Dit is so ‘n eenvoudige, oorbekende ou frasetjie. Leer uit die verlede. Daar is niks nuut onder die son nie. Wel, laasgenoemde kom uit die Bybel in die mond van Salomo, die Prediker (1:9) en dui daarop dat die mens se natuur en die kringlope van die geskiedenis net maar nuwe woorde op ‘n ou wysie is. As mens dink hoe lank gelede Salomo geskryf het, is dit te verwagte dat die wysheid van die Bybel, saam met al die ander wysheid-letterkunde in die wêreld, (die Egiptenare, die Ooste soos antieke China en Indië en die Grieke om maar net ‘n paar te noem) ons hedendaagse lewe sou vergemaklik.
Tog is dit duidelik dat ons daagliks die stryd voer teen die gekheid van die uur. Die inherente eienskappe van boosheid het ook niks verander nie en saai verwoesting presies soos Jesus dit in Johannes 10:10 beskryf het. Boosheid, die duiwel, satan of hoe jy dit ookal wil noem, is die mag wat altyd die goeie teenstaan. Dit steel, moor en vernietig op elke moontlike vlak van die mens se bestaan, hetsy individueel of publiek, fisies of geestelik.
Die remedie vir hierdie jammerlike toestand van sake wat ons elke dag om ons sien en beleef, is natuurlik wysheid…en liefde en waarheid, maar daaroor meer later. Wysheid is die vermoë om die goeie te kies; dit wat opbou en nie afbreek nie, konkreet en abstrak, fisies en geestelik. Dit is elke mens se besluit WAT om WANNEER te doen en natuurlik HOE om dit wat goed is te doen. Ons moet weet hoe om te kies en daarom is dit ‘n edele lewensdoel om nie net ons eie lewe nie, maar dit wat rondom ons aangaan, te bepaal in die mate waartoe dit moontlik is en ons omgewing te beïnvloed met goeie oordeel en vredevolle woorde.
Wysheid word deur een geleerde gedefinieer as: ‘n volgehoue kritiese refleksie oor geleefde ervaring om die verborge vorm van die werklikheid te onderskei wat in, saam met en onder die spesifikasies van die daaglikse lewe leef.
‘n Wyse lewe impliseer dat die persoon die verborge vorm van die werklikheid kan waarneem, die onderskeiding van sodanige vorming kan verstaan en dit dan op sy “lewenspad” kan toepas, met die besef dat die teenstrydigheid daarmee skadelik is en “die pad van die dood”. Die verborge vorm van die werklikheid klink soos ‘n hoge filosofiese konsep, maar beteken eintlik maar wat ons almal weet. Wysheid is nie tasbaar nie, dit is nie “iets” wat ons in hand kan neem, koop of in besit neem om vir altyd oor te beskik nie. Dit is iets wat verborge is, dus onsienlik en daarom ‘n misterie.
Net soos wat ons moderne sekulêre samelewing elke mens aanmoedig om sy eie waarheid te leef, impliseer dit elke individu se reg om sy eie wysheid te kies. Dit is egter die pad van chaos, want wat vir die een mens goed lyk is dalk ‘n geweldige verbreking van ‘n ander se vryheid en goeie sedes. Net soos elke kultuur in sy mees primitiewe vorm, die wysheid van geleefde ervaring aan die kinders wou oordra om vernietiging en dwaasheid teen te werk, is dit vir ons nodig om die wysheid van die geskiedenis te leer.
Kulturele wysheid vind ons dikwels in spreuke en idiome. ‘n Voël in die hand is meer as twee in die bos… stille water diepe grond…waar daar ‘n rokie trek is daar ‘n vuurtjie… hy wat laaste lag, lag die lekkerste.
Wyse keuses en ‘n lewenstyl wat daarby aangepas en ingepas word, verg ‘n bietjie dieper dink as net die laaste hoofopskrif, sosiale media plasings en die oppervlakkige klets van vriende. Die media en die gemeenskap bewerk nie die innerlike genesing en saligheid van die mens nie. Dit is hoogstens ‘n kommentaar op dit wat gebeur. Elke mens maak sy eie keuse hoe om sy siel te voed en sodoende sy lewenspad te bepaal.
Eie keuse is dit wat ons sien en beleef. Dit is ‘n eie-wyse lewe, dit wat reg lyk en voel, sonder om oor die implikasies te besin.
Moenie wys wees in jou eie oë nie. Jy moet ontsag hê vir die Here, bly weg van die kwaad.(Spreuke 3:7)
Hier is waar ‘n gelowige die “ander” pad kies. Hier lê die groot onderskeid tussen die Bybelse wysheid en die wysheidsliteratuur van al die ander bronne waarvan ‘n paar hierbo genoem is. Ons weet waar om in te tap in die Bron van volmaakte wysheid, wat ons lei op ‘n pad wat nie onderhewig aan menslike druk is nie. Die druk van die samelewing in die vorm van rykdom, kennis, mag, seks of enigiets wat aan die standaarde van ‘n “gelukkige” lewe sou voldoen, is onderhewig aan die wysheid van ons God wat weet dat Sy transformerende liefde die enigste wyse keuse in hierdie lewe is.
God gee aan Salomo ‘n keuse. Vinnig kom die antwoord, ons weet mos goed, sy “wyse” keuse is om wysheid te kies. Dit is egter nie die bewoording van die Bybel nie. Kom ons lees noukeurig.
Gee dan aan u dienskneg ‘n hart wat luister om as regter op te tree vir u volk, om te kan onderskei tussen goed en kwaad; want wie kan regspreek oor hierdie veeleisende volk van U?” (1 Konings 3:9)
‘n Hart wat luister, het Salomo gevra – nie ‘n konsep of vermoë nie. Hy het nie gevra om wys te wees, of wysheid toe te pas, of wysheid te herken nie. Hy het goed geweet dat dit slegs moontlik is om reg op te tree, as mens ingestel is om te luister na die Bron. Hy het ook goed geweet dat die sleutel tot hierdie ingesteldheid, sy eie hart is. Net soos ons, kon hy nie sy hart vertrou om te luister nie. Daarom vra hy God om die toestand van sy hart te bepaal.
Die hart is bedriegliker as alles; dit is ongeneeslik. Wie kan die hart verstaan? (Jeremia 17:9)
Hoe lank sal dit voortbestaan in die harte van die profete wat leuens profeteer, wat die misleiding van hulle eie harte profeteer, (Jeremia 23:26)
In Hebreeus word wysheid dikwels met onderskeiding geassosieer. Onderskeiding word in Hebreeus beskryf as ‘n hart wat luister, letterlik om “geregtigheid te hoor”.
Wysheid kom nie tot ‘n gevolgtrekking nie. Dit is ‘n kritiese besinning wat altyd aan die gang is, wat die nuwe data verwerk, dit wat lank bekend en nuut bekend op die pad van die lewe is. Die God van wysheid is die God wat alles vervul wat ervaar word, die heerser en die gewer van lewe. Dit is Hy wat die kern sowel as die uiterste grense van menslike ambisie en outonomie vul.
In albei gevalle word verstaan dat om aandag te gee aan wat verborge is, om te weet wat verborge is, die belangrikste is en die moeilikste kan wees.
Dit is tot die eer van God om ‘n saak te verberg; en dit is tot die eer van konings om ‘n saak te deurvors. Soos die hoogte van die hemel en die diepte van die aarde, is die hart van konings ondeurgrondelik. (Spreuke 25:2-3)
In die woorde van die koningin van Skeba het Salomo se wysheid die teologies-etiese bron bevestig.
Die Here u God moet geprys word, Hy wat u so goedgesind is om u op die troon van Israel te plaas. Omdat die Here Israel altyd liefhet, het Hy u as koning aangestel om reg en geregtigheid te laat geskied. (1 Konings 10:9)
Dit is dieselfde Salomo wat in Spreuke 8 God in die metafoor van wysheid beskryf.
Daarom, seuns, luister na my! Gelukkig is hulle wat op my paaie bly. Luister na my vermaning en word wys; moet dit nie in die wind slaan nie.
Gelukkig is die mens wat na my luister deur dag ná dag by my deure te waak, by die kosyne van my ingange wag te hou.
Ja, wie my vind, het die lewe gevind; hy geniet die goedkeuring van die Here. Maar wie my ontbeer, doen sy lewe geweld aan; almal wat my haat, het die dood lief.” (Spreuke 8:32-36)
Die wonder van die antieke Geskrif wat ons bestudeer, is dat Jakobus dit eeue later bevestig in die woorde wat ons lewenspad bepaal. Dit is in die mond van CS Lewis, Words to live by.
Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie.
Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor.
Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van •geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak. (Jakobus 3:13-18)
Terug by Salomo.
Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig. (Spreuke 9:10)