211. Wie dan, Jerusalem?

Soveel van die profesieë van die Ou Testament is oorspronklik as poësie geskryf.  Net so nou en dan kom mens dit agter, selfs in Afrikaans, wat as moderne taal so ver van antieke Hebreeus verwyderd is.  Die klaagliedere oor Israel se teruggevalle toestand en verharde harte, beweeg die leser tot trane en openbaar die hart van God oor sy mense.  Te midde van soveel oorlog, geweld, hongersnood, droogte en disfunksionele regerings van konings wat “gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here”, soos die Ou Vertaling dit stel, is die woorde van die profete wat waarsku en die volk tot sonde belydenis oproep, neergeskryf.  In die gedigte en lang stukke prosa was die simbool van die volk, die stad Jerusalem. Net so in Openbaring, is die nuwe Jerusalem, die kerk van Jesus op aarde.  Die nuwe Jerusalem is die onsigbare koninkryk van gelowiges was waarlik die aangesig van die Here soek, verseker nie die dogmatiese chaos rondom denominasies nie.

Die Ou Testament se relaas oor volkere en nasies, verskil nie veel van die geskiedenis van die afgelope tweeduisend jaar nie.  Kerk of geen kerk nie, die geskiedenis is ‘n bloedspoor van konflik en plofbare magspel, dikwels in die naam van God met wrede onverdraagsaamheid, ongeregtigheid en moord in die een slagting op die ander wat die onskuldiges laat ly of doodmaak. Deesdae veg ons met idees, ideologie en opinies met dieselfde woede en moord-bedoelings soos die swaard-swaaiers van ouds, terwyl aaklige wreedheid en misdaad in die strate van ons stede steeds onskuldige bloed opeis.  Wat is daar te sê oor ‘n wêreld so donker en dood?

Daar is natuurlik ‘n antwoord op hierdie vraag.  Die antwoord is in die woorde van ‘n paar windverwaaide vissermanne een nag op die See van Galilea. Kom ons kyk na die agtergrond van die gebeure van daardie storm so lank gelede.

Net soos altyd in die geskiedenis, ego die uitnodiging van ‘n liefdevolle Vader aan die mensdom.

… baie volke sal daarnatoe gaan en sê: “Kom, laat ons optrek na die berg van die Here toe, na die huis van die God van Jakob sodat Hy ons sy wil kan leer, en ons daarvolgens kan lewe, want uit Sion kom die openbaring, uit Jerusalem die woord van die Here.” (Jesaja 2:3)

Jerusalem het gewaggel, Juda het in duie gestort omdat hulle hulle met woord en daad teen die Here en teen sy gesag verset het.  (Jesaja 3:8)

Gaan roep hierdie woorde uit sodat elkeen in Jerusalem dit kan hoor. So sê die Here: Ek onthou nog hoe getrou jy aan My was in jou jeug; hoe lief jy My gehad het toe jy my bruid geword het, toe jy My die woestyn in gevolg het, in ‘n wêreld waar niks geplant word nie.  (Jeremia 2:2)

Die OAB gebruik die pragtige woorde – “die liefde van jou bruidstyd”.

Jerusalem, reinig jou hart van die kwaad, dat jy behoue kan bly. Hoe lank sal jy nog bose planne in jou omdra?  (Jeremia 4:14)

Waarom draai hierdie volk weg van My af, en waarom hou Jerusalem aan om van My af weg te draai? Hulle hou vol met hulle bedrog, hulle weier om na My toe terug te draai.   (Jeremia 8:5)

Hierdie Skrif is net ‘n paar voorbeelde van vele, te veel om hier te skryf.  Die profete roep en vermaan en altyd tussendeur word die belofte van die Messias, die ware en uiteindelik koninkryk voorgehou.

Hý sal vir julle ‘n veilige beskutting wees, maar vir die twee koninkryke Juda en Israel sal Hy ‘n klip wees waarteen ‘n mens jou stamp, ‘n rots waaroor jy struikel. Vir die inwoners van Jerusalem sal Hy ‘n vangnet en ‘n strik wees. (Jesaja 8:14)

Reeds toe het God geweet dat Jesus se eie mense, die kerk van die dag, hom sou verwerp.

Jy, volk in Sion, jy wat in Jerusalem woon, jy hoef nie meer te huil nie. Die Here sal jou genadig wees as jy na Hom roep om hulp, Hy sal jou gebed verhoor sodra Hy dit hoor.(Jesaja 30:19)

In die woorde van Jesus self het die ou profete se klaaglied weerklink:

“Jerusalem, Jerusalem! Jy wat die profete doodmaak en die boodskappers stenig wat na jou toe gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak, maar julle wou nie! (Matteus 23:37)

Die klaaglied vir die teruggevalle mense het nog nooit stil geword.  Vandag nog word dit in ontelbare predikers, kerkleiers, huiskerke en Bybelstudies gehoor.

Wat is die remedie vir ‘n hopelose, donker wêreld?  Jesus het sy dissipels die antwoord geleer in ‘n baie dramatiese visuele en werklike krisis.

Die See van Galilea is die laagste varswater meer in die hele wêreld en lê in die rifvallei van die Jordaan waar die Afrika en Arabiese aardplate bymekaar kom.  Die meer word deur onderaardse fonteine gevoed, maar die meeste water kom uit die Jordaanrivier.  In die verlede het die gebied dikwels aardbewings en vulkaniese uitbarstings ervaar.  As gevolg van die ligging van die meer kan sterk stormwinde uit die Mediterreense gebied deur ‘n trog in die berge, vreesaanjaende storms op die meer veroorsaak.

Dit is op een van hierdie dae dat Jesus en sy dissipels in ‘n vissersboot oor die meer vaar, die logiese kortpad na die dorpies aan die ander kant.  Jesus is aan die slaap en die stormwind word al hoe sterker, totdat die water so oor die rand van die boot stroom, dat die dissipels met groot paniek die water uitskep om die boot bo water te hou.  Hulle roep Jesus met verwyt en vrees in hulle stemme. (Lukas 8:22-25)

Hulle paniek is te verstane.  ‘n Mens is ‘n wese wat die verlede onthou en dan op die toekoms projekteer.  Hulle het die storms en die baie rampe geken.  Miskien was dit hulle beurt om te vergaan.

Dit voel dikwels vir ons ook so.  Ons boot is besig om te vergaan en Jesus slaap.  Hy sal jou uitroep hoor net soos Hy op die roep van die dissipels gereageer het.

Hy het opgestaan en die wind en golwe stilgemaak.  Hy vra die vraag: “waar is julle geloof?”, so asof hulle nie veronderstel was om paniekerig te wees nie.

In die oomblik van groot wonder, in die stilte van die kalm see, vra die dissipels die vraag wat tot in ons tyd as die kernvraag weerklink.

“Wie is Hy tog? Hy gee bevele aan wind en water, en hulle is aan Hom gehoorsaam!” 

Dit is die antwoord op alle duisternis en verwoesting wat hierdie lewe kan bied.  Hulle oog was nie op die gevolg van sy woorde en die wonder van ‘n kalm see nie.  Hulle wese was gefokus op die Man, die persoon van Jesus.  Hy is die antwoord.

Dit is die WIE in al ons WAT, wat die verskil maak.  Ons doel is om hom te ken.  Sy opstandingskrag is in ons as sy wedergebore kinders.  Dit is die wonder.

Ons verklaar dit weer:

10 [For my determined purpose is] that I may know Him [that I may progressively become more deeply and intimately acquainted with Him, perceiving and recognizing and understanding the wonders of His Person more strongly and more clearly], and that I may in that same way come to know the power outflowing from His resurrection [which it exerts over believers], and that I may so share His sufferings as to be continually transformed [in spirit into His likeness even] to His death, [in the hope]

11 That if possible I may attain to the [spiritual and moral] resurrection [that lifts me] out from among the dead [even while in the body]. (Philippians 3:10-11, Amplified)

 

 

 

 

 

 


One thought on “211. Wie dan, Jerusalem?

  1. Ja die wie en nie die wat. Die geloof in God, die geloof van God. Waar sal my hulp vandaan kom. Van God en van Hom alleen kom my hul. Ek moet dit glo eb dit bring kalmte en vrede. Rus in Hom, die Een wat my onvoorwaardelik lief het en vir my wag om 100% oir te gee. Dankie vir die herinnering.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s