[Nuwejaar 2020]
Inderdaad, dit is daardie tyd van die jaar. Kersfees is verby en ons is in daardie stilte voor die storm van verpligtinge van ‘n nuwe jaar. Die dae na Kersfees is luilekker en kalm met ‘n heerlike gevoel van tevredenheid oor die jaar wat tot ‘n einde kom en ‘n seën-fees wat goed verloop het – dit is in elk geval wat ek vir elke leser wens. As jou Desember ‘n tyd van spanning en konflik was, moenie ophou lees nie – die woorde wat volg is juis die woorde wat almal nodig het voordat ons die vreesaanjaende tydvak wat die toekoms genoem word, aandurf.
Tyd is ‘n verstommende konsep van ons bestaan op aarde. Ons is eintlik gevangenes van tyd, ‘n onvergenoegde, onbeteuelde monster wat sonder genade of uitsondering ons lewens aanhits. In kalm tye verloop die minute en ure met presies dieselfde ongenaakbaarheid as in krisistye en hartseer tye. Die horlosie tik en tel, die een sekonde op die ander en ons marsjeer op die skril stem van die drilsersant deur valleie en vure, oor berge en kranse, deur diep waters en waters van rus, groen weivelde en wilde woestyne. Ons verdeel en benoem tyd, sodat ons voel ons neem beheer daaroor. Weeksdae is werksdae, naweekdae is rusdae, vakansie, feeste en partytjies sodat ons die toekoms met bekendheid kan vul. In werklikheid is dit maar net planne in die lugspieëling van onbekendheid. Een telefoonoproep, een gebeurtenis, een onverwagte oomblik laat sulke beplanning in ‘n oogwink verander of verdwyn.
Denke oor die toekoms is anders vir ‘n kind van die Here. Dit is nie ‘n wolk van onsekerheid nie, eerder ‘n energieveld vir die verwerkliking van God se beloftes oor ons lewens. Ons toekoms is die speelveld van wonderwerke, ingrype en rigtinggewende leiding in die Skuilplek van die Allerhoogste en die Skaduwee van die Almagtige (Psalm 91). Dit is wel onbekend en daarom behoort dit aan die Een wat ten volle ken.
Daar is geen twyfel dat ons aardse organisasies en selfs kerke onvolmaak en soms uiters frustrerend kan wees. Ek was al so dikwels teleurgesteld in kerke en kerkmense, maar nog nooit, deur alles, was ek teleurgesteld in God en sy voorsiening in my lewe. Ek is in hierdie tydvak van my lewe weer eens in skok en hartseer oor kerkleiers se genadelose, liefdelose opgenomendheid met organisasie ten koste van mense en die kern van bediening. Die antwoord hierop is soos altyd in die verlede, ‘n kragtiger vasgryp aan die Woord van God waar ek lees van die sagte vere (my verbeelding van ‘n plek van rus) van God se vlerk (Psalm 17:8; 36:8, OAB). Daar in veiligheid en vrede kry ek perspektief oor vergifnis en verdraagsaamheid.
‘n Leeftyd saam met die familie van Jesus in die kerk, het ‘n rykdom van liede in my hart ingebrand. Sing saam:
I don’t know about tomorrow
I just live from day to day
I don’t borrow from the sunshine
For its skies may turn to gray
I don’t worry o’er the future
For I know what Jesus said
And today I’ll walk beside Him
For He knows what lies ahead
Many things about tomorrow
I don’t seem to understand
But I know who holds tomorrow
And I know who holds my hand. [https://youtu.be/xWLm3asMiGo]
Dit was die beste weergawe wat ek kon kry op YouTube – bietjie outyds, maar soos ek die lied onthou. Gloria Gaither het baie jare gelede vir haar kinders ‘n wiegelied geskryf met die woorde:
Because He lives, I can face tomorrow
Because He lives, all fear is gone
Because I know, yes I know
Who holds the future
And I know, Who holds my hand.
Beide hierdie liede maak die punt oor die onbekendheid van die toekoms en die sekerheid oor wie die toekoms beheer. Eugene Peterson (die skrywer van die Message weergawe van die Bybel) skryf pragtig oor ons houding teenoor die toekoms as kinders van die Here. Ons houding is HOOP. [Bodemklip 42]
Hoop is nie ‘n blinde, passiewe, oneffektiewe gedagte-oefening om positiewe golwe uit die lug te probeer aangryp en werklikheid maak nie. Hoop is ‘n aktiewe lewenshouding wat die toekoms vul met die werklikheid van God se onfeilbare Woord.
Hoop is een van die fundamentele menslike motiverings. Ons kyk vorentoe na iets beter, ‘n verlange na iets wat ons graag wil hê of ondervind, hoewel daar in die hede geen teken daarvan is nie.
Geloof word definieer met die woord hoop. Geloof is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie. (Hebreërs 11:1). Hoop is aksie in die onsienlike. Hoop is ‘n kyk in die onsigbare, wat ons dan met geduld verwag. (Romeine 8:24,25). Dit beteken dat ‘n mens iets waarop jy hoop in besit neem, al is daar geen fisiese bewys daarvan nie.
Net soos Johannes skryf dat as ons Christus “sien” ons soos Hy word (1 Johannes 3:2). ‘n Studie van Jesus Christus is ‘n transformasie van jou innerlike om soos Hy te word.
En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is. (1 Johannes 3:3, OAB)
Hoop vereis geestelike oë. Natuurlike oë lei tot desperate paniek en vrees, maar die arendsoog gee ‘n nuwe perspektief wat die huidige tyd met die energie van verwagting vul. Ons hoop is in God se woord. Luister en kyk dieper:
Maar soos daar geskrywe staan: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor het nie,” en wat in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, dit het God gereed gemaak vir dié wat Hom liefhet. (1 Korintiërs 2:9)
God can do anything, you know—far more than you could ever imagine or guess or request in your wildest dreams! He does it not by pushing us around but by working within us, his Spirit deeply and gently within us. (Ephesians 3:20, The Message)
Kyk met vryheid en vrymoedigheid in die toekoms. Laat jou gees juig, jou siel leef en jou liggaam dans. Sê hardop: Halleluja! met ‘n groot glimlag op jou gesig.
Wonderlik – dankie !!!!