170. Koning van vrede.

[Johannes 12]

Jesus is oppad Jerusalem toe.

Vir Hom om Jerusalem toe te kom in die tyd van die Paasfees is waarlik waagmoed. Hy het geweet Hy het diep “moeilikheid” met die owerhede. Blyplek was ‘n probleem in Jerusalem en baie pelgrims het in Betanië oorgebly in die tyd. Tyding oor Lasarus het vinnig versprei.

Die Romeine het graag ‘n sensus afgekondig. Hulle wou seker maak elkeen betaal belasting. Soos ons weet het Josef en Maria Bethlehem toe gereis vir ‘n sensus. In ‘n Romeinse sensus kort na die kruisiging is opgeteken dat sowat 256 000 lammers tydens die Paasfees geslag is. Gewoonlik het tien mense ‘n lam gedeel en daarom is die skatting op meer as 2,600 000 Jode in Jerusalem tydens die Paasfees. Jerusalem was vol en besig.

Die karakters in die stories om Jesus is altyd merkwaardig. Die inspirasie van die Heilige Gees gee ons die kleurvolle en dramatiese besonderhede van die mense sodat ons na soveel eeue nog met die mense om Jesus kan identifiseer.

Marta het ‘n maaltyd bedien. Mariahet Jesus met kosbare parfuum gesalf. Sy het haar heel beste oor Hom uitgegiet.

In haar bediening het Marta ook haar liefde vir Jesus uitgeleef. Sy was goed met wat sy gedoen het. Ek kan so met haar identifiseer, want ek voel ook ek moet ietsie te ete en te drinke voorsit om die gesprek te laar vloei. Ek weet een van my gawes van die Heilige Gees is gasvryheid. Ek sou spring om vir Jesus iets voor te sit. Tog voel ek daar is stille kritiek op Marta. Haar diens aan Jesus het haar buite hoorafstand van Sy stem geneem. Miskien was daar nie moderne oopplan kombuise nie. Ek hou van kook, maar ek hou ook van die geselskap.

Solank ons gawes en selfs ons bediening ons nie buite die bereik van die stem van God neem nie, kan ons met vrymoedigheid en passie voortgaan. Ek het al so dikwels my passie vir materiaal, binneversiering, kuns en mode aan die Here onderwerp en Hom gevra om dit in Sy koninkryk te gebruik. Ek is lief vir mooi goed en ek wil nie hêdit moet my van Hom af wegdryf nie.

Die mees belangrike ding in my lewe is om die stem van God te hoor. Ek wil hoor as ek lees, hoor as ek werk, hoor wanneer ek skryf en hoor wanneer ander mense om my is. Ek wil God “hoor” in die alledaagse.

Hoe leef ons ons liefde vir Hom?Dink daaroor.

Onthou dit kan in die kleinste, mees gewone en eenvoudigste take wees, soos om jou familie te versorg. Dit is altyd ons eerste roeping.

Jesus het dit self gesê. Ons moet Sy getuies wees in Jerusalem(ons gesin), Judea(ons familie en vriende), Samaria(die mense waarvan jy nie hou nie) en dan die res van die wêreld (Handelinge 1:8).

Maria was oorvloedig in haar offer. Dit was ‘n teken van verering om iemand se hoof te salf (Psalm 23). Maria het Jesus se voete gesalf. Haar nederigheid het haar aan Sy voete gebring. Sy het nie gedink sy is goed genoeg om Sy hoof te salf nie.

Liefde het haar vrymoedigheid gegee. Geen gerespekteerde vrou sou haar hare in die publiek los maak nie. Getroude vrouens het hulle hare bedek. Eintlik was dit net prostitute wat met hulle hare uitlokkend was. Maria was glad nie gepla met wat die mense sou dink nie.

Haar huis is gevul met die heerlike geur van die parfuum. Dit is wat met ons ook gebeur. As ons Jesus liefhet en eer, is ons die lieflike geur van liefde. Die kerk wat haar voorbeeld volg is waarlik die liggaam van Jesus.

Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos ‘n aangename geur(2 Korintiërs 2:14)

Judashet ewe edel oor die armes gepraat en gesêdie duur parfuum kon verkoop word. Jesus het geweet Judas gaan Hom verraai. Hy het heel moontlik Judas die tesourier gemaak om hom te wen met vertroue en te kommunikeer dat Hy die beste van Judas verwag.  Vir Judas was dit ‘n groot versoeking om meer geld te kry. Hy het die geld in elk geval misbruik. Sy gawe het sy ondergang gebring as gevolg van sy selfsugtige doelstellings.

Die woord wat hier gebruik word is bastazein,wat beteken om te draof te steel.

Judas het die hele liefdesritueel van Maria gemis. Sy oog was op sy eie belange. Hy kon nie onderskei wat belangrik is nie. Hy kon nie die tyd (hy het nie besef die kruis is naby nie) onderskei, of die openbaring van liefde van Maria nie. Hy het nie gehoor dat Jesus weer en weer sêdat Hy hulle gaan verlaat nie.

Judas het beheer oor die geld gehad en gedink dat hy Jesus ook vir sy eie politieke ambisie kan “gebruik”. Hy wou van die Romeine ontslae raak en het gedink dat hy Jesus in ‘n konfrontasie met die owerhede kan dwing.

Tydsberekening is baie belangrik.

…van die Issaskarstam, die mense wat die tekens van die tye verstaan het en geweet het wat Israel te doen staan: (1 Kronieke 12:32)

Wat Maria daardie dag gedoen het, kon nooit herhaal word nie. Sy het die geleentheid gebruik om haar liefde te betoon. Ek dink nie een van hulle het gedink aan die trane, bloed en hartseer van die einde van daardie week nie.

Leef liefde – teenoor God en teenoor ander. Gryp die geleenthede – dien en bedien met jou beste.

Die opmerking van Judas oor die armes was veronderstel om “reg” te klink. Jesus self haal die Skrif aan:

Daar sal altyd armes in jou land wees, en daarom het ek jou beveel om vrygewig te wees teenoor jou mede-Israeliet wat in nood is en arm is.”(Deuteronomium 15:11)

In die volgende verse (12:9-11) ontmoet ons die priesters en die Joodse owerhede. Die priesters was almal Sadduseërs.

Die Sadduseërs was welvarende aristokrasie wat met die Romeine saamgewerk het om hulle lewenstyl te behou. Enige burgerlike onrus, opstande of moeilikheid onder die mense sou die Romeine met ‘n swaar en wrede hand onderdruk en hulle, die Sadduseërs, daarvoor blameer. Hulle sou verseker hulle posisie en welvaart verloor. Die Sadduseërs het in Jesus ‘n bedreiging vir hulle goeie regering gesien.

Polities moes hulle dringend van Hom ontslae raak.

 Teologieswas Hy selfs ‘n groter probleem. Hulle het nie in die lewe na die dood geglo nie. Lasarus se opwekking was ‘n groot bedreiging vir hulle opvattings. Daar was selfs berugte dat hulle Lasarus wou doodmaak.

Die waarheid was van geen belang nie.

Intussen kom Jesus Jerusalem binne – soos ‘n koning – net wat hulle gevrees het. (12:12-19)

Die skare saam met Hom het gejuig met uitroepe van koningskap. Hulle het Hom as ‘n held gesien omdat Hy moed gehad het om die owerhede teen te staan.

Hosanna in Hebreeus beteken: red nou.

Hulle het die woorde van die Hallel(Psalms 113-118), gesing wat tydens die dankoffers en gedurende die Paasfees gesing is. Elke persoon het as kind het die woorde geleer en almal kon dit saamsing. Dis ook tydens die Loofhuttefees gesing. Hulle het in oorwinning gesing. Hulle het dit gesing toe Nehemia die muur herstel het (Nehemia 8:14-18).

Die skare het gesing in die vooruitsig dat hulle Rome sou oorwin en in afwagting vir die trompetgeskal om hulle herstel aan te kondig. Hulle wou Hom kroon vir alles wat Hy nie wou wees nie en weerstaan het. Jesus moes hulle doelstellings dien.

Jesus kon nie praat nie. Hulle sou Hom nie hoor nie en nie luister nie. Daarom is dit belangrik om te let op wat Hydoen.

Hy ry op ‘n donkie. Dit was ‘n direkte aanspraak op die titel Messias.

Jubel, Sion! Juig, Jerusalem!

Jou koning sal na jou toe kom.

Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar,

hy is nederig en hy ry op ‘n donkie,

op die hingsvul van ‘n donkie.   (Sagaria 9:9)

Hy was ‘n besondere soort Messias. ‘n Donkie was ‘n edel dier in die antieke tye en glad nie met minagting behandel nie. (2 Samuel 17:23; 19:26). Mefiboset, die prins en seun van Saul, het op ‘n donkie gery toe hy Dawid besoek het.

Dit was ‘n teken van vrede.

‘n Perd was ‘n oorlogsdier en ‘n koning op ‘n perd kom om oorlog te maak. Jesus was waarlik die Prins van Vrede. Die skare het dit gemis. Hulle wou oorlog maak. Dit was hulle plan. Hulle wou die ystervuis van Rome met geweld teenstaan.

Die Joodse leiers het profeties uitgeroep:

Kyk, die hele volk gaan agter Hom aan.

Jesus het baie moed. Hy weet hoe verkeerd hulle is. Hy weet wat die reaksie gaan wees en tog kom Hy Jerusalem binne met al die aandag op Hom.

169. God in aksie.

[Johannes 11]

Wat is ‘n wonderwerk? Dit is ‘n gebeurtenis in die lewe van ‘n mens wat net in bonatuurlike terme beskryf kan word. Die amptelike definisie beklemtoon die misterieuse aspek van ‘n hoogs onwaarskynlike of buitengewone verskynsel.

‘n Wonderwerk is ‘n verrassende en welkome uitkoms wat nie met natuurlike of wetenskaplike wette verduidelik kan word nie en daarom  as die werk van ‘n goddellike wese beskou word.

Dit is verrassend en welkom, ‘n positiewe uitkoms. Dit is die teenoorgestelde van die krisis of omstandighede wat aanleiding gegee het tot die noodsaaklikheid van die wonderwerk. DIt is met ander woorde die onverduidelikbare uitkoms uit ‘n katestrofiese, harverskeurende situasie.

‘n Wonderwerk is God in aksie. Dit is ons liefdevolle Vader, almagtige Skepper-God, wat intree en die onmoontlike vir ons doen, tot ons voordeel. ‘n Wonderwerk is ‘n welkome verligting waar menslike verligting nie moontlik was nie.

Wonderwerke is antwoord op gebed.

God is ‘n misterie wat in die onsienlike realm bestaan. Hoe sal ons Hom vind en Hom in aksie “sien”? God is die God van sy mense. Hy is aktief in Sy gemeenskap. Dit is Sy werk in en om die mense waarin ons Hom “sien”.

William Barclay verduidelik hoe ‘n rabbi die teks van Deuternonomium 13:4 uitlê. Die Skrif stel dit so:

Jy moet getrou bly aan die Here jou God en Hom eer, jy moet sy gebooie gehoorsaam en na sy bevele luister, jy moet Hom dien en aanhang.

Om die Here aan te hang is om te doen wat Hy doen. Hy werk onder die armes (Genesis 3:21), Hy besoek die siekes (Genesis 18:1), Hy troos die treurendes (Genesis 25:11), Hy begrawe die dooies (Deuteronomium 34:6). In al hierdie dinge vind ons ons eie rol in die gemeenskap, deur te doen wat Jesus doen.

In hierdie gedeelte van Johannes 11:17-27 ontmoet ons die huishouding van Jesus se vriende in Betanië. Marta tree volgens  haar karakter wat ons al ontmoet het, op (Lukas 10:38-42).  Sy hou van aksie. Maria sit stil. Marta hardloop Jesus tegemoet en praat haar hart oor haar lippe. Sy spreek haar verwyt teenoor Jesus uit en tog haar geloof, hoewel sy teleurgesteld is.

Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.

In haar woorde vra sy Jesus waarom Hy so laat is. As Hy gekom het toe sy die boodskap gestuur het, sou haar broer gelewe het. Tog is daar geloof in haar woorde dat God sal doen wat Jesus vra.

Marta noem die algemene opstanding in die laaste dae. Dit is heel belangrike woorde van Marta.

Een van die merkwaardige dinge in die Bybel is dat die Ou Testament se geloofshelde nie werklik in die lewe na die dood geglo het nie. Hulle het geglo dat almal, gelowig of nie, na die doderyk gaan wat hulle Sheol of Hades genoem het. Die doderyk word soms verkeerdelik methelvertaal, maar dit was nie ‘n plek van marteling nie, eerder ‘n skaduland van blote bestaan, vreugdeloos en kragteloos, amper spookagtig. (Psalms 6:5; 30:9)

Hiskia treur oor die profesie dat hy sal sterwe en sê:

In die doderyk kan niemand U loof nie, geeneen wat dood is, kan U prys nie; niemand in die graf dink aan u trou nie!  (Jesaja 38:18)

In die Psalms (16:9-11 en 73:23-24) wil die Psalmis glo dat nie eers die dood hom van God kan skei nie. Hierdie ewige hoop vind ons in Job. In sy smart en siekte roep Job uit:

MAAR ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan.

En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees God aanskou; (Job 19:25,26, OAB)

In die tyd van Jesus, het die Sadduseërs nie in die lewe na die dood geglo nie, maar die Fariseërs en die meerderheid van die Jode het wel.  Die dooies het God gesien en is nie eers dooiesgenoem nie, maar die lewendesom dat hulle by God was.

Dit is na hierdie geloof wat Marta uitreik.

Jesus antwoord haar met een van die mees lewegewende EK IS-uitsprake.

Ek is die Opstanding en die Lewe.

Ons geloof in Hom gee lewe en Sy lewe maak geen voorsiening vir dood in enige vorm nie – geestelik, fisies of op sielsvlak.

Not even a lifetime’s thinking will reveal the full meaning of this; but we must try to grasp as much of it as we can.[William Barclay]

Daar is lewe na die fisiese dood op aarde. Die dood is nie die einde nie. Die dood is slegs ‘n deur na die onsienlike.

Die fisiese dood is die sonsopkoms, die dagbreek van die Ewigheid.

Dit was die gewoonte, veral vir vroue, om die graf te besoek en daar te treur op elke moontlike geleentheid vir ‘n week na die begrafnis. Maria se groet aan Jesus was presies dieselfde as Marta s’n.

‘n Mens moet in gedagte hou dat dit nie ‘n sagte ween en traan wegpik geleentheid is nie. Dit was meer ‘n histeriese weeklaag en skreeuende uitroepe van hartverskeurende rou. Vir die Jode was so ‘n onbevange gehuil ‘n teken van eer aan die dooie.

Jesus is diep geraak. Die woord wat gebruik word is: embrimasthai.

Die woord word drie maal op ander plekke in die Nuwe Testament gebruik. Dit beteken om ‘n streng opdrag te gee, of ‘n skerp vermaning uit te spreek.

Hoekom was Jesus kwaad?  Daar word bespiegel dat Jesus bewus was van die voorgee en vals, opgewerkte hartseer van die mense. In die gewone Grieks beteken embrimasthai ‘n perd wat snork. So ‘n diep emosie het in Jesus geroer dat Hy ‘n kreun laat hoor het.

Hierdie is ‘n wonder van Jesus se lewe en die wyse waarop die Evangelieskrywers dit beskryf, is merkwaardig. Jesus was so betrokke by die mense dat Sy emosie geraak is.

Johannes skryf hierdie Evangelie sodat ons die denke van God in Jesus kan sien.Vir die Grieke was een van die belangrikste kenmerke van ‘n god dat hy totaal bo emosies was en geen gevoel kon ervaar of uitleef nie.

Emosie is die gevolg van ons reaksie op mense en omstandighede. Dit beteken dat iets buite onsself beheer oor ons kry. Niemand kan beheer oor ‘n god hênie, daarom moet ‘n god of opperwese geen emosie toon of ervaar nie en heeltemal bo dit wees.

Die Grieke het in ‘n passielose, neutrale, geïsoleerde opperwese aangehang.

 Wat ‘n wonder-beeld het Jesus geleef! God is betrokke, aangeraak. God het lief. Hy gee om. Hy is diep geraak in jou hartseer omdat Sy liefde vir jou Hom na jou toe trek met ‘n onvoorwaardelike betrokkenheid om beter te maak, gesond te maak en uit te red.

Die gewone graf in Palestina was ‘n spelonk-tipe opening uit rots gekap. Die liggaam is in linne toegedraai. Die kop is apart toegedraai. Voor die opening was daar ‘n groef in die grond waarin ‘n groot klip gerol is om die graf toe te maak.

Jesus vra dat hulle die steen moet wegrol. Marta het sekerlike gedink dat Jesus sy vriend ‘n laaste maal wil sien, maar sy het nie gedink dis ‘n goeie idee nie. Lasarus was al vier dae in die graf en in daardie hitte het die liggaam heel moontlik al begin ontbind. Daar het ‘n bygeloof bestaan dat die siel van ‘n dooie mens drie dae om die graf vertoef om dalk weer in die liggaam in te gaan, maar na drie dae finaal vertrek. Na vier dae was die gesig ook sekerlik nie meer herkenbaar nie.

Jesus spreek die opdrag waarteen selfs die dood geen mag het nie.

Lasarus kom uit!Dit was sekerlik nogal ‘n gesig om die toegedraaide figuur uit die graf te sien struikel. Jesus moet vir die mense sêom hom los te maak. Almal het sekerlik versteend gestaan en staar, te bang om te beweeg.

Die oomblik wat Jesus die woorde gespreek het, het die krag van God deur Hom gevloei. Die wonderwerk was tot eer van God, net soos in Elia se gebed:

 Antwoord my, Here, antwoord my tog dat hierdie volk kan besef dat U, Here, God is, en dat dit U is wat hulle harte weer tot U bekeer.”(1 Konings 18:37)

In die ander drie Evangelies is daar stories oor die mense wat uit die dood opgewek is. Jaïrus se dogtertjie (Matteus 9:18-26; Markus 5:21-43; Lukas 8:40-56) en die weduwee van Naïn (Lukas 7:11-16). In beide gevalle het Jesus hulle opgewek kort na hulle dood verklaar is. In die warm klimaat van Palestina het begrafnisse vinnig op dood gevolg en somtyds het mense in die graf uit ‘n koma wakker geword. Die mense is dalk deur Jesus van ‘n wrede dood in ‘n graf gered. Argeologiese opgrawings het bewyse van mense wat van binne af uit ‘n graf wou kom.

Daar was egter geen ander geval van ‘n persoon wat vier dae dood was en toe weer lewe nie.

Die Sanhedrin is bymekaar geroep om die geval te bespreek. Die wonderwerk van Lasarus se opwekking het hulle gedwing om drasties op te tree.

Die Sanhedrin was beide Fariseërs en Sadduseërs. Die Fariseërs was nie polities nie. Hulle het die Wet van Moses geleef as voorbeeld vir die ander mense. Die Sadduseërs was polities. Hulle was welvarend en het geleef soos die aristokrasie. Hulle lewenswyse moes natuurlik ten alle koste beskerm word en daarom het hulle met Rome saamgewerk. Die Sadduseërs het die praatwerk in die Sanhedrin gedoen.

Hulle was berug vir hulle ongeskiktheid en beledigings. Hulle houding het in sterke kontras met die optrede en woorde van Jesus gestaan.

Jesus was ‘n wesenlike bedreiging vir hulle rykdom en status. Sy volgelinge kon onrus veroorsaak en Rome was wreed ongeduldig met opstande en sou die Sadduseërs blameer. Die vraag of Jesus die waarheid praat en werklik van God gestuur is, was nie eers ter sake nie.

‘n Mens kan sy eie karakter bo die wil van God verhef.

Die geskiedenis bewys die dramatiese ironie. Die Sadduseërs wou van Jesus ontslae raak om hulle mag te behou, maar 70nC het die Romeine genoeg gehad van die onrustige, moeilik-beheerbare Palestina en Jerusalem met die grond gelyk gemaak net soos Jesus voorspel het. Sou dinge nie anders uitgedraai het as hulle Jesus aanvaar het nie?

Kajafas, die Hoë Priester, maak hierdie ironiese stelling:

… dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterwe en nie die hele nasie verlore gaan nie.”

Die Hoë Priester moes God namens die volk nader. Moses het die raad aan Joshua gegee (Numeri 27:18-21)

God praat soms deur mense wat onbewus is van die groter impak van hulle woorde – soos in hierdie geval.

Jesus het inderdaad vir die hele volk gesterf.

Teen hierdie tyd het mense al begin aankom vir die Paasfees in Jerusalem. Die Jode moes seremonieel rein wees vir die Fees en kon daarom nie aan ‘n lyk vat nie.

‘n Mens kan jou net die gepraat voorstel. Die mense het geweet wat aangaan. Hulle het altyd belanggestel in iemand wat die owerhede met durf teenstaan. Dit was ‘n kwessie van lewe en dood.

Die gevolgtrekking van die gepraat was dat Jesus onder geen omstandighede in Jerusalem sal wees nie. Dit was onmoontlik om die Joodse leiers en die Romeinse owerhede te konfronteer.

Maar…hulle het Jesus onderskat. Niks op aarde sou Hom stop. Hy het openlik Jerusalem binnegekom in ‘n triomfantelike prosessie met al die aandag op Hom. Hy het bewys Hy het die dood oorwin.

Die slegste scenario kon Hom nie keer nie.

 

 

 

 

 

89. Alles is verkeerd!

Dis so maklik. Tel die koerant op en begin lees… en lees totdat jy in ‘n diep, donker bui besluit, niks loop reg nie. In die woorde van Dalene Matthee is jy “opgestop van onplesierigheid”. Jou standaarde vir ‘n goeie lewe, goeie regering, goeie besluite en goeie omgewing word in die rioolpyp van die wêreld ingespoel, sonder verskoning, sonder vergoeding. Selfbejammering en woede, kras kritiek en gewraakte kommentaar bars uit jou binneste, presies daar waar die strome van lewende water vir ‘n stukkende wêreld moet uitvloei. Wat het Jesus nou weer gesê?

These things I have spoken to you, that in Me you may have peace. In the world you will have tribulation; but be of good cheer, I have overcome the world.” (Johannes 16:33, NKJV)

As Jesus dit gesê het, dan is dit die waarheid en die gevolge gewaarborg. Moeilikheid is ‘n gegewe. Wil ons dan ons moeilikheid kies? Nee dankie, Here, net nie dit nie. Watse moeilikheid sou jy verkies? Ek wil uitroep: Here, my lewe is in U hand en daarom weet ek wat ookal oor my pad kom sal nooit vir my te veel wees nie.

No temptation has overtaken you except such as is common to man; but God is faithful, who will not allow you to be tempted beyond what you are able, but with the temptation will also make the way of escape, that you may be able to bear it. (1 Korintiërs 10:13 NKJV)

Hierdie wêreld is ‘n uitdaging. Miskien is ons nog te geneig om die geestelike van die vleeslike te skei. Ons voel geregverdig om sekere dinge buite ons beheer soos wêreldpolitiek, landspolitiek en die besluite van owerhede waaroor ons geen beheer het nie, te bespreek totdat ons in swartgalligheid verval en verhoed word om God se almag en beskikking binne die probleme raak te sien.

Dis nie ‘n lewe van geloof nie. Geloof en die uitdaging om vreesloos te leef is juis vir gevaarlike en onvolmaakte toestande. Die groter uitdaging is om dieper te kyk en te weet, wat ookal my omstandighede is, God is groter en Hy regeer. Ons lewe se doel is volmaaktheid in geloof en volwassenheid in Christus. As bekommernis en vrees ons nie lei na meer gebed, openbaringskennis en ‘n getuienis van die wonderwerkende krag van Jesus nie, leef ons ‘n tragedie.

My brethren, count it all joy when you fall into various trials, knowing that the testing of your faith produces patience. But let patience have its perfect work, that you may be perfect and complete, lacking nothing. (Jakobus 1:3-4, NKJV)

Daar is ‘n plek in die Tuin van Sy teenwoordigheid met groen weivelde en waters van rus met GEEN gebrek. Dit alles is joune – nou dadelik, op hierdie oomblik.

Paulus het baie gesukkel met die owerhede en vyande wat sy eie mense was. Hy praat van tears and trials…

… serving the Lord with all humility, with many tears and trials which happened to me by the plotting of the Jews; (Handelinge 20:19, NKJV)

Om nie te praat van Nehemia nie. Kom ons kyk saam na sy reaksie op oorweldigende negatiwiteit. Sy vertelling is vol besonderhede, sodat die leser geensins onder die verkeerde indruk kan verkeer nie. Die muur is voltooi, maar die deure van die poorte is nog nie gehang nie. (Nehemia 6).

Nehemia se vyande is aktief. Hulle aktiwiteit spruit uit hulle eie vrees. Jerusalem as ‘n ruïne, sonder verdediging en sonder georganiseerde bewoners, het hulle gepas. Nou verander die prentjie en hulle word bang. Die banges word boelies – ons weet dit mos. Hulle poog eers om Nehemia self by te kom, maar hy weier om die werk te los en van die leer af te klim – nie minder as vier keer nie. Sy antwoord:

Ek stuur toe boodskappers na hulle toe en sê: “Ek is besig met ‘n groot werk. Ek kan nie kom nie. Hoekom moet die werk stilstaan terwyl ek dit laat lê om na julle toe te kom?” (6:3)

Die vyfde maal stuur Sanballat ‘n brief wat nie verseël is nie, met die boodskap dat daar gerugte oor Nehemia is dat hy die koning van Jerusalem wil wees en daarom ‘n bedreiging vir die Persiese koning kan word. Die ongeseëlde brief was gemik daarop om Nehemia te laat dink dat die mense reeds die brief gelees het en alreeds die gerugte daarin versprei. Nehemia se antwoord – kort en kragtig sonder om sy tyd op storietjies te mors:

Ek het hom terug laat weet: “Niks van wat jy sê, is waar nie. Jy suig dit uit jou duim.” (6:8)

Nehemia kyk dieper. Hy het insig in sy vyand se strategie. Sy wysheid kom uit in sy kenmerkende skietgebed:

Hulle het almal geprobeer om ons die skrik op die lyf te ja, met die gedagte: Hulle sal die werk laat staan en dit sal nie klaarkom nie. Sterk tog my hande, o God! (6:9)

Toe kom die aanslag uit eie geledere. Nie almal is so dapper en wys soos Nehemia nie. Hy kry sy krag uit voortdurende gebed. Hy ervaar God met hom en leef uit die insig wat hy by God self kry. Semaja, wat homself in sy eie huis toegesluit het, wil Nehemia oortuig om in die Tempel te gaan wegkruip as gevolg van die bedreiging van die vyand. Nehemia se antwoord:

Ek het gesê: “Sal ‘n man soos ek vlug, iemand soos ek tempel toe gaan om te kan bly lewe? Ek sal nie gaan nie!” (6:11)

Dit blyk dat Semaja deur Sanballat en Tobija omgekoop is om Nehemia se ywer om die werk klaar te kry, te neutraliseer. Nehemia se insig in sy vyand se vrees-strategie stel hom in staat om die bedreiging te weerstaan. Vrees kry net nie vastrapplek nie.

Vrees floreer in onsekerheid en twyfel. Nehemia se onwrikbare geloof in die taak wat op hom gelê is, stel hom in staat om doelgerig, met ‘n vaste vertroue op God se beskerming en voorsiening die taak te voltooi. Dit is ‘n kosbare beginsel.

Die vrees-strategie van die vyand is so oorweldigend, dat dit tot uit die geledere van die profete gekom het. Nehemia verkla hulle almal by die Here. (6:14):

My God, onthou wat Tobija en Sanballat gedoen het, en ook die profetes Noadja en die ander profete wat my wou bang maak.

Die resultaat van sy toewyding is onbetwisbare sukses. Die muur is in rekordtyd voltooi – 52 dae. Die uitwerking van sy sukses op die vyand is ‘n vreugde om te lees. (6:16):

Toe al ons vyande dit hoor, en die nasies rondom ons dit sien, was hulle selfversekerdheid daarmee heen. Hulle het toe geweet ons doen hierdie werk met die hulp van ons God.

Dit is ‘n goeie dag wanneer jou vyand se selfbeeld deur ‘n wonderwerk van God afgebreek word en hulle deur geknersde tande jou sukses in die Here moet erken.

Wat beteken hierdie antieke storie vir ons vandag?

As jy ‘n groot werk doen, klim jy nie af na vrees en intimidasie nie.

Wanneer hierdie tekens oor jou kom, moet jy doen wat jou hand vind om te doen, want God is by jou. (1 Samuel 10:7, NAB)

Die sleutel tot ons lewenshouding met insig in die vyand se strategie van vrees is Psalm 37. Hierdie is die eerste paar verse uit The Message:

Don’t bother your head with braggarts

    or wish you could succeed like the wicked.

In no time they’ll shrivel like grass clippings

    and wilt like cut flowers in the sun.

Get insurance with God and do a good deed,

    settle down and stick to your last.

Keep company with God,

    get in on the best.

Dit is soms goed om ‘n ander vertaling te lees van woorde wat dalk tè bekend geword het. Ons ken mos die woorde van Psalm 37 van Sondagskooldae: Laat jou weg aan die Here oor en vertrou op Hom en Hy sal dit uitvoer.

Dit is ‘n lewenshouding wat net met die hulp van die Heilige Gees ontwikkel kan word. Ons weet ons het nie ‘n gees van vreesagtigheid gekry nie, maar van liefde, krag en selfbeheersing (2 Timoteus 1:7). Ons het vrede wanneer die res van die wêreld in onrus en kommer vergaan. Ons kan nie toelaat om af te klim om te luister na die praatjies van die negatiewes sodat ons tyd mors en nie die hoë roeping waarmee ons geroep is respekteer nie. Ons roeping is in die eerste plek ons gesin en die welvaart van ons invloedsfeer. Kyk maar goed wat die Here oor jou pad bring, sodat jy jou muur gebou kry.

Psalm 37 se woorde is ons bemoediging teen die oormag. The Message-vertaling:

Less is more and more is less.

    One righteous will outclass fifty wicked,

For the wicked are moral weaklings

    but the righteous are God-strong.

 

God keeps track of the decent folk;

    what they do won’t soon be forgotten.

In hard times, they’ll hold their heads high;

    when the shelves are bare, they’ll be full.

Wat is die gevolg van Nehemia se sukses? ‘n Heerlike fees tot eer van die Here. Moenie vergeet om fees te vier nie wanneer jy die oormag oorwin nie. Lees daarvan in Nehemia 12.

Now at the dedication of the wall of Jerusalem they sought out the Levites in all their places, to bring them to Jerusalem to celebrate the dedication with gladness, both with thanksgivings and singing, with cymbals and stringed instruments and harps. (12:27, NKJV)

 Lees gerus van die twee kore en die priesters met trompette wat langs die muur van poort tot poort geloop en dankliedere sing.

Daar is daardie dag baie offers gebring. Die mense was bly God het hulle groot blydskap gegee. Ook die vrouens en kinders was bly. Jy kon die blydskap van Jerusalem ver hoor. (12:43, NAB)

Dit klink na ‘n plesierige partytjie met ‘n “live band”!

Nehemia suit sy verslag af met noukeurige besonderhede oor die funksionering van die Tempel en die stad. Sy werk word afgehandel met fokus en ywer.