212. Is dit hoe ons lyk?

[Kersfees 2019]

Ons is sulke visuele mense.  Heeltemal tereg so.  Dit maak saak hoe dinge lyk.  Mooimaak is belangrik.  Ons breek af om mooier op te bou, ontwerp en versier om ons omgewing en onsself in prag en praal te klee.  Ek vind soveel vreugde in die kreatiewe en kunstige uitinge van ons wêreld.

Kersfees is ‘n geleentheid vir versiering.  Mens kan selfs uitspattig wees, dit sal heeltemal aanvaarbaar wees. Goue balle, linte en strikke, rooi in al die skakerings en woudgroen loof is oral. Silwer, blou en wit word bygevoeg sodat Kersfees sy stempel op elke winkel, besigheid en woonhuis afdruk. Die musiek speel en die klokke lui, maar waar is ons hart?

Vir die ou Hebreërs was die hart van die mens die kern van sy wese.  Alles het uit die hart gespruit.  Moderne wetenskap het ons geleer dat ons brein eintlik alles bepaal, maar net nou die dag het die neuroloë ontdek dat die hart eintlik ‘n “klein brein” van sy eie het, wat boodskappe na die brein stuur. [Dit is genoem in ‘n lesing van Dr Caroline Leaf, ‘n Suid-Afrikaanse neuroloog en baie populêre spreker oor die wonder van die brein.] Baie interessant om meer en meer van die wonder van die mens uit te vind.

Dit is een ding om die mediese en wetenskaplike aspekte van ons wese te bestudeer, maar ‘n gans ander saak om die geestelike implikasie van ons samestelling onder die kollig te beskou.  Elke mens weet al hoe lyk ‘n hart.  Net die prentjies van ‘n dokter spreekkamer sal help om meer te weet.

Eeue gelede het God al vir Samuel gesê:

Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan. (1 Samuel 16:7, OAB)

Ons kan versier soos ons wil, maar ons kan niks aan ons innerlike verander, as ons nie die wonder van die werk van die Heilige Gees innooi om te verander en te vernuwe nie. Soveel slegte dinge kom uit die diepste wese van die mens.  God het ons almal toegerus met intellek en ‘n wye verskeidenheid vaardighede.  Die mens het egter die keuse of hy dit ten goede of vir boosheid kan aanwend.  Daardie keuse bepaal die innerlike.

Die boodskap van Kersfees is die goeie nuus dat boosheid oorwin is en die slegste van hierdie lewe, omgekeer kan word tot iets mooi en aanloklik.  Al die lelik kan mooi word.  Die Engelse woord “lovely” het ‘n pragtige definisie: that which calls forth love.  Dit is hoe ons graag ons hele lewe en wese wil omskryf.  Wat ons is en wat ons doen moet liefde “uitlok”.

Dit beteken ‘n bewuste besluit oor prioriteite.  Die Woord het baie te sê oor prioriteite.  Soos ons daaroor besluit, so sal ons lewe verloop.

En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ’n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus,  (Filippense 1:9,10, OAB)

Dit is opmerklik dat die onderskeid oor die dinge waarop dit aankom deur liefde aangevuur word. Oorvloedige liefde is die prioriteit-kompas.  So sal ons liefde vir die Here sorg dat ons voorkeur aan sy Woord gee, wat ons ‘n lewe van uitnemendheid belowe.

Liefde is die belangrikste aanvoerder van ons innerlike wese.  Hoe lyk ons van binne? Is dit soos Paulus die ongelowige beskryf?

In die Naam van die Here doen ek ‘n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard.  Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met ‘n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen.  (Efesiërs 4:17-19)

Wat ‘n duister beeld van ‘n mens se innerlike wese!

Ons is nuutgemaak in die Heilige Gees.  Ons lyk anders van binne.

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. (Efesiërs 4:23,24)

Nadat Esra uit Babilonië teruggekeer het, het die voormalige bannelinge met groot entoesiasme die herstelwerk aan die Tempel begin.  Met ywer en doelgerigtheid het hulle die altaar herbou om aanbidding in Jerusalem te hervat.  [Sien Bodemklippe 85]

Twee dekades later het die werk aan die Tempel halfklaar gelê.  Daar was aanvanklik teenstand van die omringende vyandige volke, maar selfs die teenstand het al getaan.   Die mense het hard aan hulle eie huise gebou.  Die gevolg van die verdraaide prioriteite was droogte en resessie. (Haggai 1:9-11)

Haggai is deur God gestuur om die mense tot prioriteitsbepaling op te roep.

 Daarom, so sê die Here die Almagtige: Neem ter harte wat met julle gebeur. (Haggai 1:5)

 Thus says the LORD of hosts: “Consider your ways!”

Die mense beantwoord sy oproep en die Tempel word binne een maand voltooi – wonderwerke gebeur as prioriteite reg is.  Dit bring ‘n einde aan die droogte en resessie.

Hierdie geskiedenis is vir ons opgeteken sodat ons kan leer.  Vandag bou ons nie aan ‘n fisiese Tempel nie, maar wel die Tempel van aanbidding in die onsigbare Koninkryk van God op aarde.

Waar is jou hart, Bodemklipvriend?  Sien jy die droogte om jou en in jou?  Toets jouself en dink of jy ‘n korreksie in jou kompas van lewensbesluite nodig het. Die Heilige Gees is gereed om op uitnodiging jou innerlike te vernuwe.

Paulus gaan voort in Efesiërs 4 en skryf oor die nuwe mens.

Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word.

Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.

Die Tempel van Jesus in ons is beter as die fisiese Tempel waaraan die mense in Haggai se tyd gewerk het.  God het die glorie van Jesus se Tempel lankal beplan en dit sal alles wat voorafgegaan het, oortref.

Dit is waarvan Kersfees spreek.  Jesus het gekom sodat ons ‘n beter bedeling as nog ooit in die geskiedenis kan hê.

Dink kreatief hoe elkeen hierdie Kersfees ‘n baken en getuienis van Heilige Gees prioriteite kan maak.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s