281.  Die wonder van wagtyd

Hoor ek dalk ‘n diep sug?  Ja, ek skryf al weer oor tyd.  Dit bly fassinerend dat ons ons hele lewe afmeet in tellings met name – sekondes, minute, ure, dae, weke, maande, jare met seisoene en semesters, dekades, eeue, tydperke wat oud en nuut onderskei.  Antieke geskiedenis, die Middeleeue en die moderne era word in die geskiedenisboeke opgeskryf.

Ons reis verder as ooit in die ruimte met die wonderbeelde van die Hubble en die James Webb Ruimte-teleskoop.  Ons “sien” tyd in ligjare gemeet en die leeftye van die heelal – sterre wat sterf en nuwe sterre wat gebore word in berekeninge wat die on-wiskundiges (is daar so iets? – as daar is, is dit ek) heeltemal oorweldig.

God is buite tyd.  God is aionios = ewig – ‘n term wat in ou Hebreeus soveel meer as tyd aandui.  Dit beteken aanhoudend, sonder verandering, onbeperk, sonder begin en sonder einde.  

Eeue lank het [die Evangelie] geheim gebly, maar nou is dit geopenbaar.  (Romeine 16:25,26) 

Hy het ons gered en ons geroep om aan Hom toegewy te wees. Dit het Hy gedoen, nie op grond van ons dade nie, maar op grond van sy eie besluit en die genade wat Hy van ewigheid af in Christus Jesus aan ons geskenk het.  (2 Timoteus 1:9)  

Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan. (2 Korintiërs  5:1)

Ek weet nie hoe om eers te begin dink oor God se bestaan nie.  Met die grootste inspanning kan ek dalk ‘n spatsel-gedagte daaroor bykom. 

Kom saam met my op geestelike reis terug in tyd, om God se tyd beter te verstaan.  Ons reis na die antieke beskawing van die Egiptenare, wat so  pas ‘n onherstelbare knou gekry het, met die dramatiese en destruktiewe uittog van die slawe-nasie wat bygedra het tot die hoogtepunt van die Egiptiese Ryk onder Ramesses II, ook genoem Ramesses die Grote. 

Die een wonderwerk volg op die ander.  Die Hebreeuse seuntjie wat ‘n mandjie-bootvaart op die Nyl oorleef, word deur die Egiptiese prinses opgeraap en op aanbeveling van sy sussie wat  “toevallig”  in die omgewing was, aan sy ma teruggegee om groot te maak tot speen-ouderdom.  Hy word in die paleis as “broer” van die kroonprins opgevoed en opgelei, totdat  die wreedheid van die slawerny hom in woede tot moord dryf.  Hy vlug die woestyn in vir ‘n hele veertig jaar, trou en dien sy skoonpa as skaapwagter in nederigheid en getrouheid totdat die braambos brand.  

‘n Bos wat brand was doodgewoon, maar nie een wat aanhou brand nie.  Dit moes ‘n rukkie geneem het – God is geduldig in sy uitreik na die mens – vir Moses om agter te kom die bos brand nie uit nie.  Hy draai af om ondersoek in te stel en ontmoet die Skepper-God, EK IS.

Met ‘n grootse opdrag gaan haal hy sy mense uit Egipte, met al die wroeging en twyfel van ‘n doodgewone mens met ‘n hemelse taak.  Die wonderwerke volg vinnig en dramaties – die plae, die see, soet water, rots-water, manna, klere en skoene wat nie opraak nie, die wolkkolom, die vuurkolom, genesing en voorsiening.

In dit alles is die mens die mens.  Ontevredenheid, arrogansie, trots en voortvarendheid sit vlak en ontbloot die draak van rebellie in die “beste” van omstandighede.  Ten spyte van daaglikse wonderwerke, verlang die volk terug na Egipte – die vleispotte van slawerny, die bekendheid van gebondenheid – kan mens dit jou voorstel?  Moenie te gemaklik raak met oordeel en kritiek op die ou volkie nie.  ‘n Eerlike self-ondersoek laat mens koud van skok oor jou eie gedagtes en opinies.  Daar is niks nuuts onder die son nie.

Miriam, Moses se suster wat deel van die wonder-plan van redding was, en haar broer Aäron, wat as hoë priester en geestelike leier ‘n sleutelrol in die verlossingsplan speel, is opstandig teen die leierskap van Moses, nadat hy  met ‘n swart vrou trou.  (Numeri 12:1-16)

Die rebellie is gekenmerk deur jaloesie.  Sou die Here dan nie ook deur hulle praat en nie slegs deur Moses nie?

Al drie gesinslede word in die tent van samekoms deur God gekonfronteer.  God spreek sy vertroue in Moses uit en korrigeer die gebrek aan respekvolle vrees vir die leier deur God gekies. Toe die wolk van God se teenwoordigheid oplig, is Miriam wit van melaatsheid.  Die vertering van die vlees van ‘n melaatse is simbolies van die vertering van die siel deur sonde. 

Met die skok van siekte tasbaar in die atmosfeer, pleit Aäron by Moses om hulle te vergewe en vir Miriam te bid.  Moses doen albei onmiddellik.  Sonde-belydenis het groot krag!

Moses roep die Here aan, namens die suster wat haar juis teenoor hom so opgeruk het.  Ware broeder-liefde – aanvaarding en vergifnis.

Miriam moes sewe dae buite die kamp in skande uitgesluit word, voordat haar genesing sou kom.

Die Here het vir Moses geantwoord: “As haar pa haar in die gesig gespoeg het, sou dit nie vir sewe dae lank vir haar ‘n skande gewees het nie? Laat sy dan nou sewe dae lank uit die kamp uitgesluit word, en daarna kan sy terugkom.”

Hulle het Mirjam toe sewe dae lank uit die kamp uitgesluit, en die volk het nie verder getrek voordat sy teruggekom het nie. 

Spoeg in die Midde-Ooste was ongeskik om die minste te sê.  Om iemand in die gesig te spoeg was ‘n teken van absolute vernedering en weersin.  Die soldate by die kruisiging het in Jesus se gesig gespoeg.

Sewe dae was die voorskrif oor melaatsheid, maar ons weet ook sewe is die volmaakte getal.  God het die aarde in sewe dae geskep.  So het Hy in haar siekte ‘n nuwe hart in Miriam geskep  – heel moontlik in Aäron wie vir  haar gebid het en heel moontlik ook in almal wat die insident beleef het – die getuies daarvan.

Sewe dae is God se tyd – kairos -tyd.  God se tyd is die volheid van tyd, die regte tyd, volmaakte tyd, die tyd wat nodig is.

Kan ons die diagnose, die gebedsversoek, die knaende probleem wat ons lewe beheers en ons van die vreugde van ons daaglikse brood, ons daaglikse wonder van lewe in die Koninkryk beroof, aan God se sewe dae onderwerp?

In sewe dae word geskep – ‘n nuwe hart, ‘n nuwe lewe, onderwerping, vreugde en vrede wat alle verstand te bowe gaan.  

Gewone omstandighede produseer ‘n gewone lewe.  Ongewone omstandighede skep opnuut en bring ‘n uitmuntende lewe voort.


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s