lewenspad as ons voetseer en doodmoeg in ons veilige hawe van gebed instrompel. Dit is daar waar alles verander.  Dit is die bad van die Woord om die modder en stof van die alledaagse wat aan ons vasklou en ons tot vrees, woede en moedeloosheid uitlok, af te was met die koel verfrissing van woorde van gees en lewe. (Efesiërs 5:26; Johannes 6:63)

Dit is ‘n voorreg om hierdie veilige hawe te ken en te koester.  Dit help nie dit is beskikbaar en ons voel verlate en alleen.  Ons bekommernis oor al die sorge van die lewe hou ons wakker, ons draad kort en bepaal die atmosfeer in ons huis, gekenmerk deur ‘n gees van kerm en kla – murmurering – so ‘n beskrywende ou woord in Afrikaans.  Dit is ‘n bose kringloop inderdaad – ongeduld wat uit trots en ‘n gees van beheer gebore is, wat ons kla-knoppie druk en dankbaarheid en nederigheid in die warrelwind van woede wegvee.  Dit is alles daar in Jakobus 5:7-11.  

Jakobus kan eintlik deel van die wysheid-genre van die Bybel wees.  Dit is ‘n praktiese, op-die-punt-af-riglyn vir ‘n lewe van oorwinning oor dit wat mens elke liewe dag uitdaag – gewone verhoudinge, klein en groot frustrasies, die hoofopskrifte van die media en die onverwagse boosheid wat inkruip en aanval.  In dit alles word ons toegerus om die tree terug te gee en op te vaar soos ‘n arend, sodat ons rustig en wys kan optree.

Dit is betekenisvol dat Jakobus Job noem in hierdie gedeelte.  Die Hebreërs het altyd Job aangehaal as die voorbeeld van geduld.  

Kyk, ons beskou hulle wat volhard, as gelukkig. Julle het gehoor van Job se volharding, en julle het die Here se einddoel met hom gesien, en dat die Here vol medelye en ontferming is.  (Jakobus 5:11)

Volhard, regtig?  Kan ons vandag volharding as een van die moderne deugde beskou?  Daar is net soveel keuses en as jy iets gekies het, hetsy roomys, meubels of ‘n lewensmaat, is daar altyd die moontlikheid van verandering.  Keuse is mos eintlik die heilige reg van elke moderne mens en om ‘n keuse te verwyder en te verwag dat ‘n besluit wat geneem is met toewyding en oorgawe deurgevoer word, is die groot gemeenskap-sonde genaamd onderdrukking. 

Verandering is my reg en ek sal dit so oppervlakkig en kortsigtig maak met geen gevolge, behalwe natuurlik die verskeurdheid van my siel, wat nie dadelik sigbaar is nie.

Dit is nie net in die laaste hoofstuk van Jakobus wat ons van volharding lees nie.  In ‘n ander konteks lees ons daarvan in die eerste hoofstuk.  Die groot uitdaging:

Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat, as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie. (Jakobus 1:2-4)

Volharding in moeilike omstandighede is nie net ‘n vasbyt-oefening terwyl jy die dae tel en met vasgeklemde kake en vals kalmte in jou siel rebelleer teen alles wat gebeur nie.  Dit is ‘n lewenstyl van bonatuurlike vrede en verhewe denkpatrone van lofprys en dankbaarheid voor die God wat jou oplig as jy jouself voor Hom verneder. (Jakobus 4:10)

Dit is nie een van die oppervlakkige keuses van die lewe nie.  Dit is ‘n besluit om daagliks oor te gee in die voetspoor van die Nasarener.  

Julle het inderdaad volharding nodig, sodat julle, wanneer julle die wil van God gedoen het, die belofte kan verkry.

 Want nog net ‘n baie kort rukkie, en Hy wat kom, sal kom en nie talm nie.

My regverdige sal deur geloof leef.  As hy hom egter sou onttrek, het Ek geen behae in hom nie.” Maar ons is nie deel van enige onttrekking wat tot ondergang lei nie, maar van die geloof wat lei tot behoud van die lewe. (Hebreërs 10:36-39)

Kosbare woorde uit die fontein van die Lewe wat ons bemoedig en deurdra.  Daar is ‘n belofte vir die wat volhard en nie onttrek nie.  Onttrekking word gebore in ongeduld en rebellie.  Dit is wanneer ons aanstoot neem oor dit wat God in ons lewe bewerk en toelaat.  Ons wil transformeer en ons sê maklik, te maklik, ons word aan sy dood gelykvormig. (Filippense 3:10-11)

Met geduld gebore uit volharding is die belofte en uitkoms in ons hand, klaar ‘n werklikheid want God se woord is nooit leeg nie.  

Dink vir ‘n oomblik wat dit beteken om te volhard.

Dit beskryf die vermoë om onder moeilike omstandighede aan te hou en vol te hou, nie met passiewe selfvoldaanheid nie, maar met ‘n hoopvolle moed en durf wat aktief weerstand bied teen uitmergeling en nederlaag omdat die beloftes in die Woord van God bewese is in die wonderwerke wat ons saligheid kenmerk.

Terug by Job.  Jakobus noem Job in sy aanmoediging tot volharding. Dit is in Job wat ons lees van die heerlike siele-ommekeer.

Op hoorsê het ek van U verneem, maar nou het my oog U gesien. (Job 42:5 Afr2020)

Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, (Afr83)

Wanneer elke preek, elke skriflesing, elke belofte in stilte en gebed, lewe en juig in jou binneste sodat jy die Hand van jou Jesus duidelik in elke beproewing en elke probleem kan sien… en juig daaroor.


Lewer kommentaar