Dit word so maklik misverstaan – lofprys en aanbidding. Hoekom op aarde sou mens die Here prys? Het ons soewereine, almagtige, alwetende, self-onderhoudende God ons prys en bewondering nodig? Natuurlik nie! Hy het geen aardse woorde nodig om sy Wil en Werk hier te laat geld nie. Sy woorde het die Skepping in plek gestel. Hoe sou die bewondering van ‘n mensling ooit God behaag?
Kyk ‘n bietjie dieper dan is die gelowiges, die heiliges, eers onverstaanbaar. Hulle prys die Here as dit sleg gaan – as hulle omstandighede handuit ruk en swaarmoedigheid hulle oorval. Daar is geen goeie menslike rede vir hierdie verskynsel nie. God is na alles daar om te voorsien en dinge te laat uitwerk. Hy belowe dan Hy sal gebede beantwoord en die lang lys behoeftes laat verdwyn sodat ons die wonder-lewe van oorvloed en voorspoed kan leef. Hoe is dit dan nou? Kinders van die Here prys die Here in die onmoontlikste situasies. Hoekom?
Ons is so geleer. Ons het die kragtige voorbeelde van die magtige, majestueuse gevolge van ‘n gees wat op die wonderwerkende krag van God gefokus is. Ons is geliefdes van God nie gebruikers van God nie.
By die dramatiese bekering van Paulus in Handelinge 9 praat die Here bangmaak-woorde aan Ananias toe hy opdrag kry om Paulus op te soek en vir hom te bid. Die Here sou self aan Paulus openbaar hoeveel hy vir die Naam van die Jesus wat hy vervolg het, sou moes ly. In Handelinge 16 is die lyding ‘n werklikheid.
Die eienaars van die slavin met ‘n waarseêrsgees is hoogs ontevrede omdat hulle inkomstebron uit die liggelowiges en bygelowiges van Filippi opdroog. Paulus het die gees in die meisie aangespreek het, om haar te bevry van die manipulering van haar meesters. Hulle kla Paulus en Silas by die owerhede aan. Die stadsowerhede neem hulle in hegtenis, skeur hulle klere van hulle lyf af en dien ‘n wrede lyfstraf toe.
Nadat hulle baie geslaan is, is hulle in die tronk gegooi, en die bewaarder het opdrag gekry om hulle streng te bewaak.
Op hierdie bevel het hy hulle in die binneste sel opgesluit en hulle voete in die houtblok vasgeklem.
Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. (Handelinge 16:23-25)
Onder streng bewaking, sonder ‘n moontlikheid van ontsnapping en pynlik-ongemaklike bloeiende lywe, lê Paulus en Silas daardie nag in ‘n Romeinse sel. Die tronke van die antieke tyd was nie ontwerp met menseregte in gedagte nie. Tronke was ‘n uitmergelende oorlewingstryd wat maar ‘n voorspel tot die dood was. Pyn en onversorgde wonde, met voete in houtblokke, het hulle sekerlik van hulle slaap beroof.
In die wakker ure het hulle iets gedoen wat sekerlik in desperaatheid gebore is. Hulle was besig om die goeie nuus aan die mense te bring. Hulle missie en duidelike sukses is grootliks in die wiele gery. Hoekom sou die Here hulle nie van die wreedheid van heidense owerhede bewaar het nie? Het die vraag by hulle opgekom? Miskien, maar die Bybel sê niks daaroor nie. Die verslag van gebeure word kort en kripties vertel.
Moet egter nie vergeet om die klein sinnetjies aan die einde van die versie te lees nie. Paulus en Silas sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister.
Wat sou hulle kies om te sing as die slagoffers van barbaarse hardvogtigheid? Die sangbundel van die tyd was die Psalms. Die memorisering van verskeie Psalms het deel gevorm van die basiese opvoeding van ‘n Joodse seuntjie. Die woorde van die “Sondagskool-koortjies” het oor hulle lippe losgebreek. Hulle gedagtes het die pyn in hulle lywe en die vrae in hulle siele verlaat en gefokus op die grootheid van die God wat hulle dien.
In die liede van lofprysing verklaar ons God se grootheid, heerskappy en wonderwerke. Ons weet nie wat Paulus en Silas daardie nag gesing het nie. Mag ek raai en ‘n voorstel maak?
Lees saam met my ‘n paar uittreksels uit een van die Psalms wat my pynpad in ‘n pryspad verander. Psalm 145. Die hele psalm is ‘n rykdom van aanbiddingswoorde wat die grootheid en wonderwerke van God verklaar. Lees dit hardop sodat die woorde jou spasie met energie vervul.
Die Here is groot, alle lof kom Hom toe,
sy grootheid is ondeurgrondelik.
Geslag na geslag prys wat U doen
en vertel van u magtige dade,
van die luister, die heerlikheid van u majesteit.
Ek wil getuig van u magtige dade,
sodat die mense oor u wonderdade sal praat.
Ek wil van u grootheid vertel.
Sonder ophou moet hulle u groot goedheid verkondig
en oor u reddingsdade jubel.
Genadig en barmhartig is die Here,
lankmoedig en vol liefde.
Die Here is vir almal goed
en barmhartig oor alles wat Hy geskep het.
Die Here help almal op wat geval het.
Hy ondersteun dié wat bedruk is.
Die oë van almal is op U gerig,
en U gee hulle kos op hulle tyd.
U maak u hand oop
en skenk u guns in oorvloed aan al wat leef.
Nou wil ek sê soos die Psalmis op ander plekke – Sela – wees stil en dink ‘n bietjie hieroor. Die impak van die woord-krag sal jou gees met melodie vervul sodat jy dit oor jou omstandighede uitsing. Dink maar net wat kan dan gebeur. Alles wat jy gedink het teen jou werk, werk in jou guns op ‘n ander manier en tydsberekening as wat jy ooit in jou wildste verbeeldingsvlug sou kon opdink.
Skielik kom daar ‘n groot aardbewing wat die fondamente van die tronk geskud het. Al die deure van die tronk het onmiddellik oopgegaan, en al die gevangenes se boeie het losgeraak.
Die bewaarder het wakker geskrik, en toe hy die deure van die tronk sien oopstaan, het hy sy swaard uitgetrek om homself om die lewe te bring, want hy het gedink die gevangenes het ontsnap.
Maar Paulus het baie hard vir hom geskreeu: “Moenie jouself doodmaak nie! Ons is nog almal hier.”
Toe het die bewaarder ‘n lig gevra, die sel ingestorm en bewend voor Paulus en Silas neergeval.
Hy het hulle buitekant toe gevat en gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?”
Hulle antwoord hom: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”
Hulle het toe die woord van die Here aan hom en aan al die mense in sy huis verkondig.
Op daardie uur van die nag het hy vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop.
Toe bring hy hulle na sy huis toe en sit vir hulle ‘n ete voor. Hy en sy hele huisgesin was vol blydskap omdat hulle nou in God geglo het.
Gewaste wonde en ‘n maaltyd met ‘n groot siele-oes! ‘n Wonder-uitkoms vir ‘n situasie wat beskryf kon word as wanhopige radeloosheid vol pyn en ongeregtigheid. Dieselfde nag nog kom die uitkoms – groots en dramaties.
En die einde van die storie…
Die volgende môre het die stadsbestuur polisie gestuur met die boodskap: “Laat daardie mense los.”
Die bewaarder het toe die boodskap aan Paulus oorgedra en gesê: “Die stadsbestuur het laat weet dat julle losgelaat moet word. Julle kan nou gaan, en voorspoed op julle reis!”
Maar Paulus sê vir die polisie: “Ons is sonder verhoor in die openbaar geslaan en in die tronk gestop, ons wat Romeinse burgers is. En nou wil hulle ons stilletjies hier wegkry. O nee! Laat hulle self kom en ons uitlei.”
Kyk net die durf van Paulus in die kragtige naspel van die wonderwerk. Sy visie vir meer siele en groter impak vir die Evangelie is ‘n inspirasie. Wie is toe met vrees vervul?!
Die polisie het dit toe vir die stadsbestuur gaan vertel. Dié het groot geskrik toe hulle hoor dit is Romeinse burgers.
Hulle het gegaan en om verskoning gevra, hulle uit die tronk uitgelei en hulle versoek om die stad te verlaat.
Nadat hulle uit die tronk gekom het, is hulle na Lidia se huis toe, waar hulle die gelowiges gesien en bemoedig het. Daarna het Paulus-hulle vertrek.
Stof die sangbundel van jou geheue af en leer die woorde van jou gunsteling prysliedere. Sing jou situasie in die hoogste versnelling van geloofshoop wat jou gemoed oplig en jou gesig met vreugde versier.