Dis amper einde Oktober van hierdie mees buitengewone begin van ‘n dekade wat ons met die nommer 2020 merk. So drie maande na die begin van die jaar, waarin almal planne gemaak het en voortgeleef het, het regerings oor die wêreld buitengewone maatreëls afgekondig om reis en beweging te beperk, alles om die nuwe, vreesaanjaende en kwansuis dodelike virus onder beheer te hou. Dit het amper geklink asof ons die profete van die Ou Testament aanhoor en die spokerige vertellinge van Middeleeuse plae beleef.
Niemand kon op daardie stadium realisties voorsien wat die volle impak van die plaag sou wees nie en die onbekende faktor het vrees geskep vir ‘n moontlike drastiese dodetal en onbeheerbare verspreiding. Dit was onbekende terrein, vir regerings, plaaslike owerhede en elke individu wat moes aanpas en die ingrypende beperkinge op persoonlike vryheid en besluite navigeer.
Die impak van die wysheid al dan nie van 2020 gaan nog lank in die geskiedenis ontleed word. Dis alles goed en wel, maar ons wat daar deur moes leef en in soveel gevalle die dramatiese kruising van lewe en dood hanteer, het nou dadelik wysheid en insig nodig.
Vir ons geestelike wesens is die geestelike impak van 2020 deurslaggewend. Ons is nie uitgelewer aan die eb en vloei van die sekulêre gety van onsekerheid, besluiteloosheid, eksperimentering en histerie nie. Ons leef in die onsigbare koninkryk van Jesus Christus wat uit die dood opgestaan het en vir ewig die angel uit fisiese en siele dood gehaal het. Ons is anders, ons reageer anders en ons leef anders. Dit is weer en weer uiters noodsaaklik vir ons oorlewing om ons huidige status te heroorweeg en ons gedagte-patrone daarby aan te pas.
Dit is gemaklik om ons basiese saligheid wat uit ‘n verhouding met Jesus spruit, as die hoogste goed te aanvaar. Dit is na alles die kern van ons geestelike identiteit en tereg ook. Maar dis nie al nie. Ons leef elke dag met die sintuie en sinne (denke) wat ons omgewing bepaal en ons besluite rig. Ons kan nie daarsonder nie.
Net so het ons geestelike sintuie en sinne, gegrond in geloof en ons kennis van God se Woord wat sy Plan en Wil aan ons openbaar. Die mate waartoe ons sintuie en sinne in lyn met die koninkryksbeginsels van die verbondsverhouding waarin ons deur die Kruis van Jesus leef, is die mate waartoe ons in oorwinning die tragedie van gebrokenheid en sonde om ons kan oorkom.
Die doel van hierdie skrywe op Bodemklippe, die doel van enige Bybelstudie is om die wonder van openbaringskennis te beleef. Die insig en begrip wat uit die kragtige woorde van die Woord in ons diepste wese indring en lewende transformasie bring, is die eerste prioriteit van studie. Ons het al gepraat oor die vaste oortuiging van die ou Jode dat woorde ‘n eenheid van energie is wat werklikheid bepaal en iets konkreet tot stand bring. Dit beteken dat woorde inherent die vermoë het om hulle eie uitvoering te bewerkstellig. Isak kon nie die “verkeerde” seën terugtrek of ontdaan maak nie. Die seën van die eersgeborene was oor Jakob uitgespreek en sou oor hom geld tot in die duisendste geslag. Esau moes met die mindere seën tevrede wees.
Die volle besef van hierdie stelling is ‘n ontnugtering – elke keer wanneer mens die betekenis daarvan jou denke laat binnedring. Dit is weer en weer noodsaaklik om die krag van woorde te besef. Ons uitsprake is ooreenkomste met goed en boos in die onsigbare wêreld hier om ons. Ons laat toe dat die negatiewe en hopeloosheid deur ons eie woorde en denkpatrone ons lewe bind en beperk.
Jy is na alles jou eie profeet. Jy kan toelaat dat die beloftes van God in sy Woord jou denke en uitkyk bepaal of jy kan dit verwerp of verwaarloos. Jy kan ‘n “kontrak” sluit met die vernietiging en verwarring van jou omgewing en sodoende die “reg” oorgee dat dit jou denke en optrede bepaal. Aan die anderkant kan jy teen-intuïtief leef sodat die kontrak wat jy met jou sinne (denke) met die Woord van God, sy Plan vir jou lewe en sy Wil wat die grondwet van sy Koninkryk is, sluit, jou denke en daarom jou omgewing bepaal. Boosheid het dan geen “reg” om jou aan te val of te beperk nie.
Vandag is die kruispad. Vandag word die besluit aan jou voorgesit.
Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. (Deuteronomium 30:19)
Lees gerus weer Deuteronomium 28 en 30 en let op die fyn besonderhede van seëninge en vloeke.
Die seën van die regte keuse geld vir ‘n duisend geslagte.
“Weet dan nou: die Here jou God, Hy is God. Hy is die betroubare God wat sy verbond in stand hou en sy troue liefde betoon tot aan die duisendste geslag van hulle wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam. (Deuteronomium 7:9)
Wat sien jou oog?
“Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog goed is, sal jou hele liggaam lig hê. Maar as jou oog sleg is, sal jou hele liggaam sonder lig wees. As die lig in jou donker is, hoe donker moet dit dan nie wees nie!” (Matteus 6:22,23)
“The eye is the lamp of the body; so if your eye is clear [spiritually perceptive], your whole body will be full of light [benefiting from God’s precepts]. (Amplified)
Wat hoor jou oor?
Gee aandag, luister na wat ek sê, let op, luister na my woorde… (Jesaja 28:23)
Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou ‘n stem hoor sê: “Hier is die pad, loop hierlangs.” (Jesaja 30:21)
Hoe proe die woorde van jou mond?
Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.” Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond. (Esegiël 3:3)
Reuk – wat is jou parfuum?
Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. (2 Korintiërs 2:14,15)
Ruik jy na die kennis van God?
Maak vir ‘n oomblik jou oë toe en “voel” in jou verbeelding die mantel van jou getuienis, jou fyn wit klere van linne, die omhelsing van jou hemelse Vader. Voel dit!
Geen omstandighede, geen teologie of kennis vervang ooit ‘n ontmoeting met God self.