197. Die helder Paasbasuin.

In hierdie tyd voor die Paasfees is dit noodsaaklik om diepe betekenis in eeu-oue tradisie te vind.  So ‘n jaarlikse gewoonte kan maklik ‘n sinnelose ritueel word met vermufte en betekenislose gebruike, selfs al is dit die viering van die grootste gebeurtenis in die hele geskiedenis van die mensdom.  Dit is ons passie om die nuwe in die oue te soek, om iets vars uit die bekendheid te leer en krag in ou gewoontes  te ervaar.

Dit is so maklik om terug te sit en die verloop van gebeure te laat afspeel sonder betrokkenheid van siel en gees.  In elke Christus-fees is daar geleentheid om meer van God se karakter te leer.  Dit is hoe ons onder die bedekking van genade en goedheid inbeweeg en bly, binne in ‘n vyandige wêreld wat ons veiligheid en waardes konstant bly teister.

Israel het die basuingeklank gehoor toe hulle by die berg bymekaarkom waar God sy teenwoordigheid aan hulle getoon het.

Met dagbreek die derde dag was daar donderslae, weerligte en ‘n donker wolk op die berg. Daar was ook die sterk, helder klank van ‘n ramshoring (basuin volgens die OAB).  Die hele volk in die kamp het gebewe(Exodus 19:16)

Dit is ons doelstelling.  Ons kan nie net gewoon met hierdie dae omgaan soos met ander dae van die jaar nie.  Dit is ‘n tyd om in verstomming neer te kniel oor die werk van Jesus aan die kruis.

Kom ons reis in tyd – terug na ‘n eenvoudige aandete en die donker nag wat volg…

DIE ETE

Jesus en sy dissipels sit aan by die gewone Paasmaaltyd wat altyd in hierdie tyd geëet word.  Alles was soos altyd, maar hierdie keer was anders. Alles het gewoon gevoel, behalwe die begin van die maaltyd, toe almal arriveer.

Dit was nie gewoon dat die gasheer die gaste se voete was nie.  ‘n Slaaf of die gas self by die gebrek aan ‘n slaaf het dit gedoen.  Jesus het gemaklik die “reëls” gebreek.

Petrus se trots verhoed hom om deel te hêaan die ongewone handeling van Jesus.  Hy wou beheer en is ongemaklik met die andersheid. Jesus dring aan om dit op sy manier te doen.  Die doop reinig jou en bring jou in die Koninkryk van God in.  Daarna het ons gereeld ‘n was nodig om die “stof” van ‘n gebroke wêreld af te was.  Die Woord reinig ons.

om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord,(Efesiërs 5:26)

Ons onderwerp aan Jesus se manier – dit is die gehoorsaamheid wat ‘n lewe van aanbidding vereis.  Gehoorsaamheid is ons aanbidding, al voel dit ongemaklik in die konteks.

Judas se verraad was voorop in Jesus se gedagtes.  Judas tree heeltemal normaal op.  As die ander dissipels die volle impak van sy planne besef het, het hulle hom gekeer.  Alle indikasies is dat hy op sy eie planne gemaak het.

Die plek aan die linkerkant van die gasheer was uitgehou vir die eregas.  Jesus het Judas daar laat sit.  Dit was een van ‘n hele reeks handelinge om na Judas uit te reik.

Die gewoonte was om iets te ete aan ‘n gas aan tafel aan te bied as ‘n uitnodiging tot gesprek.  Jesus het aan Judas die brood geoffer.  Dit is duidelik dat Judas so opgenome met sy eie planne was, dat hy al hierdie gebare misgekyk het.  God is altyd daar met ‘n uitnodiging sonder verwyt (Jesaja 1:18).

Weer en weer het die uitnodiging gekom. Die duisternis van sy eie agenda het van hom besit geneem sodat hy nie kon omdraai nie.  Hy het die brood ontvang en die uitnodiging van Jesus verwerp.

Johannes skryf dat Judas in die nag uitgegaan het. Jou eie planne lei jou in die duisternis in.  As jy die teenwoordigheid van Jesus verlaat, is dit nag.

DIE TUIN

‘n Welaf vriend van Jesus het heel waarskynlik vir hom die sleutel vir hierdie ommuurde tuin gegee.  Tuine was nie binne die stadsmure van Jerusalem toegelaat nie.  Die grond en bemesting vir ‘n tuin is as onrein beskou.  Jerusalem was dig bewoon en die sanitasie was belangrik om siektes te beperk.  So ‘n tuin buite die stadsmure was heel gesog en het vrede en stilte gegee.  Die tuin van Getsemané is nie baie groot nie. Toeriste vandag sien ongeveer agt olyfbome wat so oud is, hulle stamme lyk soos rotse.

Judas het geweet Jesus beplan om soontoe te gaan.  Dit is waar hy die arrestasie beplan het.

Johannes skryf dat ‘n kompanjie soldate die soldate van die hoë priester vergesel het.  Die hoë priester se soldate was die Tempelwag en moes die opdragte van die hoë priester en die Sanhedrin (die Joodse raad van sewentig lede wat verantwoordelik was vir godsdienstige reg en orde) uitvoer.  Die woord wat hier gebruik word vir die kompanjie van soldate is: speira(Grieks).  Die woord het drie betekenisse gehad: ‘n Romeinse kohort van ongeveer 600 soldate of ‘n afdeling van 1000 soldate, sommige op perde of in die laaste betekenis ongeveer 200 soldate ten volle gewapen.

Selfs in die laaste betekenis van die woord is dit ‘n oorweldigende oormag  wat daardie nag in die tuin ingekom het om een man, ‘n eenvoudige Galilese skrynwerker, in hegtenis te neem. Die owerhede was duidelik baie bang vir ‘n geveg en weerstand van Jesus en sy dissipels en het voorberei vir ‘n klein oorlog!  Die owerhede het nie in die dissipels belanggestel nie.  Die geskiedenis het bewys dat mens net van die leier moet ontslae raak, dan breek die hele beweging op.  Dit is presies wat gebeur het.  Die dissipels het in angs en paniek gevlug.

Dink net hoe eenvoudig en kalm die inhegtenisname plaasgevind  het.  Jesus was deurgaans volledig in beheer van die hele proses.

Petrus het geskrik en onmiddellik reageer.  Hy het sekerlik een van die soldate wat op die proses met Jesus fokus, se swaard gegryp en opgelig om te veg – ‘n dapper daad teen so ‘n oormag.  In die warboel, sny hy die soldaat se oor af.

Dit is altyd so  – deur die geskiedenis.  As die kerk die swaard trek en met geweld reageer, word die ore van die mense afgesny.  In ander woorde – hulle vermoeë om die Evangelie te hoor word afgesny en slegs ‘n aanraking van Jesus self sal die ore genees.  Net soos daardie aand in die tuin.  Jesus het kalm sy hand oor die oor gesit en die oor genees.

DIE VERHOOR

Jesus is voor Annas.  Slegs Johannes noem dit.  Annas was die krag agter die “troon” van die hoë priester. Die hoë priester was in samewerking met die Romeine ‘n posisie van aansien en gemak.  Annas se familie het so baie ryk geword.  Sy seuns en op daardie stadium sy skoonseun Kajafas het die pos vervul.  Hulle het presies geweet hoe om die Romeine tevrede te hou en hulleself te verryk in die proses.   Die handelaars in die voorhof van die Tempel is die Basaar van Annas genoem.  Hy was bekend daarvoor dat hy die inkomste uit die Tempeloffers in sy eie sak gesteek het.

Die verhoor voor Annas was ‘n verdraaiing van die reg.  Jesus het geen hoop op ‘n regverdige verhoor gehad nie. Hy het geweet hoe dinge sou uitwerk.  Volgens die verslae oor die verhoor in al vier Evangelies is dit duidelik dat Jesus deurgaans in beheer van die proses gebly het.

DIE KYK

Petrus se verloëning was al die onderwerp van soveel preke en besprekings oor die eeue.  Petrus se liefde en ondersteuning aan Jesus was onwrikbaar.  Dit is hy wat die swaard trek teen die oormag daar in die tuin.  In die voorhof van die hoë priester was hy teenwoordig in ‘n situasie waar hy enige oomblik deur ‘n soldaat gegryp kon word en in die tronk gegooi word, bloot uit sy assosiasie met Jesus.

Toe die mense hom vra of hy Jesus ken, ontken hy drie maal dat hy nog ooit enigiets met hom te doen gehad het. Die hanekraai was die trompet wat die Romeine drie uur in die oggend geblaas het, om die omruiling van die stadswag aan te kondig.

Petrus het Jesus liefgehad.  Hy was wel swak in die oomblik, maar hy was teenwoordig daar as gevolg van sy liefde en lojaliteit.

Jesus het vir hom gekyk.  In een kyk, wat sekerlik die kragtigste liefde-kyk was, is Petrus gered.  Dit was nie ‘n kyk van verwyt nie, dit was die oë van volmaakte liefde wat red en nie veroordeel nie.  In een kyk is liefde en reddingskrag gekommunikeer – genoeg om Petrus van verwoestende verwyt en hartseer te red.

Wat sê die ou lied:

Turn you eyes upon Jesus

Look fool in his wonderful face

And the things of earth

will grow strangely dim

in the light of his wonder and grace.

Petrus se verloëning van Jesus het natuurlik oral bekend geword, maar hy het terug na sy familie in Jesus gevlug.  In sy vernedering was hy nie alleen nie.   Daar agter geslote deure saam met die ander het hy die goeie nuus van die opstanding gehoor.

Hou in gedagte dat Petrus die openbaring gehad het van wie Jesus werklik is. (Matteus 16:13-20)  Judas daarteenoor het in skuld en verwyt die geld gaan teruggee en gesê hy het onskuldige bloed verraai.  Hy het gesterf – aan sy eie hand, vol skuld, alleen en gebroke – sonder om werklik te weet met wie hy te doen gehad het.

Petrus se openbaringskennis het sy liefde en lojaliteit bevestig en deurgedra in die donker nag van verwyt en vernedering.

VEROORDELING

Die Joodse leiers was eens dat Jesus se grootste oortreding in hulle oë godslastering was – hoofsaaklik omdat Hy verklaar het dat Hy die seun van God is. (Matteus 26:65)  Pilatus sou natuurlik nie die doostraf oplê vir so ‘n aanklag nie en die Jode self mag niemand teregstel nie.  Die aanklag moes verdraai word sodat dit polities van aard was en die Romeinse administrasie in Palestina bedreig. Daarom het hulle Jesus aangekla omdat Hy sê dat Hy ‘n koning is.

Die Jode moes elke beginsel waarvolgens hulle hulle godsdiens bedryf oorboord gooi om Jesus veroordeel te kry.  Skielik het hulle verklaar dat Caesar hulle koning is.

Samuel het aan die volk gesê dat God hulle koning is (Samuel 12:12).  Toe die Romeine belasting oor Palestina aankondig, was daar ‘n bloedige opstand.  Die Joodse leiers het verklaar dat God hulle koning is en hulle aan niemand belasting betaal behalwe aan God.  Nou skielik spreek hulle uit dat Caesar hulle koning is.  Pilatus moes in verstomming na sy asem gesnik het!

PILATUS self tree baie snaaks op.  Hy moes besef het dat die aanklagte teen Jesus gefabriseer is.  Hy was eintlik baie beïndruk met Jesus. Hy wou hom glad nie ter dood veroordeel nie, …en tog het hy.

Jesus lei sy eie verhoor.  Pilatus besef dat Jesus self in beheer is.  Hy is nie die patetiese slagoffer van al die wreedheid nie.  Pilatus behandel hom met respek.  Hy besef Jesus is anders en spesiaal.

Jesus praat oor sy koninkryk.  Hy probeer nie verduidelik nie.  Hy praat die waarheid – reguit.  Dit is sy laaste kans voor die kruis.

Hy maak dit duidelik dat sy koninkryk in die harte van mense is.  Sy koninkryk is nie aards nie.  Verowering van mense vind in liefde plaas.

Pilatus sê: Kyk die man.  Die woord wat Pilatus gebruik is ho, die normale Griekse woord vir ‘n mens, maar die Griekse denkers het hierdie woord dikwels gebruik vir die ideale man, die hemelse man.  Pilatus moes verbaas gewees het dat die marteling nie Jesus doodgemaak het nie.

Pilatus sê dat hy die mag het om Jesus vry te laat of te laat doodmaak. Jesus sê kalm vir hom dat hy net die mag het wat aan hom gegee is om God se plan uit te voer.  Jesus stap self aan kruis toe…

BARRABAS:  Die mense se keuse het oor eeue uitgespeel.  In die oomblik van waarheid het hulle die moordenaar en geweldenaar bo die man van liefde en goedheid gekies.  Die afgelope eeue van die mens se geskiedenis is een van doodslag en bloedvergieting.

DIE KRUIS

‘n Kruisdood was die mees gevreesde teregstelling in die antieke wêreld.

Net sodra die uitspraak gelewer is, is die veroordeelde met die kruis op sy skouers na die plek van teregstelling gelei.  Die rede vir die doodstraf is op ‘n plakkaat geskryf en deur ‘n soldaat voor die veroordeelde gedra .  Die prosessie deur die strate het die langste moontlike pad gevolg sodat enigiemand wat enige inligting oor die saak het, vorentoe kon tree en die prosessie stop.  Die hele regsproses sou dan van voor af begin.  Niemand het vir Jesus ingetree nie.

Die plakkaat voor Jesus is in Hebreeus, Grieks en Latyn geskryf.  Dit was die tale van die drie groot nasies op daardie stadium.  Die Romeine was sterk in regering en administrasie, die Grieke was sterk in filosofie, kennis en uitvindings en die Hebreërs het die ware God geken. ‘n Kombinasie van die talente van die drie nasies moes in werklikheid ‘n goue era in die geskiedenis wees.

Jesus was the supreme beauty and the highest thought of God. In him was the law of God and the kingdom of God. In him was the very image of God. All the world’s seekings and strivings found their consummation in him. It was symbolic that the three great languages of the world should call him king.[William Barclay]

DIE KLEED

Die kleed wat Jesus gedra het, was in een stuk geweef, sonder naat, net soos die kleed van die hoë priester in die Tempeldiens oor al die eeue.  Die funksie van die hoë priester was om die kontakpunt tussen God en die mens te wees.  Die Latyn vir priester is Pontifex, wat brugbouer beteken.  Dit is presies wat die kruis van Jesus gedoen het.  Jesus was die brugbouer na die teenwoordigheid van God toe – die perfekte hoë priester.

Die ander Evangelies vertel hoe Jesus met ‘n uitroep gesterf het. (Matteus 27:50; Markus 15:37; Lukus 23:46).

Johannes se weergawe wys daarop dat dit nie die swak fluistering van ‘n sterwende was nie.  Sy stem was soveel meer as wat mens sou verwag op daardie uur van soveel lyding en bloedverlies.

Die woorde: dit is klaar– is een woord in Grieks = tetelestai.  Met dié uitroep het Jesus gesterf toe die prys betaal is en God sê: Genoeg!  Sy kop het agteroor gebuig asof Hy rus nadat Hy die werk gedoen het.

DIE GRAF

Dit was eintlik duidelik dat Jesus klaar dood is, maar die soldaat wou seker maak.  Hulle mag hom nie van die kruis afgehaal het as Hy nie dood was nie.  Uit die sywond van die soldaat se spies het bloed en water gevloei – ‘n seker teken dat iemand dood is, maar ook die teken van ‘n baie siek man.  Jesus het letterlik ons siekte op hom geneem.  Die profesie in Sagaria 12:10 is met die spieswond vervul:

 en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ’n mens rouklaag oor ’n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ’n mens bitterlik ween oor ’n eersgebore kind. (OAB)

Josef van Arimatea en Nikodemus tree sterk en braaf op na die kruisiging.  Vreesloos gaan vra hulle Jesus se liggaam by Piatus.  Gekruisigdes is nie begrawe nie.  Hulle liggame het soms vir dae aan die kruis gehang sodat die roofvoëls van meeste van die  vleis kon ontslae raak en daarna is hulle beendere op ‘n ashoop van lyke gegooi.

Jesus se dood het mense na hom getrek. Dood is nooit verniet in die Koninkryk van God.  In Jesus se dood was God teenwoordig en aan die werk.  Selfs Jesus se geheime dissipels tree na vore.

DIE OPSTANDING

Dit was die gewoonte om die graf te besoek vir drie dae na die begrafnis.  Hulle het geglo dat die gees van die dooie om die graf vertoef en die liggaam eers finaal verlaat na die derde dag.  (Onthou Jesus het vier dae gewag voordat Hy na Lasarus toe gegaan het.)

Jesus se vriende is nie toegelaat om die graf te besoek op die Sabbat nie – dit was teen die voorskrifte oor die Sabbat. Sondagoggend vroeg – toe dit net-net lig word – het Maria Magdalena gegaan.  Sy kon nie langer wag nie.

Maria was geskok om die oop graf te sien. Dit is onwaarskynlik dat Joodse leiers die liggaam sou wegneem.  Hulle was nie toegelaat om aan ‘n dooie liggaam te raak oor Paas nie en veral nie op die Sabbat nie.

Maria het vir die dissipels opgesoek en vertel. Daar het sy vir Petrus gekry.  Selfs in sy grootste nederlaag is hy nog as die leier gereken.

Johannes het vinniger gehardloop – hy was jonger. Johannes het buite gestaan en ingekyk.  Petrus het in die graf ingehardloop – tipies van sy geaardheid.  Die grafdoeke het so gelêasof die liggaam uit die doeke verdamp het.  Die kopdoek was netjies opgevou soos ‘n servet van ‘n mens wat aandui dat hy na die tafel toe terugkeer.

Johannes het dadelik geglo.  Liefde was die interpretasie vir die toneel wat hy aanskou het.  Liefde het Maria graf toe laat kom.  Liefde open ons oë en verstand vir die goeie nuus van die Opstanding.

Liefde herken waarheid terwyl die verstand nog stry en sukkel.

MARIA

Die toneel waar Maria Jesus in die tuin by die graf ontmoet is sekerlik een van die mees dramatiese tonele in die literatuur van die wêreld.  Maria is die eerste een wat die opgestane Jesus sien.  Haar liefde vir hom is die dryfkrag van haar optrede.

Sy het die nuus aan die dissipels gebring en bly agter toe hulle weggaan by die leë graf.  Sy staan en huil en weet nie wat om van die omstandighede te maak nie.  In haar verwarring en hartseer is haar oog op die graf en sy kyk nie behoorlik na die man wat met haar praat nie.

Deur ons trane vind ons dit moeilik om Jesus te sien.  Ons oog is op die graf en die persoon wat ons verloor het.  Jesus kom van die onverwagte hoek af.  Hy is naby, maar ver van die graf waar sy hom verwag het.

MOENIE AANRAAK NIE

Die grootsheid van hierdie gebeure staan buite tyd.

Die toneel wat in Openbaring 5 afspeel, het heel moontlik afgespeel nadat Jesus met Maria gepraat het.  Jesus was die Eerstelingsgerf van die kerk wat voor God gewaai is.  In die onsienlike voor die Troon van God het Jesus as oorwinnaar oor die dood en hel verskyn.

Sê vir die Israeliete: Wanneer julle in die land kom wat Ek aan julle gee, en julle samel die graanoes in, moet elkeen die eerste ryp are van sy oes na die priester toe neem. Hy moet die are as beweegoffer vir My, die Here, aanbied sodat julle vir My aanneemlik sal wees. Die priester moet dit die dag ná die sabbat doen. (Levitikus 23:10,11)

Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.  (1 Korintiërs 15:20, OAB)

Die kern van ons Paasfees is die Opstanding.

Jesus het aan Maria in ‘n verheerlikte liggaam verskyn.  Daarna het Hy sy verskynings in die sienlike vanuit die onsienlike self bepaal, totdat Hy finaal na die hemel opgevaar het soos beskryf in Handelinge 1.

THOMAS – net kortliks

Thomas wou nie in iets ingesleep word wat hy nie verstaan het nie.   Hy was sterk in sy eie oortuigings en wou sy eie gevolgtrekkings maak. Jesus het dit gerespekteer en aan hom verskyn met die uitnodiging om ondersoek in te stel.  Dit is nog altyd waar.  Enige onsekerheid oor Jesus kan met ondersoek tevrede gestel word.  Die  uitnodiging aan almal staan net soos aan Thomas.

Thomas het in spontane aanbidding neergeval toe hy Jesus sien.  Sy geloof het vastrapplek gekry in die volle openbaring van die opgestane Christus.

EINDE

Die Evangelies is nie bedoel as biografieë van Jesus nie.  Die doel van die woorde is om lewe te spreek.

Die beskrywings van Jesus se lewe is om die waarheid van Sy persoon te erken sodat sy liefde en genadein elkeen se lewe ervaar kan word.

Ons lees oor God – dis nie gewone geskiedenis nie.

 

 

 

186. Die Kruis en die Graf.

[Johannes 19:17-42]

DIE KRUIS

‘n Kruisdood was grusaam.  Selfs die Romeine wat dit moes uitvoer het gedink daar is niks erger nie.  Geen Romeinse burger is gekruisig nie.  Die doodstraf vir ‘n Romein was onthofing of die gifbeker as gedwonge selfdood.  Kruisiging was vir slawe en kriminele.  Die kruis was oorspronklik ‘n Persiese teregstellingsmetode.  Die motief vir so ‘n wrede dood was dat die bloed van ‘n krimineel so afstootlik was dat dit nie die aarde kan besmet nie. Die Kartagiërs in Noord-Afrika het dit by die Persiërs oorgeneem.  Deur hulle het die Romeine die praktyk leer ken.

Jesus is doodgemaak deur die ergste wat die antieke wêreld kon opdink.

Die teregstelling het gewoonlik onmiddellik na die skuldigbevinding plaasgevind.  Die slagoffer moes sy eie kruis dra.  Na geseling met die sweep soos beskryf in die vorige Bodemklippe, het die bloedige optog na die plek van teregstelling vertrek. Voor die gevangene het ‘n soldaat met die aanklag geloop.  Die optog is deur soveel strate as moontlik gelei as ‘n waarskuwing vir ander, maar ook vir moontlike tersydestelling.  Indien enigiemand na vore sou kom en die teregstelling betwis, sou die hele verhoor van voor af begin.  Niemand het vorentoe getree om as getuie vir Jesus se goeie dade te dien, toe hy so verswak en bebloed die Via Dolorosa moes stap.

In Jerusalem is die teregstellingsheuwel Golgotha (Hebreeus) genoem.  Dit beteken letterlik die skedel.  Dit kan wees dat die heuwel soos ‘n skedel gelyk het, maar ook omdat die gekruisigdes nooit die eer van ‘n graf kon hênie.  Die lyke is op ‘n mens-ashoop gegooi vir die honde en die kraaie tot net die kaalgevrete bene oorgebly het.  Dit kon dae neem voordat iemand sterf aan ‘n kruis.  Die Jode het egter altyd teen die aand die dooies begrawe. ‘n Hoop lyke net buite die stad moes vir die Jode ‘n bitter aanstoot gewees het.

Bebloed en verswak het Jesus deur die strate gestrompel.

Sy “misdaad” is in Hebreeus, Grieks en Latyn geskryf.  Dit was die drie groot nasies van daardie tyd.  Saam moes hulle talente die wêreld ‘n beter plek gemaak het:  die Romeine met regering en administrasie, die Grieke met filosofie en kuns en die Hebreërs met die waarheid van God.

Jesus was the supreme beauty and highest thought of God.  In him was the law of God and the kingdom of God. In him was the very image of God. All the world’s seekings and strivings found their consummation in him.  It was symbolic that the three great languages of the world should call him king. [William Barclay]

Die opskrif bokant die kruis was ‘n irritasie vir die Jode.   Pilatus het dit met opset gedoen.  Die Joodse leiers het hom gevra om dit te verander.  Hy het geweier en gesê: Wat ek geskryf het, het ek geskryf. Hoewel sy woorde sterk was, het hy nogtans ‘n onskuldige man ter dood veroordeel.

Die soldate het altyd die klere van die gekruisigde gekry.  Gewoonlik was vier soldate nodig vir ‘n kruisiging.  Daar was meestal vyf items van klere – skoene, ‘n tulband, ‘n gordel, ‘n kleed en ‘n bokleed.  Hulle het met dobbelsteentjies die klere verdeel.  Die bokleed was moeilik verdeelbaar aangesien dit in een stuk geweef was en nie opgesny kon word nie.  Hulle het seker maar altyd dobbelsteentjies byderhand gehad om die ure om die kruis met ‘n speletjie te verwyl.  Hulle moes die liggaam bewaak ingeval iemand die persoon van die kruis afhaal of vinnig doodmaak om sy lyding te verkort.  Die soldate was dikwels dronkerig.  Die aanbeveling aan ‘n soldaat wat nog nooit iemand gekruisig het nie, was om alkohol byderhand te hou.

Hulle afsydigheid teenoor die wreedheid is skokkend.

Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Kyk tog self of daar ‘n smart is soos die smart wat oor my gekom het, wat die Here my aangedoen het die dag toe sy toorn losgebreek het. (Klaagliedere 1:12)

Die bokleed wat in een stuk geweef is, is presies soos die een wat die Hoë Priester gedra het.  Die funksie van die Hoë Priester was om die mense en God te verbind. Die Latyn vir priester is Pontifex, wat brugbouer beteken.  Dit is presies wat die kruis gedoen het; dit was die brugbouer na die teenwoordigheid van God.

Die verdeling van Sy klere is in Psalm 22:19 voorspel.

Daar was vier vroue by die kruis; drie van hulle met die naam Maria.  Jesus se ma en haar suster Salomé, Maria van Magdala en Maria die vrou van Klopas, wie se identiteit nie heeltemal seker is nie, hoewel sy in Matteus (28:1) en Markus (16:1) ook genoem word.

Dit was altyd gevaarlik om met die misdadiger geassosieer te wees. Die vroue se toewyding en liefde het hulle vrees oorkom.  Hulle was daar by Hom, in Sy teenwoordigheid tot op die heel einde.

Sy ma se teenwoordigheid is te wagte, hoewel nogtans ‘n risiko.  Sy ma se suster, Salomé was die ma van Jakobus en Johannes (Markus 15:40; Matteus 27:56).  Sy is die een wie oor haar seuns se posisie in Jesus se koninkryk gevra het.  Sy is deur Jesus tereg gewys. Nogtans vind ons haar hier by die kruis.  Dit wys op Jesus se volmaakte liefde waarin Hy ons korrigeer sonder om pyn, skande of vernedering te veroorsaak.

Maria van Magdala is die vrou wat in Markus 16:9 en Lukas 8:2 genoem word.  Jesus het sewe duiwels uit haar gedryf.  Hy het haar lewe gered.

Selfs daar aan die kruis, vergeet Jesus nie Sy verpligting as die oudste seun nie.  Hy maak voorsiening vir die versorging van Sy ma en vra Johannes, sy neef en getroue volgeling om na Sy ma om te sien.

Johannes se teenwoordigheid spreek ook van liefde wat vrees oorkom.  Dit was regtig braaf om daar saam met die vroue gesien te word.  Die groepie was daar toe meeste ander misdadigers alleen sou gewees het.  Jesus was hoegenaamd nie die gewone misdagdiger wat aan ‘n kruis sterf nie.

Jesus het gesê Hy is dors. Dit beklemtoon die versrkriklike pyn waarin Hy moes verkeer.  Sommige mense dink Jesus was ‘n spookagtige bonatuurlike mens, maar Hy was ten volle mens.

In Psalm 69:22 word die suurwyn voorspel: toe ek dors was, wou hulle my asyn laat drink.

 Hy het sekerlike bietjie water verwag, maar hulle het hom die gewone mengsel van suurwyn en gal gegee om die pyn te verlig.  Toe Hy dit proe het Hy dit geweier.

Die ander Evangelies noem dat Jesus met ‘n groot stem uitgeroep het toe Hy sterf.  Hulle sênie die woorde nie (Matteus 27:50; Markus 15:37; Lukas 23:46), maar Johannes wel. Jesus het nie in moedelose nederlaag gesterf nie.  Sy stem was sterker as wat mens van ‘n sterwende man sou verwag.

Die woorde: dit is klaar is een woord in Grieks = tetelestai.  Dit beteken ook uitroep.  Jesus is dood toe die prys betaal is.  God het gesê dit is genoeg.  Hy het Sy kop teruggeleun asof Hy in ‘n rus ingaan nadat Sy werk gedoen is.

DIE GRAF

Die Romeine het nie liggaam van ‘n gekruisigde begrawe nie.  Soms het die lyk vir dae aan die kruis gehang.  Daarna is dit vir die honde en die kraaie op ‘n ashoop gegooi. Die Jode het die aand van die dag van dood begrawe (Deuteronomium 21:22-23).

Die dag na die kruisiging was die Sabbat. Die begrafnis moes voor sononder gebeur.  Soms het die Romeinse soldate die sterwende se bene gebreek sodat hulle gouer sterf.  Hulle het dit gedoen met die twee misdadigers wat weerskante van Jesus gekruisig is.  Toe hulle dit met Jesus wou doen, was Hy reeds dood.  In Numeri 9:12 word dit gesêdat nie een been van die Paaslam gebreek sal word nie.

Om seker te maak dat Jesus wel dood is, het ‘n soldaat sy spies in Jesus se sy gesteek.  Daar het water en bloed uitgekom, ‘n seker teken van dood, maar ook die teken van ‘n baie siek man.  Hy het letterlik ons siekte ook op Hom geneem.  Nog ‘n profesie sou vervul word:

Maar oor die koningshuis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem bring Ek ‘n gees van welwillendheid en van berou: hulle sal na hom kyk vir wie hulle doodgesteek het en hulle sal oor hom treur soos ‘n mens treur oor ‘n enigste kind, hulle sal oor hom huil soos ‘n mens oor ‘n oudste seun huil. (Sagaria 12:10)

Sommige van die kommentare skryf oor die moontlikheid dat Jesus letterlik van ‘n gebroke hart gesterf het.  Wanneer die hart bars, meng die bloed met die vloeistof om die hart.  Water en bloed het uitgekom toe hulle Hom steek.

Johannes was ooggetuie van alles. Dit is die simbool van waterdoop en die bloed wat red.

Die dissipels was arm en ‘n ordentlike begrafnis was vir hulle buite die kwessie.  Twee mense het na vore gekom.

Josef van Arimitea was ‘n lid van die Sanhedrin en ‘n dissipel van Jesus.  Hy het sy dissipelskap in die geheim uitgeleef maar nou onbeskaamd na vore getree.  Nikodemus was die nagtelike besoeker van Jesus (Johannes 3), ‘n Fariseër en ‘n lid van die Sanhedrin.

Beide van hulle is met opset uit die groep gelaat wat in die nag in die huis van die Hoë Priester vir die verhoor van Jesus vergader het.  Die Sanhedrin het nooit in die nag ontmoet nie.  Die Hoë Priester het dus die verskoning gebruik om te sê dat die dringendheid van die verhoor  buitengewoon was en dus nie vir al die lede nie.  Hy het heel moontlik geweet hy teenstand van hierdie twee lede sou gehad het.  Die duistere werke van die Raad moes onder die bedekking van duisternis plaasvind.

Josef het onbeskroomd die Romeinse owerhede genader vir toestemming om Jesus van die kruis af te haal.  In Sy dood het Hy mense na Hom getrek (Johannes 12:32).

Twee prominente leiers het hulle reputasie en status in die gemeenskap oorboord gegooi om Jesus met hulle gesag en welvaart te eer.

Dikwels konfronteer die dood ‘n mens met die basiese beginsels wat die lewe bepaal.  Oppervlakkigheid maak plek vir erns.

Die dood is ‘n intieme ondervinding met God in die onsienlike.  Jesus het teruggetree in die onsienlike van waar Hy gekom het.  Drie dae…