294.  Kers-vermenigvuldiging

Die skole het gesluit.  Die vakansie lê voor.  Meeste kerke het begin met  Advent-vierings.  Vier Sondae in Desember voor Kersfees.  Vier woorde.  Kom ons vermenigvuldig met drie – drie kerngedagtes oor Kersfees.

Konteks, kontak en kritiek vermenigvuldig met hoop, liefde, vreugde en vrede.  Drie is simbolies van Goddelike orde.  Vier is die pilare van die aarde, die poorte van die Nuwe Jerusalem in die vier windrigtings.

Drie dinge vermenigvuldig met vier.

Vier dinge vermenigvuldig met drie

Hoekom vermenigvuldig ons?  Net een rede: God is die God van vermenigvuldiging.

Want Ek sal na julle omsien en julle vrugbaar maak, julle vermeerder en my verbond met julle bevestig. (Levitikus 26:9)

Daar sal lofsange uit hulle kom, feesliedere!

Ek sal my volk baie maak, hulle sal nie minder word nie.

Ek sal eer aan hulle gee, hulle sal nie geminag word nie. (Jeremia 30:19)

Ek sal met hulle ‘n verbond sluit wat vir hulle vrede sal bring, ‘n verbond wat altyd sal bestaan. Ek sal hulle baie laat word en my heiligdom tussen hulle oprig om altyd daar te wees. (Esegiël 37:26)

God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer

 (2 Korintiërs 9:10)

Doen maar die sommetjie.  Die antwoord is twaalf.  Die 12 stamme en die 12 apostels kom bymekaar.  Nou vermenigvuldig ons met twee en twaalf – 24 ouderlinge wat aanbid en 144 maal ‘n duisend.  Die stamme en die apostels in God se duisend – sy 10 maal 10 maal 10. Die perfekte kubus van alles – die Verbondsark, die Allerheiligste, die Nuwe Jerusalem – simbolies van volmaaktheid en volledigheid.  God se genoeg is meer as genoeg vir ons.  Sy Naam is El Shaddai – die God van Almag en oorvloed vir Wie niks onmoontlik is.

In die konteks van die Fees bepaal ons die inhoud.  Ons bedien uit die Teenwoordigheid van God.  In ons denke heers die woorde van Moses: As u Teenwoordigheid nie saam met ons gaan nie, bring ons dan nie hier vandaan nie.

Ons name is in die gedenkboek van God opgeskryf. (Maleagi 3:16-18) Dit is as ons oor Hom praat en Sy wonderdade nie vergeet nie.  Waaroor sal ons praat in hierdie konteks van die geboorte van ‘n baba wat die tydlyn van die eeue bepaal; wie se dood die simbool van ‘n beweging geword het wat die geskiedenis van die wêreld vir ewig verander het?  Wat sou ons wêreld gewees het sonder die standaard van moraliteit en waarheid uit die Christelike wêreldbeskouing?

Onthou vermenigvuldiging – ons sal hoop, liefde, vrede en vreugde in die Fees ontplooi en ons viering daarmee vul.  As ons God se werk en wet (beginsels) volg, kan ons Sy wonderbare ingrype verwag.

Hoe sal ons onderskeibaar wees – die skeiding tussen gelowig en ongelowig?  Hoe sal die nasies weet dat ons anders is – heilig, afgesonder vir ‘n spesifieke doel?  Verseker nie as ons kla oor die wêreld se sekularisering van Kersfees nie; nie as ons oor die materiële eise en die familie-konflik van ons saamkuier tekere gaan nie.

Ons andersheid bepaal die kontak van die Fees.  In ons omgang met ander mense staan ons uit as die wat ander opbeur en ophelp.

Jou woorde het dié wat struikel, opgebeur,

dié wat wou val, het jy weer opgehelp.  (Job 4:4)

Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik.  (Jesaja 35:3)

Gaan in die Fees voorbereid met ‘n woord van wysheid en ‘n woord van krag. Wees ook voorbereid vir die konflik en stryery wat so maklik kan opduik.  Die wêreld is verdeeld en verwar.  Die globale politiek is meer polariserend as ooit.  Dink vooruit hoe om moeilike gesprekke te ontlont.  Bid die bonatuurlike krag van die Advent-woorde oor elke ete, elke kuier.  Wees die draer van die Lig van Jesus.  Ons is nie die lig nie – net die lampstaander wat die Lig van die wêreld – Jesus Christus – uitdra na die wêreld.  

Ons kan met die wysheid van die Heilige Gees die Fees krities onderskei.  Hoe sal ons weet wat belangrik is.  Liefde is altyd die riglyn.

Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom.  (Filippense 1:9,10)

Dit is uiters belangrik om daarop te let dat liefde wat groei ons fyn aanvoeling en begrip so sal laat toeneem dat ons die dinge waarop dit aankom sal onderskei.  

Die NLT sê dit so: to understand what really matters,  die ESV: approve what is excellent.

Kom ons bid die hele Filippense 1:9-11 uit The Message:

So this is my prayer: that your love will flourish and that you will not only love much but well. Learn to love appropriately. You need to use your head and test your feelings so that your love is sincere and intelligent, not sentimental gush. Live a lover’s life, circumspect and exemplary, a life Jesus will be proud of: bountiful in fruits from the soul, making Jesus Christ attractive to allgetting everyone involved in the glory and praise of God.

Dit is ons motto vir Kersfees:  Kry almal betrokke in die glorie en aanbidding van God.  

Dit is moontlik om dit sonder woorde of sentimentele, niksseggende tradisietjies te doen.  Ons leef en doen die Advent-woorde.  In elke woord wat ons praat weerklink die hoop en glorie van Jesus.

Bid saam met my die krag van die volle waarheid van die Advent-woorde in ons Kersfees in.

Die definisie van liefde, God se liefde, is altyd iets wat my met verwondering vervul.  Dit is ons standaard.

Agape is ‘n woord waaraan die Christendom nuwe betekenis gegee het.  Buite die Nuwe Testament kom dit selde voor in bestaande Griekse manuskripte van die tydperk. 

Agape dui op ‘n onoorwinlike welwillendheid en onverskrokke goedgesindheid wat altyd die hoogste goed van die ander soek, maak nie saak wat hy doen nie. 

Dit is die selfopofferende liefde wat vrylik gee sonder om iets terug te vra, en nie die waarde van sy objek oorweeg nie. Dit benodig nie ‘n verliefdheid, ‘n affiniteit of ‘n gevoel nie.

Agape is eerder ‘n liefde as keuse as philos, wat liefde as toeval is.  Dit verwys na die wil eerder as die emosie.  Agape beskryf die onvoorwaardelike liefde wat God vir die wêreld het. 

Hoop is die energie elke dag wat ons toekomsvisie bepaal.  Die inhoud van ons toekoms is die beloftes van God en ons kan vorentoe kyk met die verwagting dat God doen wat Hy belowe.  Hoop is die genade wat ons dae vul met aksie en optrede wat ons onderskei van enigiets wat die wêreld kan opdis.

Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!  (Romeine 15:13)

Vreugde is ‘n hardop juig in triomf, om te sing tot eer van God oor die goddeloosheid wat uitgeskakel word.  (Spreuke 11:10)

Sefanja 3:17 sê dat God oor Sy geliefde volk sal dans met sang of ‘n tiekiedraai.  Vreugde in Grieks is gil – om bly te wees, jubel, vreugdevol te wees. Gil beteken ook dans van vreugde, of spring van vreugde, aangesien die werkwoord oorspronklik beteken om rond te draai met intense beweging. 

Dit maak die idee dat die Bybelse konsep van vreugde slegs ‘n stille, innerlike gevoel van welstand is, ongedaan.  God dans van vreugde oor Jerusalem en oor Sy volk. (Jesaja 65:19; Sefanja 3:17)

Die regverdige Messias sal in God se verlossing bly wees met ‘n intensiteit wat die digter nie woorde kan vind om te beskryf nie: 

Here, dit is oor die openbaring van u mag dat die koning so bly is, dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het, dat hy so jubel en juig. (Psalms 21:2)

Alles mag verkeerd wees in Habakuk se uiterlike wêreld, maar hy spring van vreugde oor sy gemeenskap met Jahweh. (Habakuk 3:18 – NOGTANS ek sal bly wees in die God van my verlossing.)

Vrede, shalom: Volledigheid, heelheid, vrede, gesondheid, welvaart, veiligheid, geregtigheid, kalmte; die afwesigheid van tweedrag.  Shalom kom van die werkwoord shalam, wat beteken om volledig, perfek, en vol te wees.  Dus is shalom veel meer as die afwesigheid van oorlog en konflik; dit is die heelheid wat die hele mensdom soek.

Die woord shalom kom ongeveer 250 keer in die Ou Testament voor. (Psalms 4:8; Jesaja 48:18; Jeremia 29:11 as voorbeelde). In Psalms 35:27 neem God genoeë in die shalom (die heelheid, die totale welsyn) van Sy dienskneg. In Jesaja 53:5 was die straf op die Messias sodat ons shalom kan ervaar.  

Die engele het met Sy geboorte verstaan dat Jesus die groot vrede-voorsienende Heerser sou wees, aangesien hulle uitgeroep het, Eer aan God in die hoogste hemele, en op aarde vrede, welbehae in die mense! (Lukas 2:14 – 17; Jesaja 9:7).

Volledigheid is waaroor alles in ‘n verhouding met Jesus gaan.  Niks is vervuld en bevredigend sonder Hom (katartisis). Dit is ‘n verbetering, toerusting, opleiding, en dissipline. Dit sluit die nodige aanpassings en herstelwerk in.  Die verwante werkwoord, katartizo, word gebruik vir die dissipels se herstel van hul nette (Matteus 4:21).  Ons is vissers van mense.  Laat ons ons “nette” heelmaak (vergewensgesindheid en ‘n robuuste ongeërgdheid vir aanstoot) vir die siele om ons.

Hierdie Kersfees bedien ons in nederigheid en selfloosheid die Brood van die Lewe om die tafel.  Dit is nie moontlik sonder… GEBED vir ons eie toerusting om die ware inhoud van Kersfees te leef.  Steun hard op die Heilige Gees.

Kersgebed:

Ons Vader in die onsienlike

Ons eer U Naam bo alles

Ons is weer op daardie plek waar ons verstom staan oor U koms as ‘n mens.  Met die hemelse koor van engele en die paar herders wat wakker was toe almal slaap, is ons bewus van die majesteit en heerlikheid van God op aarde.

Ons gee ons oor aan U Weë en U Gedagtes wat soveel hoër is as ons s’n. 

Wie sou kon dink dat ‘n baba, gebore in ‘n klein dorpie in die Midde-Ooste sou grootword om ons die hart van God te wys, Genade so onbeskryflik dat die wêreld nooit sal ophou om daarvan te sing nie, om op die tydlyn van die verdeling van ons eeue te staan.  ‘n Baba wie se teregstelling die welbekende simbool van ‘n beweging sou word wat vir ewig die wêreld verander het.

U het gekom om ons die Liefde van God te wys, hoe U vir ons jammer is oor die gemors wat ons maak omdat ons dink ons kan sonder U as die Bron van goedheid en waarheid klaarkom.

U het gekom om ons liggame te genees, ons gebroke harte te verbind en ons vry te stel van die bindinge van ongeloof.

Ons bring ons lewens om deur U verander te word.  Ons bring U ons wêreld om verlos te word.  Ons bring U ons verwarring en verbystering oor die tye waarin ons leef, onder die belydenis van die ware boodskap van Kersfees in die woorde van die ou profeet:

Hoe lieflik op die berge is die voete van hom wat die goeie nuus bring: Ons God regeer en vir ons God is niks onmoontlik nie.

Dankie vir die oorvloed wat ons vandag kan deel. Ons beskou dit as ‘n teken van U voorsiening. Ons bid in die kragtige Naam van Jesus.


Lewer kommentaar