Moenie opgee nie. Onse God spesialiseer in die onmoontlike. Sing saam met Moses: O Here wie is soos U, onder die gode, verheerlik in heiligheid, Een wat wonders doen. (Eksodus 15)
Die voorreg om deur die Bloed van Jesus die Troonkamer van die Allerhoogste God van die heelal te betree, is ongeëwenaar in die lys van voorregte wat ‘n mens ooit kan hoop om te hê. God nooi ons in. Hy reik uit na ons toe, staan by die deur en klop en baan die weg vir toegang sodat ons die poorte kan ophef en die ewige deure van ons hart oopmaak (Psalm 24) sodat Hy saam met ons maaltyd hou (Openbaring 3:20) en ons saam met Jesus in hemelse plekke kan sit. (Efesiërs 2:6)
Dis ‘n mondvol. Ons is sekerlik gewoond daaraan om die wonder-waarhede te hoor. Mag die Here ons bewaar van familiariteit en ongeërgdheid.
Diegene wat die Koningin van Engeland se begrafnis gekyk het, is seker saam met my bewus van koninklike protokol, stiptelikheid en die veeleisende perfeksionisme wat die gebeure gekenmerk het. Dit was ‘n glorieryke skouspel van simboliek en onberispelike gedrag van almal wat betrokke was – op die maat van die drom en geklank van die trompet. Hier en daar het emosie deurgebreek en dit was amper ‘n verligting om te sien dat dit mense is en nie kaartmannetjies sonder gevoelens nie.
Maar dis verby – in der waarheid ‘n eendag-wonder. Die volgende dag het die koerante treffende foto’s gepubliseer en onderhoude met die mense langs die pad gevoer – mense wat die piekniek-komberse en sambrele moes oppak en huiswaarts keer om weer hulle lewe op te neem. Die oorlog in die Oekraine, die Amerikaanse en Russiese presidente voor die VN en die energie-krisis het gou die hoofopskrifte oorheers.
Ek het ook met ‘n diep sug my Dinsdag ingegaan en gedink hoe moeg moet daardie familie nie wees nie. Hulle moes in die wrede en soms veroordelende kollig van die wêreld se kameras hulle ma, ouma en oumagrootjie groet. Hulle privaat droefheid sal ons nie sien nie. Gelukkig vir hulle is daar hekke en wagte, toe deure en ‘n kort verposing van normaliteit om hulle eie siele te versorg.
Die monarg wat die langste ooit in die geskiedenis regeer het, is begrawe na ‘n lang en bewonderenswaardige lewe en heerskappy. Almal wonder oor die toekoms en hoe dit sal uitspeel, hoe die titels en aanspreekvorme toegeken sal word en wie belangrike rolle sal speel.
Terwyl die stryd om status en mag voortsleep, staan ons vas op die muur van gebed. Ons is kinders en erfgename van die Allerhoogste God met al die titels en aanspreekvorme wat ons rol as die mees bevoorregte wesens van die ganse heelal bevestig.
Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, (Efesiërs 3:10)
Ons is die koninklike priesterdom, die uitverkore volk…
Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (1 Petrus 2:9)
Ons hoef nie te wonder oor titels nie – ons is die eiendomsvolk van God. Ons het werk.
Om God se werk te doen moet ons bid. Ons bid die beloftes van die Woord in elke situasie sodat die onmoontlike moontlik word en die oplossing wat reeds in die onsienlike bestaan in die sienlike realm werklikheid word. Ons weet wat ons taak is en ons het al die aanmoediging en ondersteuning wat ons ooit mag nodig hê.
Ek het wagte op jou mure uitgesit, Jerusalem,
hulle sal dag en nag roep.
Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner,
julle moenie stilbly nie.
Julle moenie stilbly nie totdat Hy Jerusalem herstel het,
totdat Hy die hele wêreld die roem van Jerusalem laat sing het.
Die Here het ‘n eed afgelê,
en deur sy groot mag sal Hy dit gestand doen:
Ek sal jou koring nie weer aan jou vyande gee om te eet nie,
uitlanders sal nie weer die wyn drink waarvoor jy hard gewerk het nie. (Jesaja 62:6-8)
Die wagte op die mure roep God aan en hoor die groot en magtige dinge wat hulle nooit geweet het nie. (Jeremia 33:3) Hulle is die mense wat die waardevolle van die onsin kan skei. (Jeremia 15:19)
Net soos elke lid van die koningsgesin presies weet wat die protokol is en wat daar van hulle verwag word weet ons:
- Lig is kragtiger as duisternis. Lig verdryf duisternis – altyd – selfs die kleinste kersie in die donkerste plek. Daar is net een man nog ooit wat gesê het: Ek is die Lig van die wêreld. Die ergste duisternis kan Jesus nooit oorweldig nie.
- Waarheid is sterker as die leuen. Die waarheid red jou en maak jou vry (Johannes 8:32)
- Daar is meer genade by God as sonde in die mens se hart. (Genesis 6:8) Toe die hele wêreld onder God se oordeel uitgedelg word, het Noag genade by God gevind
- Daar is meer krag in die Heilige Gees om van sonde te oortuig as wat daar bose magte is wat mense verlei (Johannes 1:16)
- Daar is meer krag in een druppel van Jesus se bloed om mense van sonde te reinig as wat al die gesamentlike sonde van Adam af se boosheid ooit kan wees (Romeine 8:26)
Klim op die muur Bodemklip-vriend en staan in die gaping. (Esegiël 22:30)
God is gereed om wonders te doen.
Here my God, U het baie wonderlike dinge gedoen;
U dink altyd aan ons;
daar is niemand soos U nie.
Ek sou daarvan wou vertel en daaroor praat,
maar dit is te veel om op te noem. (Psalms 40:6)