280.   Kyk uit, kyk op… en sien

Dit is Heilige Week.  Vir ons stedelinge in die Nuwe Jerusalem, burgers van die Koninkryk van God, lede van die Liggaam van Jesus is dit die tyd van  die jaar waarin ons weer stil word en weet waarom dit alles gaan – die Kruis. 

Soos alle mense IS ons omdat God IS, maar anders as soveel ander IS ons lewend en kragtig omdat God aan die Kruis IS.

Val dit moeilik op die oor?  ‘n Sin in die teenwoordige tyd – God IS aan die Kruis.  Dit is een van die elemente van ons aardse bestaan wat my fassineer – ons is vas in die tel van tyd hier op aarde.  God is nie.  Hy staan bo tyd.  Waarlik een van die grootste en mees majestueuse eienskappe van God oor alles.  Hy sien alles in ‘n oomblik, daarom sien Hy Jesus (homself in ‘n aardse liggaam) aan die Kruis in ons tyd-taal – NOU.

Juig Koningskinders – ons God het gesterf, maar Hy lewe in ons en deur ons.  Ons gees lewe deur die Heilige Gees en Hy werk om te doen ver bo wat ons bid of dink volgens die krag in ons, God in ons. (Efesiërs 3:20)

Ons leef in ‘n bose, gebroke wêreld.  Dit kan ons nie ontken nie en dis maklik om negatief en moedeloos te wees.  Wreedheid, tragedie, moord en doodslag omring ons daagliks.  Waar is God?  Is dit die wêreld wat Hy geskep het?

Ons weet goed dis nie wat ons Vader van Liefde en die Bron van Goed vir sy Skepping bedoel nie, daarom werk Hy deur sy Koninkryk in ons om te red en te herstel.  Dit lyk nie altyd asof ons aan die wenkant is nie.  Boosheid kan so blatant in ons gesig uitspeel, dat ons terugdeins van skok.  Die golwe van slegte nuus word daagliks, sonder asemhaal-kans, oor ons gevloed.  Dit voel werklik asof die hel sy asblikke op  die wêreld omkeer.  Jare gelede het David Wilkerson (die skrywer van The Cross and the Switchblade) dit voorspel volgens ‘n visioen wat hy van die Here ontvang het.  Ek voel ek beleef boosheid se aanval op alles wat heilig en goed is.

Net een blik van my historiese oog op wat agter ons lê in die antieke tyd sowel as die afgelope tweeduisend jaar sedert die Kruis, bevestig dat boosheid altyd uitborrel waar mense is.  Wat egter ook duidelik is, veral as mens dieper kyk, is die rol van die Kerk, die ware Kerk van Jesus in die harte van die toegewydes, se rol in die stuiting van verwoesting en sleg, selfs as die menslike organisasies wat hulleself kerke noem, deel van die bloedvergieting en ongeregtigheid was.

Ons Evangelie, die goeie nuus, die boodskap van die Kruis en die Opstanding, is kragtig om te red.  Ons het alles wat nodig is om die wêreld  om te keer en te verander.  Die intensiteit van boosheid is ‘n reaksie van alles wat sleg is op die voortstuwing van die Evangelie van Jesus.  God kan red en genees.  Hy doen dit en Hy doen dit nou!  Dit is nie die nuus wat ons in die hoofopskrifte lees nie.

Die Feestyd van Israel rondom die Pasga is altyd in die tyd van volmaan.  Die Tuin van Getsemane sou nie heeltemal in duisternis gehul wees nie.  Dalk was dit donker onder die bome, of langs die muur wat die tuin van die ander onderskei het.  Die tuin was relatief klein, met ‘n paar olyfbome en ‘n oliepars om olyfolie te maak.  

Die Bybel sê ‘n afdeling soldate is gestuur om Jesus in hegtenis te neem. (Johannes 18:3)  Volgens berekeninge sou dit op die heel minste tweehonderd soldate gewees het.  Die tempelwagte, Fariseërs en priesterhoofde was ook daar –  inderdaad ‘n groot menigte om Jesus in hegtenis te neem.  Hulle het fakkels en lanterns gehad, sekerlik met die oog daarop om Hom te soek, sou Hy dalk iewers probeer wegkruip.

Hulle was nie voorbereid op die verloop van gebeure nie.

Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen ‘n rower? (Lukas 22:52)

Omdat Jesus geweet het van alles wat oor Hom gaan kom, het Hy vorentoe gekom en vir hulle gevra: “Vir wie soek julle?”

“Jesus van Nasaret,” antwoord hulle Hom.

“Dit is Ek!” sê Hy toe vir hulle.

Judas, sy verraaier, het ook daar by hulle gestaan. 

Toe Jesus dan vir hulle sê: “Dit is Ek!” het hulle teruggedeins en op die grond neergeval.  (Johannes 18:4-6)

Toe Jesus die mense antwoord en homself voorstel, het Hy dieselfde woorde gebruik as wat Moses gehoor het toe hy God vra Wie Hy is: EK IS. (Eksodus 3:14)

Die reaksie was geweldig.  Hulle het teruggedeins en op die grond neergeval.

Is dit ‘n beeld waarop ons kan fokus hierdie Paasfees?  Die krag van die Woord uit die mond van die ware God – die EK IS, heerser van die heelal.  

“Sien” jy die vyand op die grond neergevel op grond van die Krag van Jesus in jou mond?  Hoe het daardie oomblikke van verwarring en verstomming uitgespeel?  Soos dit geskryf staan is die maklik om net oor te lees en te dink die volgende woorde van Jesus, toe Hy weer vra na wie hulle soek, het sommer dadelik daarna gevolg.  Mense sou opstaan en hulle klere afstof, duidelik in verbasing oor wat gebeur het.  Dit sou hulle ‘n rukkie neem om die doel van hulle koms weer op te neem en voort te gaan met die inhegtenisname.

Sekerlik het die krag van die gebeure die harte van die mense geraak en sou nie almal net ongeërg voortgaan nie.  Daar is soveel besonderhede van daardie nag wat nie opgeskryf is nie.  Dit is net soos Johannes sê, dat al die boeke in die wêreld nie die lewe van Jesus sou kon omvat nie. (Johannes 21:25)

Vir ons wat stil staan en dieper kyk, word die Krag van die persoon van Jesus aan ons gekommunikeer.  Ons ontvang die boodskap in ons hart sodat dit groei in ‘n groot geloofsboom wat nie bang is vir droogte en vrug dra op die regte tyd.  (Jeremia 17:8)

Ons het alles wat ons nodig het.  God aan die Kruis, God by die oop graf, God in ons.  EK IS – die  majesteit van die Hemele – in ons harte deur sy Asem, die Heilige Gees.  Prys die Here.  Hy maak ‘n pad in die wildernis en ‘n rivier in die woestyn.  Hy doen ‘n nuwe ding, sodat ons die wêreld kan red. (Jesaja 43) 

Met ‘n oppervlakkige, vinnige kyk sien ons niks.  Daarom kyk ons op na die Kruis, sodat ons by die Koopman van Openbaring (3:18) oogsalf kan kry om werklik te sien, die onsigbare te sien en die onmoontlike te glo.  Dit is hoe ons die struikelblokke oorkom en in oorwinning saam met hom regeer.

Hy is die Christus, die seun van die lewende God.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s