234. Vertrou jy my?

Hier waar ek sit en skryf, probeer ek nagaan of ek al voorheen hierdie titel gebruik het.  Ek het die rekenaar se soek-fasiliteit ingespan en sit nou stom verbaas dat ek dit nie vind nie.  Ek vind baie ander verwysings na vertroue en ek weet ek het al dikwels oor vertroue geskryf, maar ek het dit sowaar nog nooit in ‘n titel gebruik nie.  Hoekom is ek so verbaas?  Ek “hoor” die woorde in my gemoed weerklink – God se woorde.  Dit ego, dit weergalm, dit roep uit in my binneste – woorde wat ek in vrees-oomblikke en paniekerige denkpatrone “hoor”, lees en “indrink”.  Dit is kragwoorde vir swak tye.

Ons het al gesels oor God se vrae.  As Hy vrae vra is dit gewoonlik nie om inligting te bekom nie.  Hy vra ‘n vraag om ‘n gesprek te begin.  Nou ja, hier begin ek hierdie gesprek met sy woorde.  Vertrou jy My?  Dit is woorde wat jou ruk in die oomblikke van twyfel, woorde wat jou terugruk uit woede en frustrasie en woorde wat jou regruk om met durf en moed voort te stu.  Dit alles in vraagvorm.  Geen mens se vraag kan ooit so kragtig ons siel stuit soos God se retoriese vrae.

Daar in die Tuin van Eden vra Hy vier vrae sommer vinnig opmekaar. 

Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?

Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?”

Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?”  (Genesis 3:9,11 en13)

Dink jy vir ‘n oomblik God het nie presies geweet wat in die Tuin gebeur het daardie middag nie?  Hier vra ek nou ook ‘n vraag waarop ons almal die antwoord weet.  Dit is ‘n vraag wat die onmoontlikheid van ‘n negatiewe antwoord in die kollig plaas.  Dit is ondenkbaar om te antwoord dat God nie geweet het nie en tog vra Hy die vrae waarop die mens sy huiwerige, skuldige, gebrekkige antwoorde gee.  Dit is die donkerste oomblik in die ganse geskiedenis van die mens.  Dit sal herstel word met nog ‘n duister oomblik – duisende jare later aan die Kruis, maar dit is nog ver in die tydsverloop van die mens, gevangene van tyd in die lewe op aarde. 

Vraag en antwoord word ‘n gesprek van herstel.  God praat nie leë woorde nie.  Elke woord is kragtig en doelgerig.  Sy woorde keer nie ledig terug nie.  

Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet.

So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.  (Jesaja 55:10,11)

Niemand van ons het al ooit ‘n reëndruppel of sneeuvlokkie gesien wat nie heeltemal al die pad op die aarde val nie.  Indien die reën voor die grond stop, sal ons almal beswyk van skrik.  Dit is ‘n natuurwet.  Ons ken reën.  Dis nie moeilik nie.  As dit begin, gaan staan jy en kyk om seker te maak dit val al die pad aarde toe?  Nee, natuurlik nie!  Dit is net ‘n sot (heerlike OAB-woord vir domkop) wat dit sou doen.  Laat die teelepel val.  Indien dit nie met die verwagte geklingel op die vloer val nie, sal jy aandag gee en onmiddellik spoke en toordery verdink.  Dis swaartekrag en ons weet verseker dit werk elke keer.  Twyfel jy aan swaartekrag?  Twyfel jy aan die normale verloop van reën? 

Net so God se woorde van krag, herstel en bemoediging.  Dit is ons beloftes uit die Woord wat die inhoud van ons toekoms bepaal.  Pas die natuurwette toe – swaartekrag, seisoene en storms wat bedaar om te begryp en te glo hoe onmoontlik dit is, dat die beloftes nie sal “werk” nie.

Nadat God sy vrae aan die mens gestel het, kom die oordeel.  Hy oordeel nie Adam wat blameer en verskoning maak nie.  Hy oordeel nie die vrou wat haar ore uitgeleen het vir praatjies van twyfel en ‘n geskinder van die slang oor God – satan doen dit nog, onthou!  Nee, God oordeel die slang en maak sy Plan van Saligheid bekend met die belofte van oorwinning deur Jesus. 

En die Here God sê vir die slang: “Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank.

Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.”  (Genesis 3:14,15)

Ek raak ongemaklik as mense sê gebed “werk” nie.  Ek het al opgemerk dat hulle dalk nie die stokkie reg vasgehou het nie.  Jy weet, die toorstokkie van “ietsie-bonatuurlik-asseblief”.

Gebed is ‘n gesprek.  God begin vandag hierdie gesprek met die woorde: Vertrou jy My?  

Die antwoord wat jy gee is super-belangrik.

Maar daardie mense, o God, U sal hulle in die graf in laat neerdaal. Sulke moordenaars en bedrieërs sal in die fleur van hulle lewe sterf. Maar ek, op U vertrou ek.  (Psalms 55:24)

Wees my genadig, o God! Wees my genadig, want by U soek ek skuiling. Onder u vleuels sal ek skuil tot die bedreiging verby is.

Ek roep na God, die Allerhoogste, na God wat my sal help.

Hy sal uit die hemel antwoord en my red, Hy sal dié wat my jaag, die stryd laat verloor. Sela God sal antwoord in sy liefde en trou. (Psalms 57:2-4)

Laat my elke môre u liefde ondervind, want in U stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.  (Psalms 143:8)

Kom ons verklaar soos Joshua (24:15) dat sover dit ons aangaan, ons die Here vertrou.  

Dit is hier waar ek eintlik wil afsluit, maar ek kan nie.  Ek wil graag kort skryf, maar die onderwerp is groot en ryk – ryker as die woorde wat ek het.

Lees asseblief 2 Konings 18 en 19.  Tel maar hoeveel keer die woord: vertrou of vertroue daarin voorkom.  

Hiskia, die koning van Juda in die suide, het goed begin, die Filistyne teruggedryf en voorspoed in sy koningskap ervaar.  Hy het die afgode verwyder en die land skoongemaak van heidense invloed.  Na al sy sukses, val die Assiriërs Israel, die noordelike koninkryk, binne en beleër die hoofstad Samaria.  Die inwoners word as bannelinge weggevoer as gevolg van ongehoorsaamheid (18:12 en lees die profeet Amos se profesieë oor Samaria).

Ses jaar verloop en skielik is daar ‘n nuwe ambisieuse heerser in Assirië, Sanherib.  Hy val al die vestingstede van Juda aan en behaal groot oorwinnings.  Hiskia skrik.  Hy betaal groot bedrae in “boetes” aan Sanherib.  Hiskia moes die Tempel stroop om te betaal, tot die goud van die deurposte afskraap.  Dit is toe nie die einde van die bedreiging nie.  Bose ambisie is nooit tevrede nie.  

Sanherib stuur sy boodskappers, die hoof van die weermag en die hoofadjudant met ‘n groot weermag om Jerusalem te dreig.  Hulle gaan staan op ‘n prominente plek om hulle heerser se dreig-plan uit te skreeu.  Lees dit met aandag en let op die uitdaging oor vertroue, selfs direk teen God. (18:30)  Dis maklik om vertroue te erodeer wanneer dinge sleg gaan.  Hiskia het die boetes betaal en hier kom die bedreiging van totale uitwissing.

Baie betekenisvol is dat Hiskia se amptenare met geen woord reageer nie.  Hulle laat toe dat die dreigement in sy volledige, aaklige omvang uitbasuin word.  Hulle “dra” sy woorde na Hiskia toe.  

Hiskia se reaksie is opgeteken in 2 Konings 19.   Hy trek rouklere aan en gaan Tempel toe.  Hy stuur amptenare na Jesaja toe.  Dit is die regte reaksie.  Die amptenare vertel Jesaja van die aanklag teen God.  Hulle weet God het die woorde van smaad teen hom gehoor.  Hulle vra gebed vir die klompie wat nog oor is – die oorblyfsel.  

Jesaja sê: “Julle moet vir julle koning sê: So sê die Here: Moenie bang wees oor wat jy gehoor het, hoe die amptenare van die koning van Assirië My gelaster het nie.  Ek gaan hom onrustig maak, sodat hy na sy land toe sal teruggaan wanneer hy daarvandaan ‘n berig kry. Ek sal hom in sy eie land laat doodmaak.” (19:6,7)

Toe skryf Sanherib in ‘n brief aan Hiskia nog dreigemente.  Hy vertel van sy suksesse en dat die gode van sy slagoffers hulle niks gehelp het teen hom wat Sanherib is nie.

Hiskia het die briewe van Sanherib voor die Here oopgesprei met die woorde: Hoor tog, Here, luister, kyk tog, Here, let tog op! “Hoor tog wat Sanherib gesê het; hy het U, die lewende God, in sy boodskap beledig! (19:16)

Hiskia kyk die feite in die oë.  Hy ontken nie die oorwinnings van Sanherib nie.   Hy verklaar voor God dat die gode van die ander nasies gode uit mensehande is, hout en klip en daarom het hulle “nie gewerk nie”.

Sy gebed is ‘n eenvoudige stelling van vertroue:

Here, ons God, red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is.” (19:19)

God se antwoord kom deur Jesaja.   HOOR sy woorde en bedek jou vyande onder die krag daarvan.

God vra vrae… en antwoord sommer self!

Jesaja seun van Amos het vir Hiskia ‘n boodskap gestuur: “So sê die Here die God van Israel: Ek het jou gebed oor koning Sanherib van Assirië verhoor.

“Dit is wat die Here oor Sanherib sê: “Sion verag jou en lag jou uit, Jerusalem kyk jou met minagting agterna.

Vir wie het jy beledig en belaster? Vir wie het jy geskreeu en uitgedaag? Die Heilige van Israel! (19:20-22)

So sê die Here vir jou, Sanherib: Het jy dan nie gehoor nie, Ék het dit bewerk, lank gelede al, van die vroegste tye af het Ek dit voorberei en Ek het dit nóú laat gebeur: jy moes vestingstede verwoes en puinhope van hulle maak. (19:25)

Of jy sit of gaan of kom, Ek weet dit, Ek weet hoe jy teen My te kere gegaan het. Omdat jy dit gedoen het, omdat Ek jou verwaande woorde moes aanhoor, sit Ek ‘n haak deur jou neus en ‘n stang tussen jou tande en lei Ek jou terug op die pad waarmee jy gekom het.(19:27,28)

Vir Hiskia seën God met oorvloed – net omdat hy gebid het en sy magteloosheid na die Here geneem het, selfs nadat hy “gesondig” het en die boetes betaal het.

“Vir jou, Hiskia, gee Ek die volgende teken: vanjaar sal julle die opslag eet en volgende jaar wat dan opslaan, maar in die jaar daarna sal julle saai en oes, wingerde plant en druiwe eet

Dié van Juda wat die beleg oorleef het en oorgebly het, sal weer soos plante wortel skiet en vrugte dra.

Daar sal mense oorbly en uit Jerusalem kom, daar sal mense vry van Sionsberg af uitgaan. Daarvoor sal die onverdeelde trou van die Here sorg. (19:29-31)

God bewaar die stad van oorlog ter wille van sy eie reputasie en die geloofserfenis van Dawid.

“Daarom, so sê die Here oor die koning van Assirië: Hy sal nie in dié stad inkom nie, hy sal nie ‘n pyl hier afskiet nie, nie ‘n skild teen die stad optel nie, nie ‘n beleëringswal daarteen opgooi nie.

Met die pad wat hy gekom het, sal hy teruggaan en hy sal nie weer by dié stad kom nie. Dit is wat die Here sê.

Ek sal dié stad beskut en hom red, om my ontwil en om my dienaar Dawid se ontwil.”  (19:32-34)

Die oplossing is ‘n verstommende, bonatuurlike krag-ingrepe van God self.

Daardie nag het ‘n engel van die Here gegaan en honderd vyf en tagtig duisend man in die Assiriese kamp doodgemaak. Toe die Assiriërs die môre vroeg opstaan, lê die lykealmal daar.

Koning Sanherib van Assirië het toe kamp afgeslaan en hy is terug Nineve toe en het daar gebly.  (19:35,36)

Ek hoop hierdie woorde laat jou giggel van lekkerkry.   ‘n Grootbek, trotse heerser soos ‘n hond wat ‘n skop gekry, stert tussen die bene terug na sy eie stad toe.

Vertrou jy My? vra ons hemelse Vader.

...en wat op Hom vertrou. Gee aan hulle vrede en voorspoed, Here, want hulle het hulle vertroue op U gestel.

Vertrou altyd op die Here, want die Here God is ‘n veilige toevlug. (Jesaja 26:3,4)

https://youtu.be/vXMPNXXnCls   I will trust in you Lauren Daigle

https://youtu.be/ElVC6rfX3Z8    You are my hiding place Selah


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s