272.   Ons het wat dit vra

Ek hoor baie mense praat oor die Wederkoms van Jesus.  Dis ook reg so.  Ons sien uit na ‘n ander dimensie van lewe, wanneer ons hierdie dispensasie kan verruil met iets wat vir ons dalk meer werklik sal voel.  Ons weet egter nie hoe dit sal wees of wanneer dit sal gebeur nie.  Op die oomblik is die dood ons enigste skakel met die hiernamaals.  Ten spyte van verrassende hoeveelhede doodservarings, waar mense getuig dat hulle dood was en teruggekom het in hulle liggame, weet niemand werklik wat die dood inhou en hoe die lewe na die dood uitspeel.

As die dood ons nie “red” van ‘n bose, gebroke wêreld, sal die Wederkoms ons laat ontsnap.  Indien ons neig om so te dink, is ons niks beter as sommige van die antieke Griekse filosowe, wat van mening was dat hierdie  wêreld so sleg is, dat slegs totale vervanging ‘n opsie is. Alles en almal moet vergaan en ons moet oor begin – die Vloed weer oor.

Intussen is ons die gevangenes van die aarde en leef ons met ‘n houding van moedeloosheid en hande opgooi oor al die boosheid.  Wel, hoor mens soms, ons sal “maar die beste daarvan maak”.  As die Wederkoms ‘n ontsnapping en ‘n “uit” uit hierdie wêreld bied, is dit nie die bedoeling van die Bybelse beloftes nie.   

Wat maak ons met ‘n kragtige Evangelie, wat uit die lewensveranderende krag van ‘n gekruisigde Redder vloei, wat die volle prys betaal het en almagtig is om die grootste gemors uit te sorteer tot die voordeel van die wat Hom uitnooi?  Dit is juis vir nou en hier wat ons die wonder-oplossing vir alles het.  Ons is God se getuies.  

Israel, julle is my getuies, sê die Here,

en ook my dienaar wat Ek uitverkies het

sodat julle My kan ken en in My kan glo

en kan besef dat Ek die Here is.

Voor My was daar geen god nie,

en na My sal daar ook nie een wees nie,  (Jesaja 43:10)

Ons is die Koninkryk. 

Toe die Fariseërs vir Jesus vra wanneer die koninkryk van God dan kom, het Hy hulle geantwoord: “Die koms van die koninkryk van God kan nie uit voortekens bereken word nie. Hulle sal nie kan sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koninkryk van God is hier by julle.”  (Lukas  17:20,21)

For indeed, the kingdom of God is within you.” (NKJV)

Die dood van Jesus het ‘n onmeetbare, onbeskryflike geestelike krag in die onsienlike realm ontketen, waar die magte van duisternis oorwin is. (Openbaring 12:10,11)   Daar is niks in die geskiedenis van die mensdom wat ooit groter kan wees as die lewe van Jesus op aarde en sy Kruisdood as redding van die mensdom.  Selfs die tweede koms is nie moontlik  sonder die eerste koms nie – die geboorte in die stal wat ons weer eens Kersfees vier.  Sy lewe het die eeue verdeel vir die gelowige sowel as die ongelowige.  Selfs al glo mens glad nie, kan niemand Jesus ontken nie.  Die bewyse vir die historiese Jesus is oorweldigend.  

Jesus is God se Woord, sy gedagtes, sy karakter.   Hy is die inkarnasie van God se Plan vir die mensdom – ‘n plan van hoop, genesing, redding en liefde.

The good is uncreated; it never could have been otherwise; it has no shadow of contingency; it lies, as Plato said, on the other side of existence. It is the Rita of the Hindus by which the gods themselves are divine, the Tao of the Chinese from which all realities proceed. 

But we, favoured beyond the wisest pagans, know what lies beyond existence, what admits no contingency, what lends divinity to all else, what is the ground of all existence, is not simply a law but also a begetting love, a love begotten, and the love which, being between these two, is also imminent in all those who are caught up to share the unity of their self-cause life. God is not merely good, but goodness; goodness is not merely divine, but God.  [CS Lewis: Christian Reflections]

Ons is die Koninkryk.  Ons ken die Almagtige – Skepper van hemel en aarde.  Ons het wat dit vra.  Ons het Jesus.  Een druppel van die bloed van Jesus is genoeg om al die sonde van die mensdom van Adam af, te was  en ons en almal voor en na ons van die verderf te red.  

Verderf?  Dis ‘n goeie woord om die chaos en verwarring van die moderne gemeenskap te beskryf.  Die nie die hel vir eendag na die dood nie.  Dis die hel van vandag.  Hel is waar God nie is nie –  hemel is waar God is.  Dit is juis hoekom ons bid:  Laat U wil geskied soos in hemel so ook op die aarde.  Waar God is, is orde, liefde en goedheid.  Sy wil bring vrede en uitkoms.  Dit is hemel.  

In die wêreld sien ons die hel wat brand met ‘n onuitblusbare bose lus vir vernietiging.  Ons hoef nie te soek na mense wat in verbystering identiteit  soek waar geen te vinde is nie.  Die moderne lewe is ‘n stormsee van kwansuise keuses wat ‘n diep innerlike soeke en desperaatheid vir erkenning en ‘n bevestiging van menswees, moet bevredig.  Verward en verworpe soek hulle goedkeuring by instansies en regerings en omstanders wat in ewe chaotiese denke nie weet wat om daarvan te maak nie.

Laat ons getuig van die Evangelie van krag, wat in liefde en medelye, ‘n stukkende mensdom kan red.  Ons toerusting is die woorde van ons God, vir ons opgeteken in ‘n antieke geskrif wat wonder bo wonder vir ons bewaar gebly het.  In gebed  “sien” ons Jesus, net soos Jakob by Pniël. (Genesis 32:30)  Dit  is vir ons meer as genoeg vir nou.  In Sy aangesig is al die antwoorde.

Ek wil tot eer van die Here sing

omdat Hy hoog verhewe is.

Die Here is my krag

en my beskerming.

Hy het tot my redding gekom.

Hy is my God, Hom roem ek,

die God van my voorvaders,

Hom prys ek.

Die Here is oorwinnaar in die stryd,

sy Naam is ‘die Here’!

Wie van die gode is soos U, Here?

Wie is soos U, so hoog geëer en heilig?

In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!  (Uittreksels uit die Lied van Moses – Eksodus 15)


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s