Daar is professionele lyftaal “lesers”. Handgebare en gesigsuitdrukkings is die openbaarmaking van ‘n persoon se innerlike gevoelens of onuitgesproke opinies en hulle kan ‘n siel ontbloot met fyn analise. Net ‘n effense trek om die mond, ‘n oog wat skrefie trek, ‘n skewe glimlag of ‘n hand wat vroetel of ‘n vuis maak binne ‘n gegewe konteks, kan boekdele spreek en sekere gevolgtrekkings kan daaruit gemaak word. Openbare figure is voortdurend daaraan onderworpe – meestal nie vrywilliglik nie.
Dis nie so moeilik om self toe te pas nie. Net ‘n oppervlakkige studie gee elke mens ‘n paar riglyne om sekere afleidings te maak. Sommige mense sal selfs te ver gaan en ander oordeel op grond van ‘n houding wat van ver af “gelees” word. Dit is nie ‘n betroubare bron van mensekennis nie en moet meestal aan bevestiging onderwerp word.
Dit is egter so dat ons lyf in ‘n groot mate uitdrukking gee aan ons siel, selfs sonder woorde. Woorde is uitgesproke gedagtes en lyftaal is onuitgesproke gedagtes. Lyftaal kan iets uiter wat dalk eerder geheim moes bly of aangewend word om ‘n stilswyende boodskap oor te dra. Soveel in ‘n gesigsuitdrukking kan kritiek of goedkeuring wys – iets om altyd van bewus te wees.
God belowe om sy Aangesig oor ons te skyn – een van die kosbare seënwense wat in die priesterlike seën genoem word. (Numeri 6:25, OAB)
As God vir jou kyk is jy onder die beskerming van sy Oog.
Ek wil jou onderrig
en jou die pad leer wat jy moet volg.
Ek wil jou raad gee en my oog oor jou hou. (Psalms 32:8)
Maar Hy kan ook sy gesig ten kwade rig.
Daarom, so sê die Here van die leërskare, die God van Israel: Kyk, Ek rig my aangesig teen julle ten kwade en om die hele Juda uit te roei. (Jeremia 44:11, OAB)
Sy toorn het verskeur en my as vyand behandel; Hy het teen my gekners met sy tande; as my teëstander kyk Hy my met skerp oë aan. (Job 16:9)
In die nek van die volk het hulle hardkoppigheid en ongehoorsaamheid gewys. (Exodus 33:5; 2 Kronieke 30:8) Ons almal weet hoe lyk die stywe nek van weerstand.
Een maal lank gelede, toe ek nog gesukkel het met vrees vir vlieg, het ‘n vriendin vir my Deuteronomium 33:26 en 27. Dit was vir my ‘n heerlike gedagte om God in die wolke saam met my in my geestesoog te “sien” en nog boonop sy Arms onder en om my.
Jesurun, [ou woord vir Jerusalem] daar is niemand soos God nie,
Hy ry deur die hemel om jou te kom help,
in sy majesteit ry Hy op die wolke.
Die ewige God is ‘n skuilplek,
sy arms is altyd onder jou.
Ons het al gepraat oor die betekenis van die seuns van Jakob se name. Kom ons staan net vir ‘n oomblik stil by die eerste vier. Ons ken almal die storie van Jakob wat vir sy oom Laban gaan werk het en verlief geraak het op die jonge Rachel. Toe hy sewe jaar gewerk het om sy bruid uit die hand van sy oom te ontvang, was dit nie Rachel nie, maar die ouer suster Lea. Jakob het nog sewe jaar gewerk om Rachel ook as vrou te kry. In die sewe jaar het Lea egter vir Jakob alles gegee wat ‘n man kon wens van ‘n vrou in die antieke tyd – vier gesonde seuns.
Lea het hulle name gegee om te pas by haar gemoedstoestand. Mens dink min oor haar, maar sy was een van die vroue wat geen beheer oor haar lewe en eindbestemming gehad het nie. Sy is deur haar pa in ‘n liefdelose huwelik ingedwing met ‘n man wat duidelik en onbeskaamd op haar jonger suster verlief was.
Sy noem haar eerste Reuben, kyk ‘n seun; die tweede Simeon, om te hoor, omdat sy gehoop het die Here weet sy ontvang geen liefde nie; die derde Levi, om saam te voeg, want, het sy gedink, hierdie seuntjie sal haar en haar man saamvoeg. Toe is ‘n vierde seun vir haar gebore en sy naam is betekenisvol. Sy haal haar oog van haar man af en kyk op na God. Sy noem hom Juda wat prys beteken, want, sê sy, nou sal ek die Here prys.
Juda se naam is afgelei van die Hebreeuse woord yadah wat hand beteken. Dit is juis met ons hande wat ons lofprys en aanbidding aandui.
In Spreuke 31 word twee woorde gebruik vir hand. Kaph simboliseer hande wat in gebed uitgestrek word en yad dui op dienende hande. (31:13 en 20)
Ons ken die ongemak van ‘n gebalde vuis wat in woede en rebellie opgesteek word. Ons weet hoe lyk die bedelaarshand. Ons ken die gebed in ons hart as ons ons hande opsteek om te ontvang – ‘n baie belangrike gebaar in ootmoed en respek teenoor die oorvloedige gawes van genade wat ons uit God se Hand ontvang.
Maar ons weet ook wat ‘n wonder van oorgawe en vreugde in ons hande uitgebeeld word wanneer ons ons hande in die lug opgooi, bokant ons kop om die Here te prys met alles wat in my is. (Psalms 103:2) Hande wat bo my gedagtes en kop met hare verhef word. Hare was ‘n simbool van trots in die antieke tyd. Met ‘n intensionele gebaar, verhef ek my hande in lof en vreugde tot God om vir hom dankie te sê vir die grootheid van sy Genade en Seën oor my lewe.
Die vroegste Christene het nie gekniel as hulle bid nie, eerder gestaan. Kniel om te bid het eers in die sewende eeu na Jesus ontwikkel. Een van die vroegste beelde in mosaïek beeld uit hoe die Christene gebid het.

Bron: The Story of Christianity – 2000 years of Faith, Michael Collins & Matthew A. Price, Dorling Kindersley, 1990
Mag my gebed voor U wees soos ‘n wierookoffer,
die uitstrek van my hande soos ‘n graanoffer in die aand. (Psalms 141:2)
Ek sal U my lewe lank loof,
my hande ophef om u Naam te prys. (Psalms 63:4)
Esra het die Here, die grote God, geprys en die hele gemeente het met die hande omhoog geantwoord: “Amen, amen.”
Toe kniel hulle en buig diep voor die Here. (Nehemia 8:7)
Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met ‘n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis. (1 Timoteus 2:8)
Jesus sê, gaan in jou binnekamer om te bid. Daar in privaatheid kan jy die lyftaal van die siel “praat” en jou hande opsteek of op jou gesig voor God lê. In privaatheid beoefen mens die lyftaal van gebed. Dan is die publieke demonstrasie daarvan sonder voorgee of selfbewustheid. Alles wat ons doen fokus op God.