Die blote gedagte aan herlewing vul my met vreugde en verwagting. Net ‘n klein kykie in die nuus van die dag, laat ‘n mens smag na ‘n magtige ingrype van God. Dit mag dalk ongemak en selfs weerstand by sommige mense opwek. Die kerkgeskiedenis is vol getuienisse van die besondere aandoening van krag wat ons met die uitstorting van die Heilige Gees assosieer.
Herlewing beteken iets nuut, ‘n verbetering in die toestand en krag van iets waarvan die belangrikheid weer beklemtoon word. In die kerk, het herlewing altyd die fundamentele Bybelse waarhede so bevestig, dat die mense teruggekeer het na die basiese Christelike beginsels. Dit is ‘n besondere klem op dit wat ons eintlik glo.
Herlewing laat mense regop sit en kennis neem. Oral waar mense eintlik die Christendom wil ignoreer, word hulle met die golf van verdieping en misterieuse nuwe geestelike ervaringe gekonfronteer en geïnspireer.
Gedurende die laaste week van Jesus se bediening op aarde, het hy op ‘n donkie in Jerusalem ingery. Ons almal ken die storie. Hy stuur die dissipels in die stad in om ‘n donkievul, waarop niemand nog ooit gery het nie, vir hom te bring. Indien iemand sou vra hoekom hulle die vul vat, moes hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Dit het alles gebeur volgens die profesie in Sagaria.
Jubel, Sion! Juig, Jerusalem! Jou koning sal na jou toe kom. Hy is regverdig en hy is ‘n oorwinnaar, hy is nederig en hy ry op ‘n donkie, op die hingsvul van ‘n donkie. (Sagaria 9:9)
‘n Koning wat op ‘n donkie ry het in vrede gekom. Een wat op ‘n perd gery het, het gekom om oorlog te maak. ‘n Perde is oor al die eeue met oorlog geassosieer.
Toe Hy naby die stad kom, teen die afdraand van die Olyfberg, het die hele skare juigende volgelinge God uit volle bors begin prys oor al die wonderwerke wat hulle gesien het. (Lukas 19:37)
Jesus het nie die mense gekeer om te sing en eer aan hom te bring nie. Die Fariseërs het hom vermaan om dit te doen. Hy het gesê as die mense stilbly sal die klippe uitroep. Dit is die gees van herlewing. Dit is die hartsverering wat spontaan volg op ‘n ervaring waarin Jesus triomfantelik in jou lewe in ”ry”.
Toe Hy nader aan Jerusalem kom het Hy stilgehou en oor die stad gehuil. Ek was amper verbaas dat ek nie so bewus was van Jesus se diep emosie hier nie. Hy spreek ‘n klaaglied oor Jerusalem uit.
Toe Hy nog nader kom en die stad voor Hom sien, het Hy daaroor gehuil en gesê: “As jy vandag tog wou insien wat vir jou vrede nodig is! Maar nou is jy blind daarvoor.
Daar sal dae oor jou kom dat jou vyande vestings teen jou oprig en jou omsingel en jou van alle kante beleër.
Hulle sal jou met die grond gelyk maak en jou inwoners uitwis. Hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die betekenis van die tyd toe God gekom het om jou te red, nie besef het nie.” (Lukas 19:41-44)
Die woorde het my hart stukkend gebreek. My enigste en sterkste motivering om die Bybel te bestudeer is om God en Jesus te ken en insig in myself, my omstandighede en die wêreld om my in die lig van die waarheid van die Woord te verkry. Ek wil kan sin maak van die bose chaos om my en die “werk” van God deur die Heilige Gees in alles. Dit bring vrede en kalmte in die woeste storms van die lewe.
Ek wil die “betekenis van die tyd van God se redding” kan onderskei.
Die Pinkster wat ons gevier het hierdie afgelope week is baie spesiaal. Dit was een van die rare tye waarin die Joodse Pasga en die Christen Paasfees volgens die kalender saam geval het. Die Jode gebruik ‘n maankalender en die Christene die sonkalender. Pinkster word Shavuot in Hebreeus genoem – die Fees van Weke. Dit word bereken volgens Levitikus presies sewe weke na die Fees van die Ongesuurde Brode (Deuteronomium 16:9; Levitikus 23:16).
Na die hemelvaart van Jesus het die volgelinge van Jesus saam met die dissipels in Jerusalem gaan wag op die uitstorting van die Heilige Gees. Dit was in gehoorsaamheid van die opdrag wat Jesus by sy hemelvaart gegee het – sy laaste woord op aarde.
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.”
Nadat Hy dit gesê het, is Hy opgeneem terwyl hulle dit sien, en ‘n wolk het Hom weggeneem, sodat hulle Hom nie langer kon sien nie. (Handelinge 1:8,9)
Laaste woorde voor ‘n vertrek is baie belangrik, veral so ‘n buitengewone vertrek soos hierdie een. Die woorde wat dan gespreek word is belangrik en ingebrand in geheue. Jesus het die magtige uitstorting van die Heilige Gees voorspel.
Ons kan almal weer Handelinge 2 lees en inneem wat op daardie wonderwerk-dag gebeur het toe die kerk gebore is. Dit was Jesus se woorde.
Terwyl Hy ‘n keer saam met hulle aan tafel was, het Hy hulle beveel: “Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het, soos julle van My gehoor het.
Johannes het wel met water gedoop, maar julle sal binne ‘n paar dae met die Heilige Gees gedoop word.” (Handelinge 1:4,5)
‘n Rukkie later besoek Petrus die huis van Cornelius, ‘n heiden. Die ontmoeting was ‘n magtige bevestiging van die waarheid van Pinksterdag.
Terwyl Petrus nog praat, het die Heilige Gees op almal gekom wat na die woord geluister het.
Toe die Joodse gelowiges wat saam met Petrus gekom het, hoor hoe die mense ongewone tale of klanke gebruik en God prys, was hulle baie verbaas dat die Heilige Gees as gawe uitgestort is ook op mense wat nie Jode is nie. En Petrus sê:
“Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?” (Handelinge 10:44-47)
Hierdie is God se manier om die wêreld in beroering te bring. Dit is herlewing!
Toe die Jode hulle nie kry nie, sleep hulle vir Jason en ‘n paar ander gelowiges na die stadsbestuur toe en skreeu: “Dit is die mense wat die hele wêreld in beroering bring. Hulle is nou hier in ons stad, (Handelinge 17:6)
But when they did not find them, they dragged Jason and some brethren to the rulers of the city, crying out, “These who have turned the world upside down have come here too. (Acts 17:6)
Kom ons wees gereed vir die werk van God wat die wêreld omkeer. Ons moet die elemente van herlewing noukeurig oorweeg sodat ons nie tot gevolgtrekkings spring nie, te vinnig oordeel nie of deur vals leerstelling weggesleep word nie. Ons vra vir wysheid om so ‘n ontploffing van Goddelike krag reg te hanteer.
Ons kan die werk van die Heilige Gees beantwoord sonder vrees (dus nie die Gees uitblus nie) of voortvarendheid (om iets aan te blaas wat nie van God af kom nie).
Ons hoef nie die Gees te beheer nie. Ons moet die aangesig van God soek en vra vir onderskeiding in onderwerping aan die Woord van God en wysheid van God in gebed. Dit is die ware rentmeesterskap wat in herlewingstye groot krag het, sodat God in alles vereer word.
As ons onseker is oor wat gebeur moet ons die betroubare bedieninge se raad en voorskrifte volg. Die kerk as eenheid het groot krag en ons staan nie alleen nie. Die kerk funksioneer in genade.
Sonder oorwoë leiding val ‘n volk; die redding lê in baie raadgewers. (Spreuke 11:14)
In tye van herlewing is daar ‘n risiko dat groot klem op die ondervinding geplaas word, maar dit moet altyd begelei word met volhoubare, sistematiese lering uit die Woord. Die fokus van herlewing is nie die ondervinding nie, maar God self en Jesus wat sentraal staan – altyd. ‘n Beweging van God sal altyd die mense uitlok tot spontane aanbidding en die verering van Jesus as die Begin en Einde van ons saligheid.
Juis hiervoor is julle ook geroep, omdat Christus self vir julle gely en so vir julle ‘n voorbeeld gestel het, sodat julle in sy voetspore kan volg. (1 Petrus 2:21)
Dit is net God se wysheid wat ons in staat sal stel om wys te wandel.
Jesus het vir ons gebid. Dit is ons riglyn. – altyd.
Ek het U op die aarde verheerlik deur die werk te volbring wat U My gegee het om te doen.
Verheerlik U My nou ook by U, Vader, met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld bestaan het.
“Ek het u Naam bekend gemaak aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord ter harte geneem.(Johannes 17:4-6)
Kom Heilige Gees – laat dit reën; laat die vuur val.