98. In die boekrol is alles opgeskryf.

Die wêreld het meer kits-inligting beskikbaar vandag as enige tyd in die geskiedenis. Google is ‘n werkwoord, letterlik die woord wat werk en hy werk hard. “Google dit”, sê mens as die flieknaam jou ontglip, as jy sinonieme nodig het, as jy die naam van die derde Britse koning na Cromwell soek. Wat ookal jy wil weet, het iemand neergeskryf en beskikbaar gemaak op die wolk van inligting wat ons aarde bedek,.

Ek wil dit waag om te sê dat Openbaring die “Google” is van alles wat werklik saak maak. Dit is die diep waarheid wat ons oorlewing en oorwinning hier op aarde verseker. Die woorde van die visioen is ‘n rykdom van inligting, oor die tweeduisend jaar gelede opgeteken, wat ons wêreld verklaar en ons toekoms waarborg. Dit is die mees unieke literatuur moontlik, dikteer deur die Outeur, Jesus en opgeteken deur die outeur, Johannes.

Ons lees Openbaring 5 en “sien” saam met Johannes Jesus se aankoms in die hemel na die kruisiging. In die regterhand van God, die simbool van gesag en mag, is die boekrol van die geskiedenis, op die voor- en agterkant vol geskryf. Dit is volledig en geseël– niks kan bygevoeg of weggeneem word nie.

In die Romeinse reg was net die laaste testament van ‘n persoon met sewe seëls geseël, een vir elke getuie. Al die getuies moes teenwoordig wees as die seëls gebreek word en die testament gelees word. Gewone dokumente het slegs een seël gehad. In hierdie geval het ons ‘n baie spesiale dokument: die boekrol waarin die ganse geskiedenis van die mensdom en God se saligheidsplan opgeskryf is, wat nou deur Jesus openbaar word as oorwinnaar oor die dood en hel. Die sewe seëls verteenwoordig al die gevolge van sonde en ongehoorsaamheid.

Geen lewende wese, in die hemel of op die aarde is waardig om God se plan in die volheid van die tyd uit te voer nie.

Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. (Efesiërs 1:9,10)

Dit is werklik die aarde se tragedie. Niemand is waardig nie. Johannes ervaar die diep teleurstelling en hartseer hieroor en huil. Die belofte van die Messias was dikwels ‘n bron van frustrasie. Verwagtinge is teleur gestel en vals Messiasse het die mense mislei. Die hoop op die belofte moes meerdere kere deur die profete aangespreek word om die geloof van die volk aan te moedig en verwagtinge te laat herleef.

Die Here God doen niks as Hy nie sy besluit bekend gemaak het aan sy dienaars die profete nie. (Amos 3:7)

Binne die visioen is daar ‘n plek van ontvangs. Buitestaanders sal niks kry nie. Hulle leef in onkunde en verwarring volgens Efesiërs 4:17-19:

In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.

Is dit nie ‘n skrikwekkende en akkurate beskrywing vna die post-moderne mens wat ons geloof as feëverhale afskryf en spottend in gedagtes volhard wat tot niks lei nie. Dit is waarmee die kind van God te doen het op ‘n daaglikse basis in die geestelike realm. Hulle word gevangenes van hulle eie wêreldbeskouing, sonder ware kennis en sonder insig in omstandighede. Hierdie staat van onwaardigheid is die gevolge van ongehoorsaamheid en vir Johannes, soos vir ons, is dit oorweldigend, maar…

Daar is troos vir die desperate uitroep van onwaardigheid in die goddellike Plan. Een van die ouderlinge, met ander woorde, die kerk, het die kennis van Jesus en Hy is die oplossing vir alles. Jesus se eie woorde op aarde het so dikwels vertroos en genees. “ Moenie huil nie” het Hy vir verskeie mense gesê. Die kerk weet, in Sy teenwoordigheid word die trane afgedroog. Die ware kerk van Jesus is die veilige hawe waar troos en bemoediging geloof versterk en verwarring en verwonding genesing vind.

Menslike droefheid is die gevolg van gebrekkige kennis en visie. Ons ontbreek geduld, vertroue en volharding om te wag op die belofte van uitkoms en oorwinning. (Hebreërs 10:36) Jesus is waardig om die diep geheimenisse van God te openbaar. Hy neem die boekrol waarin ons toekoms verseker is en werk dit uit. Wees sterk en volmoed! Ons is in die hande van die Waardige een. Daar is geen beter plek moontlik nie.

Jesus word voorgestel as die Leeu uit die stam van Juda, die afstammeling van Dawid. Dit is presies hoe Hy voorgestel word in die geslagsregister in Matteus 1, sodat elke Israeliet sal weet Hy is die Een wat hulle verwag het.

‘n Takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai, ‘n loot uit sy wortels sal vrugte dra. (Jesaja 11:1)

Die Messias sal ‘n kombinasie van goedheid en krag wees. (Jeremia 23:5, Sagaria 3:8.)

In plaas van die leeu wat hy verwag, sien Johannes ‘n Lam, asof hy geslag is, maar duidelik lewend, want Hy staan tussen die vier lewende wesens. Dink net daaraan dat Jesus sy wonde ook in die hemel dra. Dit is die Plan van God in vervulling; dood met ‘n doel om die hele mensdom te red, sonder beperking of uitsluiting. Sy dood en lewe was altyd en sal altyd vir almal wees.

Die sewe horings simboliseer allesomvattende gesag, almag en eer. (Psalm 89:17,112:9, 148:14.) Sedert die woestyntabernakel plaas die priester die bloed van redding op die horings van die altaar.

Hy smeer ook van die bloed aan die horings van die wierookaltaar in die teenwoordigheid van die Here in die tent van ontmoeting. (Levitikus 4:7,18,25)

Die bloed is die krag van redding om los te koop uit sonde en die skuld te betaal wat ons nie kon bybring nie. In die tyd van die konings van Israel kon ‘n mens die horings van die altaar vasgryp om die doodstraf te ontwyk. (1 Konings 1:50 en 2:28)

Die sewe oë simboliseer volledige kennis, wysheid en insig. (Jesaja 11:2)

In Daniël 7:9 -14 beskryf Daniël die Oue van Dae in wie se teenwoordigheid die boeke oopgemaak word.

Die Lam is die fokuspunt van die toneel. Jesus word 29 keer in die Bybel die Lam van God genoem. Jesaja (53:7) en Jeremia (11:19) beskryf Hom as die lam wat na die slagting gelei word.

Aanbidding is die reaksie op hier majestieuse toneel wanneer alles wat asem het, die ouderlinge en ook ons gebede die Here aanbid. Wierook is die simbool van gebed. Ons gebede is voortdurend voor die troon in die wierookaltaar.

Die goue bakke van wierook is die gebede van die heiliges – dis ons.

Mag my gebed voor U wees soos ‘n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos ‘n graanoffer in die aand. (Psalm 141:2)

‘n Nuwe lied word gesing. ‘n Lied wat nog nooit vantevore gesing is nie – nuut in kwaliteit. (Psalm 33:3, 40:3, 98:1, 144:9, 149:1, Jesaja 42:1-13)

Op hierdie punt is dit waardevol om onsself weer uit die beperkinge van aardse tyd uit te plaas. Hierdie grootse en majestieuse toneel speel af in die onsienlike, waar ons gebede, saam met die heiliges van alle tye voor die Troon van God, Jesus aanbid.

Ons is die konings en priesters wat nou regeer. Ons voorbidding, geestelike oorlogvoering en lewe van geregtigheid regeer oor die aarde, binne in die gebrokenheid. Ons getuienis is die oorwinning oor die bose. (Openbaring 12:11)

Hoor weer die woorde wat ons beskryf:

Julle, daarenteen, is ‘n uitverkore volk, ‘n koninklike priesterdom, ‘n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. (1 Petrus 2:9)

Die getalle in Openbaring is simbolies van oneindigheid en ontelbaarheid (5:11) Net die Here kan sulke berekeninge doen. Hy is El Shaddai – die God van oorvloed. Daar is altyd meer as genoeg.

Die hele skepping, op die aarde en onder die aarde, elke moontlike wese sal die Here prys. Elke knie sal buig en elke tong bely. (Filippense 2:10) Die skepping is ingestel om God te prys. Dit sien ons reeds in die onbevraagde ritme van die seisoene en getye, die saai- en oestye, die sterre en planete, die verloop van die natuur se voortplanting en vernuwing. Almal sing saam in die heelal-koor om elke kenmerk van God te aanbid en te besing. Sy karakter is ondeurgrondelik en altyd nuut, sodat daar altyd nuwe openbaring is om te aanbid. Die ganse geskiedenis beweeg na ‘n punt van erkenning van Jesus en wie Hy is. So sing ons AMEN – dit is waar.

Die harp was ‘n bekende instrument van die sangers en koorleiers van ouds. (Psalm 147:7)

Ons gebede is voor die Troon by God. Daar is geen ander middelaar nodig nie. Jesus is ons middelaar. Hy het die deur na God geopen. Ons kan ingaan deur die Bloed van die Lam. Prys die Here!

Ons sing saam:

U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.

 “Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang.”

 “Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid.”

96. Hemel is hier.

Die woord “hemel” word op soveel maniere gebruik. Boeke en flieks het dikwels die woord  in hulle titel of hemel die tema is of nie. In die volksmond is die hemel ‘n vae plek van volmaakte vrede, iewers in die heelal in die heel mooiste tuin met blomme, bome en water soos wat mens nie eers in jou beste verbeeldingsvlug kan optower nie. Al die prag en wonder is slegs vir Christene toeganklik en vir sommige Christene is die hemel slegs vir seker denominasies toeganklik!

Die eenvoudige definisie is die plek waar God woon en waar goeie mense heengaan na hulle dood; ‘n baie aangename plek. In ‘n voller definisie van die woord kom mens nader aan groter konsepte wat met die woord assosieer word. Die uitspansel wat oor die hele aarde ‘n koepel vorm; die woonplek van die Godheid en die regverdige afgestorwenes.

‘n Bietjie dieper krap in die woordeboek bring mens by die definisie wat ek baie bevredigend vind. Hemel is ‘n geestelike staat van ewige gemeenskap met God, ‘n denkpatroon waarin sonde afwesig is en harmonie met die goddellike manifesteer. As ek dit in kort mag opsom: hemel is waar God is en hel is waar God nie is nie.

 Meeste mense dink die hemel is ‘n ver plek in hierdie oneindige heelal wat ons skaars verstaan waar al die prag en praal van Openbaring ervaar word. Ek dink dit ook en rek my verbeelding om net ‘n breukdeel daarvan in my gedagtes te skilder. Meer belangrik is dat ek weet die hemel is reg hier by my in die onsienlike, waar al die glorie en grootsheid in my hart en in die geestelike realm in onderwerping aan die Heillige Gees vir my ‘n werklikheid word, sodat ek in die gees kan “sien”.

Dink net vir ‘n oomblik waar Johannes fisies was toe hy majesteit en galnsryke glorie van die visioen ervaar het.

Romeinse tronke en strafkolonies soos Patmos, was maar meestal ‘n voorspel tot die dood. Johannes is soontoe verban onder heerskappy van die mal, wrede Dominitianus sonder hoop op terugkeer. Dominitianus se opvolger, Nerva, herroep meeste van die belaglike wetgewing van sy voorganger en Johannes word vrygelaat – ‘n wonderwerk. Daar op Patmos moes Johannes baie ver van die hemel af gevoel het, terwyl hy die onbeskryflike in sy gees ervaar het.

In die oomblik nadat hy die komplimente en korreksie aan die kerke aangehoor het, en miskien moedeloos was oor sy eie toestand en die praktiese kommunikasie met die kerk, so onbereikbaar van die eiland af, hoor hy ‘n roepstem soos ‘n trompet wat ‘n oop deur aan hom wys. Die deur is oop nie net na ‘n plek van wonderbare skoonheid nie, maar na die Troonkamer waar God is. In sy beskrywing gebruik hy elke beeld, simbool, metafoor, gelykenis, fabel en bygeloof wat in die antieke wêreld rondgegaan het en bekend sou wees. Vir hom is die belangrikste om dit wat hy sien te kommunikeer en in verstaanbare taal die oorweldigende grootsheid oor te dra.

Hoeveel maal in ons lewe word ons platgeslaan deur omstandighede en slegte nuus? Net soos Johannes het ons nodig om die stem te hoor wat ons hoër roep.

Kom op hierheen, en Ek sal vir jou wys… (Openbaring 4:1)

By die Here in Sy teenwoordigheid is die antwoord vir die boosheid en wreedheid wat ons afrem. ‘n Hemelse perpektief verhef ons uit verwarring in verwondering in. Dit rus ons toe met wysheid en krag sodat ons in aanbidding daardie ou lied kan sing: …and the things of this earth grow strangely dim, in the light of His glory and grace.

Drie deure word in hierdie eerste hoofstukke van Openbaring genoem:

 

  • Die deur van geleentheid – Philadelphia (3:8)
  • Die deur van die mens se hart – Laodicea (3:20)
  • Die deur van openbaringskennis -( 4:1) om die kennis van God bekend te maak.

Die hemele is oop om die openbaring van God te ontsluit, om in die onsienlike in te sien.

Die hemel het oopgegaan en ek het gesigte gesien wat van God af kom. (Esegiël 1:1)

Jesus praat van die hemele in Matteus 18 en bedoel die onsienlike geestelike realm hier om ons. Daar is niks om te bind in Sy woonplek nie – dis reeds perfek en sondeloos, maar hier in die geestelike realm om ons is die demoniese aktief. Afstand is geen kwessie in die geestelike realm nie. God is nooit laat nie an al voel dit asof die belofte traag is, dit sal kom. (Habakkuk 2:2) Sy woord keer nooit ledig terug nie.

Die hemele is oop vir die Heilige Gees net soos by die doop van Jesus (Markus 1:10). Die hemele is oop om die glorie van God te openbaar soos aan Nataniël belowe is in Johannes 1:51.

God op die Troon word in elke hoofstuk van Openbaring genoem behalwe 2,8 en 9. Dit was ‘n algemene beeld in die Ou Testament. 1 Konings 22:19, Psalm 47:8, Jesaja 6:1 beskryf dit as ‘n simbool vir die majesteit van God. Die trompet is ‘n klank wat nie ignoreer kan word nie, en tradisioneel die oproep tot aksie of vergadering.

Daar word geen poging aangewend om God te beskryf nie. Hy het geen menslike vorm nie. Hy word met lig beskryf soos in Psalm 104:2 en 1 Timoteus 6:15,16:

Sy verskyning sal op die bestemde tyd plaasvind. Daarvoor sorg God, die goeie en enigste Heerser, die Koning van die konings en die Here van die heersers. Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag! Amen.

Die lig word reflekteer in die kosbare stene soos in Esegiël 28:13 genoem word. Dit herinner ook aan die stene in die borsplaat van die hoë priester in Exodus 28:17. Dit is die fondament van die Nuwe Jerusalem (Openbaring 21:19).

Jasper was deurskynend soos ‘n diamant, helder en vlekloos. Sardis is bloedrooi en spreek van woede en oordeel. Die smarag is groen en spreek van genade, die oorheersende kleur van die reënboog, simbolies van die verbondsbeloftes en getrouheid.

Ek het eenmaal ‘n getuienis gehoor van iemand wat in die hemel was in ‘n droom of visioen. Sy het vertel dat die kleure geur het. Hoeveel wonder is daar nog vir ons om te ontedek in ontelbare dimensies en gees-verskerpte sintuie?

Die 24 trone met die ouderlinge is die 12 stamme en die 12 apostels – die Jode en die kerk – gekleed en gekroon. Sommige kommnetators stel voor dat dit net die kerk is en die apostels word vermeigvuldig met die dubbele seën, so bekend deur die ganse Skrif.

Hulle wit klere is ‘n simbool van liggaamsbedekking wat in die Bloed van die Lam gewas is in die kleur van die hemel (wit). Goue krone verteenwoordig elke moontlike kosbare seën en oorwinning in Christus.

Donder en weerligstrale is altyd met die majesteit en grootsheid van die Teenwoordigheid van God assosieer. (Esegiël 1:13, Psalm 77:18, Job 37:4. Exodus 19:16)

Die sewe lampe is die sewe geeste van God. Sewe word genoem om die volheid en allesomvattende aard van die Heilige Gees te beklemtoon. Die syfers in Openbaring is simbolies. Vuurfakkels was altyd die simbool van die Heilige Gees. (Handelinge 2:3,4 en Lukas 3:16) Jesus doop met die Heilige Gees en met vuur.

Die spieëlgladde see word beskryf as helder soos kristal. In antieke tye was dit heel ongewoon om helder glas te vervaardig. Glas was dikwels dof en net die beste kwaliteit glaswerke was helder. Helder glas was amper soos edelstene. Die kombinasie van die konsepte see (groot en ongetem) en kristal (helder, lig en kosbaar) beskryf die almag en ontoganklikheid van God in Sy heiligheid. ‘n Bewussyn van Sy heiligheid is noodsaaklik vir ons verhouding met Hom. (Exodus 24:10)

Your judgments are a great deep. (Psalm 36:6)

Die lewende wesens is vol oë, ‘n rykdom van insig en waaksaamheid. Hulle weet alles, niks is verborge of geheim nie.

Daar is ook niks in die skepping wat vir God onsigbaar is nie; alles lê oop en bloot voor sy oë. en aan Hom moet ons rekenskap gee. (Hebreërs 4:13)

Die vier lewende wesens word beskryf as gerubs. Hulle bekleë die hoogste rang in die hemel se gesagsorde. Hulle vlerke beskerm die Troon van Genade op die Verbondsark in die Tempel. Dis geen verrassing om hulle hier by die Troon te sien nie. Een van hulle hanteer die bakke met plae (15:7) en gee dit aan die engel.

Hulle is die simbole van majesteit en moed (die leeu), krag (die os), intellegensie (die mens) en spoed, krag en wysheid (die arend). Die ganse natuur en die mens kom saam om God te aanbid. (Psalm 102:22) Hulle bestaan is in aanbidding; hulle bestaan om te aanbid.

Sommige kommentators sien die simboliese klem in die vier Evangelies. In Matteus is die klem op Jesus as afstammeling uit die stam van Juda – die leeu. In Markus is die klem op Sy menslikheid – die man. In Lukas is die klem op die offer vir sonde – die os en Johannes beskryf Jesus soos geen ander as die oplossing vir elke kwessie in antwoord op die filosofie en intellegentsia van die tyd. Die arend kan reg in die son kyk sonder om sy oog te knip.

Aanbidding is ‘n gewaarwording van wie God is. Sy heiligheid, almag en ewigheid bring ‘n nuwe perspektief in ons aanbidding. Net sodra die ouderlinge opkyk van hulle aanbidding, sien hulle ‘n nuwe rede om weer te aanbid en in die proses alles wat waarde vir hulle het (goue krone) voor God neer te gooi in volle oorgawe.

Dit is slegs met die insig van die Heilige Gees dat jy weet wat jy voor God moet neergooi. Hy openbaar aan jou wat jou vashou en verhinder om ten volle te aanbid – aardse welvaart, ego en trots, ambisie, tradisie, bygeloof…

‘n Hemelse perspektief in ons lewe is die enigste waardevolle besitting. Dit verdiep ons insig, vernuwe ons denkpatrone en maak ons sterk.

Here, mag ek U in U majesteit en glorie aanskou, waar U in volle beheer van my lewe regeer, sodat u goedheid en genade in my gestalte kry.

Wat kan ‘n mens aan my doen?

90. Alles wat saak maak – ons God is groot!

Na ‘n maand self-opgelegde vakansie, skryf ek met groot vreugde. In die Bybelstudie hier in my huis is ons besig met die boek Openbaring – ‘n ryk, heerlike en inspirerende ondervinding, net soos al die vorige kere wat ek betrokke was by ‘n studie van hierdie wonderbare blik in die onsienlike. Ek nooi julle uit om saam met my deur die apokaliptiese, wonder-wêreld van God se geheimenisse te vaar, soms stadig in verwondering, met trane van aanbidding en helderheid van groeiende begrip van die misterie waarvan die sluier lig.

Die naam van die boek sê alles. Johannes beskryf die onbeskryflike in ‘n poging om vir ons die raaisels van ons wêreld te verduidelik sodat ons nie in duisternis en chaos rondtas vir insig in die deurmekaarspul van wêreldpolitiek, oorlog, terrorisme, natuurrampe, wreedheid en lyding nie. In ons studie sal ons met die hulp van die Heilige Gees die hart van ons Vader sien.

Die goue tema van hierdie boek, waarin soveel van die simboliek van geheel van die Bybel opgeneem is, verkondig God se liefde en soewereiniteit, Jesus se koningskap en die almag van ons God om die gevolge van sonde te beheer en die mens daaruit te verlos.

Openbaring maak bekend en deel kennis, sodat ons nie in onkunde en ellende vergaan nie. Die optekening van Johannes se visioen verklaar en verduidelik sodat ons die wanorde van sonde kan verstaan en die taak of roeping wat vir ons, die kerk van Jesus, opgelê is, kan volvoer. Die kerk, die nuwe Jerusalem, is nie ‘n denominasie nie. Dit is die bloedgewaste kinders van God, met ‘n getuienis op hulle lippe, wat die vyand sal oorwin volgens Openbaring 12:11. Die Bloed van die Lam en die Woord van getuienis is nie georganiseerde godsdiens nie. Dit is die kosbare oorblyfsel wat die vaandel dra en die vervolging verduur.

Bodemklipvriend, moenie dink dat die kerk van Jesus nie meer vervolg en onderdruk word nie. Afgesien van die wrede vervolging in verskeie dele van die wêreld vandag waar Christenskap ‘n doodsvonnis is, is elke aanslag teen die beginsels en waardes van Jesus, vervolging vir ons. Dink maar net hoe ons soms oorweldig voel met die aanslag van boosheid in onderrig, akademie, filosofie, die kunste in alle vorme en die media op alle gebiede, familiewaardes, besigheid en selfs binne die kerk, om nie te praat van die vullis en besoedeling wat ons omgewing bedreig nie. Dit is die totale aanslag van boosheid in die gedaante van vernietiging, moord en roof op elke moontlike vlak van die samelewing.

Openbaring is ons handboek vir die wêreld waarin ons leef. Openbaring voorspel al die boosheid wat ons mee te doen het. Dit sien ons in die sewe seëls, die sewe trompette en die sewe bakke wat die gevolge van sonde uitspel. Alles gebeur onder die almag en volle beheer van die Troon. Die tydperke vir al die gebeure word uitgemeet en beperk. Onder die bedekking van ons Vader, is ons tye in Sy hand en ons reis op die aarde van chaos en verwarring, in die onsigbare Koninkryk van Sy teenwoordigheid. Net soos die ou Jerusalem Hom gekruisig het in ‘n poging om die doelstellinge van God te verongeluk, so is die nuwe Jerusalem, die kerk, die onoorwinbare voertuig van God se redding en verlossing wat boosheid stuit.

Voor ons begin met allerhande beelde, metafore, simbole en katastrofes moet ons gereed wees met die gondbeginsel van ‘n studie van Openbaring. In die woorde van die gebed van Richard van Chichester:

To know Jesus more clearly, to love him more dearly and to follow him more nearly.

 Die verheerlikte Jesus in al die glorie van Sy koninskap is die sentrale tema. Hy is in beheer van alles wat op die aarde gebeur en heers oor alles. Die inhoud van die visioen wat al die aakligheid van die gevolge van sonde uitspel, beklemtoon en verkondig die reddende genade van Jesus en die Kruis sodat Sy oordeel die mens kan red deur Sy bloed tot vergifnis en beloning. Sonde word geoordeel met een doel: om die weg te baan vir die verstommende genade en guns van ‘n liefdevolle God wat red en seën.

Niemand kan ooit sê hulle het nie geweet nie. Ons hoef nie in onkunde te vergaan nie. Ons weet wat om ons gebeur. Ons het insig en begrip in die heerskappy van die vals drie-eenheid en die gevolge van die aanbidding van die Draak, Slang, Bees en Valse profeet. Dit verklaar die chaos en leuens van ons wêreld. Ons is die kerk, die nuwe Jerusalem wat die boosheid stuit.

Apokaliptiese literatuur beskryf die geheel vernietiging van die wêreld in grootse, katastrofiese gebeure. Dit is ‘n tyd van krisis en groot gevaar met oorweldigende tragedie. In die boek Openbaring in ons Bybel is dit ‘n uitdrukking van hoop wat ‘n toekoms van volkome verlossing, gewaarborgde oorwinning en ‘n verhewe bestaan voorhou.

Die visioen wat Johannes opskryf is ‘n Heilige Gees-inspireerde poging om die onsienlike en onbeskryflike in menslike terme oor te dra.

Dit het te doen met twee tydperke – die hede en die toekoms. In die hede is ‘n God se genade ‘n keuse wat die mens kan uitoefen. In die toekoms is daar ‘n onvermydelike en onafwendbare ingrype van God.

In terme van die geskiedenis van Israel het dinge van sleg na slegter ontwikkel in die tyd wat die Openbaring opgeskryf is. Na die hoogtepunt van die Tempel van Salomo is dit ‘n tragedie van korrupte en teruggevalle konings, oorlog, ballingskap, stryd en bloedvergieting. Niks is wat dit moet wees nie en die volk leef met ‘n geweldige sin van verlies en ‘n hartseer verlange na verlore glorie wat herstel moet word. Teen die einde van die tweede eeu nC is dit gehate uithoek van die Romeinse Ryk, die ryk wat die voete van yster en klei in die visioen van Daniël is. Jerusalem is ‘n ruïne na ‘n wrede beleg en ‘n skrikwekkende oorlog waarmee die Romeine dekades se frustrasie met Juda wreek. Jode en Christene is of dood of slawe of hulle kruip weg in doodsangs.

 “History for the Jews was a catalogue of disasters from which it became clear that no human deliverer could rescue them”. [William Barclay]

 Apokaliptiese literatuur was gewild as ‘n uitdrukking van wraak en herstel. Dit kon as rebellie interpreteer word en daarom is dit dikwels in kode geskryf. Dit is kode wat bedoel was om ontsyfer te word deur diegene vir wie dit bedoel is.

Die profete het die wêreld se ongeregtigheid aangespreek en die mense opgeroep om God se plan vir saligheid en herstel te aanvaar om sodanig die wêreld te verbeter en die mensdom van sonde te red. Die apokaliptiese skrywers het geen hoop vir die wêreld uitgespreek nie en totale vernietiging en volle vernuwing verkondig. Meeste het onder vals name geskryf.

Openbaring is nie kronologies opgeteken nie. Die visioene van Johannes dien as ‘n opsomming van die ganse geskeidenis van die mensdom en kan op veelvuldige vlakke interpreteer word.

Hierdie studie is nie ‘n poging om al die moontlike interpretasies te ondersoek nie. Dit is glad nie ‘n dispensasionele verklaring van die boek nie. Daar is genoeg materiaal beskikbaar om verskillende menings van die moontlike toekomstige scenarios wat aan die tweede koms van Jesus geheg word, self op te lees.

Dit is net ‘n eerste stap om die “kode” te ontsyfer waarin die waarheid oorgedra word. In hierdie studie sal ons ‘n hele aantal simbole van die Ou Testament en die woorde van Jesus nagaan en toelig, aangesien dit die basis vorm van die metafoor, vergelykings en beelde wat die “kode” ontsluit en die boodskap verduidelik.

Onderneem sommer nou om weer en weer Openbaring te lees en te studeer. Dit is so ryk en omvattend dat ‘n mens nie in een studie met ‘n ligtelike regmerkie jou begrip van hierdie gebeure as volkome kan beskou nie.

In alles, met alles en om alles is Jesus – die kern van God se Plan vir die skepping, die Prins van die hemel, die Redder aan die Kruis, Oorwinnaar oor die dood en hel. Ons studie stel die fokus op Hom en Hom alleen.

Boosheid en sonde mag oorweldigend voorkom, maar dis beperk en oorwinning is reeds daar vir die wat dit kies.

‘n Studie van Openbaring is die oplossing vir alle onsekerheid en vrees.

Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Sion sê: Jou God is Koning! (Jesaja 52:7, OAB)

Ek het toe iets gehoor soos die geluid van ‘n groot menigte, soos die gedruis van ‘n groot watermassa en soos die gedreun van swaar donderweer. Hulle het uitgeroep: “Prys die Here! Die Here ons God, die Almagtige, heers nou as koning.

(Openbaring 19:6, OAB)

Johannes skryf onder sy eie naam as ‘n gesaghebbende boodskapper van Jesus self met die doel om die kerk te bemoedig en te bou. Die sleutel tot die beelde en metafore is welbekende simbole in die Ou Testament en word 245 keer in Openbaring aangehaal. Die detail is verstommend en die goue storielyn word met omsigtigheid bewaar. Hy is apostel, profeet en pastoor, wyd gerespekteer in Efese waar hy saam met Maria, die moeder van Jesus, woon vanaf 70 nC tot sy dood. Efese is ‘n heidenstad met die Tempel van Diana (Artemis) wat ‘n argitektoniese wonder van die antieke wêreld was. Sy is die god van vrugbaarheid en word met seks aanbid, vandaar ‘n magdom tempelprostitute wat “diens” doen in die stad. Dink net hoe moeilik moes Christen moraliteit in die stad verkondig word.

Johannes gebruik beskrywende en dramatiese Grieks, maar die kenners kan agterkom hy dink in Hebreeus. Hy noem homself broer, sonder enige titel. Sy evangelie (wat hy na die Openbaring skryf) word onder die mees-gerespekteerde literatuur in die ganse geskiedenis beskou.

Paulus bepleit respek vir die owerhede en dikwels het die Romeinse reg en administrasie die vervolging van die Jode teen die jong kerk in toom gehou. In hierdie tyd wat Johannes skryf is daar openlike haat vir die Romeine. Rome word as Babilon gesien – ‘n simbool vir alles wat boos is. Tydens die eerste eeu was aanbidding in Rome redelik vry. Gaius Julius verklaar homself Caesar en opperheerser vir ewig. Sy militêre verowering en die gevolglike verspreiding van die Pax Romana (vrede en regspleging) maak ‘n verskil aan die gewone mens se lewe. Besigheid en boerdery kan in relatiewe vrede en regverdigheid bedryf word, met paaie en plaaslike regering wat die orde handhaaf. Dankbaarheid teenoor die keiser ontwikkel in spontane aanbidding en hy word verhef tot god. Na Julius Caesar is dit ‘n maklike stap vir die keiser om self te dink hy is god en net te veel daarvan te hou. Dit lei tot ‘n stelsel waarvolgens elke nie-Romein een maal per jaar voor die magistraat moet verklaar: Caesar is god. Hy kry ‘n sertifikaat daarvoor en mag vir die res van die jaar aanbid wie hy wil. Dit bring die Christene in groot moeilikheid. Nie al die keisers vereis die aanbidding nie. Tiberius skaf dit af, Caligula is ‘n mal sadis en vereis sy eie beeld in die Allerheiligste van die Joodse tempel. Hy is dood voor hy dit kon uitvoer. Claudius is teen keiser-aanbidding, Nero wil nie aanbid word nie, maar blameer die Christene vir sy eie swakheid, Vespasianus wil nie aanbid word nie, maar hy is die keiser wat Jerusalem vernietig. Titus vereis nie aanbidding nie. Dominitianus is die heel ergste. Hy het werklik gedink hy is god. Hy is die eerste persoon wat nie-aanbidders ateïste noem. Hy verban Johannes na Patmos en sy opvolger, Nerva, skaf al die mal wette af en laat Johannes vry – ‘n wonderwerk. ‘n Romeinse strafkamp was gewoonlik maar ‘n voorspel tot die dood.

Teen hierdie agtergrond kan ons begin lees. Johannes word voorgestel en ‘n seën word uitgespreek oor almal wat die woorde van die profesie HOOR. Let op, nie net lees nie, maar wel hoor. Dit is ‘n openbaring van waarheid. Dit is nie tegniese teologie wat verduister nie. Dit is die waarheid wat uit die Bron van waarheid verkondig word. God sit op die Troon van Genade. God se waarheid is Jesus.

Grieks vir openbaring is apokulupsisapo beteken wegneem en kalupsis beteken sluier. Die sluier word gelig om te openbaar. Dit is altyd ‘n werk van die Heilige Gees. Efesiërs 1:17. Openbaringskennis is ‘n gawe van God vir ontdekking deur die mens.

Die geskiedenis van die wêreld is nie toeval nie – alles is onder beheer en het ‘n doel. Eindtyd is naby (1:3) beteken dat dit nie in die toekoms lê nie, maar onmiddellik aan die gebeur is. Openbaring beskryf geskiedenis in beweging. Dit is wat ons nodig het om die chaos om ons te verstaan. Dit is ons toekomskaart en ons tydmasjien.

 

Volgende keer: Openbaring 1.

 

 

89. Alles is verkeerd!

Dis so maklik. Tel die koerant op en begin lees… en lees totdat jy in ‘n diep, donker bui besluit, niks loop reg nie. In die woorde van Dalene Matthee is jy “opgestop van onplesierigheid”. Jou standaarde vir ‘n goeie lewe, goeie regering, goeie besluite en goeie omgewing word in die rioolpyp van die wêreld ingespoel, sonder verskoning, sonder vergoeding. Selfbejammering en woede, kras kritiek en gewraakte kommentaar bars uit jou binneste, presies daar waar die strome van lewende water vir ‘n stukkende wêreld moet uitvloei. Wat het Jesus nou weer gesê?

These things I have spoken to you, that in Me you may have peace. In the world you will have tribulation; but be of good cheer, I have overcome the world.” (Johannes 16:33, NKJV)

As Jesus dit gesê het, dan is dit die waarheid en die gevolge gewaarborg. Moeilikheid is ‘n gegewe. Wil ons dan ons moeilikheid kies? Nee dankie, Here, net nie dit nie. Watse moeilikheid sou jy verkies? Ek wil uitroep: Here, my lewe is in U hand en daarom weet ek wat ookal oor my pad kom sal nooit vir my te veel wees nie.

No temptation has overtaken you except such as is common to man; but God is faithful, who will not allow you to be tempted beyond what you are able, but with the temptation will also make the way of escape, that you may be able to bear it. (1 Korintiërs 10:13 NKJV)

Hierdie wêreld is ‘n uitdaging. Miskien is ons nog te geneig om die geestelike van die vleeslike te skei. Ons voel geregverdig om sekere dinge buite ons beheer soos wêreldpolitiek, landspolitiek en die besluite van owerhede waaroor ons geen beheer het nie, te bespreek totdat ons in swartgalligheid verval en verhoed word om God se almag en beskikking binne die probleme raak te sien.

Dis nie ‘n lewe van geloof nie. Geloof en die uitdaging om vreesloos te leef is juis vir gevaarlike en onvolmaakte toestande. Die groter uitdaging is om dieper te kyk en te weet, wat ookal my omstandighede is, God is groter en Hy regeer. Ons lewe se doel is volmaaktheid in geloof en volwassenheid in Christus. As bekommernis en vrees ons nie lei na meer gebed, openbaringskennis en ‘n getuienis van die wonderwerkende krag van Jesus nie, leef ons ‘n tragedie.

My brethren, count it all joy when you fall into various trials, knowing that the testing of your faith produces patience. But let patience have its perfect work, that you may be perfect and complete, lacking nothing. (Jakobus 1:3-4, NKJV)

Daar is ‘n plek in die Tuin van Sy teenwoordigheid met groen weivelde en waters van rus met GEEN gebrek. Dit alles is joune – nou dadelik, op hierdie oomblik.

Paulus het baie gesukkel met die owerhede en vyande wat sy eie mense was. Hy praat van tears and trials…

… serving the Lord with all humility, with many tears and trials which happened to me by the plotting of the Jews; (Handelinge 20:19, NKJV)

Om nie te praat van Nehemia nie. Kom ons kyk saam na sy reaksie op oorweldigende negatiwiteit. Sy vertelling is vol besonderhede, sodat die leser geensins onder die verkeerde indruk kan verkeer nie. Die muur is voltooi, maar die deure van die poorte is nog nie gehang nie. (Nehemia 6).

Nehemia se vyande is aktief. Hulle aktiwiteit spruit uit hulle eie vrees. Jerusalem as ‘n ruïne, sonder verdediging en sonder georganiseerde bewoners, het hulle gepas. Nou verander die prentjie en hulle word bang. Die banges word boelies – ons weet dit mos. Hulle poog eers om Nehemia self by te kom, maar hy weier om die werk te los en van die leer af te klim – nie minder as vier keer nie. Sy antwoord:

Ek stuur toe boodskappers na hulle toe en sê: “Ek is besig met ‘n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?” (6:3)

Die vyfde maal stuur Sanballat ‘n brief wat nie verseël is nie, met die boodskap dat daar gerugte oor Nehemia is dat hy die koning van Jerusalem wil wees en daarom ‘n bedreiging vir die Persiese koning kan word. Die ongeseëlde brief was gemik daarop om Nehemia te laat dink dat die mense reeds die brief gelees het en alreeds die gerugte daarin versprei. Nehemia se antwoord – kort en kragtig sonder om sy tyd op storietjies te mors:

Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.” (6:8)

Nehemia kyk dieper. Hy het insig in sy vyand se strategie. Sy wysheid kom uit in sy kenmerkende skietgebed:

Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Sterk tog my hande, o God! (6:9)

Toe kom die aanslag uit eie geledere. Nie almal is so dapper en wys soos Nehemia nie. Hy kry sy krag uit voortdurende gebed. Hy ervaar God met hom en leef uit die insig wat hy by God self kry. Semaja, wat homself in sy eie huis toegesluit het, wil Nehemia oortuig om in die Tempel te gaan wegkruip as gevolg van die bedreiging van die vyand. Nehemia se antwoord:

Ek het gesê: “Sal ‘n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie!” (6:11)

Dit blyk dat Semaja deur Sanballat en Tobija omgekoop is om Nehemia se ywer om die werk klaar te kry, te neutraliseer. Nehemia se insig in sy vyand se vrees-strategie stel hom in staat om die bedreiging te weerstaan. Vrees kry net nie vastrapplek nie.

Vrees floreer in onsekerheid en twyfel. Nehemia se onwrikbare geloof in die taak wat op hom gelê is, stel hom in staat om doelgerig, met ‘n vaste vertroue op God se beskerming en voorsiening die taak te voltooi. Dit is ‘n kosbare beginsel.

Die vrees-strategie van die vyand is so oorweldigend, dat dit tot uit die geledere van die profete gekom het. Nehemia verkla hulle almal by die Here. (6:14):

My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak.

Die resultaat van sy toewyding is onbetwisbare sukses. Die muur is in rekordtyd voltooi – 52 dae. Die uitwerking van sy sukses op die vyand is ‘n vreugde om te lees. (6:16):

Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen. Hulle het toe geweet ons doen hierdie werk met die hulp van ons God.

Dit is ‘n goeie dag wanneer jou vyand se selfbeeld deur ‘n wonderwerk van God afgebreek word en hulle deur geknersde tande jou sukses in die Here moet erken.

Wat beteken hierdie antieke storie vir ons vandag?

As jy ‘n groot werk doen, klim jy nie af na vrees en intimidasie nie.

Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou. (1 Samuel 10:7, NAB)

Die sleutel tot ons lewenshouding met insig in die vyand se strategie van vrees is Psalm 37. Hierdie is die eerste paar verse uit The Message:

Don’t bother your head with braggarts

    or wish you could succeed like the wicked.

In no time they’ll shrivel like grass clippings

    and wilt like cut flowers in the sun.

Get insurance with God and do a good deed,

    settle down and stick to your last.

Keep company with God,

    get in on the best.

Dit is soms goed om ‘n ander vertaling te lees van woorde wat dalk tè bekend geword het. Ons ken mos die woorde van Psalm 37 van Sondagskooldae: Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom en Hy sal dit uitvoer.

Dit is ‘n lewenshouding wat net met die hulp van die Heilige Gees ontwikkel kan word. Ons weet ons het nie ‘n gees van vreesagtigheid gekry nie, maar van liefde, krag en selfbeheersing (2 Timoteus 1:7). Ons het vrede wanneer die res van die wêreld in onrus en kommer vergaan. Ons kan nie toelaat om af te klim om te luister na die praatjies van die negatiewes sodat ons tyd mors en nie die hoë roeping waarmee ons geroep is respekteer nie. Ons roeping is in die eerste plek ons gesin en die welvaart van ons invloedsfeer. Kyk maar goed wat die Here oor jou pad bring, sodat jy jou muur gebou kry.

Psalm 37 se woorde is ons bemoediging teen die oormag. The Message-vertaling:

Less is more and more is less.

    One righteous will outclass fifty wicked,

For the wicked are moral weaklings

    but the righteous are God-strong.

 

God keeps track of the decent folk;

    what they do won’t soon be forgotten.

In hard times, they’ll hold their heads high;

    when the shelves are bare, they’ll be full.

Wat is die gevolg van Nehemia se sukses? ‘n Heerlike fees tot eer van die Here. Moenie vergeet om fees te vier nie wanneer jy die oormag oorwin nie. Lees daarvan in Nehemia 12.

Now at the dedication of the wall of Jerusalem they sought out the Levites in all their places, to bring them to Jerusalem to celebrate the dedication with gladness, both with thanksgivings and singing, with cymbals and stringed instruments and harps. (12:27, NKJV)

 Lees gerus van die twee kore en die priesters met trompette wat langs die muur van poort tot poort geloop en dankliedere sing.

Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor. (12:43, NAB)

Dit klink na ‘n plesierige partytjie met ‘n “live band”!

Nehemia suit sy verslag af met noukeurige besonderhede oor die funksionering van die Tempel en die stad. Sy werk word afgehandel met fokus en ywer.

 

 

 

88. Hoe vorder jou muur?

Opinies is baie persoonlik. Dis ook reg so. Ons dink verskillend oor sake en ‘n groot persentasie van gesprek is om opinies uit te spreek en bewustelik of onbewustelik te toets teen ander. Soms wil ons juis die opinie van ‘n geleerde of prominente persoon hoor of lees. In ‘n groter of kleiner mate sou so ‘n opinie ons eie denke oor ‘n kwessie vorm of sterk beïnvloed. Hoe groter die chaos, hoe meer argumente word gevoer oor die moontlike oplossings.

Wêreldgebeure is chaoties. Dit kan niemand betwis nie. Meeste mense stem saam oor die oorweldigende vernietiging en ellende in wêreldnuus. Mens en dier ly onder boosheid op alle vlakke wat lewens bedreig, lewens versuur en verwond en selfs lewens neem. Ons veg eintlik almal teen boosheid. Elke dokter wat in elke hopsitaal van die wêreld wonde verbind en siekes behandel, veg vernietiging in die mens se liggaam. Elkeen van ons wat daagliks stof, modder en besoedeling om ons skoonmaak, veg teen die vullis wat ons en die natuur bedreig. Net so word ons siele met die afkraking van waardes en kultuur bedreig en bevuil. Die media, selfs onder die naam van die kunste, spot met amper alles wat waarde het, soos verhoudings met familie en vriende en die huwelik. Dit wat heilig (afgesonder vir ‘n spesifieke doel) is, word afgemaak as alledaags, van minder belang of ‘n bespotting.

Dit is duidelik dat die vyand ‘n agenda het, wat ons op alle vlakke aanval sodat vrees, moedeloosheid en frustrasie ons lamlê en keer dat ons ten volle leef. Jesus het gekom dat ons lewe in oorvloed kan hê en ‘n lewe van depressie en vrees is nie Sy plan nie. (Johannes 10:10) Dit moet duidelik wees. Hy belowe vrede en vreugde en dit is nie moontlik om in vals vrede of aangesitte vreugde te bestaan nie. Vrede en vreugde word in ons gees deur die Heilige Gees gebaar sodat dit ons gedagtewêreld beheers. In die mate waarin die vrede, “wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7) ons gemoed bepaal, het ons ‘n lewe van oorvloed.

Die deurlopende aanslag op ons gedagtes, word strategies in boosheid beplan sodat die besetting van ons gemoed, lei tot oorgawe aan negatiewe denkpatrone en vernedering. Die persepsie is, dat alles wat ons aan dink, ons eie gedagtes is, terwyl dit eintlik bose saad is wat in die vrugbare grond van vrees en verwonding gesaai word. Gedagtes word so geplant. Sodra hierdie gedagtes ontkiem en wortel skiet, gee dit aanleiding tot die oorheersing van vrees en angs. Bose saad moet duidelik onderskei word en onmiddellik verwerp en uitgewerp word. Dit is geestelike muur wat ons gedurig herstel teen die vyand wat daarop uit is om ons diepste wese te roof en ruïneer totdat dit soos Jerusalem van ouds in puin lê. Net soos die bannelinge sal ons die muur eers kan bou, as die altaar in plek is en die Tempel herstel is. Persoonlike aanbidding en gesonde lering maak ons sterk om soos Nehemia en sy spanne met die troffel in die hand en die swaard om die heup te bou – gereed vir onverwagte aanvalle.

Ek is verstom oor skaamtelose katterigheid en openlike beledigings in die openbare domain vandag, so asof goeie maniere en geweegde woorde met die afsterwe van ons grootouers oor boord gegooi is. Optredes tydens talentvertonings, entrepeneurs met besigheidsplanne en selfs kokke in kookprogramme word deur beoordelaars afgekraak soos wafferse speelgrond boelies. Selfs in die politiek is daar nie meer sprake van basiese ordentlikheid nie.

Die vernietiging van die woorde uit ons mond, breek die muur van beskerming om ons af.

Bodemklipvriend, dood en lewe is in jou woorde.

Die tong het mag oor dood en lewe; dié wat lief is om te praat, sal die gevolg dra. (Spreuke 18:21, NAB)

Jakobus 3 skilder ‘n gruwelprent van die tong se mag en die boosheid daarin vervat. Die impak van hierdie beskrywing, behoort mens se hart en verstand tot stilstand te ruk, sodat al ons woorde noukeurig aan die Heilige Gees onderwerp word.

Die tong is ook ‘n vuur, ‘n wêreld vol ongeregtigheid, die deel van die liggaam wat die hele mens besmet. Dit steek die hele lewe, van die geboorte af tot die dood toe, aan die brand, en self word dit uit die hel aan die brand gesteek.

Besef dit weer, roep uit na die Heilige Gees om jou woorde te weeg sodat jy woorde van God praat.

As iemand spreek, laat dit wees soos woorde van God… (1 Petrus 4:11, OAB)

Sien in jou geestesoog die muur wat verkrummel deur jou eie negatiwiteit en geskinder. Gaan gerus na die webblad van die Bybelgenootskap (http://www.bybel.co.za) en tik die woord “tong” in die soekfunksie. Lees hoe indringend die Woord van God ons waarsku oor ons woorde.

Bou jy of breek jy af? Hoe praat jy?

Alles in die media poog om ons sensitiwiteit oor waardevolle en goeie sedes te verdof. Skinder is vermaaklik – daar is tydskrifte vol daarvan. Voel jy vrymoedig om kwaad te praat oor iemand wat jou aanstoot gee of te na kom? Deel jy in die tydverdryf om te lees oor politici wat hulle sleg gedra of bekendes wie se foute en vernedering met ‘n opgehewe maatlepel “schadenfreude” uitbasuin word? Hoe maklik kom oordeel en woordmoord oor jou lippe net omdat dit gemaklik verwyderd van jou is?

Praat jy soos iemand wat ryklik vergewe is?

Verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord. (Jesaja 58:9, OAB)

 Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg. (Jesaja 59:3, OAB)

Nehemia se antwoord op die aanslag van bespotting en vyandigheid was skietgebede en getuienisse.

Sanballat en Tobias maak ‘n bespotting van die projek en raak desperaat in hulle beledigende taal in Nehemia 4.

Nehemia se antwoord is nie die vrome gebedjie wat mens sou verwag van ‘n ” goeie” Christen nie. Hy bid al sy woede en wraak voor die Here uit! Net soos Dawid, is hy glad nie bang om “skerp” te bid nie. Sy woede stort hy voor God se aangesig in gebed uit – dis die regte manier! Lees die wraakgebed van Dawid in Psalm 109. Hoor die woorde van Nehemia en bring jou vyande voor die Here saam met hom.

Hoor, onse God, dat ons ’n veragting geword het; en bring hulle smaad op hulle hoof terug en gee hulle oor aan plundering in ’n land van gevangenskap. En dek hulle ongeregtigheid nie toe nie, en laat hulle sonde nie uitgedelg word voor u aangesig nie; want hulle het U geterg teenoor die bouers. (Nehemia 4:4,5 OAB)

Super belangrik – “hulle het U geterg”. Glo jy, jy behoort aan die Here? Enigiemand wat jou te na kom, raak aan die appel van Sy oog!

“Oh listen to us, dear God. We’re so despised: Boomerang their ridicule on their heads; have their enemies cart them off as war trophies to a land of no return; don’t forgive their iniquity, don’t wipe away their sin—they’ve insulted the builders!” (The Message)

Jou vyand sal ook hewig ontsteld wees – 4:7. Jou vyande sal ook beplan om aan te val en verwarring te saai – 4:8. Nehemia neem praktiese stappe om die gevaar af te weer. Hy stel wagte op wat waarsku dat die vyand kom. Hy deel die volk in volgens families, bewapen hulle en stel hulle op as vegters. (4:13)

Verder maak hy ‘n inspirerende, bemoedigende toespraak voor die hele volk, ook die ampsdraers en vooraanstaandes:

Moenie vir hulle bang wees nie. Dink aan die Here, groot en ontsagwekkend, en veg vir julle broers, julle seuns en julle dogters, julle vrouens en julle huise.” (4:14)

Kosbaar! Dit is die regte reaksie teen die aanslag.

Van daardie dag af was een helfte van my manne aan die werk en het die ander helfte die spiese, skilde, pyle en boë en harnasse gereed gehou. Die gesagvoerders het plek ingeneem agter elke familiegroep Judeërs wat aan die muur gebou het. Dié wat boumateriaal moes aandra, het met een hand die werk gedoen en met die ander hand ‘n wapen vasgehou. Die bouers het elkeen sy swaard om die heupe vasgegord gehad. Die ramshoringblaser het naby my gebly. (4:17,18)

Dis hoe ons bou – gereed vir die aanval. Luister vir die ramshoring van God in gebed. Hy sal waarsku as die aanval kom en die geveg se oorwinning waarborg. Waar was die leier? Nehemia was self op wag met die ramshoringblaser naby hom. Hy het nie sy klere uitgetrek nie. Hy moes wakker en gereed wees.

Terug na die hede – die geestelike dispensasie.

Ons word beklee met Christus:

… want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee. (Galasiërs 3:27 OAB)

Dit is ons wit klere van Openbaring 3:18. Jy kan nie waag om jou klere uit te trek nie. Jy is op wag ten volle gekleed en met die wapenrusting van Efesiërs 6. Naaktheid stel jou bloot en daar is nie tyd om aan te trek as die ramshoring blaas nie. Die dwase maagde was uitgesluit toe hulle eers olie moes koop. Maak jou nou vol olie van die Heilige Gees, sodat jy gereed is as die bruidegom kom – as die krisis uitbars. [Sien Bodemklippe 75]

Stel vir jouself die ramshoringblaser naby jou op. Die Woord van God en gebed sal jou versterk om die aanval af te weer. Een van die gawes van die Heilige Gees is onderskeiding van geeste – jy sal weet dis die grynslag van die vyand en sy skor stem van moedeloosheid en vrees in jou ore.

Die bouery aan die muur het goed gevorder self gedurende die bedreiging, terwyl hulle  wapens ook moes dra. So bou ons met ons Woordkennis en God se beloftes aan ons om ons gedagtes gegord, terwyl ons vir Hom luister in gebed. Daar waar Sy belofte in jou lewe staan, sal die vyand nie deurbreek nie.

I will also meditate on all Your work, and talk of Your deeds. (Psalm 77:12 NKJV)

Bou die muur met wonderwerke. Bou met die goud en edelstene van jou getuienisse en insigte in die Woord en nie met hout, hooi en stoppels wat maklik brand in die vuur van krisis nie. (1 Korintiërs 3:12, OAB)

Jou getuienisse sal jou muur wees en jou woorde en opinies bepaal.

87. Ligte, kamera… aksie!

Ons wêreld is honger vir leierskap. ‘n Man of vrou wat met grootheid van gees kan sin maak uit die chaos van geweld en gebrek en vorentoe beur met ‘n duidelike plan, sodat ons met vertroue kan volg. Die Europese krisis en die Amerikaanse verkiesing sou mens tot op die rand van paniek kon dryf met ‘n wanhooproep na iemand wat kan leiding neem en die vaandel vorentoe dra.

Een van die pragtige komplimente in die Bybel is aan die seuns van Issaskar gegee:

… en van die seuns van Íssaskar, met kundige insig wat die tye betref, om te weet wat Israel moes doen… (1 Kronieke 12:32, OAB)

Dit is werklik my begeerte vir die leiers van die wêreld. My hart roep uit – Here! Gee asseblief vir ons ‘n Nehemia wat in toewyding en gebed aan U, die magtigste heerser van die tyd se guns so swaai dat hy Jerusalem se muur laat bou. Ons het ‘n muur van verdediging nodig. Ons het skrikwekkende vyande wat veg met vrees en planne om te vernietig en te verjaag. Ons leef in die dispensasie van die Heilige Gees en daarom het ons ‘n heilige, geestelike muur nodig.

Toe hoor ek wat die Gees aan die gemeente sê. Jesus het Sy kerk geroep om Nehemia te wees en die muur te bou. Dis ons!

Nehemia dien al jare die koning. Hy het in Persië agtergebly toe die eerste golwe bannelinge na Jerusalem terggekeer het. Hy het sekerlik ‘n mate van lojaliteit teenoor die koning opgebou en duidelik in ‘n vertrouensverhouding met hom gestaan. Die skinker moes hom bewaar van vergiftiging en was baie ure van sy lewe in die koning se teenwoordigheid. Dit het daartoe gelei dat Nehemia ‘n vertroueling van die koning geword het. Sy hartseer oor die berigte van die bedenklike toestand van die muur in Jerusalem is dadelik deur die koning gemerk.

Ons het verlede keer die detail van sy gebede en versoeke bespreek. Hy reis veilig na Jerusalem, doen ‘n bestekopname in die nag en kry die inwoners gemobiliseer vir die bouwerk.

Nehemia 3 beskryf ‘n merkwaardige vertoning van eenheid. Dit is ‘n kerk in aksie, gees-inspireerd met sterk, seker leierskap. Selfs hier is nie almal aan boord nie, maar dit doen nie afbreek aan die suksesvolle samewerking van die meerderheid nie. Hoor ‘n bietjie hierdie stukkie van die verslag!

Die volgende stuk is herstel deur die mense van Tekoa, maar hulle vooraanstaande mense was nie gewillig om swaar werk te doen vir hulle Here nie. (Nehemia 3:5, OAB)

Die hoofstuk lees soos amptelike, gedetailleerde verslaggewing van ‘n triomfantelike projek. Party groepe het groot dele van die muur gebou, die poorte herstel, deure, skarniere en sluitbalke ingesit. Party het die herstelwerk voor hulle eie woonplekke gedoen. Sommige het soveel as 450m van die muur gebou. Argeoloeë het met die opgrawings ‘n muur van 2,5m dik gevind. Dit was ‘n reuse taak wat in bonatuurlike eenheid voltooi is.

Dit is betekenisvol dat die herstelwerk voor sommige inwoners se privaat woonplekke as deel van die amptelike verslaggewing ingesluit word. Die muur word gebou deur elke persoon se persoonlike toewyding, hoe gering ook al. Net so sal die geestelike muur van die Christendom gebou word in privaathuise met die toewyding van individue. Elkeen se bydrae tel. Net een mens maak ‘n verskil. Dink maar aan Ester wat geroep en verhef is vir die spesifieke tyd waarin sy dapper moes optree en haar ganse volk red.

Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie. (Sagaria 4:10 NAB)

Die eenheid en magsvertoon van die bouprojek het die vyand in ‘n storm van woede laat invaar met ‘n tirade wat amper komies oorkom.

Toe Sanballat hoor ons bou die muur, was hy woedend. Hy het met groot ergernis smalend teen die Judeërs uitgevaar en vir sy medeamptenare en vir die soldate in Samaria gesê: “Waarmee is die arme Judeërs besig? Wil hulle vir hulle ‘n stadsmuur bou? Wil hulle offerandes bring en in een dag klaarmaak? Wil hulle die klippe laat herleef uit daardie hope stof en as?” Tobija die Ammoniet het langs Sanballat gestaan en hy het gesê: “Laat hulle bou! Daardie klipmuur van hulle sal omval as ‘n jakkals daarteen spring!(Nehemia 4:1-3, NAB)

Dit klink na desperate pogings tot ontmoediging, so asof hulle klaar die oorwinning van God in die geestelike realm bespeur. Die kerk is die lig in die donker wêreld. Die kerk moet leiding neem. Dit is ons wat die muur bou, al is dit net voor ons eie woonplekke. Ons is die ore wat moet hoor wat die gees aan die gemeente sê. Die kerk is die lampstaanders van Openbaring 1, met Jesus wat tussen ons staan. Dit is Sy stem wat praat en roep: Ligte, kamera….aksie!

Hy het in sy Hand die boekrol van die geskiedenis geneem en die seëls gebreek sodat die tye kon uitrol. Ons ken Hom wat waardig is om die wêreld se storie te ontvou. Hy praat met Sy kerk as Hy die sewe gemeentes in Openbaring 2 en 3 aanspreek. Die vermaninge is om die hindernisse te verwyder sodat ons Hom in Sy volheid kan sien en Sy seën kan ervaar.

Hoe reusagtig en oorweldigend die taak ookal mag klink, is dit ons, die kerk van Jesus, wat die leiding moet neem en in die bres moet staan.

Die muur van Jerusalem het die stad beskerm. Dit moes die vyand uithou. Daar was 10 poorte om die regte mense in te laat. Net so is ons muur. Ons word beskerm teen die vyand en laat die regte mense en invloede toe om binne te kom.

Die muur is ook ons getuienis na buite. Dit spreek van ons herstel in Christus uit die ou lewe van vernietiging in nuwe lewe, saam met Jesus uit die dood opgewek.

Die muur is ‘n bewuswording van vyandskap. Die duiwel is dood tevrede as jy ‘n naam-Christen bestaan voer. Sodra jy egter met intensie die nuwe lewe in Jesus najaag, skrik hy wakker en begin aanval.

Daar is ‘n hele aantal vyande wat met hierdie vertelling identifiseer kan word.

  • Tydens jare van vreemde invloede het die volk van Israel mekaar onderduk. Volgens die gebruik is iemand wat nie sy skuld kon betaal nie, in slawerny verkoop. So het heelwat slawe hulle eie landgenote gedien. Ons maak ook slawe van ons naastes en geliefdes. Ons kritiseer en verneder, soms selfs in die kerk en gebruik ons erfenis in Jesus om te onderdruk. Ons soek ons eie belang, status en welvaart ten koste van ander.

Na ek dit oorweeg het, het ek die skuld op die vooraanstaande burgers en die ampsdraers gelê en vir hulle gesê: “Julle is besig om julle volksgenote uit te buit!” (Nehemia 5:7 NAB)

Hoor wat die Gees aan die gemeente sê:

Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander. (Filippense 2:3,4, NAB)

Net aan die voete van die Kruis in gebed sal die wortel van trots en onderdrukking uitgeroei word.

God se volk leef ook in ‘n staat van insolvensie, opgevreet deur skuld en rente. Indien dit opgeëis sou word, sou soveel in armoede verval het. Dit is nie die finansiële spanning wat die Here bedoel het nie.

Bou die muur, Bodemklipvriende. Die groot rots wat die muur stewig maak is tiende en die blymoedige, geesvervulde gewer van Korintiërs.

Hoor wat die Gees aan die gemeente sê:

Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie.

Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige.

Dan sal al die nasies julle as gelukkige mense beskou; julle sal in ‘n begeerlike land woon, sê die Here die Almagtige. (Maleagi 3:10-12, NAB)

Paulus maak gehoorsaamheid aan die Heilige Gees noodsaaklik met betrekking tot gee.

Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes.

Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. (2 Korintiërs 9:6,7,NAB)

Meer nog, dit is nie ons kennis van Jesus wat ons deur ander mense, volgens hoorsê, verkry wat ons in moeilike tye dra nie. Dit is ons eie ondervinding van God se stem in Sy woord en oortuiging in ons gemoed wat ons sterk maak. Ons moet Hom ken in die krag van Sy opstanding. (Filippense 3:10,11, Amplified)

Leef jy in armoede aan die gesproke Woord?

Dit is ook moontlik dat die kerk vir wêreldse gewin gebruik word en losbandigheid verdra. Probleme skei die koring van die kaf, die skape (wat die Herder se stem hoor) van die bokke, die wat sê dat hulle Christene is, maar eintlik aan die “sinagoge van die Satan” behoort. (Openbaring 3:9)

God sal self Sy kerk suiwer, net soos Hy aan die dissipels verduidelik het dat die engele die koring van die onkruid (wat soos koring lyk as dit jonk is) sal skei. Ons mag nie oordeel nie. Ons moet wel onderskei tussen die ware en die valse. (Matteus 13:30)

 

  • In die tyd van Nehemia is die Sabbat verontagsaam. Vir ons is die Sabbat ‘n persoon, Jesus. Dit is slegs in Hom wat ons volkome rus kan hê. Lees gerus Jesaja 58 oor die Sabbat en die groot seën wat die ware rus van God inhou.

Hoor wat die Gees aan die gemeente sê.

As jy nie op die sabbat oortree nie, op my heilige dag doen net wat jy wil nie, as jy die sabbat ‘n vreugde noem, as jy die heilige dag van die Here in ere hou, as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie te doen net wat jy wil nie, en nie handel dryf nie, sal jy vreugde vind in die Here. Ek sal jou die land weer in besit laat neem, Ek sal jou laat eet van die opbrengs van die land van jou vader Jakob. Ek, die Here, het dit gesê (Jesaja 58:13,14 NAB)

Jesus pas nie in by ons “gewone gang” nie. Ons moet by Hom aanpas.

Daar is werklik seën op die afsondering van ‘n rusdag as ‘n breek van daaglikse roetine, solank mens nie wetties daarmee omgaan en ander oordeel wat dit nie op jou manier doen nie. Onderhouding van die Sabbat is persoonlik. Hoor wat die Here sê, want Hy weet wat jy nodig het.

 

  • Die onderskeid tussen ware toewyding en oppervlakkigheid is onderstreep en word beskryf met burgers in die “buiteposte”.

Wat betref die nedersettings met hulle boerderygebiede, daar het van die Judeërs in Kirjat-Arba en sy buiteposte gewoon, in Dimona en sy buiteposte, in Kabseël en die nedersettings by hom. (Nehemia 11:25)

Nehemia het meer werkers nodig gehad en die mense buite Jerusalem ook genader. Sommige van hulle was onwillig en moes spesiaal aangemoedig word om deel van die plan te word.

Ons kry baie sulke Christene. Hulle is gemaklik deel van die kerk, maar wil nie ongebalanseerd voorkom nie. Hulle sien ‘n lewe van volkome toewyding as fanaties en kyk neer op mense wat ‘n “kruk” nodig het.

 

  • Vroue in die Ou Testament word dikwels as tipes of beginsels uitgebeeld en die verhouding met hulle as afvalligheid (hoerery) beskryf. Verhoudings met vreemde vroue (beginsels en ‘n lewenswyse verwyderd van God) veroorsaak ‘n gemengde nageslag.
  • Verder het amptelike teenkanting nie net die bouprojek bedreig nie, maar ook die toewyding van die volk. Nehemia moes teen hulle opstaan. Ons staan dikwels teen owerhede en hooggeplaastes wat projekte in die wiele wil ry. God is groter. Hy kan die koning se gesindheid swaai.

Ek het die vooraanstaande burgers van Juda sterk aangespreek en vir hulle gesê: “Hoe kan julle so ‘n verkeerde ding doen dat julle die sabbat ontheilig? (Nehemia 13:17)

Die kerk het die plan. Die kerk is toegerus met die Heilige Gees. Dit is al en alles wat ons nodig het.

Ons moet die muur bou, sodat ons vyande komies desperaat is omdat hulle hulle eie nederlaag sien kom.

 

 

 

 

66. Opstandingslig op jou pad.

Besluit jy iets, dan kom dit tot stand; en oor jou weë skyn ‘n lig.

[Job 22: 28]

Paas is afgehandel. April is vakansiemaand. Skoolvakansies en vakansiedae – asemhaal-kans na ‘n besige eerste termyn. Plesier, ontspanning en winterplanne het alle gedagtes aan die Paastyd verdryf. Dit was na alles maar net weer die gewone jaarlikse herdenking van die kruisiging.

Dink net vir ‘n oomblik hoe ‘n gespanne-opwindende tyd hierdie dae na die opstanding vir die volgelinge van Jesus was. Vanaf daardie Sondag wat Maria die dissipels kom roep het en die leë graf ondersoek is, het die nuus versprei. Lees gerus al 50 versies van die triomfantelike Lukas 24. In die 40 dae voor die Hemelvaart het Jesus drie keer aan Sy dissipels verskyn. [Johannes 21:14]

Maria het agtergebly daar in die tuin by die graf en alleen die geleentheid gehad om met Jesus te praat nadat die ander dissipels huis toe gegaan het. Dit was vir haar die hoogste troos wat daar kon wees en een wat haar verwagtinge oortref het. In haar gesprek met Hom is haar pyn en vrees genees. Herstel is gewaarborg in die teenwoordigheid van die Here.

Die dissipels, wat nie gewag het nie, is terug agter die geslote deure van vrees. Johannes 20:19:

En toe dit aand was op daardie eerste dag van die week en die deure waar die dissipels vergader het uit vrees vir die Jode, gesluit was, het Jesus gekom en in hul midde gestaan en aan hulle gesê: Vrede vir julle!

Hy sal jou kom haal, selfs agter die deure van jou vrees en vertwyfeling. Hy het dit gedoen vir Thomas, agt dae later. Spesiaal, sodat Thomas presies dieselfde ondervinding het, as die ander wat Hom gesien het. Kind van die Here, die donkerste dag van die Hemel, wat chaos onder die volgelinge van Jesus gesaai het, het in oorwinning verander toe Jesus verskyn. Net so sal Sy verskyning in jou donkerste dae, die chaos in oorwinning laat verander.

Johannes praat van baie tekens wat Jesus gedoen het, wat nie beskrywe kan word nie. Johannes 20:30.

Ek kan my net voorstel. Die tonge was los, die berigte het versprei, die storie het geloop. Op een of ander stadium het die dissipels Jerusalem verlaat en teruggekeer na die See van Galilea om voort te gaan met die bekendheid van hulle visvangery.

Die beskrywing van Sy verskynings lees soos ‘n spanningsverhaal. Jesus verskyn en verdwyn. Hy stap saam na Emmaus en luister na hulle verwarring en vertwyfeling. Daardie stappers het sekerlik die mees insiggewende teologiese gesprek op die hele aarde gevoer, toe Jesus Homself in die Skrifte aan hulle verduidelik. Selfs na al hierdie superieure lering het hulle oë eers oopgegaan toe Hy die brood breek. Slegs in Sy teenwoordigheid, met Hom aan die tafel sodat Hy self vir jou die Brood van Sy liggaam breek, sal teologie sin maak.

Hulle was nie seker wanneer hulle Hom weer in lewende lywe gaan sien nie. Die dissipels is by die meer, besig met hulle gewone pligte. Petrus gaan visvang en die ander saam met hom, maar hulle vang die hele nag niks nie. Skielik is Hy weer by hulle, op die strand, soos van ouds toe Hy hulle geroep het, maar hulle herken Hom nie dadelik nie. Jesus vra hulle of hulle iets te ete het en hulle antwoord nee. Hy beveel hulle om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi. Sonder omhaal van woorde, met net ‘n eenvoudige opdrag, het hulle ‘n wonderbaarlike oorvloed vis wat hulle uittrek sonder dat die nette skeur. Johannes herken die wonderwerk en verklaar: Dit is die Here. Petrus spring sommer in die see en hardloop uit om vinniger op die strand te kom.

Na ‘n heerlike ontbyt – daar is niks soos vars vis op ‘n vuur op die strand nie – en sekerlik in gesprek met hulle geliefde Jesus wat al die vrees en onsekerheid van die kruisigingstyd verdryf, word die besonderhede van Jesus se gesprek met Petrus fyn beskryf.

Dit word duidelik dat die tyd na die opstanding ‘n tyd van herstel is. Petrus word herstel in vergifnis en liefde sodat hy toegerus is om sy hoë roeping te vervul. Die dissipels se pyn en verwarring na die kruisiging word omskep in oorwinningsvreugde en verwondering.

Handelinge begin met Lukas se saaklike stelling wat die opstanding bevestig.

Handelinge 1:3

 to whom He also presented Himself alive after His suffering by many infallible proofs, being seen by them during forty days and speaking of the things pertaining to the kingdom of God.

Gryp vas aan hierdie waarheid. Ons beleef nou die 40 dae na hemelvaart en dan kom die 10 dae in die bokamer van Pinkster in afwagting op die Heilige Gees. Die Fees van die Weke waarin die eerste vrugte op ‘n oes gevier word.

Dit is ‘n tyd waarin verwarring en vrees vervang word met verwagting en geloof. Dis ‘n tyd wat nuwe insig op jou situasie deur die opgestane Jesus se superieure teologie die oorvloed vis intrek sonder dat die net skeur.

Waar is jou oog? Op die aktiwiteite van ‘n jaar wat voortsleep, alreeds vasgedraai in ‘n warboel van werk wat jou visie verdof.

Dit is weer tyd vir stilte en onderworpe denke.

2 Korintiërs 10:5:

… terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus,

In daardie stilte bid ons Psalm 121:1: Ek lig my oë op…

Dit is net moontlik om God te sien as ons oog reg ingestel is om Hom te herken. Bid saam met die blinde Bartomeus: Here, laat ek kan sien… [Markus 10:51]

Sien jy die wonderlike visvangs? Sien jy Jesus wat op die strand staan en vir jou ontbyt braai? Verhef jou verwagting en kyk wat die Here vir jou doen.

Exodus 14:13

And Moses said to the people, “Do not be afraid. Stand still, and see the salvation of the Lord, which He will accomplish for you today.

Deuteronomium 1:21

Look, the Lord your God has set the land before you; go up and possess it, as the Lord God of your fathers has spoken to you; do not fear or be discouraged.’

Die vermoë van ‘n mens om verkeerd te kyk, is skrikwekkend. So dikwels kan iemand objektief in ‘n ander se situasie inkyk en nie verstaan waarom dinge so verkeerd loop nie. Die manier waarop jy kyk is bepalend en kan jou lewe versuur of versier. Dis in jou mag om die slegte raak te sien en daarop te reageer, net soos dit in jou mag is om die regte dinge raak te sien en met wysheid te reageer – met die vrug van die Heilige Gees, sonder woede en verwyte. Ons word uitgedaag om met liefde en begrip op die gebrokenheid van die wêreld te reageer.

Dit kan goed gaan met jou sonder dat jy dit besef. Sien jy seën raak en leef jy in dankbaarheid met ‘n goddellike bewustheid van voorsiening en beskerming van jou Vader?

Kyk jy die seker tekens van ‘n huwelik wat skeefloop en kinders wat smag na aandag en aanvaarding mis? Dis so maklik en gebeur heeldag. Net die Heilige Gees gee ware insig in jou eie binneste. Hy oortuig van sonde. Laat Hom toe om jou gemoed aan te spreek, bely jou sonde en koop die oogsalf by die Koopman van Openbaring 3:18 sodat jy nie naak, misrabel, blind en arm deur die lewe gaan nie. Jesus sê self: [Matteus 6:22 en 23]

Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees.

Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!

Wat is genesing vir die verkeerde oog? Die uitdaging is om werklik te sien en diepe insig en kennis te verwerf.

Spreuke 9:10

Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE, en kennis van die Heilige is verstand.

Ons oog op die Here is sonder twyfel die bron van insig en genesing van die geestlike blindheid waarmee die sorge van die lewe ons sig verdof.

‘n Groot vreugde is om te besef waar God se oog is. Hy verklaar so dikwels in die Skrif waar Sy oog kyk en dat Sy oog op ons ‘n voortreflike lewe verseker.

Psalm 32:8

Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.

My hart roep uit in dankbaarheid vir die versekering dat God se oog op my is.

1 Samuel 9:16

…for I have looked upon My people, because their cry has come to Me.”

1 Samuel 16:7

Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

God se oog kyk diep – dieper as wat ons ooit kan kyk. Insig in die lewe van ons familie en vriende kan net in die diepste vertroue op die insig van die Heilige Gees wees sodat ons met onvoorwaardelike liefde daarop kan reageer.

2 Kronieke 16:9

… Sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is…

Waar is jou oog in hierdie opstandingstyd? Sien jy die opgestane Jesus? Kyk jy met nuwe insig en is jou verwagting sterk genoeg? As jy opkyk sal jy God se oog op jou vang.

Lig jou oog op…

My gunsteling lied oor die opstanding. Don Francisco: He’s Alive.

63. Jy gaan skaamkry…ek weet sommer!

Ek weet ek gaan verkrummel van skaamte. Daardie dag as ek Hom sien en waarlik weet hoe my lewe kon gewees het – as ek net Sy woorde aan my geglo het. Ek gaan my skaam vir al die vrees en onsekerheid, ek gaan my kop laat hang oor al my bekommernis en ek gaan opkrul in vernedering oor die rondgemaal in my gedagtes oor dinge wat dalk nie gaan uitwerk nie, plan B tot Z vir drome wat dalk nie werklik word nie en desperate grype na wêreldse maniere om dinge gedoen te kry. Selfverwyt en oneindige bejammering oor ‘n triomfantelike lewe van oorwinning wat ek gemis het, is my ewigheidslot – as ek nie nou reeds vrees hanteer, my lewe in rat kry  en leef in die volle plan wat my Vader vir my bepaal het nie.

‘n Paar geleenthede in my lewe het ek die Heilige Gees ervaar as dissiplineerder. Ek sê dit met huiwering want elke mens ervaar verskillend en ek wil weer beklemtoon dat God individueel met elkeen werk op ‘n unieke manier omdat Hy ons so vreeslik wonderbaar in ons moederskoot geweef het. [Psalm 139] Daarom vertel ek my teregwysing rondom vrees eerder as ‘n getuienis en nie as ‘n voorskrif of les nie.

Net ‘n bietjie agtergrond. So nou en dan kon ek saam met my man oorsee gaan. Hy het dikwels gereis en hier en daar was daar geleentheid vir ‘n naweek op ‘n mooi plek tussen vergaderings en afsprake. My drie seuns was laerskoollatte en die jongste so vier jaar oud, toe ek hulle by ‘n goeie vriendin laat bly om my ma die skoolryery te spaar – laerskool en kleuterskool. Ek het vir 8 dae weggegaan. Terug by die huis het die nuus my getref. Jongste het siek geword net nadat ek vertrek het. My ma het ingestaan met die huisdokter wat ons almal ken. Hy is gediagnoseer met erge blaasinfeksie (wat ek in ‘n gesprek met die huisdokter uitgeklaar het) en het naarheid en koors geveg vir ‘n hele nag lank. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat hy sieker was as wat ek hom nog ooit gesien het. Tussen my suster en my ma het hulle hom opgepas, met ‘n streng oog van my broer ook nog by, sodat hy piekfyn en gesond was toe ek tuiskom.

Die nuus het my hewig en diep ontstel. Ek was woedend dat niemand my die ware toestand vertel het nie. Hulle het mooi verduidelik dat hulle graag my die vakansie wou gun en nie vroeër laat terugkom nie, wat ek wel sou gedoen het. Ek was ontstel dat hy so siek was sonder sy ma by hom en het vreeslik sleg en goed skuldig gevoel daaroor. My kind in so ‘n toestand terwyl ek rondkerjakker – onaanvaarbaar! Ek was kwaad vir die familie en kwaad vir die situasie en in my woede het ek onderneem om eenvoudig nie weer weg te gaan nie. My oplossing – ek bly by die huis tot my kinders groot is. Ek sal hulle nie weer so skandalig in die steek laat nie.

Drie keer het die geleentheid om saam te gaan gekom en gegaan. Ek het geweier. Ek het besluit en so is dit – die saak is nie oop vir debat nie.

Eendag, drie jaar na die jongste se siekte, het my man gekom met ‘n besondere versoek. Dit sou ‘n wonderlike geleentheid wees om ‘n eiland te besoek. Nie een van ons was nog ooit op ‘n eilandvakansie nie en hy moes wel werk, maar ek kon saamgaan. My eerste gedagte was nee, want ek het gedink hulle is nog te klein. Een van my vriendinne het my aangemoedig om die geleentheid te gryp en my ma het my hard aangespreek. Ek en sy het ‘n hele vervolg-gesprek oor vrees gehad. Sy het geweet ek vrees oor my kinders en het ook gesien hoe hewig die siekword-reis my ontstel het. Een middag het ek en sy soos dikwels om die Woord gekuier en sy sê toe ek moet bietjie Openbaring 21:8 lees:

Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel: dit is die tweede dood.

Sjoe – dit is ernstig. Die vreesagtiges word saam met die ongelowiges, die gruwelikes, moordenaars, hoereerders, towenaars en afgodedienaars genoem en die poel van vuur word vir hulle voorgehou. Vrees kan nie so erg wees nie – Here, hoe dan nou? Ek het geskrik vir die erns waarmee die Woord my vrees beskou. Is die Here dalk kwaad oor my bekommernis oor my kinders? Ek is mos maar net verantwoordelik? Is dit nou so verkeerd?

Ek het ewe vroom aangekondig dat ek sal bid daaroor en die Here self sal my antwoord in die verband. In werklikheid het ek in my hart met vrees en bewing besluit om ‘n hele navorsingsprojek oor vrees te doen en uit te vind wat die Here sê. Ek het voorheen in my lewe al geskrik as ek die erns van die Woord hoor en besef dat ek nie ernstig genoeg met ‘n saak of beginsel omgaan nie. Ek het in my gees ervaar dat Jesus voor my staan, Sy vinger na my uitsteek en vra:

Wat gaan hier aan? Glo jy dat Ek jou liefhet en vir jou sorg? Ek was in trane en skaam en het onmiddellik my ongeloof bely. By die huis het ek sommer ‘n klein rondlê Bybeltjie gegryp en oopgemaak. Toe ek die woorde lees was ek totaal omgestamp oor die direkte aanspreek van die Heilige Gees en het in ‘n oogwink besluit dat die reis vir my ‘n geloofstoets sal wees.

Die New Living Translation het oopgeval by Jesaja 8:11-14:

The Lord has given me a strong warning not to think like everyone else does. He said,

“Don’t call everything a conspiracy, like they do,

    and don’t live in dread of what frightens them. 

Make the Lord of Heaven’s Armies holy in your life.

    He is the one you should fear.

He is the one who should make you tremble.

    He will keep you safe.

Soos ‘n paar keer voorheen in my lewe het ek opgehardloop na my kamer toe, die deur gesluit en op my maag met my gesig op die vloer voor die Here gaan lê. Ek het weer my lewe en gedagtes oorgegee aan die Heilige Gees en daar gebly tot ek die loslating van my sondelas ervaar het en ek die Here kon vra om my met vrede en vreugde te vul.

Vrees is ongeloof – presies die teenoorgestelde van geloof. Vrees en twyfel is in geestelike terme sinonieme en die kragtige strategie van die vyand. Vrees word so dikwels aangespreek in geestelike literatuur omdat dit die siekte van die tyd is en heel moontlik nog altyd was. Vrees word nie geoefen nie – dis die natuurlike, instinktiewe reaksie op omstandighede.

Ons weet almal dat die skrik ‘n fisiese reaksie in ons brein veroorsaak. Vries, vlug of veg is die keuse wat deur ‘n adrenalien-vloed in breukdeel sekondes ons aksie bepaal. Dis oorlewing in krisis omstandighede, maar dit is nie en kan nooit ‘n lewenswyse wees nie. Langdurige vreestoestande veroorsaak soveel verkreupelende stres en siekte.

Vrees is nie skrik of bang word nie. Skrik is noodsaaklik. Bang word laat jou optree en aksie neem om jouself te verdedig en fisies uit ‘n situasie red. Vrees is die langdurige spanningstoestand wat jou bestaan so oorheers dat dit jou besluite beheers. Dit gebeur as vrees die bron van jou planne word en nie die beloftes van God in die Woord nie. Ons bron is Jesus. Ons leef uit Hom en vind ons hele bestaan in Hom. Handelinge 17:28:

for in Him we live and move and have our being

Vrees bepaal nie ons besluite en beplanning nie. Vir ‘n kind van God is vrees ‘n aanval van die vyand in die skor stem van satan wat ons met die Woord en op ons knieë verwerp en bind en nie toelaat om enige invloed op ons lewe te hê nie.

Daar is twee woorde in Hebreeus en twee in Grieks vir vrees.

Vrees vir die Here, wat jou respek en stom aanskouing in die lig van sy majesteit is, word onder andere in Jesaja 8:13 gebruik. Die Hebreeus = morah.

The Lord of hosts, Him you shall hallow;

Let Him be your fear,

And let Him be your dread.

Net die Here is ‘n objek van vrees. Vrees vir Hom sal jou weerhou van twyfel. Ek was waarlik in my hart bewus van God se teleurstelling oor my vrees en dit het my in bewing voor Sy aangesig neergefel.

Hosea 3:5 gebruik die woord in Hebreeus = pachad – wat skrik of skielike vrees beskryf.

They shall fear the Lord and His goodness in the latter days.

Weer eens is die Here en let wel – Sy goedheid – die faktor wat vrees ontlok. Soveel mense hoor God se karakter en Woord deur hulle lewe en dink daar niks van nie. In die laaste dae sal Sy karakter en die waarwording van Sy woord mense met vrees vervul.

In die Nuwe Testament word die Griekse woorde: phobeo en phobos gebruik vir paniekerige vrees en angs waarvoor jy wil vlug. In Matteus 10:26 :

Vrees hulle dan nie; want daar is niks bedek wat nie ontdek sal word nie, en verborge wat nie bekend sal word nie.

Jesus praat van die vrees vir mense en hoe ons eerder God moet vrees. Vrees vir mense is destruktief en vrees vir God is konstruktief.

Spreuke 29:25:

Die vrees vir die mens span ‘n strik; maar hy wat op die Here vertrou, sal beskut word.

2 Timoteus 1:7:

Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing.

God se liefde dryf alle vrees uit. Dit is net ons keuse om te glo of nie. As ons glo, het dit wonderwerkende, bonatuurlike gevolge. Die besluit om God se woord te glo, is kragtig, net soos ander besluite. Dit bou op en bring dinge tot stand. Dit het standhoudende gevolge en verander die ganse verloop van jou lewe.

Hier is die slotreël, die laaste woord, God se Woord – glo dit!

1 Johannes 4:18

Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.

Volgende keer kyk ons saam na Jesus se woorde en Sy reaksie op vrees en twyfel.

Die einde van die storie:

Ek en my man het ‘n heerlike week in Bermuda deurgebring binne-in orkaanseisoen. Toe ons die hotel bespreek, was hulle toegespyker vir Katrina. Ons het perfekte weer gehad vir die hele tyd en die week na ons teruggekom het, het Rita die strandjie en die restaurant waar ons kaalvoet in spoelgolfies gesit en eet het, weggespoel.

Dit was God se knipoog dat Hy my in die storm sal bewaar! Hoe sal ek ooit twyfel!

54. Toemaar – jy is veilig!

Dit is die wonderlikste woorde om te hoor. Binne in die grootste krisis, deurmekaarspul, bakleiery en magtelose moedeloosheid as dinge verkeerd loop…

En by my stormsterkte kwessie

slaap ‘n Redder in die skuit.*

Jy is veilig. Jy is gered. Jy is in Sy hand. Altyd en oral – sonder uitsondering, onderbreking of verslapping. Dit is die waarheid, dit is gewaarborg.

Meeste getroue Sondagskool-lede ken die verhale van Matteus 14 maar al te goed – en ek bedoel al te goed. Familiariteit verdof die fokus en vervaag die skerpheid en krag van die wonder-verhaal.

Na die heerlike, vreugdevolle wonder-ete wil die skares Jesus kroon as koning en die politieke oplossing waarvoor so baie van hulle gesmag het, afdwing. [Johannes 6:15] Ek kan nogal dink dat ‘n piekniek vir ongeveer 10 000 mense (net die mans was 5000) waarlik indrukwekkend was. Dink net oor die menslike moeite van daardie hoeveelheid gepakte kosblikke.

Jesus stuur die dissipels op die boot weg, miskien omdat hulle deel van die probleem is. Hulle was maar al te bewus van ‘n moontlike opstand teen die Romeine met die wonderwerkende Jesus as waarborg vir oorwinning. Jesus glip alleen die berge in om van die skare af weg te kom. Aardse koningskap was nie die Plan nie.

Hy stap berg-uit en die disspels klim in ‘n boot om oor die meer te vaar. Geen wonder hulle noem die grootste varswatermeer in Israel, die see van Galilea, want die storms was onverwags, vreesaanjaend en rof. Storms het sommer vinnig opgebou uit die rigting van die Middellandse See deur ‘n windtonnel wat deur die Arbel Pas gevorm is.

Die dissipels was in ‘n vissersboot, gemaak van sedar- en eikehout, ongeveer 8m lank, so 2m breed en 1,5m diep. Die mates is afgelei van ‘n boot wat in 1986 deur argeoloeë op die noordwestelike oewer van die See van Galilea gevind is. Die boot kon ongeveer een ton vis vervoer saam met ‘n bemanning van 5 mense. In plaas van die vangs kon sowat 10 passasiers saamvaar.

Die nag is in periodes van drie ure elk opgedeel. Jesus het ‘n paar uur in die berge spandeer en toe om die meer begin loop om die disspels aan die ander kant te ontmoet. Teen die vierde periode – dit meen so teen 3 uur vroegoggend het Jesus hulle benoudheid in die boot gesien en op die water na hulle aangestap.

Hulle benoude geveg met die golwe, die donker en sekerlik die beweging van die boot het veroorsaak dat hulle nie kon sien wie Hy is nie. Probleme is presies net so. Dis ‘n geraas in jou ore, dis altyd erger in die nagure wanneer jy bewustelik of onbewustelik worstel en vrees verdof jou sig sodat jy nie die oplossing sien nie. Wat is die antwoord?

Sy stem wat bo die storm weerklink met die wonderlike woorde: Moenie vrees nie, dit is Ek. Hou goeie moed.

But instantly He spoke to them, saying, Take courage! I Am! Stop being afraid! [Amplified]

But Jesus was quick to comfort them. “Courage, it’s me. Don’t be afraid.” [The Message]

Die Afrikaans beklemtoon ook Jesus se onmiddellike gerusstelling. Hy speel nie rond nie. Hy weet jy is bang en benoud en Hy spreek jou vrese onmiddellik aan.

Hoor wat sê Hy: Dit is EK! Hy weet Hy is die bron van die oplossing. Hy maak nie die storm stil nie. Hy praat eers. Hy stel Homself bekend binne-in die storm. Die punt is nie die storm is nie, maar Sy teenwoordigheid in die storm. Dis die kern! Weer hoor ek die woorde van Elisa in 2 Konings 3:18: And this is a simple matter in the sight of the Lord… Die storm kan Hy stilmaak – die natuur is onder Sy gesag. Jou geloof in Hom is jou keuse.

Jesus se teenwoordigheid verhef die hele situasie van krisisvlak na verwagtingsvlak.

Dan maak Hy nie onmiddellik die golwe kalm nie. Op Petrus se aandrang, nooi Hy hom om uit te klim en te loop.

Kan jy nou meer. Is die storm nie erg genoeg om dadelik die oplossing te vereis nie? Alles kan net verder verkeerd gaan. Die boot kan omslaan, die mense verdrink en hier is Jesus en Petrus in ‘n eksperiment betrokke. Ons gaan nou eers bietjie speel in die stormgolwe. Kom ons kyk of jy ook kan loop. Dis teen-intuitief. Dis glad nie verantwoordelik nie. Bly in die boot en vra ‘n kalm see. Moenie die ding te ver dryf nie.

Binne-in die benoudheid praat die impulsiewe Petrus geloof in aksie.

En Petrus antwoord Hom en sê: Here, as dit U is, beveel my om op die water na U te kom.

And Peter answered Him and said, “Lord, if it is You, command me to come to You on the water.” 29 So He said, “Come.

Dit is die sleutel-woorde. Op Sy bevel, Sy Woord, sal ons op die water loop. Ek het geen twyfel dat Petrus saam met Jesus wal toe sou stap met sy oog op Jesus se glimlag van versekering. Maar – hy kyk na die golwe en sink. Jesus was altyd eerlik oor die ware omvang en impak van omstandighede. Hy het die komplikasie van ware dissipelskap uitgespel en nie toegelaat dat die besluit om Hom te volg ‘n oppervlakkige, emosionele meesleuring was nie. Petrus was impulsief en emosioneel en tog moes hy die volle omvang van die storm besef en uitroep na Jesus. Na die impulsiewe, spontane geloofsaksie om uit die boot te klim, sink hy, maar Jesus eer sy geloof en red hom uit die golwe. Dit mag lyk soos ‘n mislukking dat hy nie genoeg geglo het om tot op die wal uit te loop nie, maar Jesus sal nooit toelaat dat jy misluk nie. Mislukking was verdrinking.

Mislukking is ‘n perspektief. Petrus het op die water geloop en het ten spyte van twyfel nie vergaan nie. Ons kom nie uit die storm met ‘n skitterende goue sertifikaat vir ons meesterlike optrede in woeste storms nie. Soms kom ons gehawend en doodmoeg uit die storm, maar altyd aan die hand van Jesus, by Hom, veilig op die oewer. Selfs al struikel jy, al faal jy in jou reaksies – oorwinning is om die geloof te behou en saam met Jesus uit te stap.

Ek is seker meeste mense ken of weet van die moderne spanbou-aktiwiteite waaraan korporatiewe werknemers van tyd tot tyd blootgestel word. Een van die oefeninge is ‘n nou, hoë bruggie waaroor almal moet stap. Die hoogte is sodanig om jou bang te maak, maar elkeen is aan ‘n veiligheidskabel vas. Die kabel word beheer deur die spanleiers onder op die grond. As die deelnemer mistrap kan sy val beheer word deur die grondpersoneel.

Dit is nie maklik nie. Dis hoog en die gemak van die kabelmanne op die grond wek nie juis vertroue nie. Hulle staan en gesels en hoe sal jy weet dat hulle greep sterk genoeg gaan wees om jou te red. Die sentrale lokus van kontrole in ons brein gee een van drie opdragte in ‘n paniek-moment: veg, vries of vlug. Dis oorlewingsreaksies en gewoonlik kies jy een in ‘n splitsekonde.

In een so ‘n sessie het een van die deelnemers na ‘n paar tree op die brug heeltemal gevries. Hy kon nie vorentoe of agtertoe nie. Een van die ouens wat net klaar oor die brug was, het teruggeloop en die vreesbevange ou aan die hand geneem en beveel om in sy oë te kyk. So het hulle saam stadig, een ou agteruit, oor die brug geloop. Duidelik het die vertroue wat geskep is, tesame met ‘n fokus weg van die hoogte, die vrees genoegsaam onderdruk om die brugloop te voltooi. Vrees het nie gewen nie. Hy het oor die brug geloop, net op ‘n ander manier.

Waar is jou oog in die storm? Kyk jy Jesus in die oë, neem Sy hand en kyk weg van die wind en weer. Jy sal nog die storm voel, maar die fokus op Sy stem en seker Hand, sal jou red en jou op die water laat loop. Dit is oorwinning. Dit is nie die afwesigheid van struikeling en foute nie. Dit is die vertroue en geloof wat dieper wortels groei. Dis sukses.

Hoor die woorde van Jesaja 41:13

Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou.

Deutoronomium 33:26-28

There is no one like the God of Jeshurun, Who rides the heavens to help you, And in His excellency on the clouds. The eternal God is your refuge, And underneath are the everlasting arms; He will thrust out the enemy from before you, And will say, ‘Destroy!’ Then Israel shall dwell in safety, The fountain of Jacob alone, In a land of grain and new wine; His heavens shall also drop dew.

Toe Jesus in die boot klim, toe kalmeer die storm. Sy teenwoordigheid is die oplossing. Jou omstandighede is aan Hom onderworpe in die oomblik van jou besluit om Hom te vertrou en die storm aan Hom te onderwerp. Sy stem, Sy hand – niks meer nie.

Al dink jy Hy slaap, Hy is daar. Jy veg teen die storm, tot jy uitroep. Dan hoor jy die Stem wat beveel.

Matteus 8:26 : Toe staan Hy op en bestraf die winde en die see, en daar het ‘n groot stilte gekom.

Psalm 107:29 : He calms the storm, So that its waves are still.

Jesaja 4:6 :

And there will be a tabernacle for shade in the daytime from the heat, for a place of refuge, and for a shelter from storm and rain.

Die tabernakel is waar die ark is – simbool van die Teenwoordigheid van God.

Ter afsluiting: Wie is hierdie Jesus? Wat is Sy naam?

Jeremia 17:14: Heal me, O Lord, and I shall be healed;
Save me, and I shall be saved,
for You are my praise.

Die Hebreeus vir RED is yasha, met die grondbetekenis – om los te maak, om wyd oop te maak. Dit is in een woord God se reaksie op alle nood van die mens. Daarom het Hy sy seun die naam gegee:

Yeshua – Hy sal red.

Hy is die Redder in die skuit. Dis Sy naam.

 

 

 

* Uit Optelwoorde – Koos van der Merwe

 

As my een gram argument

Teen Sy tonne waarheid praat

En my sentimeter sentiment

Sy ligjaar passie wil verlaat

En my drie desibel gil

Teen Sy donderfluister skree

Dan word ek skielik stil

En my ongeloof gee mee

 

Dan moet ek glo al roep die twyfel

Dan moet ek glo al sê die sonde kom

Al sou ‘n 1000 paaie uitroep

Net 1 pad lei na Hom

Dan moet ek glo, dan moet ek glo

 

As my 1 emmer sonde

In Sy oseaan genade val

En my 5 krummels honger

Sy lewensbrood ontvang

En my 7 grade slimheid

Voor Sy dwaasheid dom gaan staan

Dan staan ek stom in stilheid

En ek hoor ‘n Skepper praat

 

Dan moet ek glo al roep die twyfel

Dan moet ek glo al sê die sonde kom

Al sou ‘n 1000 paaie uitroep

Net 1 pad lei na Hom

Dan moet ek glo, dan moet ek glo

 

As my 10 traan doodsdepressie

Hoor van Lasarus kom uit

En by my stormsterkte kwessie

Slaap ‘n redder in die skuit

En my mees verdwaalde wegkruip

Word sy raaksien en kom haal

Dan moet ek nederig opkyk

Na die Outeur van my verhaal

 

Dan moet ek glo al roep die twyfel

Dan moet ek glo al sê die sonde kom

Al sou ‘n 1000 paaie uitroep

Net 1 pad lei na Hom

Dan moet ek glo, dan moet ek glo

 

 

48. Leef dit …. wat jy gehoor het.

Vir ‘n geruime tyd al, het ek en ‘n vriendin ‘n soort vervolg-gesprek oor die hindernisse in ons lewe wat veroorsaak dat ons die beginsels wat ons met groot entoesiasme en blydskap aanhoor, nie leef nie. Dit voel soms asof ek net die volgende dag in dieselfde slaggat trap, as wat ek nou net in die Woord as selfsugtig, hoogmoedig en kleinlik geidentifiseer het. Hoekom het ek so min insig in my eie reaksie? So min beheer oor my denkpatrone, dat my tong ‘n sweep van sotheid word.

Ons het reeds gesê – en laat my toe om dit te herhaal as ‘n fundamentele waarheid – as jy die volle impak van God se genade besef, het jy Hom gesien, Jesus in Sy oë gekyk en jou Vader se hart hoor klop. God se genade belowe vir ons hemel op aarde en die heel luukste lewe wat jy jou kan voorstel – ‘n lewe sonder vrees.

Wat verhoed ons om die genade te leef? Is ons bang vir wat ons moet afgee? Skram jy weg van ‘n denkpatroon, ‘n nuwe manier van lewe, ‘n ander houding wat jouself opoffer?

Dit is die kern. Soos een predikant dit noem – die ekkigheid.

Ons praat nie meer van offers nie. Dis Ou Testament. Ek wil net vaagweg kennis neem van die bloedige offer-rituele wat so noukeurig in die wetboeke van Moses en die boeke van die rigters, konings en profete beskryf word. Sjoe – gelukkig is dit verby. Ons het Jesus en hoewel die aaklige, bloedige, wrede waarheid van die Kruis vir ons uitgespel word, is dit nogtans net iets wat ons in die gemakstoel van ‘n fliek op die doek voor ons ervaar. Ek vra myself of ek ooit iets van die pyn van Maria op daardie donker Vrydag kan besef. Ek is so ver daarvan.

Deur Jesus is die genade van God oor ons en vir ons heeltemal vrylik beskikbaar. Vreeslose lewens vol vrede en vreugde is gewaarborg. Dit is vry, maar nie goedkoop nie. Dit kos alles. ‘n Volle oorgawe – in reële terme – ‘n offer.

Die beginsels van die Ou Testament kan nooit in die lig van ‘n moderne lewe bloot as niksseggend afgeskryf word nie. Onskuldige bloed as die offer vir sonde staan en sal bly staan deur al die eeue. Dit is die kern van ons geloof in Jesus – die Kruis.

Ons is deur die hemelvaart in die Gees-dispensasie ingelei. Die realiteit van die geweld en bloed van die Ou-Testament is na Jesus se menstyd op aarde, die stryd en oorwinning in die geesteswêreld.

Kyk saam met my na die definisie van offer / sacrifice – Hebreeus: thusia

 ..an act of slaughtering an animal or person or surrendering a possession as an offering to God or to a divine or supernatural figure.

Ek het regop gesit toe ek sien die woordeboek sluit die offer van ‘n persoon by die definisie in. Dit behoort nie vir my ‘n verrassing te wees nie. Kyk weer na Efesiërs 4:2 uit die Amplified:

Living as becomes you, with complete lowliness of mind, humility and meekness – unselfishness, gentleness, mildness, with patience, bearing with one another and making allowances because you love one another.

Dit is die offer. Ek, myne en myself gaan op die altaar. My opinie, my vooroordeel, my liefdeloosheid, my beheer, my voorkeur – en die bloed loop……

Hoe kry ek dit reg? Hoe sal ek weet die altaar roep?

Daar is net een manier – die enigste manier. 2 Korintiërs 4:7:´

However, we possess this precious treasure, the divine Light of the Gospel, in frail, human vessels of earth, that the grandeur and exceeding greatness of the power may be shown to be from God and not from ourselves.

Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie.

In die Lig van Jesus word ons lewe blootgelê aan die oortuiging van die Heilige Gees, sodat die manjifieke, uitnemende krag van God deur ons vertoon. Ons kan nie, en mag nie, ons eie poging aanwend nie. Gee oor, bely jou misrabele mislukkings en kyk met verwagting na die Hand van God in jou lewe.

Dit is die offer. Romeine 12:1 – ons is die lewende offer.

I appeal to you therefore, brethren, and beg of you in view of all the mercies of God, to make a decisive dedication of your bodies, presenting all your members and faculties as a living sacrifice, holy (devoted, consecrated) and well pleasing to God, which is your reasonable, rational, intelligent service and spiritual worship.

Hierdie oorgawe van jouself – sê Paulus – is eintlik godsdiens 101, die eerste beginsels wat Hebreërs van praat. Dis fundamenteel. Die eerste stap in ware aanbidding.

Die onderliggende beginsel van ‘n offer is ‘n altaar. Iets moet brand. Vuur vernietig, maak as, maak skoon. Niemand betwyfel die effek van ‘n vuur nie. Daar is nie ‘n debat oor die as wat oorbly nie. Dis nie herwinbaar nie. Jy kan nie jou eie wil, vrees, hoogmoed en begeerte om te beheer weer van ‘n altaar af optel nie. Dis weg. Jy staan van jou knieë af op en jy is anders.

Vuur is geweld. Dit is die wapen teen die vyand wat sy verkreupelende beginsels se houvas oor jou wil bevestig. Die aflegging daarvan is ‘n worstelstryd op die altaar van gebed.

Come and, like living stones, be yourselves built into a spiritual house, for a holy, dedicated, consecrated priesthood, to offer up those spiritual sacrifices that are acceptable and pleasing to God through Jesus Christ. 1 Petrus 2:5

Lees hierdie vers met aandag en vra die Heilige Gees wat op jou altaar geoffer moet word. Vra Hom of daar enige hindernis is vir God se stem en Sy werk in jou. Laat Hy die struikelblokke aan jou openbaar. Dis nie ‘n mens se werk nie – net die Heilige Gees oortuig van sonde. [Johannes 16:8]

Wag vir die oortuiging wat volg en bely dit. Dit gebeur alles in volmaakte liefde. Vra vir die opvulling met die Heilige Gees sodat jy krag het om die aanslag te weerstaan. Hierdie gebed vereis stilte en tyd voor die Here, met ‘n fokus op Hom. Vra dat Hy jou ontmoet in jou stryd, soek die Gewer van die genade en guns, klop aan by die Koopman van Openbaring [3:18].

Die gevolg? Hemel! Die Koopman beloof goud, wat deur vuur skoongebrand is.

God se Hand wat beweeg namens jou. Al jou frustrasie en moeilikheid, doodloopstrate en angsaanvalle is nou onderworpe aan Almagtige aksie.

Hy rol Sy moue op, soos een wat gereed maak vir werk, om vir jou die pad gelyk te maak. Jesaja 52:10:

The Lord will lay bare his holy arm in the sight of all the nations, and all the ends of the earth will see the salvation of our God.

Is dit nie ‘n geweldige gedagte nie? Jou redding sal ‘n aanskoulike wonderwerk wees. Dis gewaarborg in Sy Woord.

Staan stil en dink daaroor!

Spring op en juig daaroor!

Terwyl ek hier sit en skryf is ek in my hart op my gesig voor die Here en ek bely soveel maal wat ek gedink het ek kan self dinge regkry. Situasies wat ek wil regpraat met my eie woorde – ag Here!

 

Onthou die ou lied:

Let go and let God have His wonderful way

Let go and let God have His way

Your sorrows wil vanish, your night turn to day

Let go and let God have His way

 

en as ek eers begin onthou:

 

Got any rivers you think are uncrossable

Got any mountains you can’t tunnel through

God specializes in things thought impossible

And He can do what no other friend can do.

 

My gebed vir elkeen wat hierdie woorde hoor is Psalm 1:

Dit gaan goed met die mens wat nie die raad van die goddeloses volg nie, nie met die sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie, maar wat in die Woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink.

Hy is soos ‘n boom wat by waterstrome geplant is, wat op die regte tyd vrugte dra en waarvan die blare nie verdroog nie. 

Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.

 

Tot volgende keer.