228. Die Prys-pad

Dinge begin oopmaak nè?  Die paaie raak besiger en ek is dankbaar.  Inderdaad, dankbaar vir verkeer.  Dit voel normaal.  Die stilte was grillerig.  Verlate strate, geslote besighede en winkels, spookagtige figure met maskers in die supermarkte wat soms selfs oogkontak vermy.  Ek het soms melaats gevoel, draer van dood, al was ek nie eers siek nie.  Een oggend vroeg toe ek uit die supermark loop en my masker afpluk, toe glimlag ek vir ‘n vrou wat deur die ander deur inloop.  Sy het summier haar eie masker afgetrek en terug geglimlag.  Dit was wonderlik!

Ons moet almal ons lewe weer optel.  Bo alles moet ons almal weer werk.  Ek weet van baie mense wat dwarsdeur alles aangehou werk het.  Dit was sulke tipe werk wat alles aanlyn kon gedoen word.  Die mediese personeel wat in hierdie tye op die voor front van die “oorlog” teen die virus was, het ek diep respek en bewondering.  Daar was egter ‘n groot gros mense wat gedwonge moes tuisbly met verkreupelende bekommernis en vrees oor die toekoms en inkomstebronne.  My hart het gebreek vir duisende wat net na ‘n paar dae in die krisis, honger in die gesig gestaar het, met geen uitkoms of plan.  Almal van ons moet aanpassings maak en ons lewe in ‘n post-virus, geen waarborge-wêreld uitbeitel.

Hoe sal ons voortgaan?  Sal daar ‘n tweede fase wees? Was die ekstreme reaksie om lande se ekonomiese bedrywighede so tot stilstand te ruk die regte een?  Jy mag dalk sê: Moenie bekommer nie. Ek is ‘n Christen; ek sal bid; ek weet wat om te doen.  Jy is heeltemal reg, natuurlik.  Gaan voort en bid, maar bedink die volgende.

Daar is ‘n pad op hierdie aarde.  Dit word die Prys-pad genoem.  Dit is die hoogste vorm van gebed.

Daar sal ‘n grootpad deur die woestyn loop en dit sal bekend staan as die gewyde pad. Onrein mense sal nie daarop loop nie, dit sal net wees vir mense wat reg lewe; dwase sal nie meer op die pad kom nie.  (Jesaja 35:8)

Gewyd of heilig beteken om afgesonder te wees vir ‘n spesifieke doel.  Dit impliseer nie ‘n onbereikbare doel van ‘n foutlose lewe nie.  Dit is ‘n pad wat ons self kies om te volg, wat ons in ‘n ander rigting as die van die wêreld neem.

Dink vir ‘n oomblik oor jou lewe na.  Is dit die lewe wat jy jou voorgestel het?  Dink aan die drome en aspirasies van jou jeug.  Wat was toe jou ideale lewe?  Het dinge dalk baie ander uitgedraai as wat jy jou voorgestel het?

Dink oor Leah.  Sy is ‘n pion van bedrog.  Haar lewe is liefdeloos.  Sy word as bruid vir Jakob aangebied deur haar pa in sy verneuk-plan met Jakob.  Sy noem haarself die ongeliefde.  Sy stry vir die liefde van haar man en ding mee met haar suster waarop sy keuse eintlik geval het.  Ek is seker dis nie wat sy gedroom het sou gebeur nie.  Sy het haar eerste drie seuns en hoop dat sy daardeur die goedkeuring wat sy na smag, sou kry.  Sy het nie keuses nie.  Haar lewe bied haar geen uitkomkans nie.  Sy moet die “kaarte” wat aan haar gedeel is, speel.

Toe die Here sien dat Jakob nie vir Lea liefhet nie, het die Here vir haar kinders gegee, terwyl Ragel kinderloos gebly het.

 Lea het swanger geword en ‘n seun in die wêreld gebring en hom Ruben genoem, “want,” het sy gesê, “die Here het my smart raakgesien. Nou sal my man my liefhê.”

 Lea het weer swanger geword en ‘n seun in die wêreld gebring en sy het gesê: “Die Here het gehoor dat ek nie liefde ontvang nie. Daarom het Hy my hierdie seun gegee.” Sy het hom Simeon genoem.

 Sy het weer swanger geword en ‘n seun in die wêreld gebring. Toe sê sy: “Na hierdie keer sal my man aan my gebind wees, want ek het nou al drie seuns vir hom in die wêreld gebring.” Daarom het sy die seun Levi genoem.

 Sy het nog ‘n keer swanger geword en ‘n seun in die wêreld gebring. Sy het gesê: “Hierdie keer prys ek die Here.” Daarom het sy die seun Juda genoem. Daarna het sy vir eers nie weer kinders gehad nie.  (Genesis 29:31-35)

Vier seuns was ‘n waarborg vir sukses in die antieke wêreld.  God se liefde vir Leah word weerspieël in die feit dat sy die moeder van die priesterlike en koninklike stamme van Israel is.

Juda beteken prys en uit hom kom die mees belangrike stam van Israel.  Jakob spreek belangrike woorde in seën-spreke oor Juda.

Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer: jy sal jou vyande onderwerp en jou broers sal voor jou buig.

Jy is ‘n leeu, my seun Juda, wat van die prooi af wegstap. Jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos ‘n leeu, soos ‘n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie.

Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp.  (Genesis 49:8-10). [Silo = een wat heers en dit wys op Jesus)

Dit is inderdaad ‘n verhewe seën oor Juda.  Sy broers sal hom prys, hy sal heers oor sy vyande, hy sal die koninklike septer dra en die wetgewer by hom hê.  Uit Juda kom Dawid, die grootste koning van Israel en uiteindelik Jesus, wie se lewe en woorde ‘n lofsang aan die Vader was.

Juda lei die Israeliete deur die woestyn.

Die hele kamp onder leiding van Juda, ingedeel in leërafdelings, is altesaam 186 400 weerbare manne. “Hierdie drie stamme moet altyd eerste versit.  (Numeri 2:9)

Juda het die kampanje in Kanaän gelei (Rigters 1:1-19).

Juda het eerste Dawid as koning besing (2 Samuel 2:1-11).

Alles net oor sy ma die Here geprys het.

 Prys is die oplossing vir droë tye.  Toe Israel by die put in Beër aankom was daar nie water nie.  Dit is geweldig as mens voorsiening uit ‘n bron verwag en die bron stel teleur.  Onthou ons gesels oor die gate wat hulle moes grawe in 2 Konings 3?

Natuurlik moet ons bid.  Die Here sê: Bring die volk bymekaar, ek sal vir hulle water gee.

Daar is krag in die liggaam van Jesus.  Roep die gebedsweermag op.  Maar luister aandagtig.  Kyk wat hulle doen.

Die mense het vir die put gesing.

Israel het toe hierdie lied gesing: “Put, lewer jou water,

en ons sal daarvan sing!

Put wat deur leiers gegrawe is,

wat deur vernames van die volk oopgemaak is

met septer en kierie.”  (Numeri 21:16,17)

Die les hier is om nie alleen te bly in tye van krisis nie.  Kry die kragtige insette van jou vertroueling-vriende bymekaar en prys Jesus oor jou omstandighede.  Dit is wat ons moet doen in tye van angs, depressie en druk.

Sing ‘n lied van dankbaarheid oor die verlede en al die uitkoms en seën wat die Here reeds aan jou gegee het en ‘n lied van geloof oor die toekoms vir die beloftes van God wat Hy sal waar maak.

Hierdie Prys-pad sal jou in die teenwoordigheid van die Vader inlei.  Ons weet dit omdat die lied wat Dawid al dansend voor die Verbondsark uit in Jerusalem gesing het, het hom in die teenwoordigheid van die Here ingelei hoewel hy nie streng gesproke eers naby die omgewing van die plek waar die Verbondsark gehou word, mag gekom het nie.  Net die hoë priester mag een maal per jaar by die Ark ingegaan het in die Allerheiligste deel van die Tempel.  Dawid se hart en begeerte om in die teenwoordigheid van die Here te wees, is so oorweldigend en so opreg dat God dit nie net toelaat nie, maar seël met sy goedkeuring. (1 Samuel 13:14)

Dawid prys God se andersheid, sy heiligheid.  Sy fokus is op God en sy karakter.  Die lied sing van die misterie van God se weë.  Sy weë en gedagtes is hoë as ons s’n. (Jesaja 55)

Prys die Here om die eer van sy Naam! Kom na Hom toe, bring vir Hom offers! Buig voor die Here by sy heilige verskyning;  betoon eerbied aan Hom, almal op aarde.

 Die wêreld staan vas, dit wankel nie.

Die hemele moet bly wees en die aarde moet juig, hulle moet onder die nasies verkondig: “Die Here regeer.” [Verklaar God se gesag oor jou lewe]

 Die see en alles daarin moet druis, die veld en alles daarop moet jubel,

die bome in die bos moet hulle verheug voor die Here, want Hy kom om oor die aarde te heers. [Die natuur getuig saam van die goedheid van God]

 Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie! [Verklaar dit oor die toekoms]

 Julle moet sê: “Red ons, o God, ons Verlosser, maak ons bymekaar, red ons van die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons in u lof kan verheug.” [God regeer oor nuusgebeure, leuens, vals beriggewing, dubbel standaarde en die algemene sotheid van dwase mense]

Aan die Here die God van Israel kom die lof toe van ewigheid tot ewigheid! Toe het die hele volk gesê: “Amen! Prys die Here!” (1 Kronieke 16:29-36)

‘n Lofsang aan God laat jou in oorwinning leef VOORDAT enigiets om jou verander het.

Die tema van hierdie lied van Dawid is dieselfde as die lied van die serafs en die engele (Jesaja 6:3; Openbaring 4:8).

Sulke woorde hou ons in lyn met wat God is en nie ons eie self nie.  Dit styg bo die beperkinge van die aarde en alles wat hier in gebrokenheid gebeur uit.

God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.

Daarom is ons nie bang nie, al gee die aarde pad, al skuif die berge tot in die dieptes van die see, al druis en skuim die waters van die see, al skud die berge deur sy onstuimigheid. Sela.(Psalm 46:2-4)

As jy gelees het tot op hierdie punt, wat ook al jou omstandighede mag wees – skryf ‘n loflied.  Roer jou innerlike psalm-skrywer vaardighede.  Gaan sit op ‘n stil plek en skryf.  Lees die Psalms vir idees.  Skryf die frases in die Psalms neer en oefen om die Here te prys…oefen… tot dit vanself kom.

Dankie Here vir U groot en magtige dade.  Here, wie is soos U….


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s