Dit klink vir my deesdae asof alles in die hoofopskrifte moet gebeur. Wêreldgebeure is elke mens se onderwerp vir debat, woede en skel. Dit is ‘n lokval van verstrengeldheid en selfs obsessie. Dan is daar boonop die tendens om wêreldgebeure in die Bybel in te lees en veral alles oor Israel as tekens van die tweede koms van Jesus te interpreteer. Enigiemand is natuurlik vry om dit te doen, maar dit kan ons fokus so verskuif dat ons denke in die sake van die dag ingeknoop raak.
Dit was vir my ‘n “openbaring” om te lees dat Hebreeus geen woord vir ongehoorsaamheid het nie. Ongehoorsaamheid word aangedui met doofheid. As iemand die Woord van God, met ander woorde die openbaring van God se karakter in die Bybel, van die vroegste tye in die Verbondsluiting met die Skepping, Noag en Abraham hoor en nie daaraan gehoor gee nie – nie luister en doen nie – is hy doof.
Dit is moeilik om in die gekletter en gekraak van die alledaagse God se stem te hoor. Ons weet antieke Israel het die Fees van die Trompette as een van die Herfsfeeste gevier – een dag (soos ‘n Sabbat) waarin hulle God se stem, met ‘n harde geblaas van die ramshoring, herdenk. (Levitikus 23:23-25) Vandag word dit Rosh Hashanah genoem – letterlik die hoof van die jaar, dus Nuwejaar vir die Jode. Die benaming het so ontwikkel ongeveer in die tweede eeu na Christus, ‘n duisend vyfhonderd jaar na die instelling daarvan, net soos al die Israelitiese feeste na die vernietiging van die Tempel in 70 nC verander het. Die Bybelse Yom Teruah was baie anders as vandag se Rosh Hashanah, wat gekenmerk word deur die siviele Nuwejaar.
Die Fees van die Trompette het gepaard gegaan met ‘n groot gejuig deur die mense. (Numeri 29:1) Dit is merkwaardig vandag dat mens by sportbyeenkomste en musiekfeeste skreeu en raas, op straat met plakkate en luidsprekers, maar in die kerk tjoepstil moet wees. Enige kerk wat bietjie “raas” is onder verdenking met die verskoning dat God ‘n God van orde is. Antieke Israel het met oorgawe fees gevier, met stem en dans, met vreugde en gejuig.
Sou mens ooit God as ‘n dansende wese kon voorstel? Dit was vir my aanvanklik ‘n moeilike konsep en het nie my vooropgestelde prentjie gepas nie. Tog moet ek toegee aan die waarheid van die woorde wat ek studeer.
Die Here jou God is in jou midde, ‘n held wat verlos. Hy verheug Hom met blydskap oor jou, Hy maak jou stil met sy liefde. Hy sal oor jou juig met jubelkrete.” (Sefanja 3:17)
Verheug Hom met blydskap…juig met jubelkrete. In die voetnoot van my studie Bybel word die woord verduidelik – God wat dans en sing – letterlik tiekie draai van blydskap. Dit is ‘n wonder-beeld. Dink net die diepte van blydskap as God oor iets juig.
Hy juig oor jou, mensekind en deel van Sy oorblyfsel. Hy juig oor jou wat nie toegee aan die druk van die hoofopskrifte en die agenda van die huidige politieke en sosiale orde wat mense in ‘n ysterblik van woede en vrees oor dinge waaroor hulle geen beheer het, wil druk nie.
Ons moet die stem hoor van God wat sing, die koor van die hemel, die sterre en die hemelwesens.
Waar was jy toe Ek die fondamente van die aarde gelê het? Maak dit bekend as jy die insig verwerf het! Wie het die afmetings daarvan bepaal? Sê as jy dit weet! Of wie het ‘n maatband daaroor gespan? Waarop is sy voetstukke ingesink? Of wie het die hoeksteen daarvan gelê terwyl die oggendsterre saam gejubel, en al die hemelwesens gejuig het?(Job 38:4-7, my beklemtoning)
God stel homself voor as ‘n God wat praat, wat gebed antwoord en sy Plan van liefde en genade bekend maak. (Jesaja 52:6; 65:24; Jeremia 33:3) Die lewe van Jesus weerklink met ‘n die luidste gejuig oor die ganse geskiedenis wat die uiterste geklank van die ramshoring, simbool van God se stem, laat hoor. Jesus se lewe is God se stem van genade en liefde wat nooit stil sal wees nie.
Waarom hoor ons dit nie? Die wêreld stu en storm voort in blinde dwaasheid met ‘n groot geraas.
Die stem van God is nie in kompetisie met die leë geskreeu van ons omgewing nie. Die stem van God is ‘n keuse en kan net gehoor word as ons spesifiek fokus en stil word. Dit is in die kalmte van die storm wat ons hoor.
Kom ons leer uit Elia se reis na Horeb na sy engel-kos hom versterk het.
Daar was ‘n geweldige sterk wind wat die berge geskeur het, wat die rotse verbrysel het voor die Here; in die wind was die Here nie. Ná die wind was daar ‘n aardbewing; in die aardbewing was die Here nie. Ná die aardbewing was daar vuur; in die vuur was die Here nie. Ná die vuur was daar ‘n sagte gesuis. (1 Konings 19:11-12)
Die wind, die aardbewing en die vuur is alles natuur-manifestasies wat die mens tot stilstand ruk. Die wind waai en ons neem kennis, meet dit en benaam dit, orkane en tifone verwoes. ‘n Aardbewing is nie iets wat ons kan ignoreer nie, dit gaan nie sommer ongemerk verby nie. Die datum is ingebrand in die rekordboeke. ‘n Vuur vernietig en moet geblus word; aksie met paniekerige geskarrel. Dit is die fenomene wat die hoofopskrifte volmaak.
Dit is die sagte gesuis, die fluistering in die windstilte wat ongemerk verbygaan. Dit is wat die profeet van God gehoor het. Dit is wat hom opgerig het om sy taak op te neem en sy lewensdoel te leef.
Dit is vandag nog net so. Dit is vir die mens wat luister, spesifiek en gefokus, vir wie die stem van God duidelik is. Sy stem weerklink in ons Bybel, die geskrewe openbaring van God se karakter en denke.
Met ons aandag gevestig op die Woord van God, hoor ons die fluistering in die windstilte. Dit is in die stilte wat ons skep omdat ons kies om Sy stem te hoor. In God se Woord is die gesproke woord van sy Stem hoorbaar vir die geloofsoor.
Hoor Sy stem as jy die belofte lees wat jou siel aanspreek in die oomblik van nood. Hoor sy Stem wat jou gedagtes vestig. (Spreuke 16:3) Hoor sy Stem wat jou lei om die regte dinge te kies en te doen, meestal teen-intuïtief. Kyk terug en skryf die wonderwerke wat jou lewe merk, die strate van goud waarop jy loop. (Openbaring 3:18)
So het die Here my God, die Heilige van Israel, gesê: As julle julle bekeer en tot rus kom, sal julle gered word. Julle krag lê in stil wees en vertroue hê. (Jesaja 30:15)