236. Toekomsbeplanning vir oorvloed

November voel sekerlik nie soos November nie.  Oral is daar spesiale maatreëls wat nog steeds die pandemie-swaard oor ons kop laat hang.  Sprake en tekens van ‘n tweede golf dra die bedreiging van ‘n moontlike herhaling van die grendelgebod.  Gewoonlik is November eksamen-maand met die beloning van ‘n somervakansie daarna.  In die noordelike halfrond begin die winter sy ysige vingers uitsteek en die gewone griep-seisoen breek aan – of moet ek sê uit. 

Soveel mense sien uit na ‘n nuwe jaar, selfs al meen die kenners dat die virus nog die eerste kwartaal van 2021 gaan woed.  Hopelik sal die jaar tog verligting bring.  Ons kan planne maak, herstel bewerk, moed skep, hoop laat opvlam.  Dit is alles goed en wel, maar wat van die toekoms.  Het daar iets fundamenteel verander?  Het ons wêreld deur die pyn van hierdie pandemie geworstel net om terug te keer na die “normale” stryd vir bestaan?  As mens op die oppervlakte kyk, dan lyk dit so.

Op ‘n dieper vlak lyk dinge dalk anders.  Soveel mense is in hulle leef-spore gestuit en geheel en al ontwrig.  Daar was meer selfmoord, meer angs en depressie medikasie voorgeskryf, meer terapeute geraadpleeg as voorheen.  Die mensdom was, en is nog in ‘n groot mate, in krisis.

Dit is maklik om af te breek, heelwat moeiliker om op te bou.  In ‘n dokumentêr oor die tsunami in Japan in 2011 het hulle die omgewing afgeneem voor die vloedgolf.  Nege jaar na die vloedgolf is dit nie eers naby wat dit was nie.

Hoe wil ons hê moet die wêreld na die pandemie lyk?  Ek wil graag hê God moet besluit.  Dit is vir ‘n mens nie moontlik om bewus te wees van al die boosheid en wreedheid van hierdie ou aarde nie.  Plae en rampe is so oud soos die mens se geskiedenis.  Daar is dikwels radikale verandering wat daardeur meegebring word.

Verseker is die volgende vraag wat een individu kan doen om die wêreld te verander.  Ons weet die wêreld het God nodig.  Almal het nodig om te weet hoe lief die Here hulle het. Almal moet hoor dat daar ‘n alternatiewe manier van lewe is, wat ons vuil en moedelose ou planeet met sy verwonde en gebroke mense sal vernuwe en herstel.  Liefde is die antwoord.  Selfs al klink dit vir jou die heel onmoontlikste, sagste, nederigste en gans kragtelose oplossing.  Dit is die enigste oplossing en die kragtigste ooit. 

Daar was al baie mense wat hulleself ‘n god verklaar het, baie wat hulleself as Messias verkondig het.  Kan jy hulle name onthou? Google dit gerus – dis verstommend.  Meeste name sal vreemd wees.  Ken jy die naam Jesus?  Natuurlik.  Die meeste mense ken Jesus se naam; of hulle nou glo of nie, hulle het van hom gehoor.  Dit is die impak wat Hy op die geskiedenis gehad het.  Hy het die tyd verdeel.  Sy dood het ons geskiedenis vir ewig geskei in die woorde voor-Christus en na-Christus en selfs as hulle nou praat van BCE (Before the Common Era) en CE (Common Era) is dit wat die twee tydperke skei nog steeds die lewe van Jesus Christus.

Hierdie Jesus wat die geskiedenis kom verdeel het, is die oplossing vir ons toekoms.  Hy is God se denke, God se Plan en God se Wil.  Kyk na sy lewe op aarde as jy wil weet hoe God lyk. 

Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie.  (Kolossense 1:15)

Dit is wat ons wêreld nodig het.  Ons wil die volmaaktheid, genesing, vrede en vreugde van die hemel hier op aarde beleef. 

Laat U koninkryk kom…laat U wil geskied… op aarde net soos in die hemel.

Hoe sal ons dit laat gebeur?

Die antwoord is herlewing.

Herlewing is die herstel van die kerk van Jesus oor alles denominasies heen tot ‘n kragtige, effektiewe en lewendige verhouding met God in al die fasette van die lewe.  Dit gaan gepaard met massa-bekering wat ‘n  positiewe morele en geestelike impak op die gemeenskap het.

Oor die geskiedenis heen was daar heelwat herlewings.  Net na die groot Protestantse Hervorming, wat deur Martin Luther gelei is en ten doel gehad het om die mense weer by basiese geloof in God en Bybelse leef-beginsels te bring, het die Wesley-broers in Engeland ‘n belangrike rol gespeel om ‘n geestelike verdieping te verkondig.  Die herlewing in Amerika rondom die Burgeroorlog in 1860 het amper vyftig jaar geduur en was ‘n belangrike voorloper vir die Pinkster herlewing wat aan die begin van die twintigste eeu begin het en die afgelope honderd jaar voortduur.  Dink maar net aan die wonderlike aanbiddingsliedere wat oor die afgelope vier dekades met ‘n konstante vloei van kreatiwiteit die kerke met musiek vul.

In Suid-Afrika het die herlewing in die NG Kerk in 1860 op Wellington begin en onder Andrew Murray se prediking en skrywe momentum gekry.

Deel van die begin van die vorige eeu se herlewings was die Walliese herlewing van 1904 en Azusastraat in Kalifornië in 1906, wat ‘n terugkeer na die beginsels en wonders van die Eerste Eeu Kerk van Handelinge ervaar het.  In Wallis het mense op strepe gesteelde goedere teruggegee, die kroeë het leeggeloop, alkoholisme is genees, finansies herstel en die howe was skielik tjoepstil.  Die impak op die gemeenskap was geweldig.  Baie van ons gewyde sang kom uit daardie tyd.  Vandag nog, sing die Walliesers graag en sing sommer maklik ‘n geestelike lied by ‘n sokkerwedstryd.

Al hierdie gebeure is gekenmerk deur gebed.  Die geestelike verval en diep behoefte van mense, het gewone mense laat bid.  Vir dekades het die ouer Andrew Murray wat in Graaf Reinet bedien het, elke Vrydagaand vir herlewing gebid.  Sy kinders het by die studeerkamer se deur geluister hoe hy na God uitroep vir herlewing in Suid-Afrika.  As hy klaar gebid het, was hy in ‘n vreugdevolle bui en die kinders het uitgesien na speletjies en pret saam met hulle pa.  Hy het die jonger Andrew Murray se versoek om ‘n doktorsgraad in Duitsland te gaan doen, na sy studies in Skotland (Aberdeen) en Nederland (Utrecht) geweier omdat die geestelike behoefte in Suid-Afrika te groot was.  Die jong Andrew Murray het in Bloemfontein begin bedien, omdat hy te jonk was om in die Kaap georden te word. 

Op die Naude plaas in die Breerivier-distrik het die seun Jan en sy niggie saam met een van die plaaswerkers, Saul Pieterse bidure gehou.  Jan se niggie was so ontsteld oor die geestelike toestand van die plaaswerkers dat sy vir een week aanmekaar vir herlewing en geestelike verdieping gebid het.  Kort daarna het die Heilige Gees baie duidelik in een van die bidure beweeg.  Mense het spontaan op hulle knieë geval en die Here om vergifnis gepleit.  Genesings het plaasgevind en die mense het na die bidure begin stroom.  Drie maande lank is alle plaaswerk opgeskort net om die bidure te akkommodeer wat vier en twintig uur van elke dag aangehou het.  

Kort daarna het ds De Vries as ooggetuie geskryf dat ‘n biduur van Andrew Murray op Wellington deur sulke spontane gebed gekenmerk is.  De Vries self het in die begin van die biduur ‘n dreuning gehoor wat nader en nader gekom het totdat dit gevoel het asof die hele gebou geskud word.  Andrew Murray self het probeer om die mense stil te maak en orde te herstel.  Een aand toe dit weer gebeur het, het ‘n man wat agter in die kerk was, Andrew Murray genader en in Engels gesê: ” I think you are the minister of this congregation: be careful what you do, for it is the Spirit of God that is at work here. I have just come from America, and this is precisely what I witnessed there.” 

Die magtige werk van die Here is wat ons begeer Bodemklipvriende.  Ons verkondig ‘n almagtige God vir wie daar niks onmoontlik is nie.  Ons God is die oplossing vir die wêreld.  Ons weet wat Hy kan doen.  Ons ken sy wonderwerke en ons het die Bybel as onderrig vir sy kragtige dade.  

Dit mag dalk wees dat jy gemaklik voel en nie die ongemak, wat as “fanatiese fundamentalisme” beskryf kan word, in die kerk wil ervaar nie, maar ons kan nie met ons eie gemak die werk van God keer nie.  Ons wil ons eie gemakzone en kerk-idees opsy skuif en plek maak vir die ware werk van die Heilige Gees.  Dit is nie sommer enige goedkoop opsweping nie.  Dit is ‘n ruimte in ons hart vir God se waarheid, wonderwerke en saligheid vir die mensdom wat dit so nodig het.

Herlewing is in ons hand.  Ons kan bid, net soos die doodgewone mense wat magtige herlewings in die verlede afgebid het.  Die werk van die Heilige Gees bring nie net ongereddes tot bekering nie; nominale Christene word opgewek tot nuwe toewyding en vervulling.  Die werk van die Heilige Gees is soms oorweldigend en dalk onverstaanbaar.  Moenie dat dit weerstand bring nie.  Jesus het vir Nikodemus gesê dat die Gees is soos die wind.  Hoor weer Jesus se woorde aan sy nagtelike besoeker. 

Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.

Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie.

Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”  (Johannes 3:5-8)

Herlewing is nie altyd ordelik en beheerbaar nie.  Dink net hoe oorweldigend die gebeure van Pinksterdag, die geboorte van die Kerk, was.  

As jy onseker is oor wat gebeur, gaan terug na die Bybel toe en vra God om jou te lei.  Ons hoogste gesag is die geskrewe Woord in ons hand. Alles wat gebeur moet met die Bybel belyn word.  

Die resultate van ware herlewing is altyd in lyn met God se Woord.  Dit is die toets.

Moet julle nie aan drank te buite gaan nie; daarmee gaan losbandigheid gepaard. Nee, laat die Gees julle vervul,  en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here.  (Efesiërs 5:18,19)


One thought on “236. Toekomsbeplanning vir oorvloed

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s