Dis ampers-kedampers Desember. Ons betree ons feesdae met al die heerlike gedagtes rondom vakansie, ontspan, familie, vriende en die geleentheid om die Nuwejaar aan te kondig. Meeste mense is goed op dreef met beplanning en reëlings om Desember met volle oorgawe in te gaan en die meeste te maak van die vakansie en Kersfees. Dis ook heeltemal reg so.
Vakansieplanne en reisreëlings is nie al wat ons energie sal verg nie. Kersfees is ons fees – ‘n Christen-fees – veral as ons beplan om Waarheid in die inhoud van ons viering in te bou. Moenie die vyand onderskat nie. Hy sal dit so onaangenaam as moontlik in ons Christen-huise wil maak. Daarom moet ons geestelik voorberei en net so paraat met ons wapenrusting Desember ingaan, soos al die padkos en feeskos wat ons inpak en voorberei.
Ons eerste linie van verdediging is die hoogste lof aan Jesus op ons lippe. Aanbidding begin altyd met dankbaarheid. Staan stil en “proe” dat God goed is, (Psalm 34) veral as ons die voorreg het om feeskos voor te berei, familie en vriende oor te nooi om aan hulle ons beste voor te sit. Ons oorvloed het ‘n Bron – erken die Bron en gee eer aan die Gewer van alle goeie gawes. Niks kan ons onderkry as ons die Here prys en in nederigheid hom dank vir elke luuksheid en lekkerny.
Laat ons met ‘n paar vaste besluite die feesdae betree. Ons het al dikwels oor aanstoot gepraat. Jesus sê dat dit onvermydelik is dat daar dinge sal wees wat mense laat struikel. Die Engels noem dit “offence”. Afrikaans klink effens sag en mens sou kon dink dat dit nie ‘n groot probleem is nie. Die Grieks vir aanstoot is skandalon, wat lokval beteken. Ek stel my altyd voor dat dit een van daardie wrede, ystertand lokvalle vir wilde diere is. Dink aan die pyn en desperaatheid van so ‘n dier wat vas is en nie kan uitkom nie.
Dit is die lokval wat die vyand vir jou siel stel in die woorde van mense om jou. Die ongeluk is, dit kom dikwels van mense wat naby aan jou is, geliefdes en dierbares. Dit is hulle skerp woorde, hulle onnadenkende optrede, hulle liefdeloosheid of jaloesie wat vir jou die lokval stel – hulle sonde in jou lewe – wat jy nie gevra het nie en waarvoor jy heeltemal onvoorbereid is.
Jou pyn en verwonding is die wortel van bitterheid in jou eie hart. Dit is ‘n wortel, want dit groei, soms asof dit ‘n lewe van sy eie ontwikkel en jou siel verwring. As jy nie jou jou gekrenkte siel voor God in gebed bring nie, sal die vyand ‘n vastrapplek van aanstoot en onvergewensgesindheid in jou binneste vestig.
Daar is geen manier waarop onwelkome, skerp woorde of optrede die dolksteek in jou hart versag of verlig kan word nie, behalwe as ons so diep onder die vleuels van die Almagtige is, dat sy Teenwoordigheid die skild van geloof versterk sodat ons die brandpyl van die bose kan afweer – want dit is al wat aanstoot is. Dit is ‘n lokval van die satan self om jou te kry. Dit help dalk om die lokval as ‘n bose werk te herken en dit nie aan die persoon deur wie dit kom, toe te skryf nie.
Ons kan boosheid net met die hulp van die Heilige Gees herken. Ons posisie in Christus is ons beskerming. Ons is die soldate van liefde en liefde is die sterkste wapen wat ons ooit in die Koninkryk van God kan gebruik.
Gaan hierdie Kersfees ons oorwinning oor al die moeilike mense in ons kringe wees? Die Heilige Gees in jou sal die Swaard van die Woord op jou lippe bemagtig sodat jy jou eie ego se kop afkap en in robuuste , dapper liefde die aanstoot van jou laat afrol. Trots staan vierkantig in die pad van vergifnis. Hoekom op aarde sal ons die vernedering verdra, sonder om iemand goed op sy plek te sit en die speelveld gelyk te maak? In die hitte van die oomblik is dit ‘n moeilike een, maar God is genadig en sal jou die geleentheid gee om liefde te laat seëvier. Die kragtige stap is om te bid, soos Nehemia, die meester van die skietgebed.
Roep My aan in die dag van benoudheid en Ek sal jou uithelp en jy sal My eer. (Psalms 50:15)
Wat is jou “dag van benoudheid” – die storm van woorde wat losbars op familie-byeenkomste, die teleurstelling van onbevredigde verwagtinge, die belediging uit die onverwagte hoek – alles lokvalle van verbittering wat jou gedagtes besig hou met motiewe en woede. Laat Jesus vir jou veg.
Die Woord van God is ons Swaard. Die Woord in ons gedagtes, elke dag, sal ons fokus verskuif sodat die mense verdof en Jesus verhelder. Dit is ons strategie vir die Jesus-Fees wat ons vier. Selfs net ‘n paar minute meditasie op jou Vers van die Dag, is al wat nodig is om jou te versterk.
Onthou die musiek. Musiek – prys en aanbidding musiek verander die atmosfeer van ons spasie. Ons is in beheer van die atmosfeer. Ons is nie slagoffers van die atmosfeer nie. As die atmosfeer dik en vyandig raak, bid dadelik en vra die Here om met die vuur van die Heilige Gees die vyand te verjaag. God sal ‘n muur van vuur om jou (sy Stad, sy Nuwe Jerusalem) wees met sy Heerlikheid daarbinne. (Sagaria 2:5)
Kersfees is ook ‘n tyd van refleksie oor die jaar wat verby is. Miskien was dit vir jou ‘n besondere moeilike jaar, een waarin jy tot op jou been getoets is en baie trane gestort het. Miskien is hierdie jaar se Kers-seisoen finansieel moeilik. Bring dit alles na die Here toe.
Prys is die genesing vir die “droë” tye van ons lewe. In die woestyn het die volk God aanbid en God het die water uit ‘n put laat vloei. (Numeri 21)
Uit hierdie hoofstuk is dit duidelik dat:
- God opdrag gee om die mense bymekaar te kry – eenheid en krag in die korporatiewe byeenkoms
- God se belofte, sy Woord is die hoop op uitkoms – Ek sal vir hulle water uit die put gee – dieselfde put wat deur jou droog verklaar is
- Die volk se reaksie in die oorwinningslied – Put, lewer jou water, en ons sal daarvan sing! (21:17)
- Die les hieruit is dat ons in tye van angs, depressie en moedeloosheid nie afsonder nie. Tussen God se mense sal jy saam met die gelowiges, hom aanbid totdat alles in jou eie binneste wonderbaarlik verander, lank voordat omstandighede verander.
Kom ons gaan die fees-seisoen in met ‘n vasberadenheid om te leef wat ons glo – in liefde en hoop – met ons hand styf vas in die Hand van die Kind wat vir ons gebore is.