369. Eienaardig, vreemd, ongewoon

Die stryd om in te pas in die gemeenskap waarin ons gebore is en ons lewens uitkerf, is soms oorweldigend intens.  ‘n Baba, peuter, kleuter en jong kind moet die omstandighede, mense en verhoudinge met sy omgewing navigeer en probeer verstaan.  Hoe ouer hy word, hoe meer mense het invloed en impak op sy lewe.  Teen die tyd wat hy ‘n tiener word is die stryd volstoom aan die gang.

Enige kind uit ‘n Christen-huis sal onmiddellik weet daar is teenstrydighede met dit wat hy tuis hoor en dit wat daarbuite aan hom opgedis word.  Die behoefte om in te pas en daarmee aanvaarding en goedkeuring te kry, is kenmerkend van die innerlike stryd wat tieners daagliks in ‘n stormsee van sosiale media en ‘n bose agenda van afkraking en vals waardes rondslinger.  

Die antwoord van die tydsgees op die vraagstuk van aanvaarding en goedkeuring is om jouself te wees; om jou eie waarheid te bepaal.  Dit is ‘n vae beginsel gevorm uit die veronderstelling dat daar substansiële waardes in elke mens is. Om dit te ontdek is die antwoord wat jou sal red van ‘n lewe van voorgee en valsheid net om in te pas en die goedkeuring te kry van ‘n groep rondom jou wat met dieselfde vraagstuk worstel.  Dit kan net  tot verwarring en gebrokenheid lei.  Dit diep setel van reg en verkeerd wat deur God in elke mens geskape is, word belaglik gemaak met die beginsels van sogenaamde vryheid om jouself te ontdek en jou hart te volg.

Die vermoë om tussen goed en kwaad te onderskei is so oud soos die storie van die Tuin van Eden.  Dit is dan juis wat die slang aan Eva voorgehou het.  Jy is self God; jy kan self die kennis van goed en kwaad beheer; net jy weet die beste.  Ons weet almal waar dit geëindig het – in oordeel en vervloeking.

Kyk maar in ons antieke geskrifte om die wysheid van die eeue hieroor raak te lees.  Dit is nie ‘n moderne vraagstuk nie.

Hoe sal ‘n jongmens sy lewenspad suiwer hou? Deur te hou by u woord. (Psalms 119:9)

Natuurlik ken ons die Skrif baie goed.  Dit is juis een wat dalk verlore gaan met oor-familiariteit.  Dit is die oplossing vir die vraagstuk van aanvaarding wat oor die eeue weerklink.

Waarheid is ‘n ontwykende en misterieuse konsep.  Die filosowe oor die eeue het saamgestem dat waarheid gemeet word.  Daar is ‘n standaard wat bo alle twyfel staan wat waarheid bepaal.  Dit is nie iets wat ongelowiges ooit kan verstaan nie.  Dink maar aan Pilatus se vraag aan Jesus, ‘n vraag wat mens eintlik met hartseer vul – ‘n desperate gryp na die substansie wat hy in die teenwoordigheid van Jesus ervaar het.

In die geskiedenis van die mensdom was daar baie mense wat hulle as gode voorgedoen het.  In die Joodse geskiedenis is vals Messiasse aan die orde van die dag.  Dit is waarom elke woord en aksie van Jesus elke moontlike verwagting en profesie oor wat die Messias gespreek is, vervul.  In al die voordoen en valsheid van leuen-gode, was daar nog nooit eers een wat die woorde van Jesus gesê of herhaal het.

Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.  (Johannes 14:6)

Ons het ‘n standaard.  Ons kan absoluut alles meet aan die lewe en dade van Jesus.  Dit staan op die armbandjie wat eens mode was en nou weer vervaag het: What would Jesus do – wwjd. Dit is die toets van alle tye en alle omstandighede.

Maar – dit is juis wat elke volgeling van Jesus anders maak.  Dit is ‘n lewe gekenmerk deur denke wat stroom-op, teen-intuïtief, anders, onderworpe, nederig, leerbaar en bewus van ‘n groter Waarheid wat alles wat jy sien en ken oorskadu en beslis nie populêr is nie.  Dit is nie toevallig, blindelings, lukraak, of soos die Nederlands sê: op de wilde weg nie.  Dit is seker, geskryf in bloed, geldend in alle omstandighede en van toepassing op alle aspekte van ‘n mens se lewe op aarde.  Dit is Jesus en Jesus gekruisig – die houtkruis se skaduwee oor die hele aarde.

Daarom is ons eienaardig en ongewoon – met reg.

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (1 Petrus 2:9)

Die “sleutel” tot die begrip van hierdie woorde lê in die woord: daarenteen, dus teen die gewone, aanvaarde, sosiale tendens van wat as ‘n goeie lewe beskou word.  Dit is nie die gemaklike agteroor leun op ‘n rubberbootjie wat stroomaf gesloer word nie. Dit is ‘n besluit, ‘n bewuste ommekeer om teen die gety van sosiale stemme wat skreeu en raas te swem.  

Hoekom sou ons so ‘n pad kies?  Dit gevolge is onbeskryflik.  Dit is die keuse wat jou lewe rig op die goudpad van getuienis, waarheid wat jy kan vertrou, sekerheid en die heel luuksste lewe op aarde, vreesloos en doelgerig.

Die verse vóór 1 Petrus 2:9 is die fondament van ons keuse wat ons in eienaardigheid en vreemdheid doop.

Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif:

Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer, ‘n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” 

Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, ” en “’n klip waaroor ‘n mens kan struikel, ja, ‘n rots wat jou kan laat val.”  Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. (1 Petrus 2:4-8, my beklemtoning)

Ons is anders.  Ons is gekoop en afgesonder vir ‘n spesifieke doel.  Juis daarom kan ons onsself heilig noem – nie perfek nie, net baie spesiaal.

Die woord wat ons beskryf as God se spesiale besitting word in Engels vertaal met “peculiar people” wat die vreemdheid van ons pad beter uitdruk.  Ons behoort; ons is ‘n besitting van God en daarom het die Skepper-God ‘n persoonlike belangstelling in elkeen wat die besluit neem om Jesus te volg.

Dit is genoeg rede om op te staan en tiekie te draai in vreugde en lofprysing.  Dit is wat God oor jou doen. (Sefanja 3:17)

Laat die klippe uitroep: Jesus leef en Hy leef in jou.


Lewer kommentaar